FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

'n Proloog tot Brokeback mountain

Andrť Crous

Doel van artikel
Selfs al lui die titel nie ‘n klokkie nie, sou jy al iewers van dié “gay-cowboy-fliek” gehoor het. Mense fluister onder mekaar dat Brokeback mountain vanjaar se voorloper in die Oscar-resies is; en die film is inderdaad uitsonderlik.

Hierdie artikel ondersoek die bohaai rondom die film in die lig van die nimmereindigende vrae, opinies en vooroordele oor homoseksualiteit. Het ons ‘n film soos Brokeback mountain nodig? Het die film enigiets nuuts om na die tafel te bring? Is ‘n film met ‘n gaytema noodwendig militant en aktivisties? Is moraliteit in gevaar?

Kort opsomming van Brokeback mountain
Twee jong mans, cowboys, daag in die vroeë 1960’s op in ‘n klein dorpie in die weste van Amerika om skape op te pas. Hulle slaan kamp op teen die hange van Brokeback Mountain. ‘n Band word vinnig tussen dié twee vreemdelinge gevorm en een nag, strydig met die idees van die samelewing waarin hulle grootgeword het, deel hulle ‘n oomblik van intense liefde.

Die film speel af oor ‘n groot aantal jare, en die twee karakters, Jack en Ennis, trou elkeen met ‘n vrou wat hulle liefhet. Leuens moet vertel word, ongemaklike situasies ontstaan, en wanneer Jack en Ennis mekaar weer ontmoet, ontdek hulle dat hul gevoelens nie getaan het nie.

Brokeback mountain, die gayfilm
Dit is die eerste keer dat ‘n ernstige film, gefinansier deur groot Hollywood-produksiemaatskappye (Paramount en Focus Features), geregisseer deur ‘n groot regisseur (Ang Lee, wat ook die regie van Crouching tiger, hidden dragon en Sense and sensibility behartig het), met ‘n gayverhouding as tema gemaak word.

Jake Gyllenhaal (Donnie Darko) en Heath Ledger (A knight’s tale) vertolk die hoofkarakters. Hulle het herkenbare gesigte en, anders as vir vele ander akteurs, was die idee van ‘n sogenaamde gayfilm nie vir hulle iets afstootliks nie. Albei is aantreklik en hul posters hang heel waarskynlik in menige tienermeisie (of -seun) se kamer.

Hier steek ‘n belangrike punt reeds sy kop uit. Hoekom moet ‘n film wat hoegenaamd ‘n gaytema bevat as ‘n “gayfilm” bekend staan? Waarom word bewoordings soos “straight film” nie aan Romeo and Juliet, aan Sleepless in Seattle, aan Amélie geheg in elke resensie nie? Hoekom voel resensente oral verplig om benamings soos “gay western” of “gay cowboy film” vir Brokeback te gebruik? Die antwoord is een hartseer begrip: ons heteronormatiewe samelewing.

In ‘n heteronormatiewe samelewing word alles gemeet aan ‘n heteroseksuele geslagsverhouding (wat alreeds vyftig jaar gelede versteur is deur die feministiese beweging). Daarvolgens is daar maniere hoe ‘n man moet optree en maniere hoe die vrou moet of mag reageer. Die opvatting van verhoudings as noodwendig heteroseksueel laat sirenes in ons gedagtes flits wanneer ons (of jy nou gay of straight is) ‘n homoseksuele verhouding op die skerm sien.

Ons moet respek hê vir Gyllenhaal en Ledger se besluit om in hierdie film te speel. Nie net oor sosiopolitieke redes nie (Bush is natuurlik homofobies), maar oor die feit dat hulle potensieel ‘n beduidende kykerstal sou afgril. Min aantreklike Hollywood-akteurs sou waag om sulke rolle te kies. ‘n Uitsondering – maar hy is natuurlik nie Amerikaans nie! – is Gael García Bernal se eksplisiet biseksuele karakter in verlede jaar se Bad education.

Die meeste akteurs weet dat hul mooi gesigte die kaartjies verkoop. Dit is ondenkbaar dat Orlando Bloom of selfs Brad Pitt so ‘n rol sou vat. Die naaste wat ‘n groot Hollywood-akteur al daaraan gekom het, was Matt Damon se indrukwekkende vertolking in The talented Mr Ripley, waar die karakter se seksualiteit egter veel meer subtiel gestel is.

Daar was al gay hoofkarakters in ‘n groot film – dink byvoorbeeld aan Philadelphia. Die verskil is egter dat Tom Hanks in 1993 nog nie juis bekend was nie en dat die film nie op sy gay verhouding nie, maar op sy stryd as vigslyer gefokus het.

‘n Minder bekende film, maar geensins minder belangrike nie, was 2001 se Before Night Falls, met Javier Bardem in die hoofrol – ‘n meesterlike studie van die gay Kubaanse digter Reinaldo Arenas. Die storie het meer gefokus op die politieke aspek van marginalisering: kuns en kunstenaars word geteiken deur enigiemand wat mag soek, juis omdat hulle iets verteenwoordig wat nie beheer kan word nie.

Die film het wel in ‘n mate die feite van Arenas se lewe versag, maar die boodskap van ongeregtigheid teenoor hierdie skaam, simpatieke karakter het duidelik deurgekom, en saam met die visuele prag van die film (regisseur Julian Schnabel is ‘n skilder) was die film absoluut wonderlik.

Ek wys daarop dat Julian Schnabel, soos Ang Lee, nie gay is nie, maar nogtans daarin geslaag het om ‘n ryk prentjie van homoseksuele karakters te skep sonder om vir ‘n oomblik in clichés of ‘n gevoel van meerderwaardigheid te verval.

‘n Ander uitsonderlike film wat hom soms as ‘n kleurvolle opera, soms as ‘n intieme tragedie situeer, is The adventures of Priscilla, Queen of the desert – ‘n Australiese film met akteurs wat in 1994 nog onbekend was (met die moontlike uitsondering van die Britse Terence Stamp).

Brokeback mountain breek met sy groot name en ernstige storielyn weg van die indie gayfilmbeweging aan die een kant en die absurde over-the-top humor van byvoorbeeld The birdcage aan die ander kant.

Brokeback is ‘n liefdesdrama soos jy nog selde gesien het. Die sterk lyn van emosies bly ongebroke te midde van enorme tydspronge, en wonderlike punte word gemaak deur selfrefleksie en interaksie, nie deur groot stukke dialoog of breedsprakige redenasies nie. Dit is die emosionele verhaal van twee mense wat mekaar nodig het – twee mense wat deur die gemeenskap geforseer word om iets te doen wat teen hul natuur is: om sonder mekaar klaar te kom.

“Those whom God hath joined together, let no man put asunder”
Die rimpelings wat Brokeback mountain in gelowige (spesifiek Christelike) kringe veroorsaak, kan nie geïgnoreer word nie. In terme van gelowiges se opinies oor hierdie film kan dit, aan die ander punt van die spektrum, vergelyk word met Mel Gibson se Passion of the Christ twee jaar gelede.

Die Passion-debat was dikwels uitermate aggressief. Aan die een kant was daar resensente soos Shaun de Waal in Mail & Guardian wat die blote keuse van die onderwerp as iets boos afgemaak het en gevolglik die film in sy geheel verwerp het. So ‘n houding is onaanvaarbaar, omdat die film dan geresenseer en veroordeel kan word sonder dat die resensent eens die voorskou bywoon.

Veel meer as net ‘n handjievol filmteaters in Amerika weier om Brokeback mountain te wys weens gelowiges se besware (of vooroordele). Dit herinner aan die ondenkende fundamentalisme in 1988 met Martin Scorsese se tematies ryk en kreatiewe The last temptation of Christ. Toe is filmteaters afgebrand uit protes teen die fliek, en pamflette is versprei (ook in Suid-Afrika) oor die “sondige aard” van die film. Daar was selfs gerugte dat Jesus in die film seks het met een van sy dissipels – gerugte wat versprei is om mense te ontmoedig om ‘n kunswerk te sien.

Laat ek dit onomwonde stel: in Scorsese se film is daar in Jesus se karakter nie eens die geringste insinuasie van homoseksualiteit te bespeur nie. ‘n Ander beswaar was Jesus se (seksuele) verhouding met Maria Magdalena. Dié verhouding was deel van ‘n droomsekwens wat reeds in Nikos Kazantzakis se boek aanwesig is, duidelik begrond is en – ek herhaal – ‘n hallusinogeniese droom verteenwoordig het wat op geen manier die Bybel wil weerspreek nie. Die film is in 1988 uit Suid-Afrika en het eers onlangs op die videorakke verskyn.

Aan die ander kant van die Passion of the Christ-debakel was daardie groepie wat ‘n beduidende rol speel in die jammerlike toestand van die wêreld se menseverhoudinge: die Christen-fundamentaliste. Dis die tipe mense wat dink jy sondig as jy nie van dié fliek hou nie (glo my, hulle bestaan!). In hierdie kamp word logika vervang met hol stellings vol skrikwekkende gelowige pretensie.

Ek sou hoop – maar ek kan net verkeerd wees – dat iemand wat gay is, nie noodwendig Brokeback mountain gaan geniet omdat dit ‘n gaystorie is nie, want dit sou van ‘n soortgelyke gebrek aan nadenke getuig.

Reaksies van Christelike publikasies
Die film word, soos homoseksualiteit regoor die wêreld, hier en daar met Bybelverse aangeval – dieselfde strategie wat so lekker deur SêNetters op hierdie webtuiste gebruik word om die een of die ander faset van die groot sonde van homoseksualiteit te onderstreep. Ek het ook reeds my bydrae gelewer en wil nie verdere polemiek skep nie.

Die Christelike gemeenskap mag egter nie oorvereenvoudig word nie, en dit is verblydend om te sien dat verskeie positiewe resensies in Christelike publikasies verskyn het. Daar is natuurlik ook uitsonderings.

Die Christian Science Monitor (http://www.csmonitor.com) se resensie het die film geloof as een van die mooiste liefdesverhale wat nog ooit op die skerm gesien is.

Die resensie deur Christianity Today was ewe positief en het die film op sy eie terme beoordeel.

Die United States Conference of Catholic Bishops, wat die film “moreel aanstootlik” gevind het, het ‘n baie dubbelsinnige resensie gepubliseer: die USCCB loof die aanbieding van liefde en verlies, maar beklemtoon dat homoseksuele en heteroseksuele verhoudings nie dieselfde is nie (wat vir ons almal duidelik is) en dat die aanvaarding van homoseksualiteit die film van sy kompleksiteit ontneem.

Ek dink dis húlle wat verby die kompleksiteit kyk om so ‘n stelling te maak: die film is baie versigtig om enigiemand te veroordeel. Dit is die gemeenskap as geheel, dit is bevooroordeelde individue, dit is ‘n geskiedenis van veroordeling, dit is die karakters self wat verantwoordelik is vir die tragedie.

In ‘n artikel in The Christian Post, wat verskyn het die week wat Brokeback sewe Golden Globe-nominasies ontvang het, word allerlei moontlike onchristelike gevolge toegeskryf aan dié film.

Movieguide.org kry egter loshande die toekenning vir die mees absurde, ekstreme en blatant onware resensie van Brokeback mountain. Met terme soos “antikapitalisties”, “anti-Christelik” en “neo-Marxistiese, homoseksuele propaganda” is die resensie deurspek van leuens en belaglikhede wat die storie soos pornografie laat klink.

‘n Ander resensie wat my lekker laat lag het, is beskikbaar by Focus on the Family, wat die Movieguide-artikel aanhaal (reeds ‘n bron van groot kommer) en onder andere die volgende stelling maak: “Youth could easily be led astray (...) into thinking that gay sexuality is perfectly normal ...” Mens wil byna vra: “Ja, en ...?”

Jack en Ennis is twee uiters simpatieke karakters. Hulle is nie sondaars verdoem tot die hel nie, maar doodnormale mense wat die transformerende krag van die liefde ervaar. Een van die mooiste reëls dialoog in die film word deur Jack gespreek, byna as ‘n verwyt aan Ennis: “I wish I knew how to quit you.” Dit is nie iets wat hulle kan verhelp nie. Die uitdrukking “love is blind” is nie om dowe neute so bekend nie.

Ek kan die ver-regse Christelike resensent se probleem insien: Wat moet gemaak word met ‘n goeie film wat ‘n sterk en boeiende storie het, maar teenstrydig is met enkele Bybelverse? Ek waardeer en respekteer resensies wat die film logies beoordeel sonder om die filmmakers tot die ewigdurende hel te vervloek. Resensente wat duidelik ‘n ander agenda het (ek is jammer, maar die sogenaamde “pro-Marxisme” in Brokeback mountain moes my op een of ander manier ontglip het!) lewer resensies wat louter drek is.

“Wat van die seks?”
Wat Lee in hierdie fliek wys, is veel meer as ‘n seksuele verhouding. Die liefde in hul verhouding sal ek graag wil beskryf met ‘n term soos agapé. Die twee hoofkarakters hier is nie net seksueel gefrustreerd in afgesonderde omstandighede of in ‘n toestand van jeugdige eksperimentasie nie: hier is uiteindelik twee karakters wie se gevoelens vir mekaar duidelik blyk uit hul aksies wanneer hulle saam en wanneer hulle apart is.

Wanneer hulle hul gevoelens liggaamlik toon, getuig hul aksies byna van diep, primitiewe instinkte: Ennis, wat Jack byna vier jaar laas gesien het, gryp hom in die openbaar en soen hom op gewelddadige wyse.

Oor die hoeveelheid seks tussen Heath Ledger en Jake Gyllenhaal gaan ek hier niks sê nie. Dit wat wel gewys word, val binne die noodwendigheid van die storie en is in goeie smaak. ‘n Vrou en haar man, ‘n ou en sy meisie kan almal die film gaan kyk sonder om hulself in die verleentheid te bring of ongemaklik te voel.

Voorts is dit nodig om ‘n onderskeid te tref tussen “gayfilms” en veral die gay regisseurs wat gewoonlik vir dié voorheen opruiende industrie verantwoordelik is.

‘n Kykie na gay regisseurs
Omdat homoseksualiteit tradisioneel onkonvensioneel was, het gayfilms ook as ‘n reël tot ’n subkultuur behoort. Natuurlik was daar spore in belangrike kommersiële films – ek dink hier aan Alfred Hitchcock se meesterstukke Rope en Strangers on a train, in 1948 en 1951 onderskeidelik, en Nicholas Ray se Rebel without a cause in 1955 – maar hoofstroomfilms het as ‘n reël nie sulke sake aangeroer nie. Die “Kode vir Moraliteit” waaraan Hollywood-films tot aan die einde van die 1960’s onderwerp was, het dit nie toegelaat nie.

In die vroeë 1980’s het ‘n ikoon van die “alternatiewe” hoofstroombeweging in Spanje sy eerste films begin maak. Sy naam is Pedro Almodóvar. Almodóvar se films is gevul met gay, transvestiese en transseksuele karakters. Sy styl is erg oordrewe en melodramaties, en ek dink dit is hoekom hy (paradoksaal) dit regkry om belangrike kwessies aan te spreek deur middel van oordrewe komedie.

Almodóvar het die oordrewe melodrama tot kunsvorm verhef en al byna vervolmaak. Sy stories is dikwels ernstig, selfs al dryf hy die meeste van die tyd liggies spot met die karakters.

Kan gay regisseurs films maak wat nie om die “gay” wêreld draai nie? Ek dink so. Maar hoekom doen so min van hulle dit? Kontroversie en skokwaarde speel ongelukkig ‘n groot rol en Almodóvar se eerste film het byvoorbeeld tonele van verkragting en ‘n lesbo-sadomasochistiese verhouding bevat.

