NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Johannes de Villiers
het op Stellenbosch gestudeer en woon steeds daar. Hy werk vir ’n dagblad in Kaapstad.
  Johannes de Villiers

Tussen Klapmuts en Kaapstad, 1996

Johannes de Villiers

Destyds, toe die nuus nog vol was van Mandela se aankondiging dat ons nie meer betrekkings met Taiwan gaan hê nie, het ek een keer die dom ding gedoen om met ’n vreemde vrou op die trein na Kaapstad oor politiek te stry. Die vrou het by Paarl-stasie opgeklim, oorkant my kom sit en dadelik begin klets.

“Ek dink Mandela is mal, man. Al die karre en voertuie kom dan van Taiwan af. Een van die dae ry ons almal met bicycles werk toe.”

Ek was destyds ’n ekonomie-student en hoewel ek nie gewoonlik met medepassasiers gesels het nie, kon ek nie dié stomme vrou toelaat om soveel twak kwyt te raak nie.

“Dit is in Suid-Afrika se langtermynbelang om met China diplomatieke betrekkings aan te knoop, want een van die dae gaan hulle die kommuniste daar verdryf en dan gaan hulle gereed wees om uit te styg as dié moondheid wat die wêreldekonomie in die een-en-twintigste eeu gaan oorheers. Dink net, ’n mark van biljoene der biljoene mense wat graag ons produkte sal wil invoer. Ons as Suid-Afrikaners kan nouliks bekostig om ons neuse vir so ’n geleentheid op te trek. Ek weet byvoorbeeld dat Suid-Afrikaanse Brouerye aan die Chinese bier wil verkoop, iets wat glo vir die Oosterlinge ’n nuwigheidjie is.”

Die vrou het my agterdogtig aangekyk.

“Werk jy vir Suid-Afrikaanse Brouerye?”

“Nee, ek het dit in Finansies en Tegniek gelees.”

“Maar dit help nou veel die Chinese suip al ons bier op en ons het niks meer radio’s of CD players nie, want jy sal sien, al daai goed is made in Taiwan.”

“Inderwaarheid vind die Duitsers al daai goed uit en dan steel die Taiwannese die patente deur een of twee klein veranderings aan te bring en dit dan vir hulself toe te eien. Met behulp van goedkoop arbeid en ’n sonderling gedissiplineerde werksetiek kan hulle dan daardie einste produkte veel goedkoper vervaardig.”

Die vrou het na die venster gedraai, haar gesig getrek en ’n sigaret aangesteek. Ek was destyds ’n groot snob en het dit geniet om die vreemde vrou dom te laat voel.

“Kyk, ek is self geen aanhanger van die ANC nie,” het ek voortgepreek. “Maar daar is deesdae onontkenbare markkragte wat nie eens Mandela kan ignoreer nie. In die Koue Oorlog sou dit ’n ideologiese besluit gewees het om diplomatieke bande met Taiwan aan te knoop, maar deesdae is die wêreld soos een groot winkelsentrum.”

“Ja, maar money talks and bullshit walks.” Sy het so heftig na my teruggeswaai dat haar sigaret teen die vensterraam geknak het. “En in hierdie land loop dit deesdae ook nie meer nie, dit ry met Mercedesse en BMW’s. Maar ek gaan lag. Ek gaan lag as Mandela en Winnie Mandela oor vyf jaar met Chinese bicycles werk toe ry omdat ons nie meer by Taiwan kan karre koop nie.”

Tydens die eerste deel van die treinrit tussen die Paarl en Kaapstad is daar mooi plase en vleie om na te kyk, maar wanneer die trein eers die noordelike voorstede in trek, raak die uitsig grou en die stasies al meer gereeld. Ek vat dus altyd ’n boek saam om te lees — veral ook omdat eienaardige mense, soos daai dom vrou, gewoonlik op die uitkyk is vir iemand wat verveeld lyk. Ek vermy as ’n reël gesprekke met medepassasiers want net mooi almal wat met jou op ’n trein begin klets het ten minste ’n skroef los. Die dom vrou was nie die enigste passasier in ons wa met ’n klap weg nie, maar omdat sy al een was met wie ek aan die begin van die rit gesels het, was ek aanvanklik onbewus van die res.

