NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Marcelle Olivier
is completing an honours degree in English Literature at the University of Stellenbosch. Sy skryf omdat woorde so ontsaglik mooi is ...
  Marcelle Olivier
  • Nog ’n verhaal deur Marcelle: Something in the basin

    Ons gaan pluk strawberries

    Ons was eers in die parkie. Ek en Henk en Willem en Christiaan, want dit was Saterdagmiddag, en Ma-hulle het nie omgegee oor Vrydae, Saterdae en Sondae nie. Die parkie was my idee, ek wou gaan krieket speel. Ek het die vorige dag hard saam met Pa geoefen voordat dit donker geword het, en ek sou Henkie-hulle heeltemal uitboul. Ek het my bat en bal saamgeneem, maar hulle wou nie speel nie.
         Die parkie was oorkant Willem-hulle se huis, en daar was ’n wipplank, ’n rondomtalie, vier swaaie, ’n glyplank en ’n junglegym. As jy hoog genoeg geswaai het, tot net voordat die metaalbene agter jou oplig en dit voel of die hele ding sou omval, kon jy Tafelberg bokant oom Sakkie-hulle se rooi dak sien uitsteek. Party aande in die somer as Ma-hulle kom stap, dan swaai ek só dat ek die son kan sien sak. Dan is dit ’n donker oranje bol teen pers lug, op elke tiende swaai kyk ek op en dan sou die berg dit nog ’n bietjie verder ingesluk het, totdat daar later net flintertjies rooi oorbly — asof sy daarvan uitgespoeg het.
         Ons was gou moeg van wipplank ry en daar was twee ouer ouens op die swaai. Willem se sussie en die tweeling van onder in die straat was op die rondomtalie. Willem het goed vir hulle geskree, hy het selfs eenkeer stront gesê, maar nie baie hard nie. Christiaan het oorgehardloop en op een van die houtafskortings gespoeg terwyl die meisies gegil en aan mekaar vasgeklou het. Dit was okay. Maar teen half-vyf wou ek loop — dalk was Pa lus om weer te bat, en ek was moeg van die op-en-affery. “Ek waai nou,” het ek gesê en my goed opgetel waar dit in die pol gras langs die wipplank gelê het. Willem het sy wenkbrou gelig soos die een ou in MacGyver altyd doen.
         ”Spoil sport,” het hy gesê en weggekyk na die plaas se kant toe. En toe: “Kom ons gaan pluk strawberries.”

    Dit was ’n mooi middag. Die lug was potblou met wit toiings wat vinnig oor ons koppe beweeg het, en verder regs, by die draai van die dorpsberg Paarl se kant toe, die blinkgrys hale waarvan Ma so baie hou. Sy sê altyd dit is Turner-wolke — ek weet hy was ’n skilder — en dit voorspel donderweer. Ons het Tafelberg se kant toe geloop, die plaas was anderkant die laaste ry huise, nogal ver van ons straat af, daar waar al die dokters bly. Dit was stil behalwe vir die duiwe se gekoer, en die sonbesies in die wilgerbome. Henk het eenkeer geprotesteer dat dit steel is, as ons nie betaal nie.
         ”Ag, issie man. Daar’s in elk geval so baie van die goed.”
         Willem het nie omgegee nie. In die klas, as hy nie sy huiswerk gedoen het nie, het hy by ons afgekyk, of as dit geskiedenis was en ons moes leeswerk gedoen het, het meneer Van Niekerk hom met die bordliniaal pakgegee. In LO, of in rugby, het Willem jou sommer getackle selfs al het jy nie die bal nie, en soms het hy daaroor gejok. Sy pa was skoolhoof by die hoërskool.

    Ek het nie skoene aangehad nie en daar was dorings toe ons onder by die rivier kom, toe loop ek op die rivierklippe. Ons moes onder om sodat die mense ons nie sou sien nie. Die plaasheining het regdeur die rivier geloop; stukkies gekleurde plastiek en blare het teen die draad opgehoop, maar ons het maklik oorgekom — ek het eers my krieketgoed oorgegooi langs die kant en toe self oorgeklim. Henk se kortbroek het aan ’n wegbreek stukkie draad vasgehaak en geskeur, net soos hy wou afspring aan die plaas se kant. “Gatkruiper,” het Willem gesê en ons het almal gelag, want Henkie se boud het duidelik gewys — sy ma sou hom seker uitskel as hy by die huis kom. Ek het op die klippe bly stap en die ander langs die kant tussen die lang gras en kappertjies. Christiaan het al die oranje blommetjies met sy tekkies neergetrap, sommer so vir die lekker, maar ek het niks gesê nie. Na ’n rukkie het ons met ’n grondpaadjie opgeloop na die plaashuis se kant toe, verby twee lae graniet rotsblokke met turksvybome wat uit die skeure tussen die rotse uitgroei — dit het vir my gelyk of iemand die blare stukkend gesteek het, of gedeeltes weggebrand het, want daar was diep letsels oor die plat gesigte.

