NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Tiens Pretorius
Gebore 1945 in Umtata. Gaan skool op Elliot, Aliwal-Noord en laastens Oos-Londen, waar ek matriek maak in 1963. Werk by verskeie staatsdepartemente in Pretoria en Kaapstad, maar meesal in Port Elizabeth. Woon nog steeds in Port Elizabeth. Nooit getroud nie.
  Tiens Pretorius

Port Elizabeth 1964: Luime

Tiens Pretorius

Die jongman staan aan die bopunt van die Donkin-reservaat. Die gras onder sy voete is groen en die ronding van die bultjie daal af na onder, waar die trappe begin waarmee ’n mens afsak na Chapelstraat. Dan moet jy oor die nou straatjie stap en af met nog trappe in die skaduwee van die hoë geboue weerskante, tot onder in Hoofstraat.

Maar eers staan hy ’n rukkie stil hier bo en kyk oor die groen bultjie. Na regs lê die witgeverfde ou ligtoring en nader aan hom, maar ook effens na regs, is die ligbruin klippiramied opgerig ter ere van Lady Elizabeth Donkin, na wie die stad vernoem is. Daar ver, bo-oor die hoë geboue, kan hy die diepblou horison van die see sien en bokant die horison die ligter blou van die lug. Hoog bo hom is die hemel ’n nog ligter kleur, byna witblou van die helder son wat al taamlik hoog sit op hierdie laat wintersoggend. ’n Sagte windjie roer liggies aan die blare van die palmbome op die heuwel.

Dan begin hy aanstap in die rigting van die trappe, tussen ’n klomp duiwe deur wat wegskarrel en opvlieg. Hy sluit aan by die yl stroompie mense wat met die paadjies en trappe op en af teen die bultjie beweeg, oor Chapelstraat, dan af deur die skadu’s, totdat hy hom skielik bevind in die helderheid van Hoofstraat, tussen die hoofstroom mense wat in albei rigtings op die sypaadjies beweeg. Helderkleurige motors toet in die straat, hier en daar roep ’n stem na iemand, dreunende, stampende busse ry in blou rookdampe verby of hou stil om passasiers op en af te laai. Mens moet jou pad plek-plek tussen die kleurryke mensemassa deur koes, maar hy stap aan. Vir ’n rukkie kyk hy rustig na die interessanthede in die winkelvensters. Veral ’n kuriositeitswinkel trek sy aandag, met sy geverfde volstruiseiers, koperplaatwerk gesny in die vorm van Afrika, halfedelstene, skaars skulpsoorte, klein items van leer en selfs beeldjies gesny uit ivoor en swart ebbehout. Dan sien hy die blommeverkoper aan die oorkant van die straat en stap soontoe.

Dit is asof dit effens stiller is hier. Eenkant, in die skaduwee van ’n winkel se afdak, staan ’n aantal sinkemmers half vol water met bosse blomme en takkies. Rooi, geel, wit en blou blomme en groen takkies. Die reuk van die vars geplukte plante, gemeng met die geur van die blomme is verfrissend, ’n oase hier in die middestad van beton en teer. Die lang Indiërvrou in die liggeel sari en ’n rooi kol op haar voorkop bedien haar klante rustig en vriendelik.

Die jongman staan ’n rukkie hier tussen die blomme en stap dan na ’n teekamer ’n paar tree verder om die hoek in ’n systraat. Hy stap in en gaan sit by een van die tafels met gechroomde staalpote, ’n rooi-en-wit geruite doek is oor die tafel gegooi. Die stoele se pote is ook gechroom, die sitplek en rugstut is van gelamineerde paneelhout, groen geverf. Op die tafel is daar twee asbakkies van ’n dun blikkerige metaal en ’n rooi plastiekbottel met tamatiesous. Hy kyk op die spyskaart en bestel “Steak and kidney pie with gravy” van die ouerige kelnerin, ook ’n koppie koffie met warm melk. Terwyl hy eet kyk hy deur die groot glasvenster na die bedrywighede buite, die mensdom en motors wat verbybeweeg in Hoofstraat, wat hy gedeeltelik van hier af kan sien. Hy wil nie lank hier vertoef nie en eet sy pastei vinnig, neem net ’n paar slukke van die koffie. Hy voel opgewonde, hy wil deel wees van die bruisende lewe daarbuite. Dan staan hy op, betaal by die toonbank en stap dan uit na Hoofstraat en af in die rigting van die plein, links om die fontein en die stadsaal, teen die hoogtetjie op na Suideinde, verby die ou begraafplaas waar van die vroeë inwoners begrawe lê.

In Suideinde stap hy verby die vensters van die hoofsaaklik Indiërwinkels en kyk na die goedere wat uitgestal word. Mansklerasie, gewoonlik heelwat goedkoper as dié wat in die middestad verkoop word. Maar ook vensters volgepak en gehang van ornamente van geelkoper en allerlei snuisterye, wierook is volop. Haarkappers met hul rooi-en-wit pale, kleremakers. Op die hoek, waar die pad wat teen die bult oploop na Walmer begin, is ’n groot kafee. ’n Advertensiebord bokant die deur kondig aan dat hulle visaas ook verkoop. Hy stap in om ’n botteltjie Coke te kry. Binne is daar ’n duisend geure. Dit is groente en oorryp piesangs wat meeding met rakke vol kerrie en ander speserye, vars brood en ’n duisternis ander dinge.

Met sy oop Coke in die hand gaan staan hy buite die kafee op die sypaadjie en kyk in die rigting van die hawe. Oorkant die straat staan ’n paar vrouens en probeer om vars vis te verkoop aan verbygaande motoriste wat by die verkeerslig stilhou. Hulle roep die pryse en die name van die vissoorte uit. Ver agter hulle in die hawe kan hy die seemeeue sien swenk en duik oor die viskaai. Vir ’n oomblik voel hy effens lighoofdig terwyl hy na die meeue kyk, asof hy vir ’n oomblik self tussen die voëls sweef, hoog in die helderblou hemel. Maar dit duur net ’n oomblik, dan draai hy om en stap teen die bult uit terwyl hy aan die Coke sluk. ’n Dubbeldekkerbus dreun stadig verby hom teen die steil heuwel uit. ’n Aantal kinders, bruin en wit en Indiër, hardloop agter die bus aan. Hulle gryp na die eens gechroomde stutpyp en probeer op die agterste platvorm spring. Die kondukteur verskyn en skreeu op hulle, jaag hulle weg.

Hy stap teen die bult uit en drink alles in, mense, winkels, ou geboue, sommiges kort verf en hier en daar is pleisterwerk nodig.Toe hy by die ou, byna toegegroeide staalplaat kom wat nog steeds aandui dat die Walmer Munisipale gebied hier begin, draai hy om. Die leë Cokebottel gee hy vir ’n kleurlingseuntjie, hy kan dit inruil vir ’n paar sent. Hy is nou al taamlik moeg, dit is al namiddag en hy moet nog ver stap terug na die losieshuis in St Patricksweg in die sentrale woongebied naby Noordeinde.

Nou is dit weer ’n hele ent bultaf, dan links om die hoek onder, terug in die rigting van die stad. Kort-kort sit hy vir rukkies en rus, hy het verder gestap as wat hy bedoel het en die opdraande het hom uitgeput, sy bene is moeg.

Die hoofstraat is in donker skadu’s gehul toe hy daar kom, die son het al ver afgesak agter die geboue. Daar is nou baie minder mense en motors, koerantverkopertjies stap daar rond. Onder een arm het elkeen van hulle ’n pak koerante en in die ander hand swaai hy ’n eksemplaar van sy produk rond. Hul uitgerekte krete vul die lug. Ietwat temerig: “Die Ooosterliiig!” Dan, byna onmiddellik daarna, eers afgemete, lettergreep vir lettergreep, die laaste woord egter hoog en skerp, met ’n effense swaai in die stem: “Eeevening Póst!”

Daar is nou ’n effens sterker windjie wat waai, dit begin koel raak. Hy stap egter steeds stadig, asof hy traag is om by die huis te kom, al met die hoofstraat langs, verby Russelweg. ’n Blok verder swaai hy op teen die bult, die alewige opdraandes as jy in Port Elizabeth te voet moet loop van die middestad af huis toe. Toe hy byna bo is, swaai hy na regs en loop hy nou weer parallel met Hoofstraat, maar hoog bo teen die bult, onder bloekombome wat op die sypaadjie staan. Die wind waai nou taamlik woes en dit skemer sterk aan. Oorkant die straat hoor hy ’n deur oopgaan, ’n man met ’n vioolkas in sy hand kom met die trappies af en stap dan in die teenoorgestelde rigting met die straat aan. Agter hom aan loop ’n dogtertjie met ligte hare en geklee in ’n dun ligkleurige rokkie, die bande agter hang los. Sy is seker nie ouer as nege jaar nie en is kaalvoet. In die straatlig kan hy sien sy dra in die een hand ’n bottel wyn en in die ander hand klem sy ’n drinkglas vas. Hy staar hulle vir ’n rukkie verwonderd agterna en voel skielik hartseer, hy weet nie waarom nie, hy voel maar net so. Dan verdwyn hulle uit die lig en gaan in die donker om die hoek. Die wind ruk nou sterk aan die bloekomtakke bokant hom en hy besef hy sal moet aanstap.

Hy gaan verby ’n stegie en sien daar digby hom ’n jongman in ’n leerbaadjie wat sy meisie met sy lyf styf teen ’n heining vasdruk terwyl hy haar in die gesig soen. In sy regterhand hou die jongman ’n sigaret. Dit is so naby aan hom dat hy die dagga duidelik kan ruik, ten spyte van die sterk wind.

Die jongman stap aan. Hy kan die dofgeel lig van die losieshuis ’n ent verder uitmaak. Dit lyk asof dit flikker soos boomtakke voor dit heen en weer swaai. Hy voel skielik alleen, hy het niemand nie, nie ’n meisie nie, nie eens ’n vriend in hierdie stad nie. Vanaand is hy weer alleen in die koue kamer met die kaal mure. Hy strompel voort, beur teen die sterk wind. En die wind swaai die takke met geweldige krag, waai teen die bult af na onder waar dit tussen die hoë geboue deur skeur en bars dan uit oor die donker see.

19 Januarie 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.