NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Robert Young
Robert Young is programbestuurder by radiosondergrense, en ook aanbieder van die versoekprogram “U eie keuse” wat reeds sedert 1945 ’n instelling op Afrikaanse radio is. Vir Leserskring het hy reeds drie CD-stelle saamgestel met treffers uit dié program en al drie is blitsverkopers. Sy debuutroman En toe kom die reën het in 2001 verskyn.
  Robert Young

Ant Mary se groot skrik

Robert Young

Die eerste keer toe ek Dries Winterbach gesien het, het ek die oom wantrouig dopgehou. Want agter dik brillense, soos die boom van ’n vrugtefles, het sy deurdringende blou oë gevaarlik groot gelyk. Boonop het hy omtrent nie ’n woord gesê nie, byna al die praatwerk aan sy vrou, Ant Mary, oorgelaat. Dit was die dag toe hulle ons as nuwe intrekkers kom verwelkom het.
        “Lovey,” het hy uiteindelik gesê. “Ek dink die mense is moeg, en hulle het nog baie om uit te pak.” Ant Mary het instemmend geknik, maar terwyl hulle saam met my ouers uitgestap het, het sy sonder ophou gepraat, en die grootste deel van haar gesprek eers ’n halfuur later by die voorhekkie afgesluit.
       Hulle het reg oorkant ons op ’n burgererf gewoon — ’n stuk grond wat van straat tot straat loop. Dit was die laat vyftigerjare. Agter die huis was daar vrugtebome en ’n groentetuin, en heel agter, teenaan die ander straat, ’n stal waar twee melkkoeie aangehou is. Op daardie vaal Wes-Transvaalse dorpie was dit ’n statussimbool, maar jy moes ’n munisipale permit hê, en die stal skoonhou. En almal het die regulasies nagekom, want sou ’n vlieëplaag uitbreek, het die eienaar van die koeie net soveel gely as die bure.
       ’n Groot vreugde was ’n tamaai sementdam, waaruit die groentetuin natgelei is. In die somer het hulle dit een keer per maand laat leegloop en geskrop, en dan het ons, op uitnodiging van die Winterbachkinders, vir ’n week of so daarin baljaar, totdat die slyk te dik op die water begin dryf, en die waterskerpioene se getalle te drasties aangegroei het.
       Ons het gou agtergekom dat daar tussen dié oom en tannie, al het hulle by die eerste kennismaking na die onwaarskynlike egpaar gelyk, ’n besonder goeie verhouding bestaan. Ant Mary was die prater, en oom Dries die swyer, maar my pa het gesê hy dink sy laat haar deur oom Dries lei, al het sy oorspronklik al die idees by hom geplant. Ons het hom leer ken as ’n vriendelike, gemoedelike mens, wat lekker kon kuier sonder om eintlik te praat. Sy broer, Frans, wat ook op die dorp gewoon het, het gereeld kom inloer, en die twee kon ’n hele aand omkuier sonder dat daar meer as gegroet en totsiens gesê is.
       Oom Dries het die gewoonte gehad om uit die regterhoek van sy mond sulke tsj-tsj-geluide te maak. Elke keer as oom Frans na ’n lang stilte sê: “Jaa, broer,” het oom Dries geantwoord met: “Tsj-tsj.” En so het die gesprek verloop: stilte op stilte, gevolg deur “Jaa, broer,” en die voorspelbare: “Tsj-tsj.”
       Oom Dries was skofbaas op die myn, later mynkaptein, en hy’t so ’n verblykte ou Chevey gery, destyds algemeen as ’n two-seater bekend. Maar dit was ’n deftige kar, veral vir ons, wat glad nie ’n ryding gehad het nie. Later het hy ’n nuwe tweedehandse model aangeskaf: ’n rooie met twee groot skeeloë vir agterligte, en bo elkeen het vlerke soos wenkbroue gesweef. Verder was daar breë gechroomde buffers wat die gesig op die agterkant soos ’n streepmond aangevul het, en sierstroke aan weerskante. En dié kar het hy gery sonder dat dit enige probleem gegee het, tot al die kinders uit die huis is.
       In vrugtetyd het Ant Mary, soos die meeste vrouens wat uit hulle eie tuin kon oes, konfyt gekook en ingemaak van als wat beskikbaar was: perske, pruim, lemoen, koejawel. Van die vars voorraad wat hulle nie kon opeet of weggee nie, is na die koöperasiewinkel geneem om daar verkoop te word, “want dan kry jy tog ’n ietsie vir die bemesting en natlei van die bome,” volgens Ant Mary.
       Ek wonder tot vandag toe waar die ‘ant’ vandaan gekom het, want haar wortels het diep in die Vrystaat gelê, so Afrikaans as kan kom. Maar sy was gesteld op die ‘ant,’ en niemand het haar ooit tannie genoem nie.
       Oom Dries was lief vir sy dop, maar hy’t daarby gehou dat dit ná ses in die middag moet wees. Hy’t vrylik vir besoekers aangebied, en die perk net so een of twee keer effens oorskry. Ant Mary het gewoonlik ’n ligte gin en barley gedrink, net om gesellig te wees.
       Toe gebeur die ding waaroor die mense van die buurt lank gepraat het. Ons het die klimaks van die verhaal stuk-stuk gehoor, en elkeen kon later die verskillende brokkies aanmekaarlas, en ’n voorstelling maak van hoe jy dit in jou geestesoog sien gebeur. Selfs oom Dries en Ant Mary se weergawes het nooit heeltemal ooreengestem nie, omdat hy midde-in die gebeure was, en sy die toeskouer. Sy’t eers sekondes later deel van die drama geword. En elke keer wat die storie vertel is, het meniges stilweg agter hulle hande gelag, nooit openlik nie, behalwe as die vog begin trek, en die Winterbachs nie by is nie. Ek kon ook hoor hoe daar by elke oorvertel ’n ietsie bygelas word — ’n ding wat mense geneig is om te doen.
       Die aanloop was oom Dries se aftrede. Hy’t op aanbeveling van Ant Mary, ’n lomp som van sy pensioen gevat, want aangesien die kinders almal uit die huis is, het sy gemeen hulle kan nou ’n ietsie op hulself spandeer. Soos altyd is die saak deeglik bespreek, maar oom Dries het dit aan Ant Mary oorgelaat om te sorg dat die bure en vriende daarop voorberei word. Sy’t altyd gewag dat iemand in die geselskap iets aanroer wat, al het dit net vaagweg, verband hou met dit wat sy wil vertel, en dan begin met: “Ek en Dries praat nou al lank oor die ding ...” Dan volg ’n lang relaas wat eindig met: “Maar ons dink nog daaroor. Mens moenie haastig besluit nie.” En dis soos sy dit ook aan my ma kom vertel het.
       Dit was vroeg in die sewentigerjare, en ’n aantal nuwelinge met effens strakker lyne het op die motormark verskyn, en, al is dit aanvanklik met afkeer bejeën, het dit vinnig op die gewildheidsleer begin klim. Die Chevey met sy skeeloog agterligte en vlerke wat gelyk het of hy dit enige oomblik kan begin klap en wegvlieg, het skielik lomp langs die nuwerwetse eenvoudiger ontwerpe vertoon. Wat voorheen deur almal bewonder is, het oornag ’n seeroog geword. By alles het die Chevey begin olie vreet, en oom Dries was kort-kort by die motorhawe oor een of ander skeet wat die kar opgedoen het — werklik of denkbeeldig.
       “Dis wat gebeur as jy ’n tweedehandse ding koop,” het ek Ant Mary op haar driftige manier aan my ma hoor sê. “Party mense ry ’n kar nie behoorlik in nie, en daai klein Breed by wie Dries die ding gekoop het, ry soos die duiwel, het g’n respek vir niks.”
       “Hulle is van plan om ’n ander kar te koop,” het my pa gesê. “Dis waarom hulle aanhoudend fout vind met die Chev.”
       En dit was ook so. Die gewik en weeg was iets van die verlede toe Ant Mary met die ding uitkom. Hulle het besluit op ’n Valiant. En hoewel hy van buite af effens kleiner lyk, is hy binne ruim en nogal weelderig. En dié keer nie weer ’n tweedehandse ding nie — ’n nuwe, uit die boks, en spierwit. Maar toe is daar ’n haakplek: ’n lang waglys by die plaaslike handelaar, en dis om dié rede dat oom Dries toe besluit om die kar by ’n firma in Pretoria te gaan koop. “Want dan word dit nie die sestig myl of so van die stad af deur iemand gery wat niks daarvoor omgee nie,” aldus Ant Mary.
       Hulle garage was ’n entjie van die huis af weg, en oom Dries het dit die vorige dag behoorlik uitgepak en skoongemaak. Al die rommel wat oor jare opgegaar is, is weggery na die munisipale vullishoop.
       In daardie dae was oprol- en opligdeure nog nie op die platteland bekend nie, wat staan nog elektronies-beheerde goed. Dit was twee sinkdeure wat soos ’n waenhuis s’n na weerskante oopvou, en wat jy met ’n gewig moes steun as die wind begin lol.
       Oom Dries is die oggend vroeg met die Chevey weg Pretoria toe. En Ant Mary, en omtrent al wat buurman of buurvrou is, was van drie-uur die middag af op die uitkyk vir oom Dries en die wit Valiant. Toe hy teen vieruur nog nie sy opwagting maak nie, was sy baie bekommerd, want die weer het begin opsteek, en sy’t my ma gebel. Ek onthou net dat my ma vir haar oor die foon gesê het: “Man, die stad is ’n besige plek. As hy van die handelaar in Silverton af kom, moet hy die hele lengte van Kerkstraat ry, óm die plein waar daar honderde busse is, en dan deur Pretoria-Wes. Dít op sigself neem ’n halwe dag.”
       Ek twyfel of dit Ant Mary enigsins gerusgestel het, want ’n rukkie later was sy weer op die voorstoep, waar sy ongeduldig op en af geloop het. Haar een seun, wat op die dorp gewerk het, het later opgedaag, maar is kort daarna weer weg. Slegte nuus, het ons gewonder. Maar dit het nie so gelyk nie, want Ant Mary het op een van die draadstoele gaan sit, en die straat afgetuur. En van ons stoep af was dit ek en my ma en suster — ewe nuuskierig om die nuwe Valiant te sien.
       Halfvyf, jy kan maar sê op die kop, draai die Valiant skielik by die hek in. Ant Mary het net ’n oomblik verstar, toe opgespring, en oprit toe geloop, effens vinniger as gewoonlik. Oom Dries het baie trots uitgeklim, en hy en Ant Mary het vir ’n goeie vyftien minute die blink ryding bewonder: hy, meer geïnteresseerd in die enjin, sy, in die bekleedsel en bagasiebak. En so het dit aangehou tot sy hom op die donker wolke attent gemaak het. “Dit kan hael wees, Dries,” het sy bekommerd gesê. “En jy weet hoe lyk ’n kar wat deurgeloop het.”
       Denkende aan die garagedeure, sê oom Dries: “Lovey, net ingeval ...,” maar voltooi nie die sin nie, neem aan sy weet tog wat hy bedoel, en gaan soek stene wat hy een vir een op mekaar voor die oop deure as stutte pak. Terwyl hy stadig, versigtig inry, kom daar skielik ’n rukwind om die hoek van die garage, pluk die sinkdeur aan die bestuurder se kant dat die stene tuimel, en dit reg op die nuwe Valiant aangeswaai kom. Van skrik trap oom Dries die petrolpedaal weg, met sy oog heeltyd in die syspieëltjie, slaak ’n sug van verligting toe hy sien hy gaan dit maak.
       Toe kom die gemors.
       Voor hy sy voet van die petrolpedaal kan afhaal om rem te trap, is die Valiant deur die agtermuur, dat jy net bakstene sien spat. En toe hy uiteindelik tot stilstand kom, sak die dakbalk na benede, gevolg deur ’n wapperende sinkplaat of twee.
       Ant Mary wat die hele spul staan en dophou het, staan totaal versteen, kry dit nie eens reg om ’n gil te uiter nie, druk net haar hande aan weerskante van haar gesig, en fluister: “Ag, here, here!” en wag toe vir oom Dries om sy verskyning uit die puinhoop te maak, maar niks gebeur nie. Toe begin die duiwel haar wysmaak dat haar eggenoot van baie jare dood, of minstens ernstig beseer of bewusteloos is.
       Sy hardloop die paar tree agter om die garage, voel hoe die lamheid haar bene byna laat swig, tot waar die neus en ’n deel van die passasierskajuit onder balk, stene en sinkplaat uitsteek, kyk vas in twee pieringoë wat sonder woorde ’n antwoord soek, nie kan glo wat werklik gebeur het nie.
       Goddank, hy lewe darem.
       “Dries?” sê sy versigtig, maar kry geen reaksie nie. “Praat man, praat!” roep sy naderhand toe die oë aanhou staar, maar daar’s steeds g’n reaksie nie.
       Skok, dis wat dit is. Sy onthou sy’t gehoor dat mense daarvan stomgeslaan word, selfs doodgaan.
       Dis toe dat sy huistoe hardloop en die bottel Commando-brandewyn uit die kas haal en so vier vingers skink. Die gedagte om iets by te gooi, kom nie eenmaal op nie; sy weet net Dries moet dit so gou moontlik inkry voor komplikasies intree.
       Teen die tyd wat sy weer die agterkant van die garage haal, staan oom Dries gehurk langs die wrak, met lippe wat woordeloos beweeg. Sy hou die glas na hom, maar toe hy sy hand uitsteek om te vat, hoor sy duidelik hoe die duiwel weer hier op haar skouer praat. Nuuskierige gesigte loer oral by vensters uit, en wie sê hulle het net die slag en die gerammel gehoor toe die sinkplate neerdaal. Miskien is daar êrens een wat die hele gedoente aanskou het, en dit kan gaan oorvertel. Die diaken bly net oorkant die straat. En as dominee nou hier aankom en dit moet ruik? Dink net aan die skande: almal sal sê Dries Winterbach was gedrink toe hy die Valiant opgesmash het.
       Dis toe dat haar vingers stywer om die glas klem, sy dit voor hom wegruk, en al stikkend die inhoud met ’n paar teue wegslaan.
       Per slot van rekening, sy’t mos ook geskrik.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.