NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



André Krüger
Ek is gevaarlik naby aan veertig en gee tans met wisselende grade van onbeholpenheid voor om ’n professionele beroep te beoefen. Intussen droom ek van ’n beter, meer ordentlike lewe. Ek het meer as een, maar minder as vyf grade. Soms wens ek dat ek nog Gitanes gerook het.
  naam

Tot sover

André Krüger

Hy kan nie onthou wanneer hy opgehou het om om te gee nie. Wanneer het die mense om hom opgehou om saak te maak? Wanneer het hy opgehou om om te gee wat hulle doen? Miskien was dit eers net defensief — het hy opgehou om hom oor hulle te bekommer omdat dit gelyk het of hulle nie omgee wat met hom gebeur nie.

Dit was sekerlik nie iets wat skielik gebeur het nie, maar met tyd; iets wat stadig oor die horison gekruip het todat dit hom gevind het, todat dit diep in homself ingeklim het en alles wat binne hom was uitgehaal het. Nou voel hy uitgehol en leeg, en elke keer as hy in die spieël kyk, sien hy iemand wat hy nie ken nie.

Sy vel is droog en geplooi, sy oë moeg en oud. Sy hande lyk nie meer soos vroeër nie, lyk nou of dit aan iemand anders behoort. Kort hande met dik vingers, hande wat raakvat, wat vir niks verkeerd staan nie, nou krommerig en stomp, dom.

Hy sien hoe sy swart hare regop staan op sy kop en vee dit met ’n sug plat, vat dan die koppie koffie op die glasrak langs die spieël en snuif die donker geur, amper behaaglik.

Êrens in die woonstel kraak hout, ’n kas wat uiteensit of inkrimp, hy kan nie onthou of dit aand of môre is nie; oggend, onthou hy dan en en gaan sit op die rand van die bad. Die wit porselein is koud onder sy boude en hy wag dat dit warmer word, sy asem opgehou en sy lyf bewegingloos, die koppie warm in sy hand. Stoom krul stadig die lug in. Die badkamer lyk gelerig in die lig van die sestig watt-gloeilamp wat sonder skerm van die dak af neerbrand. Teen die plafon is verfmerke en kolle wat deur jare se stoom daar plek gekry het. Hy leun oor en draai die warmwaterkraan oop, kyk hoe die water in die gevlekte onderpunt van die bad om die swart prop opdam en uitstoot, verder en verder terug tot by die agterkant, voordat dit stadig begin volloop.

Die eerste stroom water is bruinerig, maar namate dit inloop word dit helder en warm. Wat maak ek hier? dink hy en neem ’n sluk van die koffie wat nog te warm is. Hy trek sy gesig en sit dit langs hom op die vloer neer. Hy staan op en trek sy T-hemp met moeite oor sy kop, laat val dit op die vloer langs hom in ’n hoop. Sonder energie staan hy en kyk daarna, sien hoe daar ’n rafeltoutjie opgekrul uit die mou uit hang.

Eens het ek ’n huis gehad, dink hy, en ’n vrou en kinders, ’n hele rumoerige lewe. Dinge het om my gebeur, daar was stemme en geluide — nou net stilte.

Hy maak die badkamerdeur oop sodat die spieël nie vol stoom word nie, sodat hy kan skeer. Sy hand voel oor sy stoppelbaard en hy wonder hoe lank gelede hy geskeer het.

Sy vrou het nooit toegelaat dat hy so rondloop nie, het gegril as hy haar in die oggende wou soen voordat hy nie eers skoongeskeer was nie. Ander tye ook maar, onthou hy, sy het nie eintlik daarvan gehou dat hy aan haar vat nie. Vroeg in die huwelik het hy eers gedink dat dit iets was wat fout was met hom, en het hy probeer om homself meer aanvaarbaar vir haar te maak, maar niks het gehelp nie. Sy het maar aanhou terugdeins as hy haar wou omhels, haarself losgedraai uit sy omhelsings uit, ’n vies trek op haar gesig of ongeduld in haar stem as sy met hom raas. Hy was alewig besig om haar te onderbreek, het sy hom laat verstaan, as sy met ’n arm vol wasgoed verby hom skuur in die lang, koel gang, of as sy vuil skottelgoed in die masjien pak vir die was. Hy was altyd in die pad, nooit op sy plek nie, tensy hy nie daar was nie.

