NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Merle Grace is in 1972 in Johannesburg gebore. Sy studeer B Prim Ed met Kuns aan die Universiteit van Stellenbosch en doen later ’n honneurs in Afrikaans by die Universiteit van Port Elizabeth. Sy glo in “magic” en toeval en haar gunstelingseisoen is herfs. As sy eendag “40 and famous” is, wil sy ’n gemmerkat hê.
  Merle Grace
Nog kortverhale deur Merle Grace:

Ons versameling

Ons het nie geweet nie. Dat my sussie doof is nie. In die aande as Ma die ligte afsit, voel ons hoe die groot lorries verbyry. Ons huis is nou bý die pad. Vroeër was dit nie so nie. Ons knyp ons oë toe en wens dat daar nie werk sal wees vir ons die volgende dag nie. Soms kom lê my sussie in my bed as die vibrasies van die lorries en karre te veel word, of as die huis sag begin ruk van die wind.

Ek en my sussie staan op die rand van die Grootpad. Ons kyk mooi of daar nie karre kom nie. Die son blink altyd so mooi op haar hare. As sy begin hardloop, val haar krulle so die kant toe en dan weer so en dan sommer deurmekaar. Ons kyk wie eerste die bloed sien. Sy sien dit eerste. Haar mond maak ’n trotse tuit en sy beduie met haar hand vol opwinding en hartseer. Ons kom nader toe ons nie karre sien nie. “Dis ’n uiltjie”, sê ek en probeer van die veertjies optel. Net toe kom daar ’n kar, en ek gryp my sussie se hand en ons gaan staan by die draad met bossies onder ons voete. As die kar verby is, gaan haal ons die uil. Ons bring elke dag ’n plastiese sak saam en Ma se tuingrafie. Ons maak die dier los van die teer en skep hom in die sak. Dit ruik na rou bloed en dit stink. Ons druk ons neuse toe, ek het al opgegooi as ek dit nie doen nie. My sussie hou die veertjies en druk dit voor teen haar trui se knoopsgat in. Party vere is nog vol bloed.

Ons moet die uiltjie begrawe. Ons maak ’n vlak gat in die grond en kyk of ons nie mense sien nie. Hier sal hy veilig wees. Op die pad sal net nog karre oor hom ry en hom platter maak. My sussie het vir die uil ’n prent gemaak, sodat hy nie sal bang wees onder die grond nie. Dis ’n prent van ’n nonnetjiesuil wat in ’n dadelboom sit. Sy ogies is rond en geel in haar prent. In die agtergrond is daar ’n dam en ons huis en ek en sy. Sy kleiner as ek, want sy is nou eers drie, en ek bietjie groter, ses jaar oud. Sy sit die prent sag op die uiltjie neer en ek begin die grond met my hande toevryf. Ek preek en vloek die mens wat die uiltjie doodgery het. My sussie hou die veertjies in haar hand vas en ons staan en huil soos elke oggend. Die res van die dag praat ons oor die uiltjie en ons maak ’n vuur met stokke wat ons in die veld kry.

“Sussie, Mamma praat alweer met jou, maar jy luister nie!” kom ma se stem van die badkamer af. Ma is in die een kamer en sy in die ander. Sy speel net aan, en ek weet sy moet nou die badwater intap. Ek gaan haal haar en help haar om haar klere uit te trek en ons klim saam in die bad en speel met die leë botteltjies wat ma vir ons uit die kombuis bêre.

Ons slaap in die kamer oorkant Ma en Pa. In die aande kan ek hoor hoe hulle fluister. Ons kan nie fluister nie, want my sussie kan nog nie lekker praat nie, al verstaan ek al haar geluide.

Vanoggend is dit my beurt om dit eerste te kry: ’n skilpadjie. Mens kan nie glo sy dop was hard nie. Ons breek van die vierkantjies van sy dop uit en skep hom in die plastiese sakkie met ons grafie. Hy is klein. My sussie vat my hand en ons stap met die sak en die dooie skilpad. Elke dag is anders. Elke dag kry ons diere. Ons neurie sag langs skilpad se graf. Ek begin sag huil. Daar is al so baie diere.

Ons geheime plek het ’n meerkatstert in, ’n muishond se oog, en vere van verskillende voëls. Erdvarkpenne. Die bobbejaan het ons heeltemal begrawe, want alles aan hom het ons aan onself laat dink.

Toe die vreemde man ingestap kom met my sussie op sy heup, het ek en my ma geweet wat ons vir soveel jare nie woú weet nie. “God, Mevrou, sy staan net daar ...” is al wat hy gesê het.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.