NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



André Krüger
Ek is gevaarlik naby aan veertig en gee tans met wisselende grade van onbeholpenheid voor om ’n professionele beroep te beoefen. Intussen droom ek van ’n beter, meer ordentlike lewe. Ek het meer as een, maar minder as vyf grade. Soms wens ek dat ek nog Gitanes gerook het.
  André Krüger

Dit wat wag

André Krüger

Gisteroggend, toe ek wakker word en omdraai om by die venster uit te kyk, die ryp dikwit op die gras buite, het ek reg gevoel vir die lewe, uitgerus en lus, soos hulle sê.

Die winter is amper verby, het ek verlig gedink, al is dit nog so koud.

Gistermiddag was ek buite en die wind het gewaai, toe ruik ek dit — daai reuk van vrugbaarheid, van groei wat wag om te gebeur — die reuk van voortplanting. Kort voor lank sou die son my braai in my bed in die oggende, maar intussen was dit vrek koud en ek het maar traag die komberse afgeskop en opgestaan.

Die vorige aand het ek gaan slaap en nie so goed gevoel nie, en omdat ek nie ’n oggendmens is nie, het ek weer gewonder hoekom dit dan is dat ek goed voel in die oggende.

Kak in die aande, weer reg vir die lewe in die oggende. Dis seker maar die natuur se manier om die balans te herstel, het ek vroeër gedink: daai bietjie slaap wat al die naarheid van die dag wegneem. Die donkerheid elke dag wat die lig herstel.

As kind en jong man het ek nie so goed geslaap nie, was die donker nie so vriendelik nie. Ek het aan nagmerries gely en my slaap was onrustig en onderbroke, gevul met frustrasies, vrese en ongediertes.

Nou het ek nie meer tyd vir drome nie. Nou word ek besig gehou met volwasse probleme — werk, kinders, huispaaiemente, vrou — al die gewone dinge wat ’n mens se lewe ’n nagmerrie kan maak.

Grootmensdinge. Ek het nooit kon dink dat ek ooit reg sou wees vir al die verantwoordelikhede nie. Ek’t gemeen: ek sukkel om myself aan die lewe te hou, hoe sal ek nou ooit vir ander mense nog kon sorg ook? Maar voor ek my oë kon uitvee sit ek toe met die hele boksemdais, alles so sonder of ek eers probeer het.

Soms voel dit of dinge maar net met my gebeur terwyl ek anderpad kyk.

Ek het nog gedink ek kan nie, maar kort voor lank sit ek toe met ’n lewe waarvoor ek nie reg is nie. En ek doen ’n werk, ek arbei en swoeg, om die beurt verveeld en angstig, vervul ’n dagtaak wat my onvervuld laat. Maar ek moet dit doen want mense maak op my staat. Ek moet na al die mense in my lewe omsien.

Wat ook al daar tussen my en my vrou was wat ons laat dink het dat ons die res van ons lewens saam kon deurbring, het lankal in die niet verdwyn. Ons sien mekaar omtrent net in die oggende, so tussen die malende kinders deur wat regmaak vir skool, wanneer sy vir my sê hoeveel geld sy nodig het om wie ook al te betaal om die apparaat reg te maak wat mees onlangs gebreek het. Meeste aande eet ek alleen want sy en die kinders is reeds klaar. Omdat ek so laat kom, sê sy; die kinders kan dit nie hou nie en sy ook nie.

In ’n huis gesaai met speelgoed en vuil koppies, gaan ek my gang en word al hoe meer eensaam.

Die gejoel en geraas om my — die TV wat blêr, onderskeidelik ingestel op die Cartoon Network of MTV, afhangende van watter kind op die oomblik die hef in die hand het, die telefoon wat lui en lui omdat almal stry oor wie se beurt dit is om te antwoord, mense en kinders wat kom gaan, karre wat intrek en weer ry, die geruis van die skottelgoedwasser, wasmasjien en tuimeldroër wat skynbaar heeldag loop — dít vorm nou die klankbaan van my lewe.

