NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Tom Dreyer het matrikuleer aan die Paul Roos Gimnasium op Stellenbosch en verwerf ’n M.A.-graad in Skeppende Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad. Sy debuutroman Erdvarkfontein word in 1998 gepubliseer en sy jongste roman, Stinkafrikaners, verskyn eersdaags.
Nog kort-kortverhale deur Tom Dreyer:
  Tom Dreyer

In die skadu van die reaktor

Omri se blik swiep oor sy weiveld, verby die populiere op die kleinhoewe se grens, tot by die reaktor in die verte. Dit breek spits deur die skil van die horison. ’n Ibis vlieg verby, dan swaai die voordeur oop en Griet, Omri se jong vrou, verskyn op die stoep — met ’n skinkbord en ’n teepot waaruit framboostee walm. Selfs dít verbreek nie sy konsentrasie nie, sy oë bly op die reaktor en die stoel kraak soos hy vorentoe en agtertoe wieg. Toe Griet klaar geskink het — eers die tee, dan melk uit hul eie melkery — hou sy ’n koppie na hom toe uit.
    “So. Hoe lyk dinge?”
    “Ag, ek sit maar en dink,” sê hy.
    Ek haat daai ding, “sê Griet skielik, skerp genoeg om sy gewieg te onderbreek. “Dié is veronderstel om die platteland te wees, for God’s sake!”
    “Ek hou daarvan,” sê Omri, ’n troebel ondertoon in sy stem.

“Omri, ek het weer gedink ...”
    “Nee, Griet. My antwoord is nee.”
Hy wéét wat sy wil sê, maar ouerskap is nie ’n opsie wat hy bereid is om te oorweeg nie. “Ons kan dit nie bekostig nie, Griet. Ek het boonop te veel ander bekommernisse.” En heimlik vermoed hy dat hy nie die vrugbaarste van mans is nie en hy is bang dié vermoede word bevestig.
    Roerloos staan die reaktor — ’n vlek op die onderbewuste, ’n onuitgesproke woord op die punt van die tong. Omri voel daaroor soos hy kleintyd oor sy Mechano-stel gevoel het, die een waaroor hy en sy broer, Niels, mekaar bloedbek geslaan het. Vaagweg bewus dat Griet huilend die huis ingestorm het, bly hy sit, sy oë op die betonkoepel in die verte. Dis byna tepelvormig, dink hy en sug sag. Die skinkbord staan steeds op die tafel, met sy suikerpotjie en sy kraffie melk.

Omri strek homself uit, en geniet nog ’n slukkie louwarm tee. Die reuk van grond en bloekom vul sy neusgange, en in die agtergrond klink ’n veelvoud boerderygeluide: die dreun van ’n trekker, die ritsel van ’n sproeier, die wantrouige gekloek van ’n hoenderhen. Dis tye soos dié wat dit die moeite werd maak om boer te wees, dink hy, oomblikke voor die stoepdeur nogmaals oopgaan en vir Griet en broer Niels onthul. ’n Mens kan amper nie meer sien dat Griet gehuil het nie.
    “Omri, ek dink jy beter loop kyk wat by die melkery aangaan. Niels kan sommer saamstap; dalk het hy raad. Meneer Lipshitz was die laaste paar dae maar weer moeilik oor higiëne.”
    In Omri se gedagtes staan Rawdon Lipshitz in die skadu van een van die depot se massiewe pasteurisasietenks. Hy sien hoe Rawdon ’n pipet diep in die tenk afdruk, en dan oorstap om die inhoud onder die mikroskoop te bestudeer. Bliksem, dink Omri, die laaste ding waarvoor hy nou lus het, is om in die koue melkery te gaan rondneuk — net om later te hoor dat sy melk steeds nie reg is nie. Hoe gatvol is hy nie vir al Rawdon se reëls en regulasies nie. Die jirre weet, dink hy, sy blik op die reaktor wat nou helder in die oggendson gloei, soms wens ek net dit swiep so ’n lig of iets oor alles en bestraal sommer my probleme in hulle moer in.
    En met dié word Omri se asemhaling merkbaar vlakker. Kernkrag ... Bestraling ... Pasteurisasie ... Hoekom het niemand nog daaraan gedink nie? As jy melk kook, raak jy van die ongewenste organismes ontslae, reg? Maar wat daarvan om die goed vroegtydig uit te vat? Pasteurisasie is vir sissies, man. As jy jou grond bestráál, sal die kokery nie meer nodig wees nie; die melk sal uit die uier kom, gereed om gebottel te word.