Reg aan die oorkant van die wa was daar twee jong ouens, een wit en een bruin, wat met mekaar gesels het en van tyd tot tyd so hard gelag het dat jy hulle tot by ons sitplek kon hoor. Daar was ook ’n ouer man met ’n koelronde kop, ’n reuse snor en ’n oudmodiese vaal hemp met regaf bruin strepe. En in die verste hoek van ons het ’n armoedige vrou in ’n flenterse trui en oranje kopdoek met haar wang teen die venster sit en insluimer — ek onthou ek kon sommer sien sy is ’n bergie wat uit op die eersteklas-wa geklim het omdat sy nie van beter weet nie.

’n Hele ent ná Klapmuts ry die trein deur digte bosse wat plek-plek soos lang gras lyk en wat tot teen die spoor kom. Jy ry nog met takke wat by die venster verbyflits en dan is jy ewe skielik in ’n oopte met ’n magdom sinkpondokke wat die verte in strek. Dit het toe nog nie so erg gelyk soos die reuseplakkerskampe wat jy tussen Wellington en die Paarl sien nie, maar daar was reeds meer krotte elke keer as jy daar verbyry.

Ek was nogal ingenome met myself nadat ek daardie stupid vrou op haar plek gesit het. Sy het skaam en dikbek oorkant my gesit en sedert Klapmuts voorgegee om intens op haar derde sigaret te konsentreer. Ek het ongeërg na die plakkers gestaar. Daar was ’n plakkerseuntjie wat ’n trop brandsiek bokke met ’n lang stok tussen die vuil poele en ashope rondgejaag het.

Ek het na dié seuntjie gestaar toe die trein se brieke skielik skreeu en ’n reusestuk metaal die trein reg langs my venster tref. Voor ek nog kon koes, het moere, glas en stukkies rubber deur die venster gevlieg. Die trein het woes na die een kant gekantel en ek en die dom vrou moes albei aan ons sitplekke vasklou om nie reg oor na die wa geslinger te word nie. Ek het my oë toegeknyp, maar ek dink ek kon daai vrou bo die geraas van die trein se brieke hoor gil. Metaal en glas het oor die vloer gerol.

Toe ek my oë oopmaak, het die trein tot stilstand geruk. Die wa het aanhou kraak. Die dom vrou het orent gekom met haar hande skouerhoogte, asof sy hensop. Die man oorkant ons met die snor en oudmodiese hemp het aan ’n paal geklou terwyl die twee jong latte en die boemelaarsvrou met die oranje kopdoek waarskynlik soos ek op hul sitplekke gesit en wag het vir iets verskrikliks om te gebeur. Buitekant het manstemme hard in ’n swart taal begin skree. Ek het na die venster gedraai en gesien hoe mense vanuit die plakkerskamp nader hardloop. Nou is dit die einde, het ek gedink. Geknelde land!

Niemand was egter op pad na ons wa toe nie. Hulle het almal na ’n wa laer af langs die spoor gehardloop. Toe die trein uiteindelik ophou kraak, het die man met die snor die paal waaraan hy geklou het, gelos en na die voorkant van die wa gestap. Ek en die dom vrou oorkant my het hom agternagekyk. Ek dink ons was albei gretig om te sien wat hy doen, want hy het gelyk na die tipe wat al op ’n trein kon gewerk het. Die boemelaarsvrou vrou met die oranje kopdoek het êrens in die wa hard aan die kerm gegaan en die twee jong ouens het albei orent gekom en by die venster uitgehang. Ek het dieselfde gedoen. Toe ek opstaan, het ek glas onder my voete hoor kraak.

