FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The legend of 1900 / La Leggenda del pianista sull’oceano (1998)


Coenraad Walters

Met: Tim Roth, Pruitt Taylor Vince, Clarence Williams III, Bill Nunn, Mélanie Thierry, Peter Vaughan
Draaiboek en regie: Giuseppe Tornatore (gebaseer op ’n roman van Alessandro Baricco)

Hoe van pas dat Tornatore se eerste Engelstalige fliek begin met ’n skip vol immigrante wat New York se hawe binnevaar! Die simboliese vreugdekrete wanneer die beroemde Liberty standbeeld in sig kom, sal hopelik nie ironies word soos hierdie knap storieverteller se loopbaan vorder nie. (Dit is egter ironies wanneer ’n mens tydens die slottitels besef g’n enkele kamera het vir dié prent in New York gedraai nie: die hawetonele is in die Oekraďniese hawestad Odessa verfilm! Drie hoera’s vir digitale toorkuns!)

Die ware toorkuns in The legend of 1900 is egter Tornatore se vermoë om ’n meesleurende verhaal te vertel. ’n Mens onthou die gevoelige beelde van klein Italiaanse dorpies in vorige meesterstukke soos Cinema Paradiso en Stanno tutti bene (Everybody’s fine) en jy is van meet af bereid om jou te laat oortuig. (En die musiek van die staatmaker Ennio Morricone maak dit baie maklik!)

1900 is ’n seun wat op ’n passasierskip, die Virginian, gebore word in die jaar 1900. Die vondeling word opgepas deur Danny (Nunn), ’n werker op die skip. Hy versteek die kind in die hoop dat owerhede hom nie na ’n weeshuis sal neem nie. Sodoende verlaat 1900 nooit die skip nie.

Selfs na Danny se dood, bly 1900 op die skip, so deel daarvan as die enjins en die anker. Onverwags ontdek 1900 sy klavierspeeltalent. Hy word deel van die skeepsorkes en word bekend vir sy briljante jazz, die nuwe musiekgier van daardie jare. Wanneer Max (Taylor Vince) as trompetspeler by die orkes aansluit, word hy en 1900 beste vriende. (Die toneel waarin 1900 Max se seesiekte besweer deur klavier te speel tydens ’n storm, en die klavier sonder sy remme deur die danssaal toer soos ’n ongestampte stampkarretjie, is een van die verbeeldingrykste momente wat ek nog ooit in ’n fliek gesien het!)

Wanneer Max jare later, lank na die Tweede Węreldoorlog, toevallig verneem dat die Virginian gesloop gaan word, besef hy dat 1900 nog op die skip sal wees en probeer hy hom vir die soveelste maal oortuig om van die skip af te klim en vir die eerste maal vaste grond onder sy voete te voel.

Hierdie legende beeld op unieke wyse die sonderling uit wat vir homself ’n węreld skep waarbinne hy optimaal kan funksioneer. Sekere aspekte van sy węreld bly staan soos hy dit leer ken het: hy laat byvoorbeeld ander mense binne sy węreld toe (hoe kan ’n passasierskip bestaan sonder sy passasiers?) en kom in aanraking met hulle, word selfs vriende met hulle en raak vir ’n kort rukkie verlief op ’n jong meisie (Thierry). Maar ander aspekte word selfopgelegde beperkings: hy klim nooit van die skip af nie, selfs al besluit hy vas om vir daardie meisie in New York te gaan kuier. Hy weier ook om opnames van sy klavierspel die węreld in te stuur.

Sy isolasie bekoor mense, en tog probeer selfs sy beste vriend Max om sy węreld te vernietig deur hom om te praat om af te klim. Dit laat die vraag ontstaan: in hoe ’n mate vernietig ’n mens se bekoring juis dit wat bewonder word? Hoe geduldig is ’n mens werklik met dit en diegene wat anders is as jy?

Tim Roth beeld die sonderlinge karakter met al sy emosies uitstekend uit. Sy nonchalante benadering van die oorverkoopte klaviertweegeveg tussen 1900 en die “uitvinder” van jazz, Jelly Roll Morton (Williams) dui presies aan hoedat 1900 nie werklik ’n węreldse begrip het van wat gebeur nie. Hy begryp egter sy eie węreld baie goed en kan nie daarbuite bestaan nie. Dis aangrypend dat 1900, op die trappies na die kaai, vassteek en die stad deeglik bekyk. En dan omdraai, want hy kan geen einde in die stad sien nie. Hy het behoefte daaraan om ’n einde te kan sien — dis waarop sy beperkte lewe hom voorberei het.

Max vertel die verhaal van 1900 se lewe aan ’n paar mense, onder meer ’n kwasterige ou musiekwinkeleienaar (uitstekend gespeel deur Peter Vaughan). In hierdie vertellings duik daar twyfel op: fabriseer Max hierdie sonderling, of het hy werklik geleef? Ten slotte gee ’n mens nie soveel om of daar uitsluitsel kom nie — die verhaal was te waardevol.

Mag Tornatore begenadig word met nog baie geleenthede om sulke poëtiese legendes op die silwerdoek te vertel.

(Ek sal hopelik ’n staaltjie vergewe word: Tydens ’n toer van die Stellenbosse Universiteitskoor in Januarie 1991 ry ons busse op die walle van die Lugano meer deur verskeie klein dorpies, onder andere een genaamd Paradiso. En ja, sowaar, daar is toe ook ’n Cinema Paradiso. En wat draai in die Cinema Paradiso? Nee, nie Tornatore nie, maar Teenage mutant ninja turtles, oorgeklank in Italiaans!)

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.