Tussendeur pik ek maar vir my ’n pad oop, somtyds verlig as ek by die werk kom, al is dit kak. Soms is dit genoeg om net weg te kom van die huis af, maar dit hou nie lank nie want my werk is haatlik. Tussen dié twee dele van my lewe is dit meer en meer moeilik om ’n stilpunt te vind wat ek vir my self kan opeis, ’n plek waar ek asem kan skep, waar niemand vir my kyk nie en niemand iets van my verwag nie.

Ek het natuurlik al daaraan gedink om ’n verhouding aan te knoop, ’n affair te hê, soos in een van daai sepies wat my vrou soms kyk as sy moeg en gatvol op die bank voor die TV sit-lê.

Al is ek nou nie juis aantreklik nie, is daar darem so nou en dan ’n vrou wat van my hou. Reisigers wat iets kom verkoop of bestellings kom neem, nou en dan ’n kollega of ’n sekretaresse wat lag vir my grappies, selfs eenkeer een van die base se vrouens wat dronk by my vlerkgesleep het tydens een van ons kerspartytjies — altyd potensiaal vir ’n verhouding, as ek sou wou.

En om eerlik te wees, in my jonger dae het ek een of twee keer geswig. Ek het een keer seks gehad met een van die jong sekretaresses, in haar woonstel en op haar bed met die gefrilde duvet en die versameling teddiebere wat ons eers moes afgooi voordat ons kon begin.

Na die tyd, terwyl sy gelê en slaap het, het ek aangetrek. Onvergeetlik die gevoel van skuld en ongemak wat ek ervaar het toe ek na die foto’s kyk wat sy in raampies uitgestal het op die bokant van ’n lendelam boekrak wat baie minder boeke as leë drankbottels, klein papiersambreeltjies, los veelkleuerige strikkies en bont boksies vertoon het. Foto’s wat haar lewe omskryf het, wat vir haar belangrik was. Een van haar met haar arms om haar pa se nek, ’n opgeskote dogter met groot voortande en ’n wye glimlag. Een saam met haar vriendinne in die een of ander restaurant, hulle almal met rooi flits-oë, laggend. Een van haar in ’n lang trui, jeans, stewels en ’n rugsak op ’n staptoer êrens bo-op ’n berg met miswolke wat onder haar uitgestrek lê. Een van haar aan die arm van ’n jong man in ’n deftige pak geklee, twee rooi puisies op sy ken en ’n effe onseker glimlag om sy mondhoeke. Een van haar waar sy op die einste bed in ’n ander kamer (sekerlik haar slaapkamer in haar ouerhuis, het ek gemeen), lê met haar een arm oor die rug van die goue langhaarhond wat langs haar slaap.

Sy was so jonk, het ek skuldig gedink, wat sou sy met ’n ou man soos ek wou maak?

Ek het uitgesluip voordat sy wakker geword het en in my kar, op pad huis toe, het ek probeer om te vergeet hoe haar jong lyf onder my gevoel het.

Dit was ook die eerste keer dat ek die donker kolle begin opmerk het. So uit die hoek van my oog het ek ’n swart gefladder gesien wat duiselig vinnig verbygeskiet het. Net so een of twee keer. Miskien meer, maar nie so gereeld dat ek dit kon voorspel nie. Eers het ek gedink ek verbeel my dit. Al het ek hoe gekonsentreer kon ek dit nie bewustelik betrap nie. Dit was altyd net daar, in die hoek, as ek nie aandag geskenk het nie, as ek besig was met iets anders en skielik opgekyk het; dansende swart blertse wat vinnig weggeskarrel het buite my gesigsveld.

Seker maar net my oë, het ek gedink.

