NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Herman Wasserman
het in 1997 gedebuteer met die kortverhaalbundel Verdwaal. Sedertdien is van sy verhale in verskeie versamelbundels gepubliseer, die jongste een in Uit die kontreie vandaan, saamgestel deur Abraham de Vries. Hy was die naaswenner in De Kat en Human & Rousseau se Vonkfiksie-wedstryd en het sy doktorsgraad in letterkunde voltooi in 2000.
  Herman Wasserman

small change

Herman Wasserman

Wie bevreesd is, kan nimmer het binnenste van mijn land betreden. De tocht er heen is zóó ver, dat alle onthechting wordt gevraagd; het afstand-doen van alle dingen. (...) Wie daarheen gaat, vaart in één kano met de glimlachende dood.

Albert Helman, Zuid-Zuid-West

“Small change, oubie?”

“Gaan vra vir Mandela, man. Ek het nie geld vir jou nie.” As die gesiggie langs sy motorruit steeds nie verdwyn nie, kliek Riaan dat hy agter die tyd is.

“Man, fokof, ek sê jou mos, gaan vra vir Mbeki as jy iets wil hê,” korrigeeer hy hom die tweede maal as die seuntjie sy kop na die een kant toe knak om effens meer beteuterd te lyk en weer die leë Coke-blikkie waarvan die boonste deksel afgesny is, na die oop venster uitsteek.

Dis darem een ding van die Kaap, dink Riaan as hy die paar sente onder in die blikkie langs hom hoor ratel terwyl hy voor hom in die pad bly kyk en die radio (it’s one o’clock in the Mother City and here is the news read by Samantha Fraser) harder stel. Hier kan ’n man darem nog jou vensters op ’n warm dag oophou as jy in die stad rondry. In Jo’burg is dit nie ’n bedelblikkie wat hulle na jou venster toe uithou nie; daar kry jy sommer ’n gun teen jou kop. Hier in die Kaap kan jy Desember, Januarie lekker jou arm by die venster laat uithang en die seelug ruik. Al waarvoor jy hoef op te pas is ’n bom so nou en dan, maar daaraan raak ’n mens ook al gewoond. Jy sê maar jou gebedjies voor jy by ’n restaurant ingaan (segen Vader hetgeen wij eten, laat wij nimmer van Pagad vergeten), maar jy hoef darem nog nie ’n hijack by elke verkeerslig te verwag nie.

Dié tyd van die jaar moet jy natuurlik jou oë ook oophou vir Gautengers in hul Pajero’s (moet sê, hy sal self nie mind vir een nie, lekker hoog — die snotneusies by die robotte sal nie eers by die modderskerm uitkom nie) wat skielik hul pad see toe onthou en van rigting verander voor jou in die pad, en jy moet versigtig wees om nie te brand as jy oor middagete buite in die son is nie (beskerm jouself en jou geliefdes hierdie somer, ’n boodskap in die belang van jou gesondheid deur die Kankervereniging van Suid-Afrika). Maar verder is daar darem nie ’n kwessie nie, besluit Riaan opnuut as die lig voor die Waterfront se ingang groen slaan. Daar is dalk meer geld in Jo’burg, maar wat lewenskwaliteit betref, kan jy die Kaap nie klop nie.

Dit word een van daardie tipiese werksetes oor die Kerstyd. Riaan laat hom meevoer deur die vakansiegevoel. Nie hy óf sy kliënt (na drie jaar en tallose rondes gholf is Michael eintlik al ’n vriend, maar hy moet die ete immers van belasting aftrek) is lus vir teruggaan kantoor toe nie. Op die stoep van die Sports Café kan hulle oor die hele hawe uitkyk. Die see is so helder blou as wat hy glad is, en dieper in is die water vol wit spikkels van seilskepe. Nog verder agter die baai kan Riaan hom verbeel hy kan ’n vliegtuig oor Khayelitsha sien inkom om te land. Deur sy gepolariseerde sonbril (hy is tog maar bly hy het eerder op die Oakleys as die Raybans besluit) lyk al die kleure net so ’n tint dieper, asof dit gefotografeer is.

Hulle lig hul glase teen die agterdoek van Tafelberg wat blink sidder in die warmte; bestel eers, om af te koel, ’n paar rondes ingevoerde Mexikaanse bier met suurlemoenskyfies ongemaklik in die bottelnekke ingedruk.

“Kyk net daar,” beduie Riaan oor die turkoois see, “is dit nie befok nie? Dan is daar actually mense wat dit alles opgee vir Gauteng. Wie wil nou geld hê as jy dit alles” — en hy swiep met sy bierbottel oor die seilskepe, die berg, die meeue wat weerkaats word in die water — “kan hê?”