    Die onderste gedeelte van die plaas was jong wingerd. Hoogsomer kom koop ons altyd druiwe by die opstal; dan laat die plaastannie my van elke boks proe en ek kan besluit watter een ons moet vat. Ek kies altyd die soetse boks, of die een met die vetste korrels, en net die groen druiwe, want die perses het ’n bitter skilletjie en baie meer pitte. ’n Mens kan aarbeie ook kom koop, maar my oom-hulle het ’n kleinhoewe buitekant die dorp, so ons hoef nooit êrens anders te kry nie.

    Die aarbeie groei duskant die opstalle, en ons moes eers verby die plaashuis loop. Ons het in die krismisrose aan die onderpunt van die tuin weggekruip en oor die groot grasperk gekyk.
         ”Kom ons gaan liewers daaikant om,” het Christiaan gesê, en beduie na waar die dam was, “dan sal hulle ons nie sien nie.”
         Willem het gedink dit was ’n onnodige draai. Die mense sou in elk geval op ’n Saterdagmiddag slaap. Ons het weer stilgesit en voor ons uitgekyk. Die tuin was oneindig lank: ’n groot wilgerboom met ’n gebuigde stam was in die middel van die grasperk. Die skaduwee was groot en donker en die takke het laag gehang. Verder aan, nader aan die huis was daar weer een — een van die dik takke het amper horisontaal tot teenaan ’n klein muurtjie geloop. ’n Mens sou, as jy hoog genoeg gespring het, die tak kon vasvang; of as jy van onder af opklim, sou jy op jou rug kon lê en na die fyn wilgerblaartjies kon kyk, of na die patrone wat die son maak. Behalwe vir dié twee bome was daar geen ander skuiling totdat jy weer in die krismisrose aan die anderkant van die tuin beland nie, en ek het nog my bat en goed by my gehad.
         ”Nou maar kom.”
         Ek het Willem aan sy arm teruggetrek toe hy wou opstaan.
         ”Wat van die honde?”
         ”Watse honde?”
         ”As ons kom druiwe koop ... hulle het Dobermans. Hulle blaf verskriklik.”
         Henkie het teruggekruip, dieper tussen die blou en pienk rose in. Hy was bang vir honde; sy een kuit het ’n lang ritssluiter van ’n letsel gehad waar ’n hond hom gebyt het.
         ”Ag man,” het Willem gesê, maar hy was self nie meer so seker nie. Ons het probeer luister vir die honde, maar daar was niks nie, behalwe vir die besies, en bo ons koppe, in een van die eikebome, ’n groot vet duif wat elke paar sekondes gekoer het. Na’n paar minute van so sit het ek uit die plante gekruip; my rug was seer, dit was al amper kwart voor ses en ek moes halfsewe terug wees by die huis. Die ander het my gevolg. Die son was skerp na die donkerte van die krismisrose. Dit het gelyk of ek deur ’n heldergeel glasvenster kyk: stukkies wingerd het rondgeflits; die ry huise anderkant die plaasheining was blokkies blink ys met ligrooi weerkaatsings bo-op. Ek het gedink ons gaan huis toe, maar Willem het besluit om dam se kant om te loop: “As ons draf is ons vinniger daar, dan eet ons en hol terug huis toe.” Christiaan het gesê die honde sou ons nie hoor nie, want dan is ons verder weg van die werf, en sommer begin hardloop.

    Die paadjie dam toe, en rondom die dam, was uitgetrapte gras; kolle nat mos waar die water uit die damwal uitgesypel het. Ons het onderlangs gedraf, verby twee boorgate tussen ’n plaat varklelies en’n tipe opwekker onder ’n eik. By die eik het die paadjie opgehou en ons het vir ’n kort rukkie deur die lelies en riete gestap. Ek kon die aarbeiland tussen die bome sien uitsteek — dit was vinniger as wat ek gedink het. Ons het die laaste entjie oor sementblokke bo-oor ’n lang drein geloop: waar die blokke nie mooi aanmekaar geraak het nie kon jy die water duidelik vanuit die donker skrefies hoor; totdat ons in die oopte langs die begraafplaas en in die aarbeiland gestaan het.