Die ander vrou was ouer, en getroud. Ek het nie minder ongemaklik gevoel met die gevroetel wat ons die eerste keer in my kar in die ondergrondse parkeergarage probeer het nie. Ons elmboë en knieë het oral pynlik gestamp en klere het vasgehaak om ledemate en versperrings opgerig tussen ons spartelende lywe. Goedkoop hotelle was nie veel beter nie. Koue, mufferige kamers wat effe na ou sweet ruik, lakens en dekens met half-uitgewaste smetkolle, matrasse wat duik-in gelê is in die middel; die beterweterige glimlagte op die gesigte van die personeel as paartjies in die middel van die dag, oor die etensuur, inboek. Alles het my verwyt.

Ek het nogal van haar gehou, die ouer vrou. Haar gerekte lyf, met die tekens van die geboorte van haar twee kinders duidelik sigbaar, het my nogal aan my vrou herinner, maar die manier waarop sy aan my vasgeklou het, haar bene gelig en om my middel gesit het as ek haar indring, die dringendheid waarmee sy saam met my beweeg het, was baie anders.

Ek’t geweet ek kon my vrou nie daarvoor verkwalik nie — na twintig jaar was ek seker ook nou nie juis die droomminnaar wat haar vure aangesteek en hoog laat brand het nie. Alles was te gewoon, te vervelig en te voorspelbaar tussen ons. Ek dink nou dat sy miskien ook na iets anders verlang het; ek weet nie. Op ’n manier hoop ek sy het, dat haar lewe nie net dit was wat ek gesien het nie.

Sy kon tog seker nie alles verloor het van die lewenslustige en spontane jong vrou met wie ek getrou het nie, en ek is seker sy het na iets meer gesmag as wat ek haar kon bied in my middeljare — iets meer as net finansiële sekuriteit en iemand wat die geute kon skoonmaak as hulle verstop geraak het.

Dit was juis een keer toe ek op die dak was om die geute te loop skoonmaak dat ek hulle weer gesien het. Goed gesien het, dié keer. Dit was ’n helderblou Saterdagmiddag en ek was lekker moerig omdat ek eerder rugby op TV wou kyk as om buite rond te ploeter. Maar ek kon die vrou se gekla nie meer aanhoor nie en toe is ek maar uit, op die dak. Ek het daar gestaan, naby die nok waar die huis ’n negentig grade draai maak, vir ’n oomblik oorbluf deur die blou van die lug en die groen van die bome en gras. Die bure se perskeboom was geel getrek van die vrugte, en waar ek gestaan en afkyk het, het hulle rond en sappig die takke grond toe gebuig. Die son was warm en ek het die sweet tussen die hare op my voorarm sien uitslaan. ’n Krullende swart ding — iets soos ’n doek wat deur ’n sterk wind deur die lug gesmyt word — het verby my oë geflits. Van die kant af, warrelend op en af, het dit verbygevlieg. Ek het amper my balans verloor, gesteier en op my hurke gaan sit, my een hand op die warm teëls gesit om my te hou waar ek was. Met my oë weer oop het dit weer gekom, groter as tevore, soos iets wat voor die son inskuif, en ek het my ander hand ook op die teëls laat sak en gebid dat ek nie my balans sou verloor nie.

Dit was dit — net die twee keer, daardie dag — maar vir weke daarna was dit asof ek klein stukkies van die swart in die middel van die dag gesien het. Onverwags, op ongewone plekke, het ’n deel my bekruip en vinnig voor my oë verbygeflits. Helder oordag het dit die lig vir oomblikke weggevat, vir sekondes kleure gestroop en vorms ingesluk sodat ek moes ophou waarmee ek besig was en wag dat dit oorwaai.

Soms, as dit te erg geword het vir my, het ek my kop op my arms laat sak en op my lessenaar se koel blad gelê, my oorgegee aan die donker as ek te moeg geword het om daarteen te baklei.

