NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Louis Nell
is ’n jong skrywer van Pretoria wat homself hoofsaaklik toespits op digkuns. Hierdie is sy eerste poging met die kortverhaal, en dit is benoem as een van die finalis inskrywings vir die Nasionale skrywerskompetisie wat in 2001 deur die UOVS geloods is. Hy werk tans aan ’n bundel kortverhale, en het reeds ’n ongepubliseerde roman en digbundel wat wag op publikasie. Hy is ’n bydraer tot Party van ons, saamgestel deur Danie Botha en uitgegee deur Homeros.
  Louis Nell

Hier praat jy nie van Londen nie ...

(Dis nou Londen in Engeland!)

Louis Nell

Dis darem snaaks hoe die lewe mense behandel en hoe dit selfs klappe gee aan dié van ons wat dit verdien. Ek sit vandag en dink aan ’n treurige episode in ons dorpie se geskiedenis. Soos julle seker weet, is ons ou plattelandse plekkie maar heelwat afgesonder en nie altyd in voeling met die res van die wêreld nie. Dis in dié omgewing wat die tragiese storie van oom Gieljam en tannie Maria gestalte gekry het.

Hulle was geseën met vier kinders en die tannie het al amper gedink dat sy vir goed verby dáái stadium is, toe sy agterkom dat sy weer in die annertyd is. Klein Johnny is op agt maande gebore, en dit was maar ’n moeilike bevalling. Ou dokter Jan het moeder en kind amper nie deurgehaal nie, en die tannie was nooit weer dieselfde daarna nie.

Met klein Johnny het dit aldag ook nie beter gegaan nie. Hy was maar ’n tingerige outjie wat moeilik ingepas het ... van kleintyd af al. Selfs in die dorpskool het die outjie dit maar hotagter gekry met van die ander kinders. Maar sy verstand het gelukkig opgemaak daarvoor. Nooit geleer nie, net so vlugtig deurgelees en dan gaan skryf. Altyd goed gedoen, en sy ma het telkemale trots vertel van háár laatlam.

Johnny het ook ’n ander talent gehad. Die kind kon pragtig teken. Dis hoekom Maria toe vir Gieljam oorreed het om die kind stad toe te stuur vir sy hoërskooljare.

Die arme kind. Nooit werklik vriende gehad nie ... het selfs nie veel in die meisies belang gestel nie. “Ook maar goed so, dié stadsmeisiekinners is regte Jesebels!” het sy ma altyd gesê.

Soos ek gesê het, die kind kon werklik mooi teken. In die hoërskool het hy kunsgeskiedenis as vak geneem en geleer hoe om mooi te verf ... jy weet, soos die groot skilders, olieverf en als. Hy was altyd behep met pers en swart, wat sy kunsonderwysers grys hare gegee het.

Johnny het ’n lang seun geword, met ’n saggeaarde houding en ’n hart van goud. Die kind kon so mooi verf, tot selfs die afbeelding wat die bome in die water maak so getrou doen asof dit een van die prints in Jones se winkel is. En mense teken! As die mannetjie jou portret gedoen het, kan jy maar weet, dit gaan wees soos jy is, nie soos jy lyk nie. Die kind kon mens se binneste uitbring op daai doeke van hom. Nie dat almal altyd geneë was daarmee nie!

Naweke was sy neus altyd in sy kunsboeke. Soms het hy hier verbygestap, dan vertel hy my van al die beroemde skilders van wie hy gelees het. Hy het altyd geesdriftig van sy helde ... ek sal daai name nooit vergeet nie ... Monet en Manet, gepraat ... wie hulle ook al is. Ons het almal maar gedink dat die kind sou gaan verder leer, maar ou Gieljam het vasgeskop. Die kind moes werk soek by die koöperasie, en daarmee basta! Al Maria se soebat en mooipraat het net niks gehelp nie.

Maar die geluk was vir Johnny beskore ... hy het ’n volle beurs ontvang om te gaan studeer aan die Kaapse universiteit. Gieljam het brom-brom ingestem en vroeg Januarie 1980, het die drie toe in Gieljam se Ford bakkie, die pad aangevat Kaap toe.

Met Gieljam en Maria se tuiskoms, is ons almal breedvoerig ingelig oor die pragtige kampus en die wonderlike omgewing waarin Johnny hom nou bevind, aldus Maria.

So het die maande verbygevlieg, en dis eers na ’n paar jaar dat ons die mannetjie te siene kry. Intussentyd was elke brief en telefoonoproep ’n nie-amptelike besprekingspunt op die agenda van die sustersvereniging.

En natuurlik het die hele dorp se susters in afwagting op Johnny se koms beskuit, koeke en melkterte voorberei. Dit was so teen drie-uur die middag, toe ou Gieljam se nuwe bakkie, amper statig, deur die hoofstraat aangery gekom het, voordat hy, sonder om te stop, regs afdraai na hul huisie. Die Gieljam het eintlik ’n aks regopper gesit as altyd, en dit was stellig duidelik dat daar iets aan die gang is. Die volgende oggend eers, het die nuus toe soos ’n veldbrand versprei.

