FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Le Roi danse (The King is dancing; 2000)

Coenraad Walters

Met: Benoit Magimel, Boris Terral, Tchéky Karyo, Colette Emmanuelle
Draaiboek: Andrée Corbiau, gebaseer op Philippe Beaussant se roman
Regie: Gérard Corbiau

As jy hou van intelligente periodeprente wat visueel meevoer, en wat kos vir die oor én die siel én die intellek in ’n netjiese, goed-nagevorste pakket aanbied, en jy het nog nie na die dansende koning gaan kyk nie, is daar ’n skroef los of ’n been gebreek of so iets. Maak dadelik ’n plan!

Louis XIV het in 1643 koning geword toe hy vyf jaar oud was. Daarom het sy weduwee-moeder (Emmanuelle) as regent regeer met ’n groep ministers. Toe hy 18 was in 1661, het hy (Magimel) aangekondig dat hy alleen sal heers, dat hy nie eens sy ministers behou nie. Hy het daarin geslaag om ’n kultuurryk te bou met die hulp van briljante kunstenaars, en het die langste van alle Franse konings op die troon gesit: 72 jaar! Die inligting in my klein boekie oor die Franse geskiedenis en die feite in die fliek klop nie heeltemal nie, maar feite en ’n goeie storie …

Min word gesê oor Louis (hopelik word ek vergewe dat ek die man nie Lodewyk noem nie) as staatsman; min word gewys van sy omgang met gewone mense. Hoewel sy huwelik genoem word, word die politieke slimheid daarvan verswyg (sy vrou was die dogter van die Spaanse koning). Want die klem van die draaiboek lê op meer filosofiese sake, op die verhouding tussen woordkuns en musiek, op die politieke funksie van die kunste, en op die broosheid van lojaliteit. Louis het ’n meesterkomponis en ’n meesterdramaturg en -akteur in sy diens, naamlik die Italiaans-gebore Jean-Baptiste Lully en die befaamde gladdemond Moliére. Die verhouding tussen dié drie mans vorm die basis van hierdie prent.

Hoewel Louis gevlei is deur die skeppings van sy twee dienaars, gebruik hy hulle as pionne in sy politieke magspel met verskillende belangegroepe. Hy jaag die vromes wat sy moeder omring, die harnas in deur meer as net ’n plot, soms hele stukke dialoog aan Moliére voor te skryf. Wanneer Lully in ’n gespanne oomblik aanspraak maak op sy vriendskap met Louis, sê Louis dat hy geen vriende het nie, dat Lully se musiek ’n funksie vervul in die grootsheid waartoe hy Frankryk wil opbou. Om dieselfde rede begin Louis om Versailles te bou, ’n fantasieryke, maar spandabelrige plan wat bloot tot Louis se eer uitgevoer word. Die ballette waaraan hy in sy jonger dae deelneem, is ook met hierdie oogmerk beplan. Dis hier dat hy die bynaam van Sonkoning verwerf het: soos planete en mindere hemelliggame het ander dansers om die koning gewentel; ook die musiek, verhaalstruktuur en verhoogkuns is beplan om hom sentraal te stel.

Die verhaal word geraam deur die “beroemde” oomblik wanneer Lully per ongeluk sy eie voet met sy dirigeerstaf deurboor (die kyker leer heelwat omtrent musiekpraktyk van die Franse Barok). Hy doen gangreen op en sterf daaraan, sonder dat die koning hom ’n besoek waardig ag (die kyker leer ook heelwat omtrent die sewentiende-eeuse geneeskunde, en slaak ’n sug van dankbaarheid vir die twintigste eeu!).

Van die kunstenaars ontvang Lully (Terrall) die meeste aandag. Sy karakter is kompleks: hy is biseksueel, aangetrokke tot die jong koning, bewus daarvan dat sy talent nutteloos is sonder koninklike ondersteuning. Die gevoellose manier waarop hy die koning manipuleer ten koste van Moliére (Karyo) en sy houding teenoor sy vrou maak hom nie ’n simpatieke karakter nie, maar sy talent straal deeglik deur (hoewel die akteur se “vioolspel” onoortuigend is).