Natuurlik het ek gewonder wat dit is. Nattuurlik het dit my gepla, soveel so dat ek eers my huisdokter gaan sien het, en toe dié niks fout kon vind nie, na ’n oogspesialis toe is. Hy kon ook nie fout sien nie, het gesê dat mens se oë soms parte speel met mens, deels weens die verbindings en koppelinge van die senuwees wat tussen die brein en die oog is. Ek was onoortuig, maar het nie daarvan gehou toe hy voorstel dat ek dit miskien moet oorweeg om na ’n sielkundige toe te gaan nie.

Daar is nie fout met my nie.

Vir weke lank het dit goed gegaan, stiltes tussen hierdie soort episodes. Dis asof hulle in vlae gekom en hulleself uitgewoed het. Ek het tog gewonder of die oogarts nie iets beetgehad het nie, het probeer oplet of daar enige verband tussen die donker kolle en stres was, of die fladderende lappe iets te doen gehad het met my gemoedstoestand, maar na maande se wonder, en selfs aantekeninge maak op die kalender agter my kantoor se deur, kon ek geen so ’n verband agterkom nie.

Intussen het ek onderlangs na een van my kollegas geloer. Haar kantoor was net af in die gang van myne, en ek het gereeld daar verbygestap en haar agter haar lessenaar sien sit, haar gesig ernstig, met die telefoongehoorbuis tussen haar ken en skouer vasgedruk, ’n frons op haar voorkop terwyl sy die gekartelde telefoondraad om en om haar vingers draai.

Sy is onlangs geskei, het ek geweet, en was baie bitter oor die gebroke verhouding. Mens kan haar seker nie kwalik neem nie — om na elf jaar agter te kom dat jou man gay is sal enige vrou seker ontstel.

Ons het beide een aand laat gewerk. Nee, dis nie heeltemal waar nie: ek het gesit en wag todat almal reeds weg is huis toe. Ek het vir haar koffie gevat en by haar in die kantoor gesit en gesels. Sy het haarself baie verwyt oor die egskeiding, nie omdat dit gebeur het nie, maar omdat sy nie lankal die lig gesien het en van die man ontslae geraak het nie.

Ek het ook maar bietjie oor my huwelik gepraat, uitgewei oor die kinders en hulle siektes en probleme, oor my vrou wat vet en onbelangstellend geword het soos die jare aangestap het, en sy het na my gekyk met oë wat wil verstaan. Dit het my goed laat voel, ek het lekker met haar gesels en gedink dat sy dieselfde gevoel het.

Ek was versigtig en wou nie die situasie in ’n rigting probeer forseer nie, het myself verskoon na ’n uur of wat en my tas gaan pak om huis toe te gaan. Sy het ingeloer voordat sy geloop het en my bedank vir ons geselsie. Ek het beskeie gelag en gesê dis sommer niks; dat ek dit ook geniet het, dat ek nodig gehad het om met iemand te gesels, en dat sy my ’n guns gedoen het deur na my te luister.

Nadat sy weg is het die donker gefladder my weer bekruip. Vinnig, sonder waarskuwing, het dit van onder links af opgeskiet voor my oë verby. Ek het probeer om die beweging te volg, en dit het my voorgekom asof daar iets lewendigs was aan die vorm, iets wat ek gevoel het ek eintlik moet herken, maar die beweging was te vinnig om meer as dit uit te maak.

Op pad huis toe het ek my begin verbeel dat die donker vlekke groter word. Waar hulle eers net vinnig verbygeskiet het en gedeeltetjies van my sig weggeneem het, wou dit nou voorkom asof groter brokke uitgedoof is elke keer as hulle verbyfladder. En ek het my ook verbeel dat dit meer gereeld begin gebeur het, dat die intervalle en tussenposes tussen gebeurtenisse al hoe korter geword het.

