NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Nelius Boshoff
is ’n navorser in die sosiale wetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy het verskeie kortverhale in Afrikaanse tydskrifte gepubliseer waarvan een opgeneem is in Huisgenoot Trefferverhale (Human & Rousseau). ’n Kortverhaal ("Gaasgordyn") verskyn ook in Party van ons: die Homeros Leesboek 2001 (Tafelberg: Homeros). Sy e-pos is scb@yebo.co.za.
  Nelius Boshoff

Lyfskrif

Nelius Boshoff

Jy lê naby my, jy lê ver van my
ek sukkel in die donker om myself te bly
my siel versmoor in hierdie lyf
jy alleen, jy alleen, wat die wag verdryf.


Iets in my wou nie meer alleen nie.

Die reëlings was egter gefinaliseer: ’n week in Wenen en Parys en my werk betaal. Nou sit ek in ’n vliegtuig van Austrian Airlines; ek soek vir Etienne in die duister kringetjie van die venster, maar vind net myself.

Ons vriendskap het ’n skewe romanse geword. Sedert Lizanne weg is Brittanje toe bel hy my laatnag en nooi my dikwels om by hom te slaap. Niks mag egter op hulle bed gebeur terwyl sy die jaar lank weg is nie. Dus lê ek op ’n matras op die vloer terwyl hy en die hond die dubbelbed deel. Ek sluk dit en verkies die matras bo die kamer langsaan. Só kan ek ten minste by hom wees. Soms hou ons hande vas en deel emosies; meermale verwens ek egter my gekheid.

Soggens is die moelikste as hy nog slaap en ek moet uitsluip om te gaan werk. Ek wil graag sy komberslyf druk en hom soen en iets simpels sê en nie net soos ’n skurk onder deur die garagedeur verdwyn nie. Maar dis te vroeg om meer te verwag. Boonop raak hy geïrriteerd as ek praat of aan hom vat, want dan sukkel hy om weer te slaap.

Dolf is anders — hy laat my teen hom lê.

Een nag, toe die gedagte aan Etienne te pynlik geraak het, het hy soos ’n engel deur Hothouse se stoom verskyn en sy lyf vir my oopgesprei. In ’n slaaphokkie het ek alles wat ek opgekrop het in ’n stukkie gomlastiek in hom uitgestort. Toe ons buite kom, was my kar se ruit flenters en my windjekker weg. Hy het my in die stormreën na die Seepuntpolisiestasie begelei en my die volgende dag ’n nuwe baadjie by die Parade help uitsoek: ’n swarte met ’n plastiekagtige voorkoms.

“Net reg vir weggaan,” het hy gesê. “Vat dit. Jy sal nooit daarin koud kry nie.”

Maar ek mis my gesteelde baadjie: die maroen een met die blomvoering. Ek het in die einste baadjie vir Etienne en Lizanne ’n tyd gelede in die Waterfront raakgeloop. Hulle het ineengestrengel voor my opgedoem op pad na die laataandfliek. Etienne het ’n donkergroen jas aangehad, nat van die reën, en ek het gedag sy groen en my maroen pas mooi bymekaar, soos twee kleure ink wat saamvloei en diep en donker vlek.

“Hmm, interessant.” Lizanne het agterdogtig van my na hom gekyk. “Ek probeer agterkom wat nou hier aangaan.”

“Hier’s niks om uit te puzzle nie,” was Etienne se ergerlike antwoord.

Ek het oorbodig gevoel en verskoning gemaak en tussen die rakke in Exclusive Books gaan kniel. Ek wou vlug van sy woorde, net om omring te word deur nog méér woorde: stringe en stringe letters met gerieflike wit spasies.

***

Vroeg land my vliegtuig in ’n donker Wenen. Ek volg die passasiers slaafsgewys tot verby die doeanebeamptes. Al die bagasietrollies is gesluit en ek het nie sjielings om in die muntgleuf te gooi nie.

’n Jong Hongaar willig in om my na die hotel te neem. Hy praat Engels met moeite sodat een van die ander taxi-bestuurders moet tolk. Ons ry op ’n hoofpad. Die radio is aan, maar ek verstaan niks nie. Langs my slaap die stad soos ’n onbegeerlike minnaar: sy lyf is oud en uitgestrek en mee gepeuter. Ek het nie lus om in hom te kom nie.

Ook my hotel is mistroostig: hysbakloos, ’n lang rits trappe en ’n onvriendelike man aan die bopunt by ontvangs. Ek gaan slaap dadelik. Toe ek heelwat later wakker skrik, skyn die son flou in my kamer.

