NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Philip Theunissen
is in 1959 in Krugersdorp gebore. Hy matrikuleer in 1976 aan die Hoërskool Wolmaransstad en na sy diensplig behaal hy in 1982 'n B. Comm aan die PU vir CHO. Hy verwerf ook 'n Hons. B.Comm en M.Comm aan UNISA. In 1998 behaal hy 'n Ph.D in Ondernemingsbestuur aan die PU vir CHO met die proefskrif: "Finansiële norme vir 'n gemengde boerdery in die Oos-Vrystaat". Hy begin sy loopbaan in 1983 as 'n ekonoom by die Suid-Afrikaanse Landbou-unie maar aanvaar vier jaar later 'n betrekking as landbou-ekonoom by Vrystaat Koöperasie. Hy was daarna ook finansiële bestuurder van 'n boerdery-maatskappy in die Paarl voordat hy in 1991 'n burodiens vir boere in die Oos-Vrystaat begin het. Hy is betrokke by die ontwikkeling van korrespondensiekursusse vir boere en is ook 'n vryskut landboujoernalis. In 1993 is hy aangewys as Suid-Afrika se landboujoernalis van die jaar. In 2001 is sy artikel: "Wanneer moet 'n boer halt roep?" as die beste artikel in SA Graan aangewys.
  Carel Alberts

‘n Pa-en-seun-naweek

Philip Theunissen

Ek is die oudste van vyf seuns. Pa was vir die grootste gedeelte van sy lewe ‘n onderwyser. Ma moes ook skoolhou om ons vyf se mae vol en ons basse toe te hou. Daar was altyd kos op die tafel, maar geld vir luukshede was daar nie. Klere is onderling aangegee en vakansies was meestal beperk tot langnaweke se visvang saam met oom Hendrik-hulle. Die enkele seevakansies steek na dertig jaar steeds soos groot wêreldgebeure in ons broers se koppe vas. Ons praat nou nog daaroor in dieselfde asem as die twee vliegtuie wat in die World Trade Centre vasgevlieg het.

Pa was ‘n gemeenskapsmens. Hy was betrokke by al wat ‘n organisasie was wat op Bloemhof bestaan het, selfs dié wat skelm in die nag met hulle donker pakke vergader het. Hy het later selfs burgemeester van die stowwerige dorpie met sy breë hoofstraat geword. Hoewel hy nie Wolmaransstad se burgemeester geword het nie, het hy die kultuurlewe daar voortgesit toe ons in my hoërskooljare daar gebly het.

Met al Pa se bedrywighede kan ek nie juis onthou dat hy ons grootgemaak het nie. Ma was die een met wie ons ons intense en indringende adolessente gesprekke om die tafel in die kombuis met sy koolstoof gehad het terwyl ons wag dat die badwater moet warm word. Al het Pa en Ma by dieselfde skool skoolgehou waar ons leerlinge was, het dit altyd gevoel of ek en Pa nie baie gemeen gehad het nie. Of dit die knus kombuis in Bodensteinweg was weet ek nie, maar ek en Ma is baie nader aan mekaar as wat ek en Pa ooit was.

Noudat ek my eie kinders het, van wie die oudste reeds op universiteit is, maak sekere dinge wat Pa aan my gedoen het, net nie sin nie. Ek kan byvoorbeeld nie dink dat ‘n pa sy kind met ‘n sambok wat in sy broekspyp weggesteek is, sal bekruip waar hy karretjies speel en hom oor sy rug daarmee slaan nie, al was die kind hoe stout gewees. Ek kan ook nie dink dat ‘n pa sy seun gestrand voor ‘n toe universiteitskoshuis sal los omdat hy nie meer kon wag vir ‘n toergroep se bus wat laat is nie en dit belangriker was om betyds by sy ander seun se konsert te kom. Ek kan nie glo dat ‘n pa sy seun selfs net een keer met sakgeld sal verneuk nie, wat nog van sy studielening te vat om skape vir sy eie plot mee aan te koop.

Watter pa se hempsknope sal nie afspring as sy kind op die leerlingraad verkies word nie? Pa was ‘n onderwyser en die middag het die hele gesin hom in afwagting dopgehou omdat ons geweet het die personeel het die oggend die nuwe leerlingraad gekies. Toe Pa sien ons gaan nie tot die Maandag se saalopening kan wag nie, was sy woorde: “Ja, ek kan maar vir jou sê dat jy dit gemaak het, maar ek hoop nou net dat jy jou by die huis ook soos ‘n leerlingraadslid sal gedra!” Punt is, Pa het my nooit “special” laat voel nie. Inteendeel, ek voel eintlik grotendeels verneuk! Behalwe die een keer, waarby ek later sal kom.