Rasende mense het oral uit pondokke of uit graspolle rondom die plakkerskamp gepeul en na die trein gestorm. Voor by die lokomotief het iemand, waarskynlik die drywer, uitgespring en met swaaiende arms in die rigting van die derdeklaswaens gehardloop. ’n Magdom mense het uit daardie trokke geswerm en saam met die drywer en die hordes plakkers gestroom in die rigting van ’n smeulende, opgefrommelde motorwrak wat langs die trein lê.

“Wat gaan aan?” het die man met die snor geroep toe hy sien hy kan nie by die voorkant van die wa uit nie.

“Hulle het ’n motorkar omgery!” het die bruin lat geskree waar hy by die venster uithang.

“Hulle het ons met ’n bom gegooi!” het die onnosele vrou langs my gegil.

“Nee, hulle het ’n motorkar omgery!”

Ek moes reg geraai het dat die man met die snor al op ’n trein gewerk het, want hy het sonder moeite die trein se sydeur oopgeforseer en uitgespring. ’n Paar tree langs die spoor af het hy gaan stilstaan en met sy hand bo sy oë na die treinwrak gestuur.

“Wat gaan aan?” het die wit lat agternageskree. “Dit lyk dan vir my asof hulle ’n donderse motorkar omgery het!”

Die irriterende, dom vrou het by dieselfde venster as ek kom uithang om ook te sien wat aangaan en my hele uitsig versper. Ek wou net wegdraai toe ek sien ’n man in ’n uniform kom ook uit die lokomotief aangedraf. “Wat gaan aan, meneer?” het ek geroep, maar hy het net aangehardloop. Die boemelaarsvrou het egter ook by ’n venster gaan uithang, die man in uniform gewaar en kliphard geskree, “Prys die Here, dis ’n speurder!”

Die res van ons het hom in stilte agternagestaar, te bang om uit te klim. Net die man met die snor, wat reeds buite was, het agternagedraf.

Dít is dan hoe ek daardie dag saam met ’n handvol vreemdelinge in ’n gestrande trein in die middel van ’n plakkerskamp opgeëindig het. Ons moes omtrent ’n halfuur sit en wag voordat die trein weer kon vertrek en moes dus maar onwillekeurig na mekaar se sêgoed luister.

Die trein het glo ’n motor getref wat dwars oor die spoor gestaan het. Toe die lokomotief se neus die motor getref het, is die wrak om die trein geslinger sodat dit die kant van die voorste wa — ons s’n — getref het, net daar waar ek na die uitsig sit en kyk het.

Dit alles het ons gehoor by ons medereisiger, die man met die snor en outydse hemp, wat so tien minute by die wrak rondgekyk het en toe aan ons kom verslag doen het. Hy het homself by die oop deur opgehys en gewag tot ons almal rondom hom saamdrom voordat hy begin vertel het.

“Ja-nee, die trein het ’n kar in sy bliksem in gestamp. So erg dat daar omtrent niks van hom oor was nie.”

“Was daar bantoes in die kar?” het die boemelaarsvrou gevra.

“Weet jy ...” het die man aangepraat terwyl hy sy ken en sy snor vryf. “Weet jy, wat ek nie weet nie, is hoe de hel mens op ’n treinspoor opeindig wanneer ’n trein aangejaag kom? Ek meen, my magtag, sien jy hom nie? Hoor jy hom nie? Daar lê een swarte nou in sy moer in dood.”

“Was hy alleen in die kar?” het die een jong lat gevra.