‘n Ander groot kontemporêre gay filmregisseur is die Franse François Ozon, verantwoordelik vir 8 Women. Laasgenoemde was ‘n wonderlik onkonvensionele musikale komedie met ‘n struktuur wat herinner aan ‘n Agatha Christie-moordraaisel. In ‘n wonderlike oomblik omhels twee van die Franse filmbedryf se mooiste dames, Fanny Ardant en Catherine Deneuve, mekaar en rol op die vloer rond in kussende ekstase. Maar ook hier is dit ‘n komiese oomblik, want dit bots met die res van die film. Swimming pool, ook deur Ozon, het lesbiese ondertone gehad, maar die film was vir my uiters vervelig en sy groot twist aan die einde ‘n aaklige antiklimaks.

Ozon se jongste film, Le temps qui reste (letterlik: Die tyd wat oorbly), is selfs ‘n groter teleurstelling. ‘n Dertigjarige fotograaf, Romain, hoor dat hy kanker het en binnekort gaan sterf. Die groot fout van die film is dat daar oënskynlik heeltyd situasies (soos die paartjie wat sy semen wil hê omdat die man onvrugbaar is) en mense (soos sy androgene vriend) om Romain opduik wat ons wil herinner dat hy gay is. Die regisseur laai die storie met soveel gay-clichés dat ‘n mens later wil skreeu: “Genoeg is genoeg!”

Alejandro Amenábar is ‘n Spaanse regisseur wat met groot sukses wegbly van homoseksuele temas in sy werk. Tesis, The Others en The Sea Inside is unieke, kreatiewe werke, en die romantiese storielyn in laasgenoemde kan wat betref subtiele sensitiwiteit vergelyk word met Ang Lee se werk in Brokeback mountain.

Goeie regisseurs is wat tel, nie hul seksualiteit nie.

Onvermydelike vooroordele
James Schamus, die vervaardiger van Brokeback mountain en mededraaiboekskrywer van Crouching tiger, hidden dragon, het die volgende stelling gemaak: “People didn’t come out of Titanic saying, ‘What a great straight love story!’”

Schamus wil hê ons moet net so open-minded wees soos hy voorgee hy self is, maar ek vind die wens effens onredelik. In ‘n heteronormatiewe samelewing ontwikkel ‘n liefdesverhaal tradisioneel tussen ‘n man en ‘n vrou, en ons gaan dit so min bevraagteken soos die feit dat die twee Titanic-karakters wit is. Dinge verander nie oornag nie.

So graag soos ek wil, kan ek nie Brokeback mountain sien as net nog ‘n romanse nie. En tog kry die fliek dit reg, ten spyte van al ons vooroordele, om op ‘n uiters menslike vlak tot die kyker te spreek. Dit gaan hier nie om emosies spesifiek by mense wat gay is nie (ek dink in elk geval nie daar bestaan so iets nie); die storie draai om liefde en ongeregtigheid soos dit in legio ander stories die geval is.

Kompleksiteit
Ennis en Jack, en die res van die spelers, word deur die draaiboek gerespekteer. Niemand is engele nie en almal kry swaar. Dis ‘n vreeslike hartseer verhaal, maar uiters menslik. Hartverskeurend menslik. Jack en Ennis het en maak foute, en die draaiboek is nie bang om ons daarop te wys nie. Hulle neem ook belangrike besluite wat wys dat daar ‘n krag in hulle skuil: agter Jack se praterige persona skuil ‘n jong man wat goedkeuring soek by sy vrou; Ennis is ‘n vreeslik donker karakter wie se kop jy heeltyd kan sien werk.

Een van die belangrikste tonele is ‘n terugflits waarin Ennis se pa hom en sy broer neem om te gaan kyk na hoe ‘n gay man vermink is deur homofobiese aanvallers. Ennis is bang vir homself, vir sy eie gevoelens, en hy lê hierdie vrees aan Jack (en aan die kyker) bloot wanneer hulle jare later om ‘n kampvuur sit.

Niks is maklik nie, en niks lyk maklik nie. Ennis se vrou, Alma (vertolk deur Michelle Williams), se teruggetrokke manier van die skok hanteer is absoluut geloofwaardig en die verandering wat Jack se vrou (vertolk deur Anne Hathaway) aan die einde ondergaan, word oorgedra in ‘n belangrike telefoongesprek.