“Ja-nee,” beaam Michael, “ek sê altyd, daai bietjie ekstra wat die ouens daarbo verdien, is small change.”

Riaan frons as hy die woorde hoor. Iets bekends, waar het hy  ...?

Michael glimlag selfvoldaan en sit agteruit om die uitsig te bewonder: “Wat wil ’n mens nou meer hê? Die beste dinge in die lewe, sê ek altyd, is tog immers verniet, is dit nie?”

As hulle altwee se biere op is, laat kom Riaan bottel op bottel koue Chenin en Sauvignon blanc (Chardonnay, veral gehoute Chardonnay, is soooo gister, het Riaan se sekretaresse hom ingelig toe hulle ’n spyskaart vir die kantoorpartytjie moes beplan), êrens tussendeur ’n bottel sjampanje en later, toe Vrydag heeltemal in hul bloedstroom opgelos het, selfs ’n paar shots. Die kos is ook oordadig en ryk, en Riaan weet hy behoort met sy cholestorol stadig te gaan, maar een keer ’n jaar kan hy mos maar bietjie ontspan, wat, want werk hy dan nie sy gat af deur die jaar nie? Hy skuld homself. Hy bestel gul, verseker Michael dat hy gerus maar kan ontspan, die ete is op hom, uiteraard. “Dis mos besigheid, dan nie? Kyk dan hoe hard werk ons!” sê Riaan en sy kliënt lag, half verleë.

Die tjips wat saam met die seekosbord opdaag, dryf in die olie, en Riaan verbeel hom vir ’n oomblik hy sien hoe die vette aanpak aan die binnekante van sy are, dik en geel, sodat sy bloed moet verbyskuur. Vanaand slaap hy weer sleg van die ryk seekos, dit weet hy al uit ondervinding, maar sulke prawns kry ’n mens nie aldag nie. Magtag, man, kyk daai spriete, so dik soos ’n kind se pinkie, daar is omtrent ’n bordvol vleis in daai stert! Teen die tyd dat hy by die kreef kom, is hy al so dik dat hy net die stert eet en die res van die lyf eenkant toe skuif. Daar is immers nog ’n vrag calamariringe wat wag ook.

“Nee, donner, Riaan, nou kan ek nie meer nie. Brûûûrghh,” breek Michael wind en vee met die agterkant van sy hand oor sy mond. “Maar thanks, dit was moerse lekker. Jissis, ek het nie eers by daai stuk vis uitgekom nie. Daai peri-peri-prawns is darem great, nè, het jy daarvan gehad? Ek’s nou weggebêre.”

“Luister, pellie, jy dink tog seker nie ek gaan jou laat waai sonder ’n tequila nie, nè?” sê Riaan waarskuwend. “Moffie!!” skree hy as Michael sug en probeer om ’n hand omhoog te hou om stop te beduie. Riaan kry die kelnerin wat die tafel agter hulle bedien, om haar lyf beet. “Bokkie, bring daar vir die grootmenere twee tequilas, ’seblief man.”

“Heeeeeeeeeeee!!,” gil Riaan as hy die tequila wegslaan. Hy trek sy gesig as hy die suurlemoen tussen sy voortande en sy lippe indruk. “Go big or go home! Yes, yes, yessss!!!” roep hy en slaan hard op die tafel, voor hy die rekening laat kom.

Hier moet êrens fout wees, dink hy as hy die syfers onderaan sien. Hy probeer ongemerk die items nagaan terwyl hy bietjie tyd probeer wen deur te maak of hy sukkel om sy kredietkaart uit sy beursie te wikkel. ’n Duisend rand vir hulle twee se ete? Kan tog nie wees nie. Halfpad in die kolommetjie sien hy die sondebok: Drie honderd rand vir ’n bottel sjampanje, die Moet wat halfgedrink staan tussen die karkasse van vuil borde, vol asbakkies en leë glase wat die kelnerin nou eers begin afdek. Sy kon seker nie byhou nie.

Ag, fok dit, dink Riaan as hy die blou lêertjie toeklap oor sy goue Mastercard, die lewe is te kort. “A bottle of champagne: R300. A few bottles of estate wine: R70 each. Two seafood platters: R175. An afternoon in the sun, eating and drinking in the most beautiful city in the world as if you haven’t got a care in the world, even if it’s only with a fat bald friend and not a beautiful chick: Priceless.”

