NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Bitter blom

Johan Nieuwoudt

Die ou man met been- en armsere is vas aan 'n kateter. Hy kan nie op sy eie eet of drink of pis of kak nie. Hierdie mens in die frail-care kot het my verwek en verwen. Nadat hulle twintig jaar op my werf gebly het, is my pligsgetroue maniese ma agter hom aan in hierdie helgat in, en woon sy nou aan die vensterkant van die dubbelkamer wat elke maand agt duisend rand sluk van die erfporsie waarvan ek so baie moes hoor. Al kry my snoep ek seer, smile die een wat altyd wou sê: "Steek julle geld in julle gatte, los my net uit!"

Ek kyk na hom tydens een van my kort pligsbesoeke en dink: "Na al jou struggle uit armoede en ellende, waarvoor jy my wou blameer, is jy weer soos 'n kindjie klein, wat moet leef tussen pis en kak en pyn."

Toe's hy dood. Ek was amper daar, want toe ek inkom, kwetter drie swart verpleegsters nog om sy bed. Hy lê soos 'n verkrimpelde vraagteken daar. Sy tande is uit en sy oë half toe. Ek vat aan sy koue nek en vra: "Is he dying?"

"The old man has died," antwoord een.

My ma sit op die stoel en praat nog een strook deur. Ek kniel, sit my arm om haar maer skouertjies en sê: "Pa is dood ... Ma, Pa is dood."

"Jy moet die lyk 'n laaste keer sien." Die woorde wil die volgende dag nie uit my kop kom nie. Toe doen ek dit maar. Ek klim in my Husky-bakkie en vat die pad begrafnisplek toe.

In Soutpansbergweg sien ek die speedtrap. Ek smile en kruip oor die toutjies. Daarna flikker ek vir die aankomende verkeer. Ook vir die BMW's en die Mercedesse waarsku ek. Sommige ouens wen, die stadsraad verloor.

By die plek sê ek wie ek wil sien.

"Wag net 'n bietjie," sê die ou in die baster-tuks.

Terwyl ek wag, dink ek aan die ander lyke in my lewe. Daar was Peter my maatjie van standerd twee. Hy't verdrink. Ek het saam met die ander verby sy lykie in die kis geloop. Sy pers gesiggie en die rok wat daarby pas, het my vir jare nagmerries gegee. Ouma Kleinie wat in die plaas in die skuur gelê het, was meer van 'n dare. Ons kinders het mekaar opgesteek om te gaan kyk. Ek het drie keer gaan kyk en die game gewen. My skoonma het ek 'n laaste keer by die begrafnisplek gaan kyk. Sy het in die kis gelê en ek het net ingeloer.

Dis wat ek gedog het ek nou weer gaan doen, net inloer by die kis en mooie woordjies vir my pa sê, maar dit werk nie so nie. Hulle het die lyk op 'n trollie gesit en in hulle spesiale kamer onder 'n spotlight ingestoot. In die een hoek is daar 'n kleipotkabbelstroompie. Ek weet nie of die water uit 'n kraan kom, of oor en oor gepomp word nie. In die stilte kan ek nie die pompie hoor nie. Miskien is hy op 'n ander plek. Daar is ook 'n rusbank en stoel. Die mure is behang met diep afdrukke van engele en ander heilige dinge.

Ek kyk na my pa met sy hande gevou bo-op die blou doek wat die res van sy lyf bedek. Ek skrik. Sy wit gesig lyk soos dié van 'n roofvoël. Niks van die vredevolheid wat almal beloof het nie. Dan kliek ek. Hulle het sy tande verloor en die ou wat die mond gedoen het, het die job gebotch. Ek beweeg oor die sintetiese mat van stoel na rusbank na stoel, net om 'n angle te kry wat die minste aardig is. Oplaas bly ek sit en soek mooi gedagtes. Ek wil dankie sê, maar al wat in my kop kom, is die woorde: "Hoekom het jy my vir vyftien maande weggegooi toe jy en Ma Kanada toe is? Is daar nie ook vierjariges saam met hulle ouers nie?" Dan dink ek weer: "Dis jou skuld dat ek op dertig in Yankie Land staan en mal word het!"

Mooi gedagtes wil nie kom nie. Maar dan onthou ek ons een maal 'n jaar se plaas-toe-ganery sonder Ma, toe my ander oupa nog geleef het. "Dit het nogal goed gewerk. Jy het my toe leer bestuur. As ons terugkom. het ons soms by Potch gestop en gaan aalwyne vir Ma pluk."

'n Dwars gedagte kom by my op: "'n Aalwyn is 'n bitter blom ..."

Dis tyd om te gaan. Ek wil 'n ritueel maak: ek sal aan jou kop vat en sê: "Pa, totsiens vir goed ..." Ek weet jou kop sal koud voel, ek is reg daarvoor. Maar as ek vat, is daar 'n vonk. Vir die millisekonde voordat statiese elektrisiteit flits, word my goeddeurtrapte agnostiese beskouing wreed geskud; 'n oerskok tril deur my. Dan skeur pyn uit my. "Pa, ek's jammer, Pa. Ek's jammer jy't so swaar gekry, ek's jammer jou ma is vroeg dood, ek's jammer jou pa het jou weggegooi, ek's jammer ek kon nie 'n goeie seun vir jou wees nie." Ek huil en huil en huil, 'n rou huil.

Toe die verkeersman my later stop vir spoed, huil ek nog steeds. Al wat ek kan sê, is: "My pa is dood, my pa is dood."

Hy sit sy boekie weg en met 'n skor stem sê hy: "Ek's jammer, Meneer, myne ook ..."


Johan Nieuwoudt
Ek's op die plaas Oorskot (Boshoff distrik) in die Vrystaat gebore. Daarna het ek draaie gemaak by Krugersdorp, Maraisburg en oplaas Pretoria waar ek nou nog woon. Ek het by Stellenbosch, UP en Unisa geswot.
Vir baie jare al hou ek my doenig met die sielkunde. Noudat aftrede om die draai is, gaan ek probeer om stories te skryf ...
  Johan Nieuwoudt



LitNet: 03 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte. As jy jou eie verhaal op NetFiksie wil sien, stuur dit aan sharon@litnet.co.za vir keuring.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.