NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Johann Lodewyk Marais
het aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en debuteer met die digbundel Die somer is ’n dag oud (1983), waarvoor hy die Ingrid Jonkerprys kry. Daarna skryf hy nog vier digbundels, waarvan Aves so pas voltooi is. Hy stel ook twee bundels saam: Groen: Gedigte oor die omgewing (1990) en, saam met die Nederlandse digter en letterkundige Ad Zuiderent, Ons klein en silwerige planeet: Afrikaanse, Nederlandse en Vlaamse gedigte oor die omgewing (1997). Marais is hoofredakteur van die tydskrif Ensovoort en is verbonde aan die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) in Pretoria.
  Johann Lodewyk Marais

Om Ruth First te onthou1

Die Eduardo Mondlane Universiteit in Maputo is vernoem na ’n man wat ’n sentrale plek in die stryd om die onafhanklikwording van Mosambiek ingeneem het. Eduardo Mondlane was die eerste president van die Frente de Libertação de Moçambique (FRELIMO). Onder aansporing van pres. Kwame Nkrumah van Ghana en pres. Julius Nyerere van Tanganjika het dié organisasie op 25 Junie 1962 in Dar-es-Salaam uit drie bestaande vryheidsbewegings tot stand gekom. FRELIMO se doel was om Mosambiek van die Portugese koloniale beheer te bevry.

Mondlane was ’n intellektueel wat sy opleiding aan die Universiteit van die Witwatersrand en in Portugal ontvang het. Sy opvattings is egter die sterkste deur die Verenigde State van Amerika gevorm. Hy het sy doktorsgraad aan Northwestern Universiteit behaal en medeprofessor aan die Universiteit van Syracuse geword. In Amerika het hy ook sy vrou Janet ontmoet, saam met wie hy in 1963 na Dar-es-Salaam teruggekeer het om hom voltyds aan die bevrydingstryd te wy.

Dit was Mondlane egter nie beskore om die geboorte van ’n onafhanklike Mosambiek mee te maak nie. Op 3 Februarie 1969 het hy in Dar-es-Salaam, in ’n ryk Amerikaanse vriend se strandhuis, ’n pakkie met ’n Moskouse stempel ontvang. Die bom wat daarin versteek was, het afgegaan toe hy in die boek wat in die pakkie was, begin blaai het. Hy is op slag dood. Wie daarvoor verantwoordelik gehou moet word, is nog steeds ’n raaisel. Die Portugese is geblameer, maar die polisie van Tanzanië het in samewerking met Interpol vasgestel dat twee FRELIMO-afvalliges gehelp het om die pakkie van Lourenço Marques, waar dit moontlik met Portugese hulp aanmekaargesit is, na Dar-es-Salaam te neem. Mondlane hét teenstaanders in eie geledere gehad: mense wat gevoel het dat hy nie revolusionêr genoeg was nie en die stryd wou verskerp. Sy opvolger, Samora Machel (’n voormalige verpleër uit Lourenço Marques, wat sy militêre opleiding in Algerië ontvang het), sou inderdaad meer kragdadig en minder intellektueel wees.

Ek en Marie is op pad na ’n afspraak met Teresa Cruz e Silva, professor en direkteur van die Centro de Estudos Africanos (die Sentrum vir Afrikastudies) by die Eduardo Mondlane Universiteit. Ons draai uit die pad na die Machinetta-strand links. Die universiteit voor ons bestaan uit ’n reeks grys, oninspirerende geboue. Die kampus is stowwerig. Die Centro de Estudos Africanos is op die tweede verdieping van die gebou waarin die Departement Sosiologie gehuisves word. In die binnehof steek ons vas by ’n tuintjie en ’n gedenkteken “in the name of science and freedom”, wat ter ere van Ruth First opgerig is. Dit is in hierdie gebou waar sy die briefbom ontvang het wat haar háár lewe gekos het.

Teresa Cruz e Silva lyk jonk. Sy dra ’n olyfkleurige pakkie. Daar is iets militêrs omtrent haar voorkoms. Sy vertel geredelik van die werk wat haar sentrum doen. Teen een muur van die vertrek hang ’n foto — wat ek nou reeds op baie plekke opgemerk het — van pres. Joaquim Chissano teen ’n rooi agtergrond. Die sentrum werk multidissiplinêr — tien voltydse navorsers wat uit verskillende dissiplines kom. Hulle handhaaf noue bande met universiteite in Portugal, en buitelandse studente kom hierheen om hulle studie voort te sit. Die RGN het, helaas, tot dusver min kontak met hulle gehad.