Hy’t altyd gewonder of sy glimlag as hy nie by die huis is nie, want sy het dit nooit gedoen as hy daar was nie. Dan was sy besig met die kinders, of met kosmaak, of klere uitsorteer.

Sy kinders was nie anders nie. Hy het gedink hulle het nooit van hom gehou nie, al was hulle die liefde vanself as hulle iets by hom wou hê.

Hy wou maar altyd net ’n gewone lewe hê, ’n gewone huis en kar, ’n gewone vrou en kinders, en kon nooit verstaan hoe hy dit nie gekry het nie. Al het hy hulle met gewone vakansies see toe gevat, elke Desember, soos van ’n goeie familieman verwag word, al het hy hulle verjaarsdae en herdenkings onthou, presente gekoop en grappies gemaak, hulle het hom kwalik verdra, en nooit gewonder hoe dit met hom gaan nie.

Sy vrou het hom nooit gevra oor sy werk nie, en sy kinders, sweer hy, het nooit eers die moeite gedoen om uit te vind wat hy vir ’n lewe doen nie.

Mettertyd het hy maar bietjie vir bietjie moed opgegee, en aanvaar dat hy maar net op sy plek moet wees.

Hy draai die warmwaterkraan toe, kyk ’n rukkie lank na die klotsende, stomende water in die gevlekte bad, draai dan die koue kraan oop en druk sy hand onder die dik stroom water in. Dit is koud en hy voel hoe die koue tot in die beendere onder sy vel inkruip, kry amper lekker van die pyn, dan staan hy op en stroop sy kortbroek af, skop dit eenkant in die hoek. Hy kyk na sy lyf in die spieël maar sien net wasige, bleek buitelyne. Hy vryf die stoom van die glas af met die handdoek todat selfs die lang streephale verdwyn. Sy maag hang laag en slap, sy skouers krom vorentoe en sy bene lyk vir hom dunner as wat hy hulle onthou. Is dít wat sy vrou so gewalg het? dink hy en probeer regop staan. Hoe het sy lyf so verander sonder dat hy dit agtergekom het? Sonder dat hy opgelet het?

Hy vryf met sy hande deur sy hare en krap aan die moesie onder sy linkeroor, wonder of dit anders voel vandag as gister.

Hy bad vinnig en drink sy koffie, skeer sy gesig met hande wat weet wat om te doen sonder dat hy daaroor hoef te dink, vee dan sy gesig af en hang die nat handdoek oor die chroomreling bo die bad. Die water gorrel by die prop uit en hy stap kamer toe om aan te trek. Vir ’n oomblik dink hy daaraan om die draagbare radio aan te skakel maar sien nie kans vir die op-en-wakker stem van die een of ander sot wat aankwyl met gemaak opgebeurde woorde nie.

Hy wil by die venster uitkyk maar weet daar is niks om te sien nie, stap dan eerder tot by die kas en trek die deur oop. ’n Muf, ou reuk slaan op uit die binnekant en hy sien ’n motbol wat vergete in die een hoek lê, nog ’n geur van naftalien uitskei al is daar niks om weg te hou nie. Sy klere lê dun op die rakke gepak, sy hemde en broeke hang alleen en somber aan die pyp bo in die hout geskroef. So anders as sy kas by die huis, dink hy, so sonder die kleur van sy vrou se klere.

Hy trek homself aan en knoop sy das in die weerkaatsing van die spieël gemonteer binne ’n raampie aan die binnekant van die regterkantste deur, dan stap hy die paar tree tot in die kombuis.

