FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Onbevredigende tendense in die rolprentbedryf

André Crous

cinephile2@yahoo.com

Jaarliks word tientalle films in Suid-Afrika vrygestel. Bittermin van hulle is egter werklik die R20-R30 werd. Die filmbedryf het rigting nodig. Waarvandaan kom al die snert wat ons jaarliks sien? En wat moet gedoen word om die situasie te verbeter?

Die kwaliteit van die meeste Hollywood-rolprente is maar laag. Moenie dat die polities korrupte Oscars (met die verpligte ©-teken daarby!) jou mislei nie. Denzel Washington en Halle Berry was nie die beste toneelspelers van hul jaar nie. Verreweg nie.

Wat is “Hollywood-rolprente”? Kortom, dit is films waarvoor ’n groot bemarkingspan aangestel word om Jan Publiek te bestook met propaganda om die film te gaan kyk. Nie alle Amerikaanse rolprente kom uit Hollywood nie. ’n Hele klomp is independent films en word op veel kleiner budgets geskiet, omdat die film nie deur ’n enorme produksiemaatskappy befonds word nie, maar deur ’n aantal eksterne bronne. Voorbeelde uit die afgelope jaar is In the bedroom, The deep end, The believer, Monster’s ball, Sidewalks of New York en Anniversary party. Die films hier genoem is nie noodwendig almal baie goed nie, maar daar is geen rede waarom sulke films net plek-plek vrygestel word nie.

My doodsteek is die tienerfilms, wat teaters verstop met breindooie karakters. En die invloed op die kyker se smaak is eksponensieel negatief. Die “teen movie”-genre waarin Hollywood homself toespin, is besig om totaal ondraaglik te word.

Daar is een of twee uitsonderings elke skrikkeljaar (ek dink aan die betreklik vermaaklike Can’t hardly wait), maar gewoonlik is die produksies banaal, met iemand soos Freddie Prinze jr in die hoofrol, en ’n draaiboek wat waarskynlik binne twee dae geskryf en onmiddellik verfilm is.

Neem die drek in aanmerking wat in 2002 uit die Hollywood-masjien gekom het: Not another teen movie, Scooby Doo, 40 days and 40 nights, Jason X, Van Wilder, On the line, Sorority boys, Rollerball, Sweetest thing, en nog ’n spul ander. Om dan nie eers te praat van Hollywood se pogings om aksiefilms te maak nie. Kyk net (of moenie) na iets soos die treurige Schwarzenegger-eksperiment Collateral damage.

’n “Teen movie” as sulks is nie ’n slegte ding nie; dit het net ’n slegte naam gekry omdat die filmkyker jaar na jaar dieselfde smakelose gemors gevoer word. Ek soek ’n film waar ek nie uit die lokprent (of selfs uit die poster!) kan aflei wat die storie, die klimaks en die einde gaan wees nie.

Terloops, Hollywood koop nie ’n draaiboek sonder ’n happy ending nie.

Daarom was ek so verras deur 2002 se Y tu mamá también (And your mother too) uit Mexiko. Dit is ’n teen movie, ja, maar ook ’n viering van die lewe, met karakters so kompleks soos ons, en ’n storie wat nie gaan vir eenvoudige antwoorde op belangrike vrae nie. Nooit sal ’n Hollywood-film so iets waag nie. Alles in ’n Hollywood-film moet altyd eenvoudig wees; alles moet blatant verduidelik en opgelos word.

Die groot skande hier is dat films soos Y tu mamá tot “18” beperk word. Intussen sal die gemiddelde tiener blootgestel word aan “PG13”-films, dit neem as die werklikheid, en gaan probeer seks hê met ’n appeltert, à la American pie.

Het jy al ooit gewonder hoekom tonele in Hollywood-films in soveel verskillende shots opgedeel is? Dis nie ’n estetiese besluit nie. Dis omdat Hollywood-akteurs met groot moeite meer as twee reëls dialoog sal kan onthou.

Terwyl iets soos 40 days and 40 nights miskien sy mark het en wel geld maak, is die vraag of die kykers dit nog oor ’n jaar of drie sal onthou. Die antwoord is ’n definitiewe “nee”. Hollywood werk volgens formules. Formules as gevolg waarvan een film byna nie meer onderskeibaar van die volgende is nie. Daar is min wat nog spesiaal is in die filmmark. Daar is min wat nog oorspronklik is in die filmmark.

Hollywood is egter nie die enigste kwaaddoener nie. Leon Schuster het die beeld van die Suid-Afrikaanse filmbedryf obseen vermink. Nogtans kom dit voor asof kwaliteit nie meer ’n rol speel nie. In Suid-Afrika het Mr Bones meer geld gemaak as Harry Potter and the philosopher’s stone. Waaraan kan ’n mens hierdie ongelooflike feit toeskryf? Is daar miskien iets inherent lagwekkends aan die eksplisiete toiletgewoontes van mense en diere? Wat is Schuster se abnormale fassinasie met ontlasting? Is dit die rede waarom soveel mense na sy flieks gaan kyk? Is Suid-Afrikaners regtig so kômmen? Is dit omdat Afrikaners hulself met sy swaar aksent kan vereenselwig? Dit is tog nie ’n rede om R25 te betaal nie. Probeer hy die Nuwe Suid-Afrika verbind deur middel van komedie? Nee, hy is al twintig jaar lank besig met hierdie twak.

Suid-Afrika se filmverspreiders is nie geïnteresseerd in kwaliteit nie. Soms is ons gelukkig en weier die een om pretensieuse selfverheerliking soos Vanilla sky uit te reik; maar wat word werklik uitgerig as dieselfde maatskappy dan wel maande lank ’n saal opsy sit vir Schuster? Die goeie films word gerelegeer tot Cinema Nouveau se handjievol filmsale, waarvan twee in Kaapstad, een in Durban, en twee in Gauteng opgespoor kan word — buite bereik van ’n groot gedeelte van die Suid-Afrikaanse bevolking.