“Daar was twee swartes in die kar, maar die een het glo nie seer gekry nie. Hy het uitgespring, sê die klomp wat gesien het, en toe weggehardloop. Ek weet nie of hy bestuur het nie, maar wat ek wil weet is hoe de hel eindig jy op ’n treinspoor op terwyl ’n trein op jou afpyl? Ek meen, het hy nou gedink dis ’n four way stop en dis sy beurt om te ry terwyl die trein nou maar moet briek?” Hy het dramaties by die venster uitgestaar. “En nog iets wat my bekommer — jy weet nooit wanneer hierdie lot hier buite ons nie bestorm om wraak te neem omdat ons een van hulle vrek gery het nie.”

Die stemme buitekant het skielik harder geklink.

Die dom vrou wat vroeër langs my gesit het se stem was bewerig. “Jy dink tog nie so iets sal regtig gebeur nie?”

“Necklace hulle nog mense?” het die wit seun gevra.

Almal het bewerig na die bruin seun gedraai. “Don’t look at me,” het hy geskel. “How must I know? I don’t live in a squatter camp!”

Die dom vrou het na haar sigarette gegryp. “Nou wie moet dan weet? En wat van jy daarso wat nou so stil is, jy wat netnou alles van Mandela af geweet het?”

“O, Jirre Jesus, maak hom los, maak hom los!” het die armoedige boemelaarsvrou skielik geskree. Almal het stil geraak en na haar gekyk. “Jesussss, maak hom los! Maak hom los, Jesussssss!” Haar oë was toe en sy het wild gespoeg terwyl sy bulder. Die ander vrou en die man met die snor het teruggetree en die twee jong ouens het half gefrons omdat hulle nie weet wat aangaan nie. Die gillende vrou het haar vuiste teen haar bors gebal, haar ken gelig en en begin om soos ’n ambulans te loei. “Maak hom los, Jesussssss!”

“Stil jy!” het die snorman tevergeefs geskree.

Omdat niemand anders die moed bymekaar kon skraap om oor haar gehuil te praat nie, het ons maar weer benoud uitmekaar gegaan om te wag totdat iets vreesliks gebeur. Ek en die irriterende vrou het weer oorkant mekaar gaan sit, by dieselfde venster. “Wel, Mandela kon maar daai ou se kar vir die Chinese gegee het,” het sy probeer skerts.

Toe die boemelaarsvrou se geskreeu ná ’n paar minute in ’n gesnik en geprewel verander, het die res van ons maar op ons onderskeie plekke gebly. Ek het gemaak asof ek na die idioot oorkant my se praatjies oor haar vriendin Sandy luister — as jy haar ’n vriendin kan noem, gegewe hoe dié vrou haar beskinder het. “Ander dag sê ek vir my suster Sandy woon in Stikland. My suster lag haar vrek. Sandy het nie eens geweet sy bly langs ’n malhuis nie. En sy is self mal, man. Sy kom kuier by my flat, dan wil sy net met die hond speel. En daai slag toe sy gedink het sy is pregnant ...”

Terwyl sy geklets het, het ek geprobeer hoor wat die twee jong ouens ’n paar banke verder gesels. Die bruine het eers vertel van ’n boek oor Nostradamus wat hy aan die lees was en toe het hulle mekaar begin vertel wat hulle sal doen as hulle eendag aan die hoof van die komende wêreldregering sou staan. Die witte was nogal onkant gevang deur die rigting wat die gesprek ingeslaan het, maar klaarblyklik was die bruine al jare aan die beplan vir sy wêreldheerskappy, want hy het ’n horde eienaardige planne gehad, onder meer dat Christene spesiale belastingtoegifte moet kry om mense aan te moedig om aan te sluit by die kerk wat hy gaan stig.

Toe die dom vrou uiteindelik asem skep, het ek gesê ek gaan ’n bietjie by die oop treindeur staan. Ek wou eintlik in die twee jong ouens se rigting drentel en hulle my siening van belastingtoegifte gaan vertel, maar toe ek sê ek wil opstaan, leun die vrou oor en fluister: “Lyk daai man met die snor wat daar staan en uitstaar nie vir jou ook soos ’n conducter nie? Ek sweer ek het sy gesig al êrens gesien. Ek wed jou hy weet presies wat hier aangaan.”

