FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Po?sie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
The 6223 is replica watches shop a very simple table, willow leaf replica watches pointer, small Rome digital scale, leaving a lot of rolex uk blanks to the dial, which is different from most tables' efforts to fake watches uk make full use of the dial space.

Before night falls


Coenraad Walters

Met: Javier Bardem, Olivier Martinez, Johnny Depp, Sean Penn,
Draaiboek: Cunningham O’Keefe (gebaseer op Reinaldo Arenas se memoires)
Regie: Julian Schnabel

Hierdie prent gee ’n mens ’n besondere besef van die rolprentlewe buite Hollywood. Before night falls lyk asof dit met ’n piepklein begrotinkie gemaak is (kyk maar na die kwaliteit van die openingstitels), en tog word dit deurstraal met ’n liefde en kwaliteit wat baie geld nie kan waarborg nie.

Die prent vertel die lewensverhaal van ’n Kubaanse romanskrywer, Reinaldo Arenas. As tiener het hy hom aangesluit by die revolusionêre groep wat Castro aan bewind help kom het. Na die sukses van die revolusie het hy hom steeds daaraan gewy, maar die regime het later besluit om nie langer die samewerking van Kuba se gay gemeenskap te verwelkom nie en Arenas het (soos ander gays) die slagoffer van vervolging geword. (’n Soortgelyke geskiedenis het hom in Nazi-Duitsland afgespeel: aanvanklik het gays ywerig deelgeneem aan die opbou van die Nasionaal-Sosialistiese regering, maar later is hulle ook geteiken as ’n groep om uitgewis te word. In die berugte Nag van die Lang Messe is die Nazi-topstruktuur van gays “gesuiwer”. Die verfilmde toneelstuk Bent handel hieroor.)

Arenas se kritiese ingesteldheid teenoor die nuwe regering het sy gewildheid verder laat taan, en sy sukses met die uitsmokkel van manuskripte (wat in ander lande gepubliseer is) het hom ook die gramskap van die maghebbers op die hals gehaal. Hy is onder meer in eensame aanhouding geplaas. Later het die Kubaanse regering ’n groot groep mense die kans gegee om Kuba te verlaat, en aangesien homoseksuele persone in hierdie groep geval het, kon Arenas die land wettig verlaat — ironies genoeg nadat ’n hele paar onwettige pogings misluk het! Hy het hom in Amerika gevestig en is later daar oorlede.

Die kyker word nie met ’n lepel gevoer nie: jy moet mooi bybly en konsentreer op alles wat gebeur, anders mis jy iets belangriks. En dis nogal ’n lang stuk konsentrasie wat van jou geverg word, maar dis deeglik die moeite werd.

Tog is dit nie ’n probleemlose film nie: van die spronge in die verhaal is net te verwarrend — ek sou graag ’n bietjie meer hulp wou hê. Miskien is ek ’n lui kyker, vetgevoer op Hollywood se graad 1-geskiedenislessies, maar ek sou byvoorbeeld wou weet hoe lank Arenas in eensame aanhouding was (my kloustrofobie sou moontlik nie daardie ou selletjie oorleef het nie …).

Voorts het ek ’n probleem met die taal: die grootste deel van die fliek is in Engels geskiet. In New York is daar ’n dokumentêr oor Arenas gemaak, en met hierdie tweede kamera praat hy Spaans — en skielik kry die prent ’n sterker lewe as tevore. Soos met ander onlangse prente (Sunshine, wat eintlik in Hongaars moes gewees het, en Chocolat, wat veel meer sjarmant sou wees in Frans) voel ek dat die Internasionale Mark, wat aandring op die Internasionale Lingua Franca, hier ’n uitstekende prent tot iets minders gereduseer het.

En tog staan dit kop en skouers uit bo baie ander (Amerikaanse) dokudramas van die onlangse verlede. Die bydrae van Martinez, Penn en Depp (in twee rolle, waarvan een nogal ’n amusante skok is!) moet aangeprys word.

Maar dis Bardem wat die prent dra. Sy spel in Second skin (lees resensie elders in dié ruimte) het hom reeds hier bekend gemaak, en die feit dat hy vir die rol van Arenas ’n Oscar-benoeming ontvang het, sal nou seker deure in Hollywood laat oopswaai. ’n Mens wil sê: Ag, hoe jammer!

As ek eendag groot is, sal ek dit ’n Nuwejaarsvoorneme maak om op te hou teef oor die Oscars. Maar wragtag: hoe kon Russell Crowe gewen het teen Bardem?!?

Die groot verskil tussen Before night falls en Gladiator, reken ek, lê in die werk wat van die gehoor verwag word. In die Romeinse bloed-en-derms-sage is die verhaal so ’n intense aaneenstrengeling van tonele wat hewige emosies opwek dat die gehoor daardeur meegesleur word. Crowe moet basies net ernstig en sterk lyk deur die hele prent: wat hy doen, is eintlik irrelevant in die lig van die Groot Storie. Daarteenoor is daar soveel spronge in Before night falls dat die gehoor amper self die verhaal moet “saamstel” uit wat aan hulle gewys word. Die akteur in die rol moet dus alles gee om die karakter so volledig as moontlik te maak — iets waarin Bardem by uitstek slaag. Kortom: gemorskos vs ’n fynproewersdis.

Nog iets wat in Before night falls se guns tel, is die feit dat die landskap nie verromantiseer word met lang, dralende kameraskote nie. Die prent self is egter so krities teenoor die Kubaanse regering dat dit volgens die Internet Movie Database (www.imdb.com) in Mexiko verfilm is — Kuba sou nie soveel kritiek op eie bodem toelaat nie. Dus liewer minder (en slegs funksionele) landskap as ’n surrogaat.

Before night falls bly ’n mens by. Dis nie ’n maklike fliek nie, maar dis ’n moet vir die ernstige fliekvlooi.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.