FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Chicago

Coenraad Walters

Met: Renee Zellweger; Catherine Zeta-Jones; Richard Gere; Queen Latifah; John C Reilly; Taye Diggs; Christine Baranski; Dominic West
Draaiboek: Bill Condon, gebaseer op die verhoogmusiekspel deur John Kander en Fred Ebb, opgevoer deur Bob Fosse (1975); diť stuk is weer gebaseer op ’n toneelstuk deur Maurine Dallas Watkins, wat gebaseer is op ’n ware gebeurtenis
Regie: Rob Marshall.


Van die eerste noot af het Chicago my in ’n seepbel van genot vasgevang gehad; met die laaste noot, aan die einde van die ellelange erkenningslys, is ek saggies neergesit om uit die teater te sweefstap met ’n groot gevoel van geluksaligheid. Betowerend soos min: ek begryp waarom dit die Oscar as Beste Rolprent ontvang het.

Wat die ware gebeurtenis is waarop die prent gebaseer is, weet ek nie; die nota hierbo omtrent die draaiboek moet dit duidelik maak dat daar al soveel lae oor die waarheid neergelÍ is dat dit moeilik raak om daarby uit te kom. Renee Zellweger het in ’n onderhoud gesÍ dat sy eers na “rewrites” van die draaiboek in die projek geÔnteresseerd geraak het (ook tipies Hollywood, diť herskrywery!).

Maar in die fliekweergawe loop die storie min of meer so: Roxie Hart (Zellweger) skiet haar skelmpie omdat hy haar bedrieg het. Hy’t vertel hy het kontakte in die Vaudeville-wÍreld en hy sal haar help om haar droom te verwesenlik om ’n ster te word. Sy pomp hom vol lood wanneer hy haar die waarheid vertel. Haar geduldige en lanklydende eggenoot Amos (Reilly) is geskok oor haar ontrou en weier om haar alibi te wees.

In die tronk leer ken sy die “moeder owerste”, Matron “Mama” Morton (Latifah), asook haar heldin, Velma Kelly (Zeta-Jones). Velma het haar man en haar dansmaat-suster die ewigheid ingehelp — maar sy onthou niks daarvan nie. Mama help Roxie om die dienste te bekom van die ster-prokureur Billy Flynn (Gere), wat nog altyd sy vroulike kliŽnte losgepraat het. Hy manipuleer die pers om van Roxie ’n ster te maak en hy manipuleer die regsproses om haar op vrye voet te kry. Roxie is geskok wanneer sy agterkom hoe kortstondig roem is, maar — ons werk immers hier met ’n blyspel — sy kry uit ’n onverwagte oord nog ’n kans op die soort roem wat sy wou nastreef.

Op maat van Kander en Ebb se saamdansmusiek skep Marshall ’n visuele fees wat soms herinner aan die visuele oordaad van Baz Luhrman se wonderlike Moulin Rouge. Die musikale sekwense is dikwels ’n verbeeldingryke herinterpretasie van die werklikheid (vergelyk die perskonferensie, asook die hofsaak), maar die liedjies help die storie voort: anders as in ouer stukke en operas onderbreek die liedjies in die reŽl nie die aksie nie. Die hangtoneel (die eerste vrou wat ooit in Illinois gehang word!) en die reeks geluide wat die ritmiese inleiding tot die “Tronksel Tango” is, herinner aan Lars von Trier se musikale wroegfest Dancer in the dark.

In die hoofrolle skitter Gere, Zellweger en Zeta-Jones (wat met ’n welverdiende Oscar as Ondersteunende Aktrise huis toe is). Vreemd dat Gere nie genomineer is nie; byna vreemder dat vier akteurs wel vir hul werk hier genomineer is (Zellweger as Beste Aktrise; Queen Latifah en John C Reilly in ondersteunende kategorieŽ). In die erkenningslys word daar pertinent genoem dat Gere, Zellweger en Zeta-Jones self al hul dans- en singwerk gedoen het. Dis ’n vreugde om Christine Baranski (Cybill Shepard se vriendin uit lg se televisiekomedie) in aksie te sien as die emosioneel betrokke omroeper; en Taye Diggs as die orkesleier en aankondiger herinner aan Joel Grey in Cabaret.

’n Groot vreugde.

Maar toe sien ek dit ’n tweede keer. En skielik tref die oorweldigende sinisme van die verhaal my en ek begin wonder oor die ideologie daaragter: wat leer ons uit hierdie verhaal van “booze and jazz”? Oor moord en manipulasie, omkopery en verslaande glans?

Soveel so dat ek myself ernstig moes aanspreek oor hoe ek my eerste indrukke versaak het. Ek het myself dan tot “drag” geÔnspireer gevoel (dalk ook maar goed diť impuls is verslaan — daai soort opdress sit nie noodwendig in my jeans ingestik nie Ö), en nou wil ek moedeloos raak oor die korrupsie van die wÍreld. Moes my oŽ dan nou so wyd oopgegaan het?!?

Dalk moet ’n mens Chicago net een maal sien. Of dalk meer as twee keer. Wie weet? Maar iewers tussen ideologiese mistroostigheid en skitteroog-meevoering lÍ die waarheid versteek. Of is dit ook ’n stukkie Flynn-fabrikasie? Gaan kyk maar in elk geval — en gaan teater toe om vermaak te word.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.