Niels is net so opgewonde oor die idee. Dat hy by die reaktor werk — in die “hazardous waste disposal unit” — blyk ’n enorme voordeel te wees, want hy kry in ’n ommesientjie die vereiste handskoene, stewels en ander afvalprodukte uitgesmokkel. Hy voel ook nie eers skuldig nie — die goed is dan klaar gebruik.
Griet kyk wantrouig toe toe Omri en Niels die dag met die sak goed die waenhuis invaar, maar sy sê niks. As dié twee eers hul hart op ’n ding gesit het, laat niks of niemand hulle daarvan afsien nie.
    Laatmiddag word sy genooi om te kom kyk. Na ses ure onder die broers se kloue, is die installasie in die middel van die waenhuisvloer nog net vaagweg as ’n sementmenger herkenbaar. Danksy etlike vernuftige verstellings — wat onder meer die slyp van die menglemme en die verhoog van die enjin se roteerspoed insluit — kan dit nou gebruik word om Niels se gekontamineerde buit tot ’n bruikbare pulp te reduseer.
    “Impressive, nè, ” sê Omri en streel liefderik oor die menger se ysterbalie. Griet glimlag waterig, skop-skop dan na ’n hoop rubberflenters wat vroeër ’n insulasiepak was.
“Hoekom wil julle dit in sulke klein stukkies hê?” vra sy.
    Bloot gerieflikheidshalwe,” sê Niels. Hy buk af om een van die neongroen repe op te tel. “Ons wil die goed so ’n bietjie braai, so ’n bietjie meer woema gee. Dis waar hierdié baby inkom.”
    Met ’n enkel handbeweging trek hy ’n laken af van ’n apparaat wat buite sig langs die werksbank gestaan het. Griet verkyk haar aan die meters, pype en ander uitstulpings, en eien dan die ding as ’n gifsproeier wat op ingewikkelde wyse met ’n toaster en ’n Soda Stream-masjien verenig is.
    “Wat is dit?” prewel sy.
    “Dit, my liewe vrou,” sê Omri, terwyl hy sy arm om haar slaan en ’n slag vinnig met haar rondomtalie draai, “is the way of the future, a taste of things to come ... En dan’s dit nog deksels mooi ook, dink jy nie?”
    Griet trek haar trui stywer om haar skouers.
    Niels het intussen ’n tang van die werkblad opgetel en begin nou verskillende aspekte van hul handewerk daarmee uitwys. Hy tik teen ’n geplateerde tenk. “Die rubberpulp word hier ingevoer,” verduidelik hy, “en dan, met die druk van hierdie knop,” beduie hy na ’n rooi meneer neffens die oorblyfsels van die toaster, “tot die verlangde temperatuur verhit. Die strale wat afgegee word, “ vervolg hy, “word dan ook deur ’n paar ander prosesse, wat ’n bietjie te complicated is om nou te verduidelik, verder versterk. Daarna vloei dit al met hierdie pyp langs, tot by die gerieflike handspuit. Voel ’n bietjie die lekker grip.”
    Die spuit is rof aanmekaargesit, maar weerspieël tog insig in die basiese beginsels van die fisika. ’n Sestal lense uit Omri se teleskoop is eweredig in ’n staalpyp gemonteer. “Elkeen van die lense,” beduie Niels, “fokus die strale en teen die tyd dat dit hier uitskiet, is dit nogal ’n indrukwekkende storie.”