Op pad af by die trappe knipoog Riaan vir die kelnerin, maar sy sien hom nie raak nie, is al weer besig om met ’n sakrekenaar ’n ander tafel se rekening uit te werk.

“Jissis, maar ek’s fokken dronk,” laat vaar Riaan se kliënt ook uiteindelik decorum.

“Hoop maar nie daar’s ’n padblokkade op pad uit nie,” mompel Riaan effe bekommerd. “As die cops my nou stop, vry ek vanaand in Caledonplein met ’n gangster!”

Michael lag hard. “Nice doing business with you,” grinnik Michael as hulle groet.

Jissis, ’n duisend rand tussen hulle twee — wat ’n middag, dink Riaan. Ag, wel, hy sal iets wangle met Jan Taks. Bowendien, as daar iets is wat hy verdien, is dit ’n bietjie plesier vir ’n verandering. Die Here weet, dit was ’n harde jaar. En iemand moet tog vir die gelag betaal. Alles kom met ’n prys.

Daar sal sekerlik nie pos wees nie; hy gaan nie eers die moeite doen om te kyk nie, besluit Riaan, en hou reguit verby die rytjie posbussies aan die onderkant van die trappe na sy woonstel toe. Op pad huis toe die kantoor gebel en gesê hy kom nie weer terug nie; Lizette kan maar toesluit en huis toe gaan. Arme dingetjie werk ook maar hard; hy moes haar eintlik maar afgegee het hier oor die groot dae.

As hy begin trappe klim, moet hy die reling vasgryp. Juuiitt! Hoe verloor hy dan nou so skielik balans! Hou bene, hou! Was ’n groot middag gewees. Hee-ha, ook maar goed Krismis kom met een keer per jaar.

Hy gooi sy klere in die hoek van die kamer neer en val op die bed neer, net in sy onderbroek. Bliksem, maar dis warm. Lekker koel so kaalgat. As Marina nog hier was, sou sy gemoan het dat hy nie sy klere in die wasgoedmandjie sit nie. Daar is dus tog ook voordele aan alleen bly.

Hy sluimer in, maar die slaap stoei met hom. Hy rol rond, val in ’n stadium amper van die bed af. Hy droom verskriklik. Daar is ’n rivier, dis sterk, in vloed, die water is bruin van die modder, dit bruis, branders wat skuim uitstoot teen die oewers, maalkolke, boomstompe spoel in die rondte, takke soos arms wat ’n oomblik of twee waansinnig waai, dan weer ingesuig word, ondertoe, uit sig uit. Hy kan nie sien waarheen die rivier gaan nie; dis slegs die deel reg voor hom wat in fokus is. Hy sien hoe kom daar ’n fiets verby, ’n sinkplaat, ’n emmer. Hy maak sy oë toe, hy wil nie sien nie, dit voel of die water hom wil intrek, asof hy balans verloor. Hy begin gly, kyk af na sy voete en sien hy staan op glibberige modder. Af en af gly hy, nader na die water toe. Dan sien hy ’n entjie van hom af ’n boom staan; hy steek sy hande uit en gryp na die stam. Die bas is grof onder sy vingers, hy klou op lewe en dood. Verskrik staar hy na die water, nou skaars ’n meter van hom af. Dit was so amper  ... hoe gaan hy hier uitkom? Wie gaan hom help? Dan sien hy dit in die water. Hy draai sy kop soontoe asof hy vooraf geweet het dit kom, asof hy dit al voorheen gesien het en vergeet het: die kop van ’n seuntjie wat dobber op die water, sy oë half oop, die nek willoos agteroor geknak, asof hy ontspanne in ’n swembad dryf. Daar dryf ’n koeldrankblikkie langs hom in die water, dit hop op en af langs sy kop. Die seuntjie sluk water, hy hoes nie meer nie, snak nie meer na sy asem nie, dis net ’n kwessie van sekondes of hy gaan oorgee. Net voor hy ondergaan, kyk hy Riaan stip in die oë. Op die stukkie hemp wat vir oulaas bo die water uitsteek, staan Sunshine Maize Meal geskryf.

Riaan skrik wakker. Jissus, maar hy voel kak. Hy strompel toilet toe en kan nie besluit of hy eers sy nood moet verlig of hom aan die naarheid moet oorgee nie. Hy leun met sy kop teen die muur terwyl hy pis. Oeeefffff ... Hy gaan ’n helse babelas hê môre. Moes Essentiale gedrink het — waarom verseg hy om te besef dat hy nie meer vyf en twintig is nie? Ag, donner, dat hy nie meer vyf en dertig is nie? En wanneer gaan hy tog leer om nie sulke ryk kos te eet nie? Die slegte spysvertering het hom onrustig laat slaap.

Hy het erg gedroom, onthou Riaan, maar waarvan nou weer? Hy is papnat gesweet. Het hy nie in ’n stadium amper van die bed af geval nie? Moes ’n woeste droom gewees het wat hom so laat spook het, maar hy kan nou om die dood nie onthou waarvan dit was nie. Hy het aan iets vasgehou, hy was bang ... O ja, wag, dit was iets van ’n rivier, ’n vloed. Dis reg, nou kom dit terug — hy het gedog hy gaan in die rivier val en verdrink. En ’n seuntjie wat verbygedryf gekom het. Brrr, grillerig, waar het dít nou weer vandaan gekom? Hoekom het die seuntjie so half bekend gelyk?

Hy gaan lê weer. Sy horlosie sê dis halftwaalf. Maar weer probeer slaap, dink hy. Gelukkig kan hy môre laat slaap — hy het niks op die program nie. Die gholf is afgestel — Smittie het siek geraak. Die aand moet hy na ’n partytjie, Erna het hom genooi — gesê daar gaan van haar enkellopende vriendinne wees. Tyd vir hom om weer bietjie aksie te kry. Maar fok, soos hy nou voel  ... Nou eers rus  ... Hy maak sy oë toe. Ummfff, maar hy voel soos die hond se hol

 ... Hulle lyk verbasend kalm, asof hulle net ’n roetine-transaksie kom doen. Die een tree vorentoe en gryp hom van agter, sy arm druk hard op sy gorrel, hy sukkel om asem te kry. Die ander een trek sy arm terug, slaan hom hard in sy maag. Hy kots byna onmiddellik; hy kan die halfverteerde stukkies kos op die grond sien spat: pizza van die aandete voor die televisie, ’n pikswart olyf op die beige mat, iets geels, seker ’n stuk kaas, klonterige rooi tamatie. Riaan staar daarna, asof daar een of ander geheim in verborge lê. Snaaks hoe ’n mens vasgevang raak in details as jy in die middel van ’n krisis is: die helderheid van jou bloed as jy jou vinger raaksny, die fyn spinnerakpatrone van die gebarste voorruit as jy ’n motorongeluk maak, die snaakse manier waarop jou vrou se linkermondhoek trek as sy jou vertel dat sy jou nou finaal verlaat. Dit moet een of ander restant van ’n biologiese oorlewingsmeganisme wees, om so intens bewus te wees van jou onmiddellike omgewing. Nie dat dit hom help nie; die een agter hom ruk sy kop hard agteroor, sy makker tref Riaan hierdie keer met die vuis teen die oor.

Terwyl hy op die grond lê, krap hulle in sy kaste, gooi sy klere uit, haal sy selfoon en beursie uit die boonste laai. Hy probeer regop kom, maar kry ’n hakskeen teen die kop. As hy bykom, sien hy hoe hulle armsvol van sy CD’s in sy gimsak gooi. Hy verstaan nie wat hulle vir mekaar sê nie. Maar hy weet goed wat hulle bedoel — die lang een span sy pistool en druk dit in Riaan se gesig. Hy voel sy wang skeeftrek soos die loop in sy vel inboor. Stadig loop die warm straal angspis langs sy bene af.

Hy skrik wakker, sy asem jaag, sy mond is kurkdroog, hy wil sluk maar sy tong sit aan sy verhemelte vas. Bliksem, al weer daardie nagmerrie. Elke keer presies dieselfde, maar elke keer raak hy nog steeds totaal en al uitgefreak daardeur. Ongelooflik, dis elke keer presies dieselfde, asof dit reeds gebeur het. Hy gaan nie nou weer probeer slaap nie, besluit hy. Hy is wawydwakker geskrik, en selfs al sal hy dit regkry om aan die slaap te raak, sal hy tog net weer rondrol en nagmerries kry.

Riaan strompel eers badkamer, dan kombuis toe. Hy is nie meer so naar soos voorheen nie, maar hy het nog die hoofpyn en is verskriklik dors. Dalk is dit waar die rivierdroom vandaan gekom het, oorweeg hy vir ’n oomblik as hy sy kop agteroor kantel en die tweeliter-Cokebottel omdop om die hoofpynpille af te sluk. Die water waarna hy smag, die rivier, dalk is daar iewers ’n konneksie. Whatever. Who cares.

In die sitkamer skakel hy die televisie aan. Hy hop tