NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Willem de Vries
is gebore in Durban. Hy het klas geloop by die Kaapse Technikon en die destydse Blou Okapi-koffiewinkel in die Eikestad. Hy was ’n kort tydjie ’n vryskut in Tafelberg en Human & Rousseau se bemarkingsafdeling. Tans is hy in Die Burger se redaksie. Hy geniet vakansies in Ladismith in die Klein Karoo. Baie.
  Willem de Vries

Net die voorskoue

Willem de Vries

Die uithangborde op die sypaadjie kondig die name aan: Gallery on James street, Blues’s bistro, Club Want, Pod en Darkest Africa Internet Café. Ek ry stadig verby Lamp in shade met sy groot vertoonvenster.

Ek draai net voor Veggie Table in en parkeer my kar. ’n Paar mense sit binne en buite die piepklein plekkie (twee tafels binne en drie tafels buite) en lyk of hulle poseer vir ’n foto van die een of ander tydskrif oor eetplekke in die stad.

By die hoek draai ek links na Kiets. Die plek se voorkant is ’n glasvenster met lemmetjiegroen geverf waarop ’n afdruk van ’n tamaai houer Jungle Oats aangebring is. Die plek se naam voor is iets soos Bar Gheralle. Omdat dit klink soos ’n Amerikaner wat boggerôl sê, of die Jungle Oats-tema, is dié plek lankal tot Kietsie herdoop. Binne is daar op regterhand ’n lang kroeg met rye bottels op lemmetjiegroen glas met ligte wat van onder skyn. Op linkerhand is kuipe vir drinkers en ander verliefdes met plek vir tot ses mense en ’n blou tafel by elk. Bo elke tafel hang ’n lig waarvan die kap ook tiere ophet. Heel agter is banke met tafels. Die muurpapier is rolle en rolle Jungle Oats-karton.

Twee fris geboude poenskoppe geklee in swart langmousyhemde, swart jeans en vuil handelsmerk-tekkies is naby die deur van die establishment aan die stry:

“Maar dis like ...”

“Nooit! Shut up! Ek sal jou sê hoe likely dit is, dis like nooit.”

“Dis die allerlaaste keer dat ek jou stuur.”

“Fine met my.”

“FINE.”

“Laat ek jou vertel van fine, asshole ...”

Ek betree die plek, dis redelik laat. By die kroeg sit ’n uitgevlamde meisie, die toonbeeld van iemand wat in 1972 laas geslaap het. Sy frons vir ’n kers voor haar en verwyder kort-kort ’n kraag was en voer dit vir die vlam. Twee kroegstoeltjies van haar, na die deur se kant, staan ’n groot swart dude met ’n ewe pikgit model. Albei glimlag lui en breed. In ’n wêreld van hul eie, praat hulle in sag soetslepende Frans met mekaar.

Al die asbakkies is die kroeg staan ystervark. Voor by die ingang soos jy inkom links is die DJ se hoekie. Sy vingers streel oor die leggers viniel. Sy DJ-naam is Dark Ladder, seker oor sy naam Giel is. Giel Wamaker. Vra ’n Engelse meisie sy naam, is die antwoord Guido. Histeries! Hy’s soos ’n sekretaresse wat mense na elders verwys. Hy knik die kop elke keer ná ’n versoek en sê dan: “Dalk later”. Dit was nie lank nie of mense het agter sy rug na hom as DJ DalkLater begin verwys.

Giel is maar net soveel van ’n ontvlugter soos die res van die mense hier, met name soos DJ Count Spatula (ook bekend as Klein Klits), Mixmaster Moccasins, DJ Beat Senseless, MC Schoeman, groepe soos die Sample Ensemble (twee DJ’s en ’n MC wat ’n trompet kan namaak) en Gramophone AD, die rustige DJ Robbie Robbery en die plek se inwonende transvestiet, Saartjie Aardman. Ken jy die mense nie, sien jy hul name in ieder geval op die biljette op die tafels en kroegtoonbank waar dit soos biermatte lê.

’n Jong aktrise stap die plek binne, vergesel deur haar beste vriend Marvin (“Nee, nie dáái Marvin nie, ek praat van Marvin Marvin,” het sy hom op ’n keer aan iemand beskryf), asook haar huidige aanhangsel, ’n deeltydse kroegman en deeltydse digter. Hy stap oor na Jackie, kroegdame vir die naweek, en vra waar sy bundels is. Sy deel hom diplomaties mee (die kerslig wink in die silwerbalkie deur die een wenkbrou bo een van haar grasgroen oë) dat hulle dit nou net op aanvraag van agter die toonbank te voorskyn bring, nadat iemand die vorige aand twee gegryp het. Hy vloek en rig hom tot die aktrise wat langs hom opgesypel kom: “Tipies van die donners, hulle sal die barladies tip, maar dief my bundels.”

Sê Jackie: “Ek is seker daai ou was vandag baie hung over.”

Sê digter: “Van die bier of my bundel?”

Sê sy: “Take your pick.”

Hy rek sy oë en swaai sy vinger voor haar gemaak kwaad.

“Some girls ponder by mistake,” sê hy flou, maar die aktrise lag en lag en lag.

“Wanneer dra jy een aan my op, skat?” vra sy en maak haar onderlip dik.

“Sodra iemand anders as Xerox my goed print,” sê hy. Haar ander beste vriend (in die hele wye kroeg), Jack, voeg hom by hulle en praat in ’n stem dringend van eiebelang oordat ’n mens nêrens meer ’n sekere soort tekkie kan koop nie.

Die plek loop vol, en elke uur of wat is daar iemand anders agter die draaitafels, wyl ander rondstaan en die instromendes betrag in die lang vertrek. Dit is blou van die rook van ’n duisend sigarette, met sy hoë plafon, lae bliksems en middelmatige mense met te veel geld. Een van hulle dink: As ek haar net kan uitken; die swak beligting is bedrieglik.

Later die aand praat dieselfde een wel met ’n meisie, maar dis uit desperaatheid. Hy sê: “Dis vreemd hoe herinneringe werk, hulle kom by ’n mens op wanneer jy dit die minste verwag; so, dis veiliger om in die toekoms te leef, want mens weet nie wat alles voorheen op jou wag nie. Is dit verkeerd om te sê ’n mens sit vas tussen antisipasie en verlies, verwagting en verwelking?”

Sy’t ’n ruk lank stilgebly, aan ’n sliert hare gekou, en toe gesê: “I didn’t follow you at all, I’m afraid, but I let you go on, because your voice sounds so nice. Don’t worrry, I’m sure she’ll come back,” en draai dan om voordat hy nog iets kon sê.

Sy sluit haar by vriende aan en sê vir haar suster: “Ek het nou net in die spitting image van Pierre vasgeloop, hulle praat selfs dieselfde. Maar hy is nou huis toe. Dis was unreal,” sê sy.

’n Meisie met haar hare gejel in alle rigtings, maak ogies vir ’n ou wat lyk soos ’n assistent-lyksbesorger. “Dis mooi,” sê sy en voel aan sy swart hemp se een mou.

“Dis omdat dit in die nag geweef is, my dier,” sê hy, die ene vriendelike wolf. Hulle raak aan die praat. Sy bier is ’n mikrofoon en sy sigaret ’n wyster.

Dan kyk sy hom in die oë en sê: “So ...”

“So ...” speel hy saam.