Hierdie lewe is onnatuurlik, dink ek terwyl ek my klere ophang.

Ek durf die stad aan, stap in die rigting van die Schottentor-treinstasie waar ek vir my ’n stuk pizza by ’n kafeteria koop. Die vrou agter die toonbank volhard met Duits sodat ek met my wysvinger ’n driehoekie op my hand trek.

Vreemd en ondeurdringbaar, die stad se klanke om my. My gedagtes sit vas in die bietjie ruimte wat daar is. Dit wil nie verder as die oorbekende nie: Etienne se oë, sy alewige afstand; Dolf se boude wat sletterig onder my beweeg. Ek begin soek na ’n internetkafee.

Ek wens jy was hier, tik ek vir Etienne. Ek mis jou nogal.

Vir Dolf tik ek dieselfde.

Twee halfhartige sinne.

Die aand voor my vertrek was ek binne Dolf, maar ook buite hom. Ek kon nie ’n orgasme kry nie. My droë stote het hom seergemaak sodat ek onttrek en gaan stort het. Hy het saamgestort. Met die water wat teen ons lywe afhardloop, het my kop gepleit: staan stil, dis hy! Maar my hart het soos skuim deur die gaatjie in die vloerteëls gekruip op soek na Etienne.

Selfs al beteken om Etienne lief te hê om nóóit liefgehê te word nie — net oomblikke om op te teer.

Soos die aand in die Anglikaanse diens in die interreligieuse kapel in McGregor: ons wat ’n harde houtbank deel en ’n swartbandboekie waarin ons vorentoe en agtertoe blaai vir die regte woorde om op te sê. Etienne se stem hang soos ’n klip aan myne en sleep my saam, al is nie een van ons Christene nie.

Toe ons uitloop en skoene aantrek, kry ons die heiligheid nie afgeskud nie. Seker daarom dat Etienne wawiele en kopstane op die gras buite die kapel doen. Hy sukkel dat ek ook my lyf omgooi, maar ek is steeks.

“Jy weet ek doen nie sulke goed nie. Ek’s prim en proper!”

“Ag, kom nou!”

Ná ’n lang gesukkel gee ek mee en my handstaan word ’n lomp bollemakiesie op die gras.

“Dit was rêrig snaaks,” sê hy toe ons in die kothuis aan tafel sit. “Ek’s nie gewoond jou só sien nie. Jy’s nooit los in jou omgewing nie.”

“Ek weet.”

Later lees hy ’n boek voor die kaggel en ek vryf sy hare. Skielik kyk hy op en sê: “Miskien moet ek gaan stort.”

“Hmm, klink na ’n goeie idee.”

Ek hoor water. Hy draai lank in die badkamer sodat ek wonder wat hy agter die toe deur doen. Uiteindelik verskyn sy kop en kaal skouers om die kosyn.

“Jy loer nie vir my nie, nè?”

“Nee, glad nie,” speel ek saam.

Hy laat val die handdoek. ’n Hardnekkige ereksie mik soos ’n skietgebed na bo. Ek het dít nie verwag nie, gedag hy gaan net gewoon loop! Hy maak hom droog met sy rug na my. Ek wens ek kan sy boude streel, my kop daarop lê en aan die slaap raak, selfs doodgaan daarop.

“Ons gaan dit seker wederkerig maak, nè?”

“Moet ek dan gaan stort?”

“As jy wil, maar jy kan sommer ook net uittrek.”

Ek huiwer, maar voel verplig om uit te trek tot ek net in my onderbroek is. Hy bly torring sodat ek later ’n hemp tussen my tande vasknyp en ook van die onderbroek ontslae raak. Die hemp kan ek om die dood nie laat val nie.

Miskien wil hy my nie kaal sien nie! Miskien probeer hy doelbewus met ’n verspotte situasie sy eie kaalheid verbloem!

Ek wat skielik verstyf by die gedagte aan alles: die enkele hopie klere, die vuur wat brand en brand en die spel sonder naam. Ek voel die onrus my bekruip, katpootsag en speels, soos iets uit ’n ander land.

***

Dit is in ’n systraat naby die Stephansplein dat ek dié Weense badhuis vind: Kaiserbründl in Weihburggasse. ’n Man in ’n frokkie maak oop en raak bot as ek sy Duits met ’n handgebaar afskud en Engels praat.