Is daar hoop vir die Suid-Afrikaanse filmbedryf?

Ek sal vinnig kyk na die invloed van die twee belangrikste Suid-Afrikaanse films van die afgelope aantal jare: Paljas en Promised land.

Paljas, met regie deur Katinka Heyns, is op 23 Januarie 1998 in Suid-Afrika vrygestel. Dit was nie baie suksesvol nie. ’n Moontlike rede hiervoor is ongelukkig die feit dat dit in Afrikaans is. ’n Ander rede is moontlik die film se onwilligheid (dankie, tog!) om run of the mill te wees.

In die film word ’n familie aangeval omdat hul seun “anders” is. Die gemeenskap is nie gereed om die seuntjie en die kreatiwiteit wat deur sy muse verskaf word, te aanvaar nie. Dieselfde het met die vrystelling van die film gebeur: min mense het na die rolprent gaan kyk, omdat hulle eenvoudig net nie iets wou sien waaraan hulle nie reeds gewoond is nie. Enigiets “anders” of “vreemds” is die vyand. Dit is ’n groot jammerte.

Promised land, Suid-Afrika se nuutste film, met regie deur Jason Xenopoulos, word op 24 Januarie 2003 — amper presies vyf jaar na Paljas — in Suid-Afrika vrygestel. Dit is meer toeganklik in die sin dat die dialoog hoofsaaklik in Engels is. Dit is ook baie meer stylvol as enige vorige Suid-Afrikaanse film. Dit hanteer belangrike kwessies deur byvoorbeeld die gevaarlike gevolge van die breinspoeling deur Afrikaner-nasionaliste en Christen-fundamentaliste duidelik uit te wys. Ek sal graag wil sien wat die Suid-Afrikaanse publiek hiervan maak.

Is dit te intellektueel? Nee, dit is ’n film waarvan die boodskap hard en duidelik oorgedra word deur ’n regisseur wat ernstig is oor beide die inhoud en die invloed van sy film.

Waarom word so min Suid-Afrikaanse films gemaak en/of vrygestel? Daar is nie geld nie. Daar is nie belangstelling van enige groot vervaardigers nie. Wat het geword van die dae van Jans Rautenbach, ’n hiperaktiewe figuur in die Suid-Afrikaanse filmbedryf gedurende veral die 1970’s? Hy was glad nie pro-Apartheid nie. Inderdaad, films soos Die kandidaat en Katrina het die Apartheid-regime erg bevraagteken. So, wat is die probleem dan? Van waar kom die teenstand? Die probleem is louter gebrek aan belangstelling van vervaardigers wat liewer veilig wil speel en flou televisiereekse verfilm.

Paljas was die laaste groot Afrikaanse produksie. Katinka Heyns is die laaste groot Afrikaanse regisseur. Hoekom moet dit so wees? Daar is oorgenoeg stories in die kontemporêre Afrikaanse letterkunde — in die vorm van bekroonde skrywers Etienne van Heerden en André P Brink — wat sit en wag om verfilm te word. Waarvoor wag almal? Hoekom skryf Afrikaanssprekende draaiboekskrywers in Engels?

Met films is niks onmoontlik nie. Niks is “onverfilmbaar” nie. Hoekom kies Suid-Afrika steeds konvensionele struktuur bo vryheid van uitdrukking? Hoekom is Fiela se kind die laaste groot roman-tot-draaiboek-verwerking? Hoekom waag niemand nie? Dis glad nie so moeilik om beter films as Hollywood te maak nie. Maar Suid-Afrikaners kry net nie daardie geleentheid nie.

Ek begryp baie goed dat smaak uiters persoonlik is, maar ek moet ook glo dat die algemene Suid-Afrikaanse publiek wel ook positief deur behoorlike films geaffekteer kan word. Die probleem is net dat hulle nie blootstelling tot sulke films kry nie, omdat Schuster baie meer geredelik beskikbaar is.

Hoe moet films lyk?

Goeie films betrek ons by hul stories. Maar filmmakers kan dit regkry slegs deur hulself ook persoonlik by die storie te betrek. Die beste films is dié waar die filmmaker met sy binnegoed op die skerm verf. Films wat ons emosioneel en intellektueel bevredig. Films wat ons inspireer en verander. Films met stories wat ons verras, laat lag, laat huil, en beïnvloed soos niks vantevore nie.

Die huidige situasie is egter een waar swak films (wat nie aan bogenoemde kriteria voldoen nie) wel goed geld maak. So, hoekom moet films dan enigsins verander? Hoekom moet iets reggemaak word wat oënskynlik nie stukkend is nie?

Die wêreld se filmkykers — Suid-Afrikaners in besonder — het gewoond geraak aan middelmatigheid.

Die eerste stap op die pad van verandering is een wat deur die verspreiders gedoen moet word. Deur kunsfilms nie net tot Cinema Nouveau te beperk nie, sal die kykers blootgestel word aan verbeeldingryke wêrelde met nuwe stories — ver verwyder van hul huidige, verkrampte wêreld van platgetrapte formules en afgestompte karakters.

Die verantwoordelikheid lê ook by die kykers om ’n verandering teweeg te bring. As ons ophou om na slegte flieks te gaan kyk, sal hulle ophou om slegte flieks te wys.

Ek bedank Cinema Nouveau vir die moeite wat hulle doen met die keuse van hul films, en vir die kwaliteit wat hulle tot die Suid-Afrikaanse filmsale bring. Maar daar lê nog baie werk voor.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.