    Ons het lank geëet. Die vrugte was soet; die pitjies het bo tussen my tande vasgesit en die vleisies in die holte waar my een kiestand besig was om uit te kom. As die aarbeie ryp is dan trek die blaartjies maklik uit en los ’n gaatjie rond soos die van ’n krieketpaaltjie op die veld na ’n wedstryd. Ek het my tong ingedruk daar waar die stingeltjie moes wees totdat die aarbei oopgebreek het, en dan eers het ek hom geëet. Daar was baie; elke bossie was gelaai. Willem was op die grond, sy wit kortbroek vol rooierige grond, sy kieste vol; Henk het hoër op tussen die plante deurgeloop op soek na die beste aarbeie. Elke paar sekondes het hy afgebuk en een gepluk, vir ’n oomblik net ’n rug en twee bene. En Christiaan was links van my, besig om krummeltjies grond van ’n klein, maar bloedrooi bessie af te vee, toe die honde kom.

    Ek het hulle gesien voordat ek hulle kon hoor. Van die plaaswerf se kant, regs van ons. Drie van hulle. Dobermans. Ek kon nie wegkyk nie: ses paar bene wat saam-saam uitrek en intrek en uitrek. Eers toe hulle verby die laaste paar eike is, met hulle lywe wat skaduwees oor die eerste aarbeie gooi, kon ek hulle hoor. En toe Willem en Christiaan begin hardloop en Henkie my aan my arm beetkry en trek, toe kon ek hulle ruik: die honde-asem wat in vlae vanaf hulle rooi tonge afrol. Groter en vinniger, ’n meter nader elke keer as ek my oë knip. By die begraafplaasmuur het hulle ’n oomblik verdwyn — hulle moes om hardloop, of bo-oor spring. Toe ek hulle kon hoor, maar nie kon voel nie, toe hardloop ek.

    In die voortjies tussen die plantjies, later oor die plantjies. Toe ek eenkeer opkyk was
    Willem en Christiaan bo-op die damwal, vér voor my, hulle arms wapperend in die swaar, rooipers lug. Ek kon nie verstaan hoekom die lug so pers was nie en so in die hardloop het ek afgekyk na my horlosie. Dit was amper agtuur. Ek wou nog gaan bat het voor aandete. Dalk gaan Ma kwaad wees.

    Maar dit was die éérste gedagte wat my laat stop het: my bat en krieketbal was nog daar waar ons begin eet het. Ek het die bat skuins oor die een voortjie laat lê sodat ek dit kon sien as ons waai. Dit was ’n duur bat. Ek het geluister vir die honde. Hulle was sti1. Alles was stil. Dit was net die aand.Toe draai ek om daar waar ek met my een voet in ’n voortjie en die ander op ’n aarbeiplant gestaan het. Die honde was nog besig om te hardloop, maar nie in my rigting nie; ek kon die lang tonge sien uithang en wit tande sien blink. Die drie was op pad na ’n groot sak wat in die middel van die land gelê het, naby waar ek my krieketgoed gelos het, maar wat ek nie kon onthou nie.

    *

    Die geweerskoot was te hard in die stilte. Dit het die wolke anderkant die landery laat oopbars; rooi stukkies reën het afgeval tot op die horison se plat maag en oomblikke daarna het ek die druppels op my gesig gevoel. Ek wou nog kwaad wees, begraafplaas se kant toe kyk om te sien wie skiet die lug oop, toe stop die een hond waar hy is en lig sy ore. En die sak kry ’n kop. Ek het omgekyk na waar Willem en Christiaan op die damwal staan. “Hoekom is Henk ’n sak?” Maar hulle kon my nie hoor nie, want ek was te ver. “Hoekom is jy ’n sak?” het ek toe maar vir Henkie gevra. Ek weet nie of hy gehoor het nie, want sy kop was midde die aarbeiplantjies ingedruk, sy ore tussen die blare. Net ’n bietjie van sy geel hare het uitgesteek in ’n ou vlek sonlig. Twee van die honde het probeer om iets uit die kopsak te sleep — hulle tande was nou so rooi soos die aarbeie tussen ons, die ander een het saam met my gekyk hoe Henkie se hare ritmies rondwip, in die reën. Dit was eintlik mooi so teen die amperse helderheid van die donderstorm ...

    Eers toe die tweede skoot afgaan het ek gewonder of Henkie dalk vroeër oor my krieketbat geval het, en of hy dit dalk in die sak gesit het, en of Pa dit later sal kom soek as die honde eers weg is. Ek het nie eens geweet nie.

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.