Met net ’n handdoek om my lyf stap ek van die aantrekkamer af ondertoe. Aan die punt van die trappe verhelder ’n TV-skerm propvol porno ’n andersins somber vertrek, soos songekleurde glas ’n skemerkapel. Ek val oor uitgestrekte bene om by ’n stort te kom. Die wasgedeelte is verfraai met pilare en gekerfde fieterjasies teen die mure. Oral dwaal mans rond, meestal kaal en in sinlose patrone.

Onder die stort sien ek hom: ’n raps te benig na my sin, maar nietemin aanneemlik want hy glimlag deur die vallende water. Ons droog gelyk af, voor hy eerste omdraai en wegloop met ’n houding wat vra dat ek volg.

Hy verdwyn deur ’n opening in die TV-vertrek na ’n hele ry donker slaaphokkies, glip by die verste een in en staan in die hoekie vir my en wag. Sodra ek teen hom is, sit hy die deur op knip en maak my handdoek los.

“South Africa,” fluister ek as hy vat.

“Nice, very nice,” antwoord hy en sak af.

Ek voel sy mond tussen my bene. Hy vroetel in ’n toiletsakkie met poppers en kondome en KY-jellie. Dan gaan lê hy op sy maag, smeer homself met die jellie. Daar is geen weerstand wanneer ek ingaan nie. Ons snuif diep aan die poppers. Hy haal ’n swart plastiekpenis uit die sakkie en beduie ek moet dit saam insteek. Ek aarsel, maar onttrek en druk eers die dildo in, dan myself.

Die nagemaakte hardheid skuur teen my. Waar hou ek op, waar begin die swart? Ek snuif nog poppers. Dit laat my vinniger beweeg, dieper stoot. Plastiek teen vlees; vlees, vlees, plastiek, plastiek. Hy kreun harder, sy vingers klou myne. Mens en nie mens nie, lief en nie lief nie: dís die ritme wat ons dryf, die ritme wat ons vasstamp in mekaar soos yster en klei wat nie meng nie, soos yster en klei wat plak en plak en plak en swig as die orgasme ’n klip word wat tref en als wat nie saamhoort nie wegval in ’n doodse stilte.

***

Elke dag in Wenen kyk ek vir e-pos. Dolf laat niks van hom hoor nie. Net Etienne skryf, bel my selfs ’n paar keer hotel toe. Een nag los hy ’n boodskap, want ek is in die Rauthauz.

Die Rauthauz: ’n park voor die stadsaal waar mans in die bosse rondsluip en hulself laat leegloop. Sommige vir pret, ander uit gewoonte. Die meeste mans is egter rusteloos. Hul lok jou by ’n ruigte in en sodra hulle die gevoel van jou lyf kry, los hulle jou net daar, jou broek nog half oop. Maar dis tussen die geluide van gespes en takke wat kraak en mans wat soos rotte wegvlug dat ek onthou van my eie bos met ’n kat daarin.

My rondloperkat, Rupert-Adriaan, is deur ’n hond gebyt waar sy stert by sy lyf aanheg en was in pyn. Werkloos, sonder geld vir ’n veearts, dokter ek hom self met Betadine-salf en verband. Iemand moes die kat vasdruk terwyl ek sy stert stadig oplig en salf op die abses smeer. Nooit het ek geweet dat ’n dier soos ’n mens kan skree nie. Sodra ek die punt van die stert aanraak, het die kat se oopbekkreet my binneste in flarde geskraap en het ek myself gehaat oor omstandighede van my ’n monster gemaak het.

Toe, een môre, roep iemand: “Daar lê ’n gemmerkat in die magrietjiebos!”

Ek het gaan kyk: ’n dooie, stywe kat tussen kitch-geel blommetjies; my vergeefsheid vergestalt in ’n bos. Ek het die kat uitgetel en gedink: kan pyn só mooi wees?

Die aand in Seepunt het ek ook pyn gehad. Dit was my eerste keer. Ek het die ou by Graaff se Poel ontmoet. Later was ons op die vloer van sy vriend se eenmanswoonstel. Daar was nie room of iets nie; net met spoeg het hy ingegaan. Ek onthou die stekende pyn, sodat ek hom gevra het om te stop. Hy was egter vasberade om verskillende posisies te probeer en het met mooipraat deurgedruk tot ek geknak het, my maroen baadjie verfrommel teen my gesig.

Dis toe dat ek geweet het ongelief maak seer.