Na ’n toetslopie of twee, besluit Omri om die sproeier eerder op wiele te monteer en agter sy trekker te sleep — die draagbare model is swaar en veroorsaak boonop bloedblase wat sukkel om gesond te word. “For King and Country,” sê hy toe hy die sproeier se aansluiter trek en die trekker se lepel diep wegtrap. Soos die sproeier met ’n brom en ’n kraak van wiele oor die weiveld skommel, sidder blou lig deur die spuit en vul die wêreld weldra met die reuk van gebrande seewier. ’n Uur per dag behoort die ding te doen, dink Omri toe hy omkyk na die spoor smeulende gras agter hom.
    Die flitsende gedoente maak die koeie onrustig en hulle weier om te herkou, maar voor Omri driekwartpad klaar is, begin hulle al klaar weer langtand wei. Die natuur is mos wonderlik; dit pas by enigiets aan.

Die broers oorweeg aanvanklik die naam Tjernobil Suiwelprodukte vir hul bedryf, maar bedink hulself betyds. Dis te direk en sal dalk verkeerde seine uitstuur. “Jy weet mos hoe’s mense, Niels.” Die Atomiese Melk Maatskappy is beter — heilsaam, dog modern.
    Dieselfde dag wat dié naambord verrys, dui Niels se Geiger-teller ook aan dat die weiveld nou ’n optimale radiumvlak bereik het. Vroeg die volgende oggend toets die broers die melk vir die eerste keer.
    Blommetjie staan gedwee terwyl Omri haar op die boud tik en haar tandvleis ondersoek. Niels vat ’n sluk Three Ships uit sy veldfles, koppel dan die suigstukke aan haar spene. Nou volg ’n wilde gepomp wat Omri se senuwees en die koei se kapasiteit tot die uiterste toets. Toe hy klaar is, streel hy oor Blommetjie se rillende vel, skink dan vir hom en Niels elk ’n glas van die heerlike skuimende melk.
    Hulle kan die chloorsmaak nie eers vir hulself verbloem nie.
    Na nagtelange verstellings aan die apparaat en nog twee weke se intensiewe bestraling proe hulle egter sukses. Die smaakverskil tussen die nuwe en die meer ortodokse produk is minimaal. Meer belangrik, onder die mikroskoop is daar geen meer teken van die mikrobes wat normaalweg pasteurisasie noodsaak nie. Die nuwe melk se chemiese struktuur verskil wel effe, maar dié informasie word diskreet, selfs van Griet, weerhou.
    ’n Paar ander dingetjies het ook verander — die melkproses self byvoorbeeld; in plaas van spuit vir spuit, vloei die melk nou egalig uit die koeie se spene, soos uit ’n kraan uit. Niks kan makliker wees nie. ’n Ligte tikkie op die speen, en die melk begin spontaan stroom. Partykeer is selfs dít nie eers nodig nie, en om dié rede het ‘speendoppies’ skielik ’n noodsaaklikheid geword.
    Verder is daar mense wat beweer dat die gebied se radio-ontvangs verswak het, en een middag, oor ’n koppie tee, vertel ’n vriendin vir Griet van gerugte dat die distrik se vrugte vanjaar rekord proporsies bereik.

’n Maand na die amptelike stigting van die Atomiese Melk Maatskappy daag ’n joernalis, ene Renier Kuiper, by die kleinhoewe op. Omri bied aan om hom ’n bietjie rond te wys. Die landbou-pionier gloei van die trots en hy hoor skaars die dooie insekte onder sy voete knars. Die maer koerantman bly egter skepties, en kort voor lank steek hy vas: “Sê my, meneer Buys,” vra hy, “sy oë strak agter sy donkerbril, “is jy nie bang vir newe-effekte nie? Is wat jy hier aanvang na behore getoets ... Is dit nie dalk ... onveilig nie?”
    Omri is ooglopend ontsteld. “Onveilig, meneer Kuiper! Ek léwe op dié grond. Dink jy ek sal enigiets doen wat my familie se gesondheid in gevaar sal stel!”

Twee weke later pryk Omri en Griet op die voorblad van ’n landswye landboutydskrif. Hand aan hand, glimlaggend op die rand van die bestraalde veld. En dié was nie ’n geposeerde glimlag nie. Dalk is dit gemoedsrus oor sy groeiende bankbalans, dalk was hy voorheen bloot blind, maar Omri vind deesdae vir Griet al hoe meer aantreklik. Hy’t nuwe vonk, nuwe murg in sy pype, en selfs Griet is besig om uit haar dop te kom. Omri dink behaaglik terug aan hul samekoms die vorige middag.
    Griet het in die lande gaan wandel. Omri was in die sitkamer, besig om die televisie se ontvangs te probeer instel, toe hy haar ligte voeteval op die voorstoep hoor, ’n trippel wat meteens blitssnel gang-af beweeg. Toe vlieg die televisiekamer se deur oop, en ’n hygende Griet vul die kosyn. Daar was ’n onpeilbare glimlag op haar lippe, en haar somerrok was hoog teen haar lieste opgestoot. Omri het stadig reggekom, onbewus van die lugdraad wat by sy voete val. Griet se hande het opgekruip tot alkant haar hals, en die volgende oomblik was daar net die geluid van materiaal wat skeur en knope wat alkant toe spat ...

Besigheid is net so warm. Omri en Niels se idees, wat aanvanklik met diepe skeptisisme bejeën is, vind al wyer aanklank en toeristebusse begin selfs van tradisionele roetes afwyk om, teen ’n effense fooitjie, ’n oog hier te kom gooi. Renier se tydskrif beplan nog ’n fotosessie, dié keer in die aand, met die weiveld wat self die beligting verskaf.
    Een oggend, op die stoep, wys Omri trots vir Griet die foto’s. Sy glimlag en gee sy arm ’n klein drukkie. Hy lees in ’n begeleidende artikel dat daar glo oorweeg word om weivelde nou ook met mikrogolwe te bestraal. Dit sal blykbaar die tyd wat dit neem om ’n biefstuk gaar te maak dramaties verminder. Op bladsy drie is ’n beriggie oor ’n plaaslike baba wat gebore is met ’n volle stel tande, almal kiestande. Griet mors ’n bietjie tee, Omri blaai vinnig om en fokus eerder op ’n berig oor die laaste tyd se eienaardige weerstoestande. Maar eintlik kry hy nie gelees nie; hy sit bloot en luister na die verskriklike geskree van die sonbesies.

So twee maande na sy eerste besoek, kom haal Renier sy donkerbril wat hy die eerste keer daar laat lê het. Aan die bloedbelope toestand van sy oë kan ’n mens sien dat hy die oogbeskerming rêrig gemis het. Hy’t ook ’n nare hoesie opgetel en dit verklaar miskien hoekom hy so haastig is om weg te kom. Hy wys ’n uitnoding om “weer te gaan kyk na daai stuk grond” vurig van die hand, groet vir Omri en Griet hartstogtelik en vertel hulle dat hy ’n werksaanbod in die ander uithoek van die land aanvaar het.
    Niels staan op die rand van die grasperk, ’n donker silhoeët wat ’n fles Glenfiddich na sy lippe lig, hare glansend, vermoedelik in die strale van die ondergaande son.

Die twee jonggetroudes staan en kyk hoe Renier se kar snel oor die horison verdwyn. Die middag word nou aand en die dag se aktiwiteite loop stadig tot ’n einde. Op die stoep wonder Omri hoekom hy nog nie die ibisse gesien het nie. Hulle kom sit altyd so teen skemer in die populierbome. Die son glip weg agter die rantjies in die verte. Omri glimlag en sit sy hand saggies op sy vrou se bultende maag, voel die klein beweginkies. Hy kan amper nie glo dat twee bene so kan skop nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.