Oscar vir Brokeback mountain?
Sal dit die einde van morele waardes wees as Brokeback mountain die Oscar vir beste film wen? Nie in die minste nie. Die kanse is egter nie rooskleurig nie. Die afgelope paar jaar se hooftoekennings was alternatiewelik teleurstellend en interessant: Million dollar baby, Chicago en American Beauty was van die minder opwindende kandidate, terwyl Gladiator en Lord of the rings: The return of the king formidabele, epiese spektakels was. A beautiful mind was myns insiens een van die beste keuses die afgelope paar jaar.

Laas jaar is ‘n politieke troefkaart gespeel met die genadedoodvraagstuk van Million dollar baby (veel beter hanteer deur die wenner van die afdeling vir buitelandse films, die Spaanse The sea inside), en verskeie groepe het in die strate betoog. Het sulke mense niks beter om met hul tyd te doen nie? Heel dikwels het hulle nog nie eens die fliek gesien nie, maar spoeg Bybelverse oor ewige verderf.

Die laaste “Best Picture” met ‘n gay-inslag was 1969 se Midnight cowboy.
Die idee van homoseksualiteit is egter oorskadu deur die haglike omstandighede waarin die storie afspeel, en daar was nooit enige aanduiding dat die twee karakters seksueel met mekaar verkeer het nie. Midnight cowboy is vrygestel in die bloeityd van die seksuele rewolusie en het ‘n ouderdomsbeperking van 21 gehad (die destydse “X”-beperking). Is die samelewing nou eers gereed vir ‘n film soos Brokeback? Ek dink so. Ten minste: nou meer as ooit sedert die eerste film in 1895 vertoon is. Regisseurs het nog altyd op uiters subtiele wyse homoseksuele elemente tot stories geïnsinueer, maar is nou vir die eerste keer kommersieel vry om films oor homoseksuele paartjies te maak.

Gevolgtrekking
Brokeback mountain sal heel waarskynlik geprys word deur gay of liberale resensente vir sy eerlike blik op homoseksualiteit in ‘n groot kommersiële film. Dis natuurlik prysenswaardig, maar laat ons onthou dat ‘n tema onder geen omstandighede ‘n storie mag vervang nie. En ‘n tema mag nie ‘n film dra nie. Dit maak nie saak hoe belangrik die buitekant is nie, ‘n leë dop stel teleur. Die resensent moet kyk na iets wat dieper sit.

Ons weet nou dat Brokeback ‘n gaytema het – wat maak dit saak? Dis tog nie asof dit iets vreemds is om gay te wees nie. Die film inkorporeer egter hierdie gegewe en konstrueer ‘n opregte, pertinente en respekvolle verhaal daarrondom. Die resultaat is ‘n uiters geslaagde produk met estetiese en narratiewe kwaliteit wat die meeste ander films in die skande steek.

Met Brokeback mountain gee ons die eerste tree in ‘n rigting waar die kyker nie meer verbaas sal wees oor homoseksuele storielyne nie. Waar gayverhoudings of -dade nie vreemd (of selfs komies) sal wees nie, maar ‘n konteks-partikulariteit, soos die blonde dofkop of die Koue Oorlog in die speurverhaal. Die filmmakers moet dan egter ook minder self-bewus raak en stories vertel wat die moeite werd is – stories met karakters wat gay is, nie stories wat afspeel sodat karakters gay kan wees nie.

Brokeback mountain is ‘n melancholiese gedig oor iets wat jy soek en kry, maar nie mag uitleef nie. Dit gaan oor die onregverdigheid van die lewe, van die liefde. Uiteindelik is dit ‘n meditasie, op ‘n baie meer algemeen menslike vlak as suiwer homoseksueel. Om dinge so eenvoudig as moontlik te stel: die film wys met duidelikheid en minimalistiese suiwerheid dat almal mense is. Gevoelens van liefde en van gedeelde eenheid is nie die alleeneiendom van heteroseksueles nie.


· Brokeback mountain word op 10 Maart 2006 in Suid-Afrika vrygestel, en ‘n volledige resensie sal dan op LitNet gepubliseer word.




LitNet: 19 Januarie 2006

Wil jy reageer op hierdie resensie? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SÍNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.