NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Soutreën van gister

Johan Nieuwoudt

"Genoeg is genoeg!" sê ek vir Michiel, my kamermaat.

Hy antwoord nie, want sy mond is volgeprop met een van my ma se beskuite.

Ek slaan die boek toe en gaan soek vir Pottie op. Net voor ek met die trap afklim na die tweede verdieping toe, sien ek die krom asblik en lag vir Piet se storie. As hy wou ontlaai, het hy die derde vloer se asblik by die trappe afgegooi en dan daarna die "sondebok" gejaag terwyl hy skree: "Vang die donner, vang die donner!" Almal het vermoed hy is die donner, maar net ons, sy vriende, het vir seker geweet. Het, ja het, want Piet het met sy motorfiets teen 'n bus vasgedonner en is na 'n jaar van koma dood.

Pottie sit by sy tafel toe ek inkom. "Hei Pottie, ek stick jou 'n game."

Hy bly eers stil, glimlag skeef en antwoord dan in sy ek-is-die-meester-stem: "Goed dan boet, laat ons vandag daai masjien gaan naai."

Buite reën dit saggies, maar ons gehawende gekrulde veldskoene is al gewoond hieraan - pisvoete, soos my ma dit genoem het.

By Sonop, die meisieskoshuis, huiwer ons. Sal ons, of sal ons nie? Gelyktydig besluit ons en skree: "Sonop julle weet mos!" En dan hardloop ons, want as jy gevang word, is dit moerse shit.

"Hel, ek wens ek was op die Twaalf Apostels se lys," sê Pottie.

"Jy't nie 'n kans gehad nie. Ons BA-laaities verdien net een punt," herinner ek hom.

Hieroor tob hy 'n rukkie, want toe ons by Dagbreek verbyloop, wil hy weet: "Dink jy dis waar dat die Apostels punte gegee het vir die ouens wat hulle bygekom het?"

"Ek hoor dat hulle sommige aande om 'n kers gesit en kompeteer het wie die meeste punte gekry het. 'n Tokkelok kry die jackpot - 10 punte!" antwoord ek hom. "Miskien moes ek tog my oupa se wens vevul het om 'n dominee te word."

"Miskien ook nie, want al die apostels is geskors, sowel as sommige aspirantdominees wat daar gaan proe het," antwoord hy en kla dan: "Al opwinding wat oorgebly het, is dat ons nie vir die agtergeblewe eerbare meisies 'Sonop julle weet mos!' mog skree nie."

"Dis nie waar nie, daar's nog altyd Canaris se masjien!"

Ons lag en stap aan. Dan's ons voor Wilgenhof. Hier wil jy altyd skreeu "Bekfluitjie!", verwysende na die gebou wat soos 'n mondfluitjie lyk. Dit doen ons nie, want die Bekfluitjie Kommando is altyd op standby en as hulle jou vang, kak jy af.

Canaris se groentewinkel staan skuins oorkant die waardige witgepilaarde stadsaal. Die Culture Crowd oefen sangfees en hulle ha-ha-ha's en hoe-hoe-hoes filter deur die nag as ons uit die misreën ons hool betree. Die pinballmasjien is die kleurvolle ark in Canaris se tempel, waar alles van kaas tot kondome verkoop word. Canaris self is die hoëpriester en duld geen nonsens nie: skop jy die masjien, verban hy jou vir ewig uit sy heiligdom.

As hy Pottie sien inkom, versuur sy gesig, want hy weet dat sy masjien vanaand nie veel meer geld gaan verdien nie. Hy verkies dit dat ek alleen kom, want dan is die offer groot.

Ek voer die masjien geld in sy regopbekkie net onder die skietyster. Die masjien kry lewe as vyf balle êrens vanuit sy binneste loskom en rol tot onder 'n venstertjie waar 'n mens hulle kan sien. Pottie laat waai met die eerste bal die speelveld in. Soos altyd hipnotiseer hy my met sy ruk-en-pluk-aksies en met die musiek wat hy met die flippers en ligte en klokke maak. Hy en die masjien word een, 'n Gaugin wat skilder met ligte en klokke, 'n meester wat weet net wat om te doen. Nooit skud hy te wild nie, daarvan kry jy net die starende ligte van die TILT.

Terwyl die masjien sing, rol die punte aan en aan. Soms lyk dit asof Pottie die bal uit die gaping tussen die twee flippers toor. Ander kere vang hy die bal in die flippermik terwyl die masjien 'n snaakse bromgeluid maak omdat hy sy vinger konstant op die flipperknoppie hou. Dit klink amper asof 'n kat pur van genoegdoening omdat sy baas hom kielie. Dan laat hy hierdie bal effens vorentoe rol op die flipper, maar nie te ver sodat die bal die dieptes instort nie. Nee, net genoeg sodat hy met 'n vinnige druk op die flipperknoppie die bal weer die hoogtes in kan stuur. So word die bal gered; 'n wedergebore bal kry 'n nuwe lewe.

Die meester bring my in vervoering met al die nuwe lewes wat hy uit dieselfde bal haal, want ek weet dis nie lank voordat die masjien orgasmies gaan klap om die eerste vryspel te baar nie - orgasme en geboorte gelyktydig. Van hierdie vryspelle gaan ek speel en persoonlik leer by my ghoeroe: "Nie te veel skud nie ... vang hom, vang hom nou ... wys die wetter ..."

Ek knip my oë en die jare rol aan en aan, net so vinnig as die punte op Canaris se masjien. Dertig jaar, drie dekades word geklok.

Nou soek ek na Canaris se plek. Sal daar 'n afstammeling van die ou Portugees wees, miskien 'n kind?

Niks! Oorkant die stadsaal staan 'n mall. Geen Canaris, geen masjien, geen Pottie. Niks.

Ek loop verdwaas aan, terug verby Wilgenhof, verby Dagbreek, verby Sonop tot by Eendrag, my ou koshuis. Daar brand 'n lig in my kamer op die derde vloer. Ek kyk en kyk en kyk en sien dan gister is verby.

Dit reën saggies en ek proe die reëndruppels smaak sout.



Johan Nieuwoudt
Ek's op die plaas Oorskot (Boshoff distrik) in die Vrystaat gebore. Daarna het ek draaie gemaak by Krugersdorp, Maraisburg en oplaas Pretoria waar ek nou nog woon. Ek het by Stellenbosch, UP en Unisa geswot.
Vir baie jare al hou ek my doenig met die sielkunde. Noudat aftrede om die draai is, gaan ek probeer om stories te skryf ...

Johan Nieuwoudt



LitNet: 19 Januarie 2005

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.