Met die yskasdeur oop in sy hand buk hy af om binne-in te kyk. ’n Halwe tamatie en ’n plastiekbottel met suur melk begroet hom en hy maak die deur weer toe. Uit die broodblik haal hy ’n halwe witbrood, sit dit op die houtplank langs die ketel en trek die laai oop om die broodmes uit te haal. Sy soekende vingers vind dit nie, en hy trek die laai verder uit om te kyk, stoot dit dan onverrigtersake terug.

Die mes lê in die wasbak, bo-op ’n bord met harde tamatiesous en ’n sliert uitgedroogde ui. Hy vee die mes met ’n nat lap af, droog dit dan met ’n minder as silwerskoon vadoek, en sny twee skewe snye brood. Terwyl hy dit in die broodrooster prop en die hefboom aftrek sodat dit afsak in die masjien, wonder hy hoe sy vrou dit altyd reggekry het om sulke eenvormige, reguit snye te sny, so sonder om te kyk, terwyl sy met die kinders raas of die hond uit die kombuis uit verwilder.

Hy ruik hoe die brood warm word en gryp een stuk aan die hoek as dit opskiet na bo. Sy vingers brand en hy sit dit haastig op die houtplank neer, haal dan die ander sny ook uit en gooi water in die ketel om nog koffie te maak. Terwyl die ketel kook, smeer hy Marmite op die twee snye met die laaste skoon mes in die laai, en kou knarsend met die brood in een hand. Met sy ander hand krap hy deur die kaste en haal ’n koppie uit, een met ’n verbleikte Garfield-prentjie op, en lepel kitskoffie uit ’n blik uit daarin, voeg twee hompe suiker by en roer dit om en om met ’n plastiekteelepel.

Hy eet die hele sny brood, selfs die swart gebrande kors, en begin dan met die ander sny.

Kouend stap hy terug slaapkamer toe en wonder waar sy tas is. Hy soek langs die bed maar kry niks. Ook ’n soektog om die lendelam eetkamerstel by die voordeur lewer niks op nie en hy wonder waar hy dit gelos het. As hy die laaste stuk brood afsluk onthou hy dat sy tas, en al sy ander benodighede, nog in sy kar onder in die donker parkeergarage onder die gebou is.

Hy gaan haal sy koppie in die kombuis en gaan sit op die rand van sy enkelbed om sy skoene aan te trek. Vir ’n oomblik vergeet hy hoe om die knoop te maak, sit eers terug en dink, voordat hy weer vooroor buig en die knope onnadenkend maak en vastrek. Hy dink daaraan om sy skoene eers te poleer maar vee hulle dan net met sy sakdoek af en reken dit sal hou tot die aand, wanneer hy hulle behoorlik kan poets, soos sy pa hom eendag ver in die verlede geleer het.

Die kinders is al seker op pad skool toe, dink hy, en wonder of hulle ooit agterkom dat hy nie meer daar is nie. Hy het vir hulle probeer verduidelik, die aand toe hy uit die huis uit is met sy tas, maar hulle oë was vasgenael op die televisiestel op die lae laaikas teen die muur, en hulle het skaars ingeneem wat hy vir hulle probeer sê het, net tot siens gesê toe hy hulle op hulle voorkoppe soen voordat hy uitgestap het, sy vrou toegetrek in die slaapkamer agter ’n diggetrekte deur. En hoe verduidelik jy in elk geval vir kinders as ’n huwelik dood is? Hoe vertel jy vir hulle hoe daar niks kan wees tussen hulle ouers nie? Hoe die gevoel wat hulle eens vir mekaar gehad het stadig maar seker, dag vir dag, bietjie vir bietjie, weggebloei het tot daar niks meer oor is nie? Hoe sou jy hulle kon laat verstaan hoe dit voel as jou vrou voor jou oë mettertyd in ’n vreemdeling verander, hoe dit voel as sy sê dat jy nie meer die man is met wie sy getrou het nie? Hoe verduidelik jy vir hulle van die niksheid en die leegheid as jy dit nie eers vir jouself kan verduidelik nie? En al het hulle gehoor hoe julle venynige, lelike, lae woorde vir mekaar sis agter die toegetrekte deur van julle slaapkamer, gesien hoe julle vir mekaar kyk met woede in die oë, hoe julle mekaar met koue en korrekte beleefdheid behandel, geweet wat dit beteken as deure hard klap en koppies op die vloer gesmyt word in die kombuis nadat hulle reeds in die bed was — dit alles was tog seker nie genoeg om vir hulle te verklaar hoe liefde doodgaan nie.

