NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Jan Lambrechts
Jan Lambrechts is ’n eks-Kapenaar wat skryf om te vergeet en te onthou. Hy werk in regstegnologie en put inspirasie uit Rocco de Wet, grensvegter.
  Jan Lambrechts

’n Nuwejaarsillusie

Jan Lambrechts

Ons stap in Groenpunt se hoofstraat af. ’n Paar vroegaand-hoere staan oorkant die verkeersdepartement teen ’n woonstelmuur, hul harde gesigte ’n skildery in die oranje van die dag se laaste strale. Bo-op ’n paar balkonne staan figure met drankies en sigarette. Die doef-doef van kompeterende speakers vibreer teen die vensters. Walms hondepis en kougom en sweet straal uit die teer, nog warm van die dag se son.
“Hoe lykit, ek en djy naked?” gooi Niel laggend oor sy skouer.

“Fuck you, whitey,” kom die vinnige antwoord, met ’n middelvinger for good measure.

Ons lag en voel gevaarlik. Vanaand is ons aand, ons is cool, ons is lus. Glenn het sy uniform aan: wit skoene, wit hemp, swart broek, swart baadjie, hare regop gejel. Rockin’.

“Waar is hierdie plek?”

“Ek is nie seker nie,” antwoord ek. “Iewers in die hoofstraat naby die Kings Hotel”.

“Shit, dis myle ver. Miskien moet ons ’n lift probeer vang.”

Ons gaan staan vir ’n oomblik. Niel frons en kyk op sy horlosie.

“Ons kan net sowel loop, anders wag ons ons moer af in die queue. Die gig sal nie voor nege begin nie.”

Daar is ’n buzz in Seepunt. Ons probeer ongeërg lyk, maar die afwagting bou. By Charlie Parkers is die bouncers al klaar besig om die toue reg te kry en die rooi mat neer te lê.

“Teeny joint,” sê Niel minagtend met al sy sewentienjarige wysheid.

Ek en Glenn knik soos ou jollers. Miskien as ons eendag by die deur inkom, sal ons vermoedens bevestig word. Niel is ’n legende nadat hy The Mix se stamp by die huis tot perfeksie nageboots het. My enigste claim to fame is dat my LKJ tape by die laaste reggae aand gespeel is — Niel het dit vir die DJ gegee en nou voel ek soos een van die in-crowd. My en Glenn se nagklub-cool het juis laas week ’n moerse dent gekry toe ons halfnege in die aand by Club 604 se ontvangstoonbank gestop is met die woorde: “People are still doing their shopping.”

“Hoe lyk dit met ’n vinnige een by die London Town Pub?” vra Niel terwyl hy sigaret in die hand al klaar na die oop deur toe loop. As Niel iets wil doen, word dit gewoonlik gedoen. Binne neem dit ’n paar oomblikke om aan die donker gewoond te raak. By die hoek van die bar sit ’n enkele figuur. Ons kry ’n paar biere en gaan sit by ’n tafel. Die ou by die bar vertel met ’n dronk sleep van die tong ’n lang storie, terwyl die barman probeer geïnteresseerd lyk terwyl hy glase afdroog.

“This guy didn’t even stop. He hit my brother head-on, and the fucking bastard just kept driving. One minute Gary was there, the next minute he was lying fifty yards down the street. There was blood coming out of his mouth ... the bastard didn’t even stop.”

Ek loer onderlangs. Hy het lang swart hare en ’n snor. Met sy laaste woorde moer hy die bar met sy vuis dat die glase rittel.

“I’ve been looking for that guy for twenty years. And when I find him, do you know what’s going to happen? Do you know? I’m going to kill the fucker. And I’m going to do it slowly. I swear to God I’ll kill him and he’ll know. Before he blows his last breath, he’ll know.”

Ons skuif ongemaklik rond. ’n Swart waiter probeer die ou se leë bierglas wegneem.

“Hey, darkie, smile, so I can see where you are!”

Hier kom kak. Die waiter gaan staan en staar hom in die gesig. Sy asemhaling raak vinniger en ek kan sien hoe sy regterhand in ’n vuis bal.

“You got a problem?” vra die ou en draai om in sy stoel.

’n Paar lang oomblikke later stap die waiter woordeloos na die kombuis. Ek het genoeg gehoor en staan op. Niel wil nog protesteer oor sy halwe bier, maar ek is klaar op pad uit. Buite op die sypaadjie voel die hele episode soos ’n droom. Ons sê niks en stap verder.

By die volgende kafee kry Niel ’n pakkie Camels. Oorkant die straat teen die skoolmuur lê ’n paar bergies, hul party oor en verby. Een lê uitgepass op sy arm, sy kleur glad nie lekker nie. Ons stap oor die straat en ek buk af om te kyk of daar nog asemhaling is.

“Los die ou,” sê Niel. “Môre word hy wakker en klim weer op die bloutrein, all stations to oblivion.”

Ek draai hom om en hy maak ’n snorkgeluid. Hy rol om op sy ander sy, gee ’n lang sug en slaap verder. Ek kyk af na die ouderdomlose gesig, probeer iets voel en drafstap dan na waar Niel en Glenn staan en wag. Happy, happy.

Uiteindelik kry ons die plek. ’n Paar roadies dra toerusting in, maar die handgeskrewe kennisgewing teen die deur sê: Doors open at 9. Ons besluit om af te loop see toe, maar kom nie veel verder as die straathoek nie toe ’n jong ou ons voorkeer en begin uitvra oor wie speel en hoe laat. Ons praat oor dit en dat en kom gou agter dat ons dieselfde girl ken.

“Do you know her brother?” wil hy weet.

“Yeah, I met him once.”

“Did he ever rap you Jesus, bru?”

Ek weet wat kom.

“I’m sorry?”

“Did he ever rap you Jesus?”

“Umm, no, I don’t think so,” antwoord ek.

Niel en Glenn trap ongemaklik rond. Die ou is in en hy weet dit.

“Did you know that me and him are part of only forty people in the whole peninsula that are saved?”

Hy gee ons nie kans om op hierdie indrukwekkende stukkie statistiek te reageer nie.

“We’re part of the Angels for Christ church. We meet every Saturday night at someone’s house and share our spirituality. You guys should come along.”

Ek kyk na Niel, maar hy is skielik moerse geïnteresseerd in die lamppaal.

“I don’t know,” sê ek.

Ek het by die skool al gehoor van hierdie kerk. By elke diens staan almal in ’n groot kring, totdat iemand deur die Heilige Gees ingevaar word en dan is dit ’n gerondrol en tale praat dat die skuim spat.

Ja nee, sien jou daar. Let me just check my diary: mmm, sorry, I seem to have a dishwashing appointment. Maybe next time.

Mnr Angel gee my ongevraagd die adres en nog ’n paar soundbytes.

“C’mon guys, I know how it is. You smoke some dope, you steal some money, you pomp a chick. I’ve been there.”

If only.

“You guys will be saved. I know. Just because you stopped and listened, the Holy Spirit is already showing His presence in you. I’ll see you there on Saturday.”

Met hierdie woorde sê ons cheers, no problemo, en stap so vinnig as wat ons kan af see toe.

“Hey, ten minste het ons ’n paar minute omgekry,” probeer Glenn ’n positiewe spin op die situasie sit. Ek kan net lag. Ons het seker die ou se dag gemaak — nog drie siele op sy kerfstok.

By Queens is die branders groot en rof. ’n Enkele paddleski probeer manmoedig om deur die bamboes en whitewash te kom, maar word keer op keer meters ver teruggespoel. Ons skuif ons bene deur die reling en gaan sit vir ’n dosis Schadenfreude. Die luggie is nat en sout. Die laaste sonsondergang van die jaar.

Net na nege is ons terug by die saal. Binne kry ons sitplek teen ’n symuur en probeer om vroeg al die talent te spot. Die eerste band is Khaki something or other. Niel tik my op die skouer en wys na die bassist: die ou is duidelik ’n Talking Heads fan, met groot suit en David Byrne hare. Na die eerste paar songs is dit duidelik dat hy nie baie beïndruk is met die reaksie nie.

“It’s your party,” probeer hy die dertig of so pratende siele in die saal aanspoor. Die een song wat ’n handklap of twee uitgelok het, word weer vir die encore afgestof en daarmee het die tyd aangebreek vir Tribe after Tribe. Ons wonder watter Asylum Kids songs uitgestal gaan word en skouer ons pad oop na die voorste ry, reg onder die stage. Na ’n halfuur begin die mense rusteloos raak: stadige handeklap en “why are we waiting” maak hul verskyning. Uiteindelik loop Robbie op die stage, maar geen band nie. Hy neem die mikrofoon.

“Is anybody alive out there?”

’n Paar krete klink op.

“C’mon, I want to feel something before we start.”

Hy loop op en af en staar na die crowd. Iewers agter in die saal begin ’n chant: “Rock ’n roll! Rock ’n roll!”

“Yeah, c’mon. Give me something!”

Dit raak weer stil.

“Does anybody want to say something? Do you have an opinion? For fuck sakes, show some life!”

Iemand kom van agter deur ons gebeur en beduie na Robbie. Robbie spring af en hou die mike uit.

“If you guys were professional musicians, you wouldn’t rely on crap like this to get a good audience response.”

Robbie knik: “Good point, good point. Anybody else?”

’n Paar “fuck you!” gille kom van agter. Robbie klim terug op die verhoog en staan doodstil vir ’n lang ruk. Dan loop hy af en binne ’n paar minute verskyn die hele band uiteindelik. Verwoed spring hulle in die eerste song en lig die dak. Robbie probeer elke enkele klank uit sy axe wurg.

“As I went out one morning ...” en ons almal spring en gooi vuiste in die lug. Die gig eindig met ’n stormagtige geraas, Robbie gooi sy ghitaar neer en loop af met ’n middelvinger na die crowd. Rock ’n roll.

Die saal is nou amper vol en ons word gedruk teen die reling. Die rookmasjien spoeg ’n stroom wit en die ligte gaan af. ’n Paar oomblikke later ontplof die saal in klank en lig. Tim Parr kniel reg voor ons en looi ’n solo. Ek het egter net een fokus en dit is Heather Mac. Sy het teruggeslickte hare, rooi lipstiffie en ’n fifties sonbril. Haar dramatiese stem vul die saal, haar arms gespreide vlerke wat ons almal optel en wegdra. Plek en tyd vervaag, die musiek deel van elke liggaamsel. Na die tweede song glimlag sy en sê: “We flew down only an hour ago. We were up amongst the cumulonimbus clouds.”

Ek is oorweldig. I am in love. Sy is perfek.

Die gig glip in sekondes verby. Ek gryp na die oomblik, maar dit is verby voor my hand my brein kan volg. Ons strompel uit in die Nuwejaarsoggend, Niel en Glenn laggend en luid. Die hoofstraat is absoluut gepak, met meer Crockett en Tubbs klone as wat gesond is. Dronk gesigte vloei ineen tussen stampende skouers en luide Happy New Years. Bo Seinheuwel hang ’n flair en al kykende stap ek amper voor ’n taxi in. Die toeter ruk my terug en ek spring terug op die sypaadjie. Niel en Glenn is nêrens te sien nie.

Ek moet hulle seker gaan soek, maar wil eerder soos ’n kurkprop in hierdie straat afdobber. Ek maak my oë toe en word lig, word leeg, word weg.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.