Met tyd het ek geleer om dit te aanvaar en ontdek daar is ’n gevoel teen my prostaat. En dat die seer bedaar en die ettersweer ophou loop as mense mekaar begrawe onder iets wat na blomme lyk, selfs al is dit plastiek.

Maar tussen die eerste keer en die dag van die blomme is dit net ons en ons lywe. Ons smeer dit, deurboor dit, salf dit. Partykeer spyker ons dit teen ’n paal vir die wêreld om te sien. En almal staar en vat en draai die kop weg, want ’n ander se lyf lyk soos jou eie in ’n stukkende spieël.

Spieëltjie, spieëltjie in my hand, is alles één aan die ander kant?

Wat dan is hierdie letsels op my lyf, hierdie liefdesklou — eiesoortig en gebroke soos letters wat bekyk en bevoel word, maar deur g’n mens verstaan word nie?

Die vrae klop soos ’n abses in my. Ek vou toe as iemand raak aan die gevoeligheid daarvan. Ek probeer vlug in God wat my lyfskrif lees en dit verstaan al sê mense dis nie so nie omdat ek van mans hou.

Maar die Godsiel was nog altyd deel van my. Dit laat my woorde uitstort wat in stringe ryg en wag om vlees te word. Soos die keer toe ek en Etienne in Steamers se stoomkamer gesit het en hy agterna wou hê dat ek by hom oorslaap. Dit was my eerste nag in sy huis. Ek het gedag ek gaan sy bed deel, veral toe hy my vra om hom te help om die lakens oor te trek. Die enkelbed in die kamer langsaan het egter myne geword. Nie een van ons het toe al aan ’n matras op die vloer gedink nie. Ek het gelieg en gesê ek is okay alleen, maar het in die donker omgedraai na die muur en gesnotter oor die leegheid en onraakbaarheid van stoom.

Terug in my eie kamer, die volgende dag, het ek voor die rekenaar gesit en die woorde getik wat ek die nag in my kop gehoor het. Ek het later my klere uitgetrek, die brief uitgedruk en dit op my bors gelê, myself gekrap en gevryf en uiteindelik aan die slaap geraak.

Toe ek wakker word, het ek skaamgekry vir die smeerletters op my lyf.

Die brief was vir hom:

***

Haai E

Ons is erdekruike met gate en hengs breekbaar. En die lewe is water. Om ’n mens te wees beteken ’n gesukkel om die gate toegestop te kry om die water binne te hou. Al hoe mense verskil, is dat die een se kruik meer gate het as ’n ander s’n. Maar dit verander niks aan die gehalte van die kruik nie: ’n kruik met honderd gate is net so min werd as ’n kruik met net een gat.

Terselfdertyd sukkel ek om te aanvaar dat ons waardeloos is; dus moet daar iéts omtrent hierdie stukkende kruik-en-water-kombinasie wees wat buite woorde lê. Dalk is dit die skat in die erdekruik waarvan ek dink Paulus gepraat het. Al hou ek niks van Paulus se briewe nie en al is daar weinig tussen sy wettiese godsbeskouinge wat vir my iets beteken, het hy tog ook dinge gesê wat vassteek. Hy het gesê dat ons hier op aarde sien soos ’n spieël in ’n raaisel, maar dat ons eendag van aangesig tot aangesig sal sien. Dit het hy gesê binne sy ode aan die liefde, dat die liefde alles aanvaar, alles vergewe en nimmer tot niet gaan.

Daarom wil-wil ek glo dat liefde die skat in die stukkende erdekruik is wat die hordes gate en die water wat alewig uitloop, die moeite werd maak. Dat die mens wie liefhet, onvoorwaardelik liefhet, eintlik God is. Dit wat nie liefde is nie, maar ook tot God behoort, is slegs rimpels weg van God af.

En dalk is dit hoekom die Godsiel homself (of ditself?) as ’n verskeidenheid mense hier op aarde manifesteer: deur die water-in-die-stukkende-erdekruik spel te speel, het ons ’n geleentheid om weer lief te hê, om die rimpels wat voortdurend weg van God uitkring, terug te bring na God toe, die oorsprong — na liefde toe.

Want soort soek soort en liefde wil nie toelaat dat liefde verlore gaan nie.

N

***


Parys klem nes Pretoria. Ek sukkel om te ontspan, want ek praat die voorlaaste dag in ’n seminaar en my voorbereiding is halfgebak. My hotel is in Aulnay in die noorde en saans as dit reën vlug ek met die trein stad toe, na Key West se stoomkamers digby Gare du Nord-stasie.