Hy het eers ’n ruk lank in sy kar gesit voor die huis, opgekyk na die lig wat deur die vensters gespoel het, gewag vir iets om te gebeur, gewag dat hy iets voel, toe maar die sleutel gedraai en in trurat agteruit gery tot in die stil straat wat gesaai gelê het met jakarandablomme. Stasie na stasie op sy motorradio het hom niks gebied nie, en hy’t maar na ’n inbelgeselsprogram op mediumgolf geluister hoe mense kla oor wat in die land gebeur terwyl hy deur die strate gery het.

Dit moes eintlik gereën het, het hy gedink, so ’n triestige reëntjie wat neersif en alles wasig maak, die straatligte op die gladde teer laat reflekteer; maar dit was dor en droog, die lug helder en die maan half op sy rug net bokant die horison. Om hom het alledaagse karre beweeg op pad na bestemmings wat hy nie kon raai nie.

Hy gespe sy horlosie om sy pols en voel hoe koud die agterkant van die staal teen sy vel voel. Dit is nog te vroeg om te ry en hy gaan sit by die tafel skuins agter die voordeur met die koppie koffie voor hom, probeer uitmaak wat die boodskap onder die strokiesdier sou sê, maar kan nie. Hy wonder of dit een van die kinders s’n was, of een wat hulle ma vir hom namens hulle gekoop het vir Kersfees, toegedraai in groen of rooi Kerspapier vir die Kersoggend, waar hy met dit in sy hand kon sit terwyl hulle hulle eie presente oopskeur met gille van kortstondige plesier voordat die televisiestel weer al hulle aandag verg.

Die koffie proe bitter en hy stap kombuis toe om nog suiker in te gooi, skakel die badkamerlig wat hy aan vergeet het in die verbygaan af, en tel sy donker baadjie van die onopgemaakte bed af op in die slaapkamer. Voordat hy dit aantrek lê hy dit eers weer neer en gaan badkamer toe, urineer luid in die middel van die toiletbak, spoel dit dan en was sy hande, vee dit aan die nat handdoek af en stel sy dasknoop weer voor die spieël.

Met sy baadjie aan, vroetel hy deur die sakke todat hy sy bossie sleutels opspoor, baie yler en ligter as vantevore.

Hy sluk die laaste van die koffie en los die koppie op die tafel.

Hy trek die deur agter hom toe en sluit dit, stap dan na die hysbak toe en hoor hoe sy leersole klap op die vlak gegroefde vaal teëls van die gang. Hier en daar staan ’n blompot op ’n vensterbank agter geriffelde glas in ander woonstelle en hy wonder wie bly daar. Met sy duim op die knoppie wat die hysbak ontbied, kyk hy in die leë gange af en probeer hy die ander mense wat daar bly hoor leef agter hulle deure en vensters.

Net nog ’n egskeiding, dink hy as die hysbakdeure agter hom toegly en die hyser afsak na onder, na sy kar en sy tas en sy toga en sy boeke.

Naas sy eie, eersdaags, hoeveelste een is dit die? wonder hy terwyl hy kyk hoe die oranje letters aftel na onder. Hoe was hy vroeër so onbetrokke, en hoekom het ander se verdriet hom tot nou toe nooit geraak nie?

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.