NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Sanko Lewis
“Ek voel soos iemand wat deur ’n muskiet gebyt is as ek nie skryf nie. Soms wil ek skryf maar dan het die muskiete al my skryfkreatiwiteit opgesuip so dan teken ek of sing ek of lees ek of kyk ek movies of oefen ek of gaan ek op ’n muskiet-killing-spree totdat ek al my kreatiwiteit terug het.”

Sanko woon tans op die kusdorpie Mtunzini. Hy doen sy meestersgraad in skryfkuns onder leiding van dr Franci Greyling (hoofstudieleier) en prof Hans du Plessis (medestudieleier).


  Sanko Lewis

Santie

Sanko Lewis

Santie se ma het haar so hard geklap sy’t summier begin hakkel elke keer as sy ’n woord moes sê met ’n “m” in. Woorde wat met hierdie allergiese letter begin was die ergste. Om “Ma” te sê was so senutergend soos ’n operasopraan se laaste credo.

Natuurlik was ’n hakkelende dogter Santie se ma se grootste nagmerrie — want wat sou haar matriekklas sê tydens die twintig jaar later se skoolreünie? “Hakkel is iets wat uitgeneuk kan word, nes hardegatgeit uitgeneuk kan word” was mev. Bosch se leuse. Die gevolg was dan dat Santie naderhand begin hakkel het met elke moontlike letter wat met ’n vloekwoord begin. Nes sy ’n nuwe woord gekry het waarmee sy haar ma kon vloek, het mev. Bosch haar weer ’n snotklap gegee en dan is daardie letter ook op die lys van repeterende konsonante.

So kort voor lank was “m” net een van vele ander konsonante waarmee Santie geworstel het: “p”, “k”, “f”/“v”, “d”, “b”. ’n Eenvoudige sin soos “Pappa, pass my die kool”, kan ’n paar minute duur.

So word Santie dan groot met die “handicap”. Toe Karel Pieterse haar om die hand vra neem dit sewe minute en ses en dertig sekondes om sy naam te sê gevolg deur ’n spanningsvolle, maar gelukkig vinnige, “ja!”

Hulle besluit om die kind Anna te doop vir praktiese redes en die tweede heet Jan. Beide die kinders word groot met argaïese name in die 21ste eeu en uit rebellie pleeg Anna selfmoord aan ’n oordosis van Karel se Viagra en Jan besluit hy is aseksueel en word ’n Boeddhis.

Voor hierdie tragedies twintig jaar later sou plaasvind, help Karel vir Santie om te praat sonder om die klinkers wat haar ma se mishandeling simboliseer, te gebruik. “Karel, pass my die vetkoek” word “’Arel, ’ass ’yie ’etoe’.” Die kinders word dus groot met twee tale: ’n Moedertaal en ’n vadertaal. Nog ’n bydrae tot hul verwronge selfkonsepte en eventuele selfmoord en aseksualiteit, onderskeidelik.

Ben, die man oorkant die straat, het ook Santie se uniekheid aangeleer maar niemand behalwe haar slaapkamer het dit geweet nie. Madelein, Ben se vrou, het vermoed hy verneuk haar en toe Jan gebore is met die wortelrooi hare moes sy geweet het, want niemand in Santie of Karel se familie was rooikoppe nie. Ben, aan die ander kant, was ’n wortel. Tog, hoe kon sy raai? Sy het nie die Pieterses geken nie en Ben het hulle ook nooit aan haar voorgestel nie. Nie dat hy kon nie, hy het net vir Santie geken en het in elk geval gedink sy’s ’n malletjie, want sy kon nie eens sy naam sê nie. Sy’t orgasties sy naam as “’En-’En-’En!” gegil.