Nog nooit het ek soveel mooi mans kaal bymekaar gesien nie. Hulle krioel in die klammigheid en agter skrefiedeure, maar ignoreer my. Ek droom dat hulle my net so blink en goud soos een van hulle sal skuur met die swart staalwol in hul lieste.

Agterna drentel ek egter onaangeraak deur die strate, eet roosterbrood by stalletjies al is ek nie eens honger nie. Dan mis ek Etienne die ergste. Dolf minder, want ek assosieer hom met seks. Etienne begeer ek anders: bo-op my, weerloos, gestroop, en beide van ons sonder ereksies.

Liefde begin waar die lyf ophou.

So sê hulle.

Die dag van die seminaar kom en gaan. My spreekbeurt is kort en ek praat uit my kop en alles loop goed af. Ek gaan sit buite, wag vir die bussie wat my sal terugneem hotel toe. En ’n snaakse vraag kom by my op: sê nou om nie mens te wees nie is ook so? Sê nou die dood is ’n vlug na Wenen en Parys en ek is aan die anderkant en niemand verstaan my nie? Ek moet steeds rondsoek in die donker vir liefde?

Dit is ’n gevoel van ontnugtering soos wanneer jy langs ’n vreemde man lê en so pas gekom het. Jy weet hy wil nie wys hy is onsensitief nie. Daarom dat hy liefkoos. Jy verduur die vinger oor jou bors, ruik sy asem, sien vir die eerste keer die gapings tussen sy tande en bid hy word niks van jou nie.

Later staan jy op met die verskoning dat jy moet badkamer toe om van die kondoom ontslae te raak. Jy draai dit toe in toiletpapier en wonder of jy die plastiek in die bak mag wegspoel of sommer net in die drommetjie gooi. Die reëls is nie joune nie.

Onseker gly jou oë oor die vreemde skeerroom en die halfgedrukte tandepasta en die waslap en die tandeborsel met die verstrooide hare en jy weet jy hoort nie hier nie. Uit die gang agter jou ontspring kamertjies. Die verste een is gewoonlik donker. Dis dan dat die kondoom in jou hande begin uitloop en jou saad deur die papier syfer en jy die bruin en soms rooi merkies sien, soos punte en kommas op ’n nat skryfvel.

***

Skaars terug in die Kaap bel ek vir Dolf.

“Hoe gaan dit?” vra ek versigtig.

“Goed. Net grieperig hierdie kant. En jy?”

Ons praat oor onbenullighede. Hy sê nie hoekom hy nie teruggeskryf het nie. Ek vra ook nie.

“Ek sal jou oormôre ’n lui gee,” belowe hy. “Dan doen ons weer iets saam.”

Oormôre gaan egter verby sonder dat hy bel. Ek wag ’n week en toe nóg een, lank genoeg vir sy griep om oor te waai, maar Dolf swyg. En ek is te trots om weer te bel. Dus berus ek in my verwerping en raak klein by die gedagte dat Etienne sal weet daar is niemand wat in my belangstel nie.

Wat stoom is, stol nie, troos ek myself.

Etienne begin meer tyd met my bestee: Bukhara, Bronx, Upstairs. Of sommer net in die kar. Twee keer sit ons uit pure verveeldheid in ’n strip show in Roelandstraat. ’n Meisie gly kaal teen die tralies in die hok bo die agterste kroegtafel. Niemand sien haar nie, almal se oë is elders.

Ek bederf Etienne gruwelik: betaal oral vir hom, masseer sy skete, ry na sy huis in die middel van die nag as hy bel en snik van depressie. Emosioneel klou hy aan my. Ek blom by die geringste aanraking, breek as hy my vashou, verward oor sy toenadering en die verstrikking van die band tussen ons.

Maar steeds slaap ek op die vloer.

Een aand, toe ons deur Brooklyn ry, sê hy dat hy wil sien hoe ek ’n meisie doen.

“ 'Seblief!” neul hy.

“En wat kry ek uit die besigheid?” wil ek weet.

“Dalk blow jobs, net wanneer jy wil.”

“Ag, jy sê sommer net so.”

“Nee, ons kan meermale doen wat nou die dag gebeur het.”

Die één keer flits voor my oë: Etienne wat op my maag sit, net in ’n hempie, en homself oor my bors uitstort. Die skerp reuk van warm saad.