Ons het saam langs die snorman gaan staan.

“Verskoon my, maar ken ek nie jou gesig van êrens af nie?” het die dom vrou gevra.

“Hmm? Nee, hûh, ek dink nie so nie.”

“Werk jy nie vir die Suid-Afrikaanse Spoordiens nie?”

“Uh, nee, Nee. Hoegenaamd nie.”

“Nou watse werk doen jy?”

“Uh, ek is afgetree.”

“Ag, komaan, man. Jy kan mos nie afgetree wees nie. Jy is veels te jonk.”

Dit was seker die ongemaklikste oomblik van daai hele dag. Ek was nog ongelukkig genoeg ook om tussen hulle twee te staan en kon aanvoel hoe die snorman se rug so styf soos ’n riet word.

“Nou sê bietjie vir ons, hoe oud is jy?” het sy voortgebabbel.

“Ek is in my veertigerjare.”

“Ag, nee. En jy is al afgetree. Jy is seker nie getroud nie. Die enigste manier hoe jy kan bekostig om so jonk af te tree, moet wees as jy nou nog ’n bachelor is.”

“Waaroor praat julle?” het een van die twee ouens gevra toe hulle naderdrentel.

“Hierdie man hierso is al amper vyftig, maar hy het nie ’n werk nie en hy het nie ’n vrou nie.”

“Ek stem saam daarmee,” het die bruin lat gesê. “Ek gaan ook nie eendag trou nie. Dan kan ek twintig jaar vroeër aftree.”

Die wit seun het sy voet op die vloer gestamp. “Ek het ’n girlfriend. Ons gaan trou as ons dertig is.”

Die stupid dom vrou het haar sigaret na die snorman gewys. “Jy moet ’n bietjie dat hierdie laaitie vir jou vertel van sy girlfriend en die lekker lewe saam met ’n vrou. Jy wil nie werk nie. Jy wil nie trou nie. Vat jy darem van tyd tot tyd ’n dop, of wat doen jy met jouself?”

Genadiglik is die gesprek op daardie oomblik onderbreek deur ’n geloei vanuit die plakkerskamp. ’n Ambulans en polisiewa was op pad na die trein. Hulle kon egter nie baie vinnig ry nie want ’n horde plakkerskindertjies het rondom die voertuie gewemel en mekaar voor die wiele in probeer stamp. Ek het iets voor die hand liggends gesê oor hoe daar ’n polisiewa en ambulans, omring deur klein plakkertjies, op pad is. Ek het dit selfs oorweeg om uit die wa te spring en by die wrak te gaan rondkyk, maar voordat ek dit kon doen het die trein gesug en effens geruk, asof dit op die punt was om verder te beweeg. Mense wat by die wrak rondgestaan het, het omgespring en na die trein gehardloop, terwyl die mense in die derdeklaswaens na hulle geroep het en by die vensters uitgehang het om hulle op te help hys. Ek sal nie verbaas wees as ’n paar van die plakkers in die skare ook sommer op die trein gespring het nie. In die verwarring sou niemand opgelet het nie.

Nog voordat die nooddienste by die wrak kon stop, het die trein weer aan die rol gegaan. Die enjin moes erg beskadig gewees het, want ons het seker teen minder as vyf kilometer per uur beweeg.

“Dankie tog,” het die irriterende dom vrou langs my gesê. Die twee jong latte het opgewonde geskree, soos mense by ’n sportwedstryd. Die witte het sy vuis in die lug geswaai en gemaak asof hy blaf, soos sommige ouens maak as hulle ’n sexy meisie sien, maar ek dink nie iemand het sy grap gevang nie want niemand het daarop gereageer nie. Almal was net bly om uit die mislike plakkerskamp weg te kom. Selfs daai armsalige, biddende boemelaarsvrou met die oranje kopdoek, wie se kleredrag nie veel van die meeste plakkersvroue s’n verskil het nie, het regop gestaan met haar hande saamgeslaan en trane van blydskap wat oor haar wange rol. Sy moes óf mal óf gesuip gewees het.