In sekere tonele word gebruik gemaak van byna fantasmagoriese suggestie, om byvoorbeeld Louis se oorloë uit te beeld, asook Moliére se siekte en sy dood op die verhoog.

Regisseur Corbiau het reeds hier met twee vorige films beïndruk: Farinelli (1994, oor die beroemde castrato-sanger) en sy besonderse debuut, Le maitre de musique (Die maestro, 1988, met die bariton Jose van Dam in die hoofrol). Die stempel van kwaliteit wat op hierdie prente afgedruk is, is weer eens duidelik merkbaar. Die kyker word op intelligente wyse vermaak en ingelig; meegevoer sonder om verkul te word. Bogemiddelde vermaak, as hierdie soort fliek in jou smaak val.

Voetnoot
Kort nadat ek Le roi danse gesien het (so 30 minute later), het ek Moulin Rouge gesien, die Australiër Baz Luhrman se nuutste skouspel (lees gerus Suzette se volledige resensie elders in hierdie ruimte). Aangesien musiek in albei prente sentraal staan, vorm ooreenkomste en verskille ’n interessante vergelyking.

In albei word ’n menslike “godheid” sentraal gestel in skouspelagtige danstonele. Maar teenoor die skatryk en polities magtige koning Louis, is Satine arm en moet sy haar liggaam ten toon stel en “verkoop” om haar (en ’n groot groep ander mense) aan die lewe te hou.

Die sosiale funksie van musiek het duidelik verander tydens die bykans 250 jaar wat die twee verhale skei. Louis het dit gebruik om sy persoonlike eer en sy politieke mag uit te bou; in die Moulin Rouge is musiek daar om die massas (al is dit dan die welgestelde manlike massas) te vermaak. Hierin sluit dit aan by die (kamma?) boheemse beginsels van waarheid, skoonheid, vryheid en liefde.

Ook die verhouding tussen kunswerk en gehoor verskil skerp. Corbiau bied aan sy kykers ’n visuele en intellektuele fees, gebaseer op (oënskynlik) diepgaande en deeglike navorsing. Die musiek word verskaf deur een van die vooraanstaande periodemusiekgroepe in Europa, Musica Antiqua Köln. Die kyker word tot nadenke gestem, maar al hierdie prikkels word in die “pakket” wat aangebied word, ingesluit.

Luhrman vereis van sy kykers harde werk en voorkennis van die onlangse popkultuur. Die musiek wat hy kies om sy verhaal aan te dryf is sekerlik geheel en al veel jonger as die jare waarin die prent afspeel (1899-1900) — en ek moet erken, ek kon nie altyd met ewe veel begrip met die res van die gehoor saamlag nie (natuurlik wel vir “The hills are alive …”: dit sal nooit weer dieselfde wees nie!). Sekere verhaalelemente sal egter aan operagangers bekend wees: Verdi se befaamde La traviata dateer uit die 1850’s. Juis hierdie anachronismes maak ’n mens bewus van die spel met genregrense wat Luhrman speel. Ja, sy verhaal is eintlik oorbekend en afgesaag, maar die spitsvondige musiek, die onverwagte (?) einde en die visuele warboel waarmee hy dit vertel, maak dit op ’n nuwe manier lewendig. Luhrman het moontlik nuwe energie in die rolprent-musical geblaas. ’n Mens ys om te dink wat daarvan gaan word in mindere hande!

’n Kyker het nogal stamina nodig om hierdie twee prente direk na mekaar deur te sit, maar dis die moeite werd! Die manier waarop hulle as ’t ware vonke van mekaar afslaan, maak dit ’n waardevolle ervaring.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.