Hy is dadelik die ene geesdrif. Ons ry op en af deur Koebergweg, beloer die vroue broksgewys. Hulle staar uitdrukkingloos in die donker, enkeles wat glimlag en probeer aandag trek: wit en jonk en nie meer so jonk nie, gewurm in swart om te oorleef en die huur van die karige woonstelletjie oorkant die pad te betaal.

“Stop!” Hy pluk my arm.

Ek parkeer om die hoek waar die meisie staan. Hy spring uit en begin met haar gesels. Ek wonder hoe ek verduidelik word.

“Hmm, nou nie juis ’n oil painting nie, maar goedkoop,” sê hy toe hy terugkom.

“Man, ek weet skielik nie.”

“Ag, kom nou,” paai hy. “Doen dit vir my, toe-oe?”

Die meisie kom behoedsaam aangestap. Sy is langer as ek. Hy maak vir haar oop en sy klim agter in, druk haar gesig tussen die voorste sitplekke. Sam, hoor ek die naam.

“Ek doen net nie anal nie,” benadruk sy.

Ons ry en parkeer waar sy beduie. Sy lei ons na die boonste vloer van ’n nabygeleë woonstelblok. Twee mans en ’n meisie sit saamgebondel op ’n mankolieke bank in die sitkamer. Hul gesigte is vervalle, die een meer verskrik as die ander. Drinkers? Verslaafdes? Ons knik en loop verby na die enigste slaapkamer; daar is koerantpapier en uitgebrande kerse en ’n smerige bord op die vloer.

“Ek’s twee-en-dertig. Sommer ’n ou vrou teen julle,” sê Sam as sy begin uittrek.

Ek stoot my plastiekbaadjie weg van my af, ontklee moeisaam. Die bed is gevlek. Ek gaan lê in my onderbroek. Dis koud.

“Jy moet álles uittrek.” Sam se stem huiwer.

Verleë wink ek vir Etienne om my onderbroek uit te trek, lig myself tot teen sy gesig en weet hy sien my soos ek is.

Sam se mond is om my. Etienne lê opgekrul langs my op die bed. Hy knyp my tepels en beduie dat ek moet ontspan. Later, toe ek gereed is, staan ons op. Sam buk vooroor by die voetenent en help my binne haar. Haar rug is vol rowe. Ek voel myself wegsink en daarmee saam die reuk van water wat te lank in die yskas gelê het. Ek kyk na Etienne en hy na my, maar nie een sê iets nie.

Ek maak die bewegings wat ek moet maak, verbeel my dit is Etienne wat voor my kniel. Maar hy hurk agter my, waar hy tussendeur my bene loer en kyk hoe ek in Sam pas. Dan kom hy orent. Hy hang my baadjie oor my bibberende skouers, druk sy hardheid teen my sitvlak en begin saambeweeg, stadig, sirkelend, met sy broek aan. Ek steek my hande agtertoe en vat sy boude vas, trek hom styf teenaan my. Ons oë ontmoet in die spieël.

’n Stukkende spieël.

Soos in Orpheus, die eertydse masseersalon bo teen Groenpunt se kant van die berg. Ek het daar een Oukersaand saam met ’n man voor die spieël gestaan, agterna my beursie leeggemaak. Jonk en naïef wou ek liefde koop. Alleen het ek met die trein teruggery, die wiele ratelend oor die spore, treurig soos ek en Sam op die rand van die tjankende bed. En saam met die ysterritme net die besef van verwisseling: van lyf en spook en weer lyf, van opklim en afklim en die leegtes tussenin.

O, goedheid Gods hier nooit volprese, wie word daardeur nie diep getref ...

Die wind stamp homself teen die ruite, die lustelose gekraak van staal onder my.

Vergeet my siel dan nooit die Here?

“Kom, kom net vir my.” Etienne fluister in my oor.

Toe ek uitloop, lê daar slegs één hopie lyf op die bank in die sitkamer, die vingers en tone kromgebuig soos groei- en eindpunte onder die blomkombers. Op die tafeltjie langsaan het iemand ’n pakkie speelkaarte oopgeskommel, met die gesigkante na onder. Ek draai die boonste ene in die verbygaan om: ’n koning se hofnar loop op ’n smal bergpaadjie al langs ’n afgrond. Dit is ’n kleurryke tarotkaart, vol bloeisels en tierlantyntjies, en ek dag ek sien ’n pen in die man se hand, sy baadjie wapperend op die rand van waansin.

The fool, staan in skewe letters.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.