In 1977 het Ruth First direkteur van die Centro de Estudos Africanos geword. Sy was die vrou van Joe Slovo, destyds stafhoof van die ANC se militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe (MK), en later leier van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP). Maar sy het ook uit eie reg bekend geword, onder meer met haar boek 117 Days, wat sy tydens ballingskap in Brittanje geskryf het na aanleiding van haar aanhouding in Suid-Afrika. Aan die Universiteit van Durham, waar sy klas gegee het, het sy beïndruk met haar lesings en haar vermoë om luisteraars te boei.

In Maputo het First en ’n uitgebreide span navorsers spoedig hulle aandag op migrasie na Suid-Afrika toegespits. Dit het uitgeloop op ’n verslag, The Mozambican miner: A study of the export of labour (1987), wat hulle navorsingsbevindinge oor die impak van trekarbeid na die Suid-Afrikaanse goudmyne op die landelike ekonomie bevat. Die doel van die ondersoek was om vas te stel in watter mate die invloei van geld uit Suid-Afrika die kwaliteit van die kleinboerbestaan in veral die Inhambane-provinsie beïnvloed het. Hulle gevolgtrekking was dat die geld wat van die myne af gestuur is, die landbou grootliks ondermyn het. First was bekommerd oor die negatiewe impak wat dit op die “prekapitalistiese” bestaan gehad het. Dat ’n jarelange burgeroorlog uiteindelik ’n veel groter invloed sou uitoefen en dit wat nog oor was van die landelike bestaan feitlik heeltemal sou vernietig, het sy nie kon weet nie.

“Were you a colleague of Ruth First?” vra ek aan Cruz e Silva.
“No, I was her student.”
“Do you have good memories of her?”
“Yes.”

Ek wag dat sy nog iets moet sê, maar sy wei nie verder uit nie. Het ek of Marie nog iets om te vra? wonder ek. Op hierdie oomblik kan ek nie aan iets dink nie. Dit is asof daar ’n kloof tussen ons oopgegaan het.

“It was in this building, not far from here, where she received the letter bomb,” sê Cruz e Silva.

Ek wil haar vra of ek kan gaan kyk hoe die kantoor lyk waar dit gebeur het, maar besluit daarteen. Miskien is dit beter om nie te sien waar Ruth First op die middag van 17 Augustus 1982 saam met die ANC-man, Pallo Jordan, haar departementshoof, Aquino de Bragança, en ’n Amerikaanse kollega, Bridget O’Laughlin, gesit het nie. Dit is genoeg om te weet van die gesteelde koevert van die Verenigde Nasies se Hoë Kommissariaat vir Vlugtelinge in Swaziland wat sy dié middag oopgemaak en sodoende die bom geaktiveer het wat haar aan flarde geruk het. En van die oudspioen Craig Williamson se bekentenis voor die Waarheids- en Versoeningskommissie, baie later. Maar ek moet toegee: ek het eintlik nie die moed gehad om Cruz e Silva te vra of ek kan gaan kyk nie.

Die gesprek is verby en ek en Marie het reeds die name van persone en instansies neergeskryf met wie ons verder in verbinding kan tree. Cruz e Silva neem ons na die dokumentasiesentrum en stel ons aan die bibliotekaresse, Amélia Souto, voor. Dié skraal Portugese vrou wys ons hulle boekeversameling. Daar is titels in Engels en Portugees oor Afrika en sy mense.

“Do you have a copy of Ruth First’s famous report on the migrant miner?” vra sy.
“No, unfortunately not,” antwoord ek.

Sy belowe om in die loop van die middag vir ons ’n aantal publikasies van die sentrum en uitgawes van hulle tydskrif Estudos Mocambiçanos na ons hotel toe te bring. Die hotel is naby haar woonplek.

Die aand wag daar by die ontvangstoonbank van die Cardoso Hotel vir my ’n swaar kartondoos met publikasies wat Amélia Souto die middag kom aflewer het. Bo-op lê Ruth First se verslag oor die Mosambiekse mynwerker. Ek is spyt dat ek nie daar was toe sy die boeke gebring het nie.



1 Uit 'n reisboek oor Mosambiek.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.