’n Nuwe DJ neem stelling in agter die draaitafels. DJ DalkLater is in gesprek met ’n meisie. Sy lyk of sy vroeër die aand ’n heks by ’n kinderpartytjie was, die eyeliner nog nie heeltemal afgewas nie, haar hare soos dit op die verhoog nog was. “Dis ’n broer van een van die ouens van die Cindy’s Eardrum paarties,” hoor ek sê hy vir haar met verwysing na die ou agter die draaitafels. Dié beïndruk (?) met ’n breakbeat-lounge rendisie van Sarie Marais vermeng met samples van gille uit ou gruwelprente en gepaardgaande dramatiese musiek. Die aktrise het intussen ’n groep kennisse agter op die banke van die establishment bespeur. Sy wuif wild, haar spierwit hande wapper amper. Dis ’n lang gepratery oor mekaar se klere, voordat die gesprek oorslaan na die nuwe DJ, ander DJ’s, movies en wie’s wie se nuwe liefde, en waar broei die skandes. Byvoorbeeld:

“Teen drie-uur, dan’s dit net ’n ge-intellectualising van die musiek, so niemand kan dans nie. Dis hoekom ek gewoonlik eers so vieruur gaan wanneer alles terug na normaal is. Ek het altyd ’n moerse brekfis na so ’n paartie. My shift maak twee-uur klaar, so might as well. En jy?”

“Jy onthou Sarah, Martin se eks? Nou die aand gesien, van haar kop af, maar lekker gepaartie. Sy sms my al die hele week. Check dit uit, daai ou daar dra ’n g-string. Ek sien hom oral.”

Langs my sit ’n ander kêrel, hy het ’n geweldig knap toeknoop-kortmouhemp aan waarop ’n oranje vlammemotief pryk. Dit lyk of die knope enige oomblik kan afskiet, ’n glas kraak of iemand in die oog tref. Sy meisie het ’n breë kopband en ’n kort toekoophemp; hier en daar steek iets van ’n dennegroen vessie uit. In haar hare is in-die-donker-gloeiende Hello Kitty-haarknippies. Bo-oor die musiek skree sy aan die ou met die gevaarlike hemp: “This song makes me cry, always.” Later dans ’n verfynde student met ’n uitdrukkinglose haarstilis naby hulle.

Almal hier is mal. Hulle steek dit weg in die dag en verloor dit in die nag. Links agter my hoor ek hoe ’n ou ’n meisie probeer beïndruk as MC: “OK well, I was thinking this would work dik well something like — static ecstatic — dig it, don’t panic, gonna hit it galactic — enough icelandic — gotta heat it and get up — visualize — we’re peas stickin’ podwise. Word up. Bitsa lyrics goin’ random.”

Die gesprekke om my droog op, dwaal af, ontaard in rusies of ’n gelag. Ek stap uit op die straat. Een van die in-swartsyhemp-geklede-sedebewakers staan met ’n bier in die hand en ’n Craven A in die ander. Eenkant staan ’n ou groot Mercedes-kasarm 3-liter geparkeer waarbinne ’n erg maer meisie besig is om ’n ou met pienk hare in te sê. Hy lyk geweldig skuldig in die lig van die straatlamp. Ek staan eenkant en rook ’n sigaret, dié lug is immers deur vuur gelouter.

By die Veggie Table sit ’n meisie met groot groen oë en lang swart hare buite en praat met iemand. Daar’s nog net ’n ander paartjie binne en iemand is ongemaklik vasgepen agter die kasregister. Die meisie met die swart hare praat met ’n Kambodjaan. Hy het ’n byderwetse geruite smalrandhoed op die kop, en ’n elfagtige kapsel steek uit. Hy sê op Afrikaans: “Solank Jim-hulle my kan gebruik vir animasiewerk, is ek hier, andersins sal ek terug Franschhoek toe, al is dit net vir ’n ruk.” In ’n skril stem skree die meisie skielik: “Sayanorra,” en byt speels aan sy knie toe hy opvlieg. Hy lag en hulle raak aan die stoei.

In die kar terug huis toe sing daar ’n geluid in my ore, soos dié van ’n toetsskerm voordat die voorskoue op ’n video begin.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.