FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Code Unknown: Incomplete Tales of Several Journeys

Frans met Engelse onderskrifte

Suzette Kotzé

Spelers: Juliette Binoche, Thierry Neuvic, Alexandre Hamidi, Ona Lu Yenke, Maimouna Hélène Diarra
Regisseur: Michael Haneke

Een van die kenmerke van die 21ste eeuse mens se bestaan is dié van vervreemding, en min is dit nog so treffend uitgebeeld as in regisseur Michael Haneke se Code Unknown, by Cannes 2000 bekroon met ’n spesiale jurie-prys. Haneke se kamera kyk met ’n meedoënlose oog na die vele fasette van buitestaanderskap, op die uiterlike sowel as innerlike vlak.
       Soos die onlangse Things you can tell just by looking at her verweef die film ook ’n klomp karakters se verhale. ’n Mens dink onwillekeurig aan die beroemde aanhaling van die Indiane-hoofman Seattle: dat ons almal draadjies gespin is in die web van die lewe, en as een draadjie aangeraak word, raak dit die hele web. Die mensgemaakte stadswêreld waarin die verskillende karakters se lewens mekaar aanraak, verskil egter hemelsbreed van Seattle se verwysing van elke draadjie wat in sy verweefdheid in die web hoort en behoort. Hierdie wêreld is koud en hard, en die meeste mense in hom baklei vir ’n plekkie in die son deur ’n ander weg te stoot — die ragfyn draadjie van medemenslikheid word telkens verbreek.
       Daar is die immigrantevrou uit Roemenië wat hoop om ’n onbenullige werkie te kry in die ryk stad Parys, maar uiteindelik net kan bedel. Wanneer sy verneder word deur ’n jong Fransman, Jean (Alexandre Hamidi), tree Amadou (Ona Lu Yenke), ’n swart Franssprekende immigrant, tussenbeide. Wat bedoel was as ’n daad van ubuntu loop uit op die vrou se deportasie, terug na haar verarmde familie en dronklap-man.
       Daar is die verhoog- en TV-aktrise Anne (Juliette Binoche) wie se minnaar, Georges (Thierry Neuvic), ’n oorlogsfotograaf in Kosovo is (hy is ook die broer van Jean, wat stad toe is om weg te kom van sy pa en die plaas wat hy moet oorneem). Anne en Georges se verhouding is ’n tipiese moderne een — op die oog af onafhanklik en gedistansieerd. Hy is selde tuis en sy aankoms- en vertrektye na gevaarlike bestemmings is lukraak, terwyl sy ’n besige en suksesvolle loopbaan het. Maar onder die oppervlak kolk emosies wat weens hul onvermoë om dit uit te druk soveel feller is.
       Die lewens wat uitgebeeld word, is hoofsaaklik dié van Anne en Georges, Jean en sy pa, Amadou en sy familie, en die Roemeense vrou en hare. Die middelpunt van die web waar hul lewensdraadjies en -paadjies kruis, is die minder mooi dele van Parys. Haneke ontluister behoorlik die (oor)geromantiseerde beeld van dié gewilde toeristebestemming. Die mense wat hier ontmoet, is nie gaaf en goed en beleef ’n lekker tyd nie. Hulle stry vir oorlewing, sy dit fisiek of emosioneel, en dis juis hul verontmensliking en los wees van mekaar wat hul stryd so wanhopig maak (vergelyk Anne se [on]betrokkenheid by die mishandelde dogtertjie in haar woonstelblok).
       Telkens kan die karakters nie met mekaar kommunikeer nie omdat die kode “onbekend” is, sy dit taal-, kultuur- of godsdienstige kodes. Dit op ironiese wyse te midde van die mees gesofistikeerde moderne kommunikasiemiddele van internet, TV en selfoon.
       Hierdie losgeskeurde, eensaam dobberende aard van die karakters se lewens word verder versterk deur die abrupte toneeloorgange — sommige só abrup dat dit behoorlik ’n skok vir die kyker is. Deur dié tegniek en sy emosielose styl slaag Haneke daarin om die kyker as’t ware ook te vervreem — ’n mens bly droogoog ’n toeskouer van skreiende menslike lotgevalle.
       Die hoofspelers is almal puik, en veral Juliette Binoche beïndruk nogmaals met haar onderbeklemtoonde spel. Ook die spelers in die kleiner rolle kwyt hulle goed van hul taak, en mens wil hier Maimouna Hélène Diarra, wat Amadou se ma speel, uitsonder.
       As ’n studie van die ongenaakbare aard van die heterogene wêrelddorp, met sy onverdraagsaamheid, vreemdelingehaat, diskriminasie en rassisme, is Code Unknown sonder gelyke. Gaan kyk daarna — jy sal jouself en die wêreld om jou daarin herken.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.