Johnny is genooi om aan die Royal Academy in Londen verder te gaan studeer. Maria het die oggend ’n paar goedjies by Jones se kontantwinkel gekoop en is eers heelwat later daar uit nadat almal meer wou weet. Die vrou het omtrent geblom van trots. Ou Jones se vrou het nogal later gesê dat Maria nogal lyk of sy iets van haarself dink, en brom-brom bygevoeg dat haar gat nog steeds stink ... of so iets. Ewenwel, Maria en Gieljam en Johnny is toe af Bloemfontein toe om die kind uit te rus vir sy verblyf in Londen. Dis nou Londen in Engeland.

Daar was ’n hengse afskeid in die kerksaal en almal het die kind net die beste vorentoe toegewens. Johnny het almal stilweg bedank, maar ’n paar van ons het ’n vreemde lig in sy oë gesien. Amper soos ’n gevangene wat uit sersant Koos se selle vrygelaat word.

Hy is toe vort, en weer het dieselle ou ding van voor af begin. Elke vrouevergadering en wyksbyeenkoms is afgesluit met ’n rapport oor Johnny se vordering.

So skryf hy toe op ’n dag dat hy vriende gemaak het met nog ’n Suid Afrikaner in die vreemde, ene Lukas. Gou het dit duidelik geword dat die twee goeie vriende geword het. Dit het almal gepas, en selfs dominee Maans was verheug dat die jongeling in die vreemde darem nou iemand het met wie hy in sy moedertaal kan kommunikeer. In die somer van 1986, toe kom Johnny huis toe. En hy bring sommer vir Lukas ook saam.

En is hy verwelkom! Die vroue van die kerk het die vorige verwelkoming oortref en in die stadsaal ’n behoorlike makietie gereël. Ons vrouens is mos maar so, want ons móés hoor wat die dames in Londen dra, en wat deesdae as kuns gesien word.

Maar ’n ander Johnny het van die trein afgeklim op ons ou stasietjie. ’n Selfversekerde jong man, met die keurigste smaak in kleredrag ... ’n jong man wat in die duidelikste taal mense kon laat verstaan hoe bly hy was om tuis te kom. En sy vriend Lukas ... wat ’n pragtige man! Die meisies van die dorp het sommer onmiddellik tougestaan om die twee geleerde jong manne te onthaal en miskien, te vang.

So twee maande na Johnny se terugkeer bars die bom, toe Gieljam teen tienuur die Donderdagaand vervaard by dominee aankom om hom privaat te spreek. Wat daar gesê is, weet niemand nie, en al weet hulle, rep hulle nie ’n dooie woord daaroor nie. Maar dat dominee byna die hele nag aan huis van oom Gieljam en tannie Maria deurgebring het, en dat Lukas om sesuur die oggend die trein Johannesburg toe gevat het, daarvan het die bure geweet. Daar was een of ander moles aan die uitbroeie, en almal was byna dood van nuuskierigheid. Maar Maria se besoeke aan die kontantwinkel het opgedroog, en Johnny is byna nooit gesien nie, tensy ’n mens omtrent drie myl na die rivier wou loop, daar waar hy smorens gaan sit en skilder het. Dit het amper gelyk of ou Gieljam vir Johnny belet het het om uit die huis te gaan, behalwe as daar ’n boeredans is, en dan ook net saam met Alet se dogter, Netta. So het dit vir meer as ses maande aangegaan.

Todat Jones laat val het van die vreemde rooi kar met Transvaalse plate wat elke naweek onder die bome by die rivier staan. Ou Gieljam is die oggend rivier toe met sy jaggeweer. ’n Paar skote is gehoor en Gieljam en Johnny het by die huis aangekom, verfblikke en al.

Van toe af het hy ook nie meer gaan skilder nie. Die bure sê dat hulle hom soms tot drie-uur in die middag gesien het met sy slaapklere aan, turend deur sy kamervenster na niks. Die dorp was in rep en roer. Almal het gewonder en gepraat, maar steeds het die waarheid hulle bly ontwyk.

Wintertyd het gekom en dit was vroeg nog donker. Die Sondag was dit baie koud en die ryp het wit op die grasperke gelê. Dit was die hartverskeurende gil van Maria wat dié oggend die mense wakker geskud het. Te midde van haar weeklae het eers die dokter, toe dominee Maans en sersant Koos by die huisie opgedaag. Dis toe ou Kassie, die plaaslike AVBOB man, daar stop, dat die hele straat geweet het, daar’s nou groot fout.

Johnny het aan sy nek in die garage gehang, met sy voete oor die bonnet van Gieljam se bakkie. Op die werkstafel voor sy glasige oë, was al sy skoolrapporte en sertifikate van Kaapstad tot Londen uitgepak. ’n Foto van hom en Lukas op Trafalgar Square het die versameling afgerond. Twee jong manne in die fleur van hul lewens, met die wêreld aan hul voete.

Dit was ’n treurige begrafnis ... en die arme Gieljam het gelyk of hy saam in die gat wou klim.

Dominee het gepraat van die verlore seun wat teruggekom het, maar wat nou eers tuis gaan wees, al is Johnny agterstevoor om, begrawe daarna. Maria is binne ’n maand dood aan haar hart, en Gieljam bly tot vandag toe nog alleen in dáái huis. Ek sien hy trek nie meer sy bakkie in die garage nie, en ou Jones van die winkel vertel dat hy die oggend met die begrafnis laas die rooi kar met die Transvaalse plate by die kerkhof gesien het.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.