FilmFundi - for movie addicts - vir fliekvlooieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Things you can tell just by looking at her

Suzette Kotzť

Regisseur: Rodrigo Garcia
Spelers: Glenn Close, Holly Hunter, Calista Flockhart, Cameron Diaz, Kathy Baker, Valeria Golino, Amy Brenneman, Matt Craven, Danny Woodburn, Gregory Hines

Om jou op gene en Mendel se erflikheidsleer te verlaat soos ek gedoen het toe ek hierdie film gaan kyk het, is nie noodwendig betroubaar nie, maar hier was dit volkome geregverdig. Die skrywer en regisseur, Rodrigo Garcia, is die seun van die beroemde skrywer en Nobelpryswenner Gabriel Garcia Marquez, en die appel het inderdaad mooi neffens die boom geval.

Garcia verweef losweg die lewens van ’n klompie vroue in vyf episodes, elk met ’n veelseggende titel. Daar is dr. Keener (Glenn Close), op die oog af kalm en beheersd in haar duur huis in die deftige buurt Sherman Oaks, maar sy voel oorweldig deur haar verantwoordelikheid vir haar seniele ma en sukkel om haar onlangse egskeiding te bowe te kom. Weens haar liefdesobsessie met ’n kollega laat kom sy ’n Tarot-leser, Christine (Calista Flockhart). Die lesbiese Christine beleef haar eie krisis: haar minnares Lilly (Valeria Golino) is sterwend aan kanker en die bitterheid van verlies staan voor haar deur. ’n Verdere episode handel oor Rebecca (Holly Hunter), ’n 39-jarige beroepsvrou en bestuurder van ’n groot bank, wat ontdek dat sy swanger is, maar haar minnaar van drie jaar (Gregory Hines) is getroud. Sy kom telkens ’n boemelaar, Nancy, teŽ wat by haar sigarette bedel en haar sommer ook haar fortuin vertel (’n parallel met dr. Keener en die Tarot-kaarte). Rose (Kathy Baker) is die enkelouer van ’n vyftienjarige seun en bitter eensaam. Wanneer ’n dwerg (Danny Woodburn) oorkant hulle intrek, is sy teen haar sin gefassineer. Carol (Cameron Diaz) is blind en bly saam met haar suster, Kathy (Amy Brenneman), ’n speurder. Ten spyte van haar gestremdheid het sy ’n onblusbare lewensdrif en geloof in liefde en romanse (in ’n klein voetnoot aan Marquez lees sy per geleentheid One Hundred Years of Solitude in braille).

In die openingstoneel word Kathy ontbied na die selfmoordtoneel van ’n vrou, en die fliek eindig by dieselfde vrou. Dit gee ’n aanduiding van die twee groot temas wat op veelvlakkige wyse in die verskillende verhale aangeraak word: die dood — selfmoord, ouderdom en aftakeling, aborsie, siekte; en die liefde — obsessioneel, verraderlik, bloedskandig, opofferend, ongeoorloof, oor kleur-, geslags- en sosiale grense heen, met die boemelaar Nancy wat moontlik die naaste aan die essensie daarvan kom.

Die titel, Things you can tell just by looking at her, is besonder betekenisvol. Die kyker volg die uiterlike en innerlike lewens van elk van die karakters deur van buite daarop in te kyk. Saam vorm hierdie grepe ’n tapisserie van die lewe waarmee ’n mens op universele vlak identifiseer, eerder as dat daar ’n sentrale storielyn is wat jou meesleur.

Die film boei deurgaans en is ryk aan simboliek en suggestie. Dit het ’n broeiende, nogal donker atmosfeer wat verkry word deur die slim gebruik van onderbeligting en dralende kameraskote. Die regisseur sit nie ’n voet verkeerd nie en ’n mens waardeer veral die subtiliteit waarmee hy te werk gaan: die raakpunte tussen die verskillende karakters se lewens word nÍrens geforseer nie en berus soms net op plek of die noem van ’n naam. Teen die einde word elke draadjie ook nie verbete vasgebind nie, en ’n paar bly tergend hang sodat ’n mens nog verder daaroor kan gaan nadink.

En die filmopset is — halleluja! — wÍrelde verwyder van Hollywood-glans: die aktrises dra die minimum grimering en hul brose en alledaagse menslikheid wys in elke plooi en sproet, die kringe onder die oŽ en die losserige nekvel. Kortom, dis ’n karaktergedrewe film wat gedra word deur die uitstekende toneelspel van een en elk van die spelers, die bekendes ťn minder bekendes.

Hierdie stemmingsvolle prent word hoog aanbeveel vir kykers van ernstige flieks.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.