Een ding wat ek nogal geniet het, was dat die deur nie weer toegemaak het nie, so vir die res van die rit kon ek daar sit met my bene wat by die deur uithang en die wind wat my beenhare kielie. Bygesê, so erg soos dit jou teen vyf kilometer per uur kan kielie. Die snorman het daar by my bly staan, maar hy het nie iets te sê gehad nie. Ek sou kon spekuleer dat hy erg omgekrap was deur wat daai dom vrou vir hom gesê het, maar ek het nie regtig ’n rede om so te dink nie. Wie sou in elk geval iets wat sy sê ernstig opneem? Met die trein se vertrek het sy en die twee jong ouens eenkant gaan sit. Die latte het weer oor Nostradamus begin praat terwyl die vrou probeer intjirp het, maar ná ’n paar minute het hulle gesels ook maar opgedroog.

Omdat die trein aan die beweeg was, kon ons weer normaal optree en mekaar ignoreer. Ons was ook maar half verleë oor die feit dat ons so pas saam deur ’n botsing is. Ek het gedink, dís nou hoe ek ’n treinrit geniet. Ek wil daar sit met die windjie wat my streel terwyl ek na die uitsig kyk en niemand my hinder nie.

Die trein het tot by die volgende stasie gesukkel. Ek kan nie meer onthou watter een dit was nie — dalk Elsiesrivier. Daar moes ons almal afklim en vir die volgende trein wag. Op die perron het ek so ver as moontlik van die res af gestaan. Daar was ’n groot skare en dit was nie te moeilik om hulle te verloor nie. Toe die volgende trein vertrek, het ek in ’n rookvrye wa geklim.

Ek moes tot in Kaapstad ’n bankie met ’n vet vrou deel, maar ek het nie regtig omgegee nie. Sy was stil en sy het my by die venster laat sit. Baie van die mense rondom my het by die ongelukstoneel afgeklim en het die nuwe passasiers daarvan vertel. Daar was glo flenters van die dooie ou oral om die wrak.

Toe ons by Kaapstad stilhou, het ek bietjie op ’n bankie gaan sit en wag dat die ergste skare eers deur die hekke beweeg sodat ek nie my pad deur die bondel mense oop hoef te baklei nie.

Ek het nog so gesit toe daardie armsalige, huilerige boemelaarsvrou saam met die derdeklasskare verbykom. Sy het natuurlik, toe ons op die tweede trein klim, op een van die derdeklaswaens geklim. As jy my vra het sy seker die heeltyd ’n derdeklaskaartjie gehad, maar sy was so eenvoudig dat sy seker nie geweet het hoe ’n treinkaartjie werk nie.

Toe sy my daar sien sit, het sy ’n oomblik vasgesteek en na my toe oorgeskuifel. Ek het gemaak of ek haar nie sien nie, maar sy het nogtans langs my kom sit. Ek het vir die eerste keer opgelet sy dra haar goed in ’n Checkers-sak. Sy het gestink.

“Dink jy daai bantoe in die motorkar is dood?” het sy gevra.

“Ek hoor daar was net flenters van hom oor,” het ek geantwoord. Ek was dadelik spyt oor my stemtoon. Ek het dit so gevoelloos gesê — hoe kon ek weet sy sal nie weer aan die skreeu gaan nie.

Gelukkig het sy dié keer net saggies gehuil. Kort daarna het ek my ook uit die voete gemaak. Daar was regtig nie nog iets wat ek vir haar kon sê nie. En ek ry nie trein omdat ek nuwe vriende wil maak nie. Sy behoort dit al van die begin af te verstaan het.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.