Pa het letterlik beter met ‘n baksteen gekliek as met my. ‘n Baksteen wat rondlê, het die muse vir huisbou in hom wakker gemaak. Hy het menige keer probeer om sy karige onderwyssalaris met ‘n huisbouery aan te vul. Dit het meer finansiële skade aangerig as wat dit uitkoms gebied het. Ten einde “damage control” toe te pas het Pa die onderwys ‘n ruk gelos en probeer polisse verkoop. Dit het ons gesin nogal laat pendel en gevolglik was ek in drie laerskole en twee hoërskole gewees.

Na al die onwinsgewende bouprojekte was geld vir selfs die “basics” baie skraps, en die aand toe ek op Makwassie se stasie op die troepetrein klim om in Pretoria vir my diensplig te gaan aanmeld, het ek net geweet ek sal nooit huis toe kan bel vir geld of klere nie.

Ek was tevrede in die lugmag. Ek het nog nooit in my lewe soveel nuwe klere op een slag gekry nie. Alles wat ek begeer het: tekkies, sandale, boots, T-shirts, step-outs, blou hemde, blou broeke, bruin hemde, bruin broeke, kouse, onderbroeke, ‘n jas, selfs ‘n serp. Klere hoef ek nie te gevra het nie en die R30 wat ons per maand gekry het, was baie meer as wat ‘n maand se leë Coke-bottels by die huis kon oplewer. Die menasie se kos was … wel, vra maar vir al die ander wat ook op hulle dag in die army was.

Ek was onafhanklik. Pa het my nooit emosioneel rigting in my lewe gegee nie en finansieel hoef ek hom ook nie meer iets te vra nie.

Pa het my nie veel van ‘n keuse gegee nie. Toe ek eendag uit die lugmaggimnasium huis toe bel, het Ma gesê Pa wil ook met my praat. Ek het altyd net met Ma gepraat, so Pa wou beslis nie weet hoe is die “Gim” se kos nie. “Daar is nie geld om jou universiteit toe te stuur nie. Jy moet maar aansoek doen om nog ‘n jaar vrywillig aan te bly sodat jy die R2 500-bonus kan kry.”

Ek wou skree: “Pa, ons probeer almal so gou as moontlik hier uitkom! Ons wil beslis nie langer bly as wat nodig is nie.” Maar ten spyte van my inherente rebelsheid was ek uiterlik altyd: “Dis reg so, Pa”, al moes ek baie kere op my tande byt.

Die bonus het my inderdaad ‘n groot hupstoot in my eerste jaar op universiteit gegee. Buiten dat Pa toe ook eers weer ‘n deel daarvan opgeëis het vir ‘n agterstallige bakkiepaaiement, kon ek my lugmagklere met iets meer fatsoenliks vervang. Ek kon ‘n radio/kassetspeler koop en ek kon nog genoeg vir ‘n jaar se sakgeld oorhou. Ja, R2 500 het in 1979 baie verder gekom as in 2005. ‘n Volkskas-studielening van R1 500 het na my klas- en losiesgeld omgesien en ek het Desember-vakansies by Yskor gewerk. Ek was as student steeds onafhanklik. Ek hoef steeds nie huis toe te gebel het vir geld, klere of kos nie.

So het ek graad gevang, begin werk, verloof geraak, getrou, weer graad gevang en weer graad gevang. My troue het ek en my skoonma gereël en die bruidegom se deel uit my eie sak betaal. Pa-hulle was bloot net gaste gewees en ook van die eerstes wat die aand weer gery het. My Honneurs en Meesters se gradeplegtighede het hulle nie bygewoon nie. Dit was te ver om te ry. Blinkoog het ek huis toe gebel om te sê hulle moet kyk, my eerste vryskutartikel is in die jongste Landbouweekblad. Toe ek later vir Pa vra of hy dit gelees het, was sy kommentaar: “Ja, maar ek wil jou aanvat omdat dit nie wetenskaplik genoeg is nie.” Fok man! Jy kon mos net gesê het: “Nie sleg nie.” Ek het later nie eers meer gebel om te sê daar’s nog ‘n artikel in die Landbouweekblad nie, of een in Farmers’ Weekly, of een in SA Koöp nie. Net laat weet toe ek in 1993 as Suid-Afrika se landboujoernalis van die jaar aangewys is. Ma was baie trots op my. Ek weet nie hoe Pa gevoel het nie.

Ek het al minder sulke nuus huis toe gestuur. Ek het die idee gekry dit irriteer Pa eerder as wat dit hom opgewonde maak. Dit het ook deurgesyfer na my jonger broers, wat toe hoog op hoërskool of vlak op universiteit was. Ek moes selfs hoor dat ek net aanhou swot om die familie ‘n punt te wys. Toe ek my PhD aanpak, het ek besluit niemand behalwe my vrou hoef daarvan te weet nie. Ongelukkig het Pa terselfdertyd ook sy PhD aangepak en ek is via Ma gedurig gevoer met watter hoofstuk hy mee besig is en wat die prof se kommentaar daarop was. Ek het deurentyd my belofte aan myself gestand gedoen en vir niemand gesê waarmee ek besig is nie.

