FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Amélie

Suzette Kotzé

Frans met Engelse onderskrifte
Spelers: Audrey Tautou, Mathieu Kassovitz, Jamel Debbouze, Dominique Pinon en ander
Regisseur: Jean-Pierre Jeunet
Speeltyd: Vanaf 5 April

Dit het al ’n cliché geword dat die moderne mens se bestaan so arm aan fantasie is, dat die koue, verontmenslikte stadslewe waarin die meeste van ons ons bevind, kan doen met ’n fantasie-element. Met Amélie word uit ’n heel onverwagse oord aan dié versugting voldoen.
       Onverwags, as jy in ag neem dat Jean-Pierre Jeunet ook die regisseur is van daardie pikswart Franse komedie van 1991, Delicatessen. Waar laasgenoemde werk met taboes en die makabere, is Amélie suiwer romantiese genieting. Tog is Jeunet steeds deeglik te bemerk in die spitsvondige dialoog, oorspronklike beelde en rare situasies.
       Dat Amélie se verhaal chronologies verloop en deur ’n vertellerstem aan ons oorgedra én vertolk word, bevestig dat dit hier om ’n fantasie gaan, dalk selfs ’n lewensles wat subtiel aan die kyker oorgedra word: kyk hoe kan ’n bietjie medemenslikheid en ’n skeutjie verbeelding jou saai lewe omtower.
      In die openingstoneel hoor ons van die presiese plek en tyd van Amélie se verwekking, kompleet met beelde van swemmende sperms. Dan word ons voorgestel aan haar ouers, ’n neurotiese onderwyseres en ’n koue, presiese dokter — ’n droewe prentjie. Die jong Amélie se huislike atmosfeer is nou nie wat jy warm en gelukkig sal noem nie, maar juis in hierdie omstandighede ontsnap sy in ’n wonderlike fantasiewêreld van haar eie en leer sy die krag van verbeelding.
      Die probleem is net, toe sy ná skool in ’n Paryse restaurantjie begin werk, het sy min sosiale vaardighede, veral wat die teenoorgestelde geslag betref, en trek sy haarself alte maklik terug in haar woonstelletjie waar sy haar aande voor die TV deurbring. Tot een aand, presies op die oomblik toe die dood van prinses Diana op die TV-nuus aangekondig word en sy van skok iets laat val wat haar lei na ’n opening onder die vloerlys. Op hierdie oomblik verander haar lewe onherroeplik — nie deur die identifikasie met ’n heldinnefiguur soos Diana vir soveel mense was nie, maar deur die ontdekking van ’n blikkie met ’n tienerseun se kleinode, ou foto’s en snuisterye.
      Amélie besluit om dié blikkie met sy kosbare herinneringe aan sy eienaar terug te besorg, en as sy dit kan regkry, sal sy haar voortaan daarop toespits om goeie dade aan ander te bewys. Soos die goeie prinses wil sy vir ander mense ’n goeie fee word — verkieslik anoniem, want sy is maar menssku. Haar soektog na die eienaar van die blikkie lei haar op nuwe paaie, weg van haar eensame roetinebestaan, en op ’n manier terug na die klein Amélie wat deur haar sin vir fantasie haar omstandighede kon transendeer. Uiteindelik lei dit haar ook na die liefde — met ’n bietjie hulp van die wyse ou kluisenaarkunstenaar in die woonstel oorkant hare!
      Soos die reklamemateriaal ’n mens daarop voorberei het, steel Audrey Tautou as die sku kelnerin met die bokkie-oë gou-gou jou hart. Sy word stewig ondersteun deur haar medespelers, wat een en almal hul karakters oortuigend tot lewe bring (kyk uit vir Dominique Pinon, die verloopte sirkusnar van Delicatessen, as een van die byspelers).
Die Engelse het ’n lekker term vir dié tipe fliek: heartwarming. As jy hierdie een misloop, gaan jou herfs koud wees en jou winter dalk te vroeg begin!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.