Half nostalgies oor haar ma se mishandeling besluit Santie om by ’n kickboxing klub aan te sluit. Sy huppel hakkelrig terwyl die afrigter haar help met die handskoene. In die kruit visualiseer sy haar ma se gesig. Twee jabs en ’n skop en dis ’n knock-out. Die arme meisietjie wat opponent moes wees het nie weer teruggekom nie. Die afrigter sien potensiaal en Santie word ingeskryf in die volgende kompetisie.

Haar opponente hou nie twee rondtes nie, dan is hulle uit. Een, ’n girl wat wou naam maak as ’n tawwe chick in Hollywood, moes gaan vir plastiese chirurgie om haar neus weer te vorm (en doen sommer ook ’n boob job). Santie het die kickboxing-wêreld aan die gons en kort voor lank is sy die nasionale kampioen, Afrikakampioen, Europese kampioen, Amerikaanse kampioen en uiteindelik die wêreldkampioen.

Karel voel dit onbetaamlik vir sy Santie om haar soos ’n lesbiër te gedra en vra haar om te stop. Hy blameer haar ook vir die res van hulle lewe vir die vreemde seksualiteit van hulle seun en toe Jan boonop ’n Boeddhis word, skryf Karel dit toe aan Santie se gepeuter in die okkulte. Sy verduidelik dat kickboxing net nog ’n sport soos boks is, maar Karel kap terug met: “Dis net skrefiesoë wat skop en daarom is ons kind nou verewig verdoem vir die hel se vuur.”

Toe Anna selfmoord pleeg ’n jaar of wat later, sê Karel dis omdat sy haar geskaam het vir haar ma. “Watter Ma van veertig klim in ’n bokskruit en slaan ander vrouens dat die bloed spat?”

“’O’ jou!” skree Santie en verval in ’n depressie. Sy begin gedigte skryf waarvan die meerderheid konsonante ontbreek. Op ’n vervelige aand stuur sy ’n paar gedigte vir www.litnet.co.za. ’n Week later is al wat ’n uitgewer op haar spoor. Die telefoon lui sonder ophou en drie agente klop aan haar deur.

Sy vertel haar storie, met Karel as tolk. Die gedigte word gepubliseer deur Human & Rousseau. Al wat ’n letterkundige is kekkel oor die nuwe skryfstyl — Santiëus gedoop. “’n Ewolusie in die Afrikaanse taal!” lees ’n berig. “Santie Pieterse, die redder van Afrikaans!” lees ’n ander een.

“Jare lank het Afrikaanse sangers gesukkel om Afrikaans se harde plofklanke te versoen met die ander internasionale lingua soos Engels,” verduidelik ’n professor aan die Randse Afrikaanse Universiteit. “Santiëus, as Afrikaanse dialek, kry dit reg om met dieselfde sjarme te kommunikeer as Frans, en as Germaanse afstammeling vind dit aanklank by die Engelse, Duitsers en Hollanders. Santiëus is die moontlike nuwe taal vir die wêreld.”

“Oh yes,” bevestig die lesbiese doktor in Gay and Gender Studies. “As a dialect invented by a woman for all the previously marginalized communities of our nation, Santees is a politically correct language. Santees’ ability to be adopted by any other native language of South Africa makes it both inclusive of everyone and liberating. It is a language that symbolises liberty from the struggle.”

’n Ander akademikus van die Potchefstroomse Universiteit voeg by: “Dis korrek. Santiëus is nie net die volgende stap in Afrikaans nie. Dit is die volgende stap vir alle tale van die Reënboognasie. Verder vereenvoudig en verkort Santiëus kommunikasie. Met ander woorde, dit verhoog produktiwiteit en beteken meer geld in die belastingbetaler se sak.”

Die nasionale lied word vertaal en aseksuele Boeddhistiese Jan word ’n miljoenêr deur klasse aan te bied in sy moedertaal vir al die Rich & Famous. Op ’n baie hoë ouderdom sterf Nelson Mandela. Sy laaste woorde was in Santiëus geuiter. Oprah se show kry subtitels in Santiëus en HTML word in Santiëus vertaal.



14 Januarie 2004

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.