Ma het iewers oor die naweek verjaar. “Geluk met Ma se verjaarsdag” en al die normale dinge van ‘n lang en voorspoedige lewe en toe: “Ek het in hierdie week ook gehoor dat ek my doktorsgraad gekry het.”

“Jy jok seker! Rêrig? Hoekom het jy ons nooit gesê nie?” Ek hap in die lug. Snaaks, ek vra nie eers wat Pa daarvan sê nie.

Pa het kort daarna ook ‘n oproep van sy prof gekry om hom die goeie nuus oor sy PhD te gee. Ons het enkele weke uitmekaar graad gevang, ek op Potchefstroom en hy in Port Elizabeth. Ek kon nie by Pa se gradeplegtigheid wees nie, maar hy en Ma was na twee afwesige gradeplegtighede weer by een van myne gewees. Net die feit dat hulle daar was, was reeds ‘n wonderlike voorreg.

Toe ek die aand bel om dankie te sê, praat ek oudergewoonte met Ma. “Pa wil ook met jou praat,” sê sy later. Ek hou nie daarvan nie. In die verlede was dit nie goeie nuus as Pa ook met my wil praat nie, maar ek hou tog aan.

“Ek was trots op jou toe jy vandag daar oor die verhoog gestap het,” sê Pa in ‘n bewoë stem.

Ek wag. Hy sê niks verder nie. Onvoorwaardelik! No strings attached. Pa het veertig jaar gevat om my een oomblik in my lewe “special” te laat voel. Ek is so gelukkig soos ‘n kind. “Ja, jou ou bliksem. Hoekom wag jy so lank om so iets vir my te sê?” dink ek, maar ek sê: “Ek was bly Pa-hulle was daar gewees.” Ek kan nog veertig jaar op hierdie moment in my lewe voed, maar ek dink enige kind verdien veel meer as een so “special moment” in sy lewe.

Drie jaar later moes hulle die helfte van Pa se een long verwyder omdat die jarelange nikotien sy tol geëis het. Pa het vir die Here gesê hy is reg om te gaan, maar hy voel hy kan nog diensbaar wees as die Here hom sou wou spaar. Hy het die operasie oorleef, maar drie maande later het hy ‘n terugslag gehad. Selfoontegnologie het gemaak dat ons vyf seuns uurliks op datum gehou was deur die hele proses. “Ek vat Pa dokter toe. Hy lyk glad nie goed nie. Het tot in die stort geval en kon nie opstaan nie.” Later weer: “Hulle kan niks op Wolmaransstad doen nie. Hy moet Klerksdorp toe vir X-strale.” “Die X-strale wys daar is drie gewasse op die brein.” Pa moet Pretoria toe. Die breinchirurg sê hy sal dit dalk kan verwyder. Ek kyk uit oor my klein plasie met die takbokke. Ek besef skielik Pa sal nie weer hier uitkom om vir my te kom kuier nie en ek gee myself oor aan die hartseer.

Maandagoggend. Pa gaan in vir ‘n “scan”. Die chirurg wil net seker maak.

Maandagmiddag. Die “scan” wys nog vier kleiner gewasse ook. Die dokter sê dis nie die moeite werd om te opereer nie. Dis die longkanker wat na die brein versprei het. Daar kan nog kleinere gewasse wees wat hy nie kan sien nie.

Wat nou? Vat hom terug Makwassie toe. Dit is te duur om hom in Pretoria te laat lê en in Makwassie kan ons hom enige tyd besoek. Hoe lank nog? Weet nie. Drie maande miskien. Hy sal net in ‘n koma gaan en nie eers weet wat om hom aangaan nie.

Laaste oproep van Ma uit Pretoria. Ons moet kom. Voor die naweek nog. Sy wil ons almal by Pa hê.

Dinsdag. Pa gaan terug Makwassie toe.

Vrydag. Ons ry Makwassie toe. Johann is daar, want hy bly daar. Tat en Rulie het reeds van Queenstown af gekom. Rees sal enige oomblik uit die Kaap aankom.

Vrydagmiddag. Ons vyf seuns staan voor die sorgeenheid van die ouetehuis.

“Hoe lyk Pa?”

“Kyk maar self.”

Ek stap in die kamer in. ‘n Dik atmosfeer van liefde tref my skielik. Die bekende kanselkleed kom by my op: “God is liefde.” Ek verstaan nou wat dit beteken. Pa is maer. Oë diep in hul kaste. Een arm verlam. Een been verlam. Ek vat die gesonde hand. Daar is nie krag in nie. “Ek is lief vir Pa.” Dis al wat ek kan sê. Ek het dit nog nooit vir hom gesê nie. Behalwe miskien toe ek klein was en soos ‘n sirkusdier geleer was om dit vir hom te sê.

Hy is bly ek is hier. Ons praat nie baie nie. Ek sê weer ek is lief vir hom en loop. Die aand gaan kuier ek weer. Sê weer ek is lief vir hom toe ek daar kom. Hou sy hand die hele tyd vas terwyl ek langs die bed sit. Sê weer ek is lief vir hom toe ek loop. Al ons broers doen dit so. Elkeen op sy eie tyd. “Special moments.” Elkeen van hulle.

Die aand kuier ons saam en braai vleis by Pa se huis. Hy is nie daar nie. Ons gesels, skerts selfs en geniet die aand.

Saterdag. Baie mense deur die dag by Pa. Vriende, familie, kinders, kleinkinders, tot ‘n groepie vreemdelinge wat vir ons en die siek oom kom bid en ‘n druppel olie op Pa se voorkop invryf.

Sondagoggend vroeg. Ek stap alleen na Pa toe. Ek dink dit gaan ‘n rowwe reis vir Pa wees hierdie laaste een. Die oomblik tussen lewe en dood kan tog nie lekker wees nie. Waarin kan ons die uitgeteerde lyf pak sodat dit nie kan breek nie …? In liefde, tref dit my. Nie polystyrene-balletjies of houtskaafsels of repe koerantpapier nie. Ons verpak Pa in liefde, dan kan hy nie stamp of breek op sy reis nie. “Ek is lief vir Pa,” sê ek weer toe ek daar aankom en toe weer: “Pa, daar is niks uitstaande tussen my en Pa wat my aanbetref nie. Pa moet in vrede gaan. Ons sal na Ma kyk. Daar is niks om onrustig oor te wees nie.”

Die kerkklok lui. “Is dit Sondag?” vra Pa.

“Ja,” sê ek.

“Gaan julle vanmiddag terug?” en ek antwoord ja.

“Het die kinders weer skool môre?”

“Ja.”

Pa weet wat om hom aangaan. “Ek is lief vir Pa. Ons sal vanmiddag kom groet voor ons ry”, en ek loop.

Die middag kom groet ons op ‘n streep. Eers die kinders, toe Marlize. Ek druk my kop op Pa se bors. Nog ‘n keer: “Ek is lief vir Pa.” Ons ry terug Bethlehem toe.

Die Maandagoggend bel ek kort-kort. Rees het agtergebly. Dis te ver terug Kaap toe net vir ‘n naweek. Hy is toevallig ‘n mediese dokter ook. Hy bly by Pa. Dan gaan dit goed. Dan gaan dit weer sleg.

Die middag het ek ‘n afspraak op ‘n plaas. Daar is nie selfoonopvangs nie. Toe ek terugry kom daar verskeie boodskappe deur. Ek trek van die pad af. Luister. “Bel asseblief terug oor Pa.” Dan nog ‘n boodskap: “Pa is vanmiddag dood.” Ek bel vir Ma. Sy was daar. Sy het deurentyd gesê sy wil daar wees. Nie by iemand anders hoor hy is weg nie. Ma is hartseer maar nie droewig nie. So ook al ons broers en die skoonsusters. Pa is dood. Ons gun hom dit. Sy lewe is volbring. Sy sterfdatum is vasgestel. Daar was geen uitstaande “issues” nie. Dit is alles uitgesorteer.

Die begrafnis was amper ‘n antiklimaks. Vir Ma en vir ons broers was dit ‘n formaliteit. Niks kon die goddelikheid van die naweek wegvat nie. Ons moet nou net sy liggaam in die grond kry.

Dit was snaaks om die ander familie en vriende so droewig by die begrafnis te sien. Ons vyf seuns en die oudste kleinseun was die draers. “Kom ons begrawe hom met ‘n sparkle,” het ek gesê toe ons die kis in die kerk dra. Ek het die bedankings gedoen omdat ek graag wou. Ek was nie droewig nie. Behalwe toe die trompet “Hoe groot is U” gespeel het. Iemand het agterna gesê sy was nog nooit by so sprankelende begrafnis nie.

Ek was nog nie by ‘n Pa-en-seun-naweek wat deur ‘n skool gereël word om gees te bou en geld vir die eerste rugbyspan se truie in te samel nie. Ek weet nie of hulle vuil grappe vertel en bier drink by sulke geleenthede nie. Dalk doen hulle dit. Dalk doen hulle dit nie. Ek het nie nodig om te gaan uitvind nie. Ek en my Pa het ons Pa-en-seun-naweek gehad en dit kon nie op ‘n beter tydstip in albei van ons se lewe gekom het nie.




LitNet: 22 November 2005

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.