Steeds kon ek nie verstaan wat die sluipende duisternis was nie. Ek het gewonder of almal dit nie maar het nie, of dit nie normaal was nie; of ten minste iets wat wel van tyd tot tyd met normale mense gebeur het, maar kon myself dit nie heeltemal wysmaak nie.

Namate my teorieë opgedroog het en my vrees toegeneem het en ek nie meer redes en verskonings kon uitdink nie, het ek dit een aand aan my vrou genoem. Sy het my stip gesit en bekyk van die ander kant van die tafel af, haar mes en vurk netjies bymekaar op die halfleë bord voor haar. Terwyl ek sukkelend probeer verduidelik het, het ek haar oë op my gesig gevoel, al het ek weggekyk, en waaragtig, midde-in die vertel het ’n swart mantel met flappend los punte voor my verbygetrek. Ek’t vinnig opgekyk om te sien of sy dit opgemerk het, maar haar gesig was net soos vantevore. Die donkerte het bly hang soos ’n mis van materiaal geweef, en die hoeke van die vertrek was dof en onduidelik daarvan. Dit het nie gehelp om my kop te skud nie en my vrou het gedink ek vererg my vir haar opmerkings dat ek my kop moet laat lees, dat ek onverantwoordelik is om sulke snert voor my kinders kwyt te raak, dat ek te oud is om my met sulke nonsens besig te hou, dat ek beter sal doen om my by my werk te bepaal en ophou droom van goed wat duidelik nie bestaan nie.

Sy’t gesê dit help nie ek vererg my en skud my kop vir haar nie, dit sal niks aan die waarheid van haar woorde verander nie.

Wanneer het sy so suur geword? het ek gewonder. Is dit my skuld?

Vanoggend word ek wakker in my kollega se bed, en vir ’n oomblik kan ek nie onthou wat ek hier maak nie. Dit is koud maar haar lyf is warm teen my rug. Daar is geen boodskappe op my selfoon nie en my vrou het my nie gesoek nie. Ek is verlig, wonder of die ryp ook ons tuin bygekom het en of die varkore die nag oorleef het.

Sy strek haar hand uit en vat aan my rug waar ek op die bed se rand sit.

“Ek sal nou-nou koffie maak,” sê sy en ek kyk om na haar gesig, vreemd gelê van die slaap, haar oë nog half toe en haar mond skeef geglimlag.

“Toemaar, ek’s klaar op, ek sal.”

“Dankie,” mompel sy en haar hand gly teen my rug af voordat sy dit onder die kombers indruk en dié hoër teen haar skouer optrek.

Ek weet waar alles in die kombuis is. Die koffie in die blik op die tweede rak agter die deur, die suiker in die potjie onder in die kas, die bêreplek vir die koppies en pierings. Ek weet nie hoe ek dit weet nie want ek was nog nooit vantevore hier nie.

Gisteraand was die swart sluier oor my kop getrek. Sonder om dit teen te staan het ek dit verwelkom, dit toegelaat om my te oorrompel en my weg te voer — nou voel ek baie beter.

Terwyl die ketel kook haal ek ’n pakkie sigarette uit die laai uit en steek een aan. Met dié dat ek die rook diep in my longe in aftrek, bekyk ek die kooltjie van die sigaret en wonder hoekom ek nie rook nie. Dit kom blou by my neus en mond uit as ek uitasem. Buite kraak die gras onder my kaal voete as ek daaroor stap en die bakstene van die muur is koud onder my hande as ek bo-oor klouter. Al die agterplase lyk so dieselfde, let ek op as ek om my rondkyk. Ek kan enkele bome en kinderspeelgoed sien as ek my oë op skrefies trek. Die donker het die rande van my oë oorgeneem en net die middel gee my ’n wasige beeld. Daar is nattigheid op my wange en ek vee dit af met die agterkant van my hand.

Daar is niks met my verkeerd nie, maar die grond is so koud en ek kan nie meer lekker sien nie.



LitNet: 04 Mei 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.