FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
The 6223 is replica watches shop a very simple table, willow leaf replica watches pointer, small Rome digital scale, leaving a lot of rolex uk blanks to the dial, which is different from most tables' efforts to fake watches uk make full use of the dial space.

Bridget Jones’ diary (2001)

Coenraad Walters

Met: Renée Zellweger, Colin Firth, Hugh Grant, Jim Broadbent, Gemma Jones, Embeth Davidtz
Draaiboek: Helen Fielding, Richard Curtis, Andrew Davies
Regie: Sharon Maguire


Bridget Jones moet koningin word, Renée Zellweger haar persoonlike verteenwoordiger en Helen Fielding haar toespraakskrywer. G’n Annus Horribilis meer nie, en niemand sal ooit weer die relevansie van die Britse koningshuis bevraagteken nie: Bridget is ’n Elkevrou na een en almal se harte (selfs al wil almal dit nie noodwendig erken nie!).

Sien, Bridget is ’n 32-jarige “singleton” en is glad nie trots op haar status nie. Haar sukses met mans is net so beroerd as haar pogings om haar gewig te beteuel en haar drankinname en rookgewoonte te beheer. Bowendien brand die ligte miskien, maar daar’s nie altyd iemand tuis nie, veral nie as sy voor mense (of selfs met mense!) moet praat nie. Nie noodwendig ’n baie simpatieke karakter nie, maar aangesien ons haar leer ken deur haar dagboek (waarvan dele op die skerm verskyn op allerlei vindingryke maniere), kruip ons diep genoeg onder haar vel in om met deernis vir en met haar te lag, en gelukkig te voel oor die slot.

Hoewel dit na ’n “chick’s flick” mag lyk, behoort mans ook die humor in haar lewe te geniet. Bridget se lotgevalle toon ook dat “singletons” universele probleme ervaar: ’n mens hoef nie die Britse samelewing te verstaan om te weet wat sy deurmaak nie!

Zellweger klink asof sy nog nooit voet van die grote klein eilandjie af gesit het nie — ’n pluimpie vir haar dialekafrigter! Grant speel amper sy ou rol van die sjarmante deurmekaar Engelsman, maar dié keer is hy die slegte ou. Colin Firth lyk maar net soos ’n besemstok; eintlik is hy ’n heel knap Britse romantiese held. Maar beduidend Brits! Ook kleiner rolle soos dié van Bridget se ouers (Broadbent en Jones) word uitstekend vertolk.

Vir ’n gerieflike lekkerkryfliek kan ekBridget Jones’ diary sterk aanbeveel.

Natuurlik wonder ’n mens hoe goed die trefferboek van 1996 verfilm is. Ek had die voorreg om onlangs vriende in Edinburgh te besoek. Daar was die boek in ’n supermark teen ’n weggeeprys beskikbaar, en in die 28 uur voor ons na die fliek gaan kyk het, kon ek die 310 bladsye vinnig deurdraf (wat is openbare vervoer tog ’n wondersoete ding!).

Die twee weergawes verskil genoeg om lees én kyk die moeite werd te maak (en as jy ’n obsessiewe boekversamelaar is, koop twee — een vir uitleen!) Bridget se ma lei ’n veel interessanter lewe in die boek, en natuurlik is daar te veel besonderhede oor Bridget se “saai” lewe (asook daardie fassinerende vriendekring van haar!) om alles in ’n rolprent op te neem.

Die oorspronklike skrywer, Helen Fielding, het self die verwerking tot draaiboek behartig, bygestaan deur onder meer Richard Curtis, wat heerlike ligthede soos Four weddings and a funeral en Notting Hill aan die wêreld geskenk het. Wanneer ’n mens in die gepubliseerde draaiboeke van dié prente kyk na die tonele wat weggelaat is, besef jy hoe streng Curtis kan redigeer — iets wat ook hierdie draaiboek versterk het. Tog is dit jammer dat haar vriende, en veral die groep paartjies wat haar gereeld vir etes uitnooi, so min aandag ontvang.

Die (dag)boek se ligte toon word egter netjies vasgevang, en die veranderinge is meestal sinvol. Tog is daardie kamma-kroeggeveg amper te veel, hoewel getemper deur die skreeusnaakse keuse van liedjie!

Iets wat die verhouding tussen boek en draaiboek veel interessanter maak as gewoonlik, is die rolverdeling. Hugh Grant en Colin Firth word albei by name as akteurs in Bridget se dagboek genoem. Die verwysing na Grant se indiskresie op Sunset Boulevard laat ’n mens wonder of hy of sy agent die boek self gelees het! Dit maak dit nog meer van pas dat hy die haatlike man speel. Soos Bridget wil ’n mens amper vir sy sjarme val (soos in die genoemde twee prente wat Richard Curtis geskryf het), maar dis nie sy beurt daarvoor nie! Tog is hy ook nie heeltemal so weersinwekkend as in An awfully big adventure nie.

Colin Firth se teenwoordigheid is buitengewoon belangrik en interessant. In die boek word daar verwys na sy optrede as Mr. D’Arcy, die manlike protagonis in Jane Austen se Pride and prejudice soos deur die BBC verfilm. Bridget en haar vriendinne beskou Austen se karakter as ’n wonderlike, byna ideale man, al het hy aanvanklik ’n swak indruk op die heldin gemaak. Hulle vergelyk hom met die seun van Bridget se vriende, Mark Darcy, wat ooglopend doelbewus meermale in Bridget se geselskap ingedwing word. Hy is vervelig, verwaand en ’n klomp ander slegte dinge, en Bridget HAAT hom! So skryf sy in haar dagboek. Wanneer Kupido se pyltjies begin vlieg en Bridget versink in Mark Darcy / Colin Firth / Mr. D’Arcy se arms, besef jy dat daar niks nuuts onder die son is nie: Fielding het eintlik vir ons ’n moderne weergawe van Pride and prejudice geskep.

Nie dat ’n mens haar dit kwalik neem nie. Duisende lesers het Bridget Jones’ diary vir lank op die trefferlyste gehou, en die fliek het gehelp om verkope weer eens die hoogte te laat inskiet. Duidelik het Fielding ’n snaar gepluk wat simpatiek resoneer in vele lewens. Ook die opvolgboek (’n mens herhaal tog ’n suksesresep, nie waar nie!) genaamd Bridget Jones: the age of reason (1999) blyk ’n groot sukses te wees.

Trouens, so word ek vertel. Ek sit een laatmiddag in die somerson in Edinburgh se Princes Gardens en lees die dagboek, toe ’n “tweener” my uit die bloute stormloop en vra of ek al die opvolgboek gelees het. Nee, sê ek. Wel, verseker sy my, dis hoogs aan te beveel. Hopelik neem sy die kamma-waarskuwing op die voorblad van die dagboek in ag: mense wat Bridget se lewenstyl wil navolg, mag hul gesondheid ernstig benadeel!

Lag was egter nog nooit sleg vir ’n mens nie. Kyk en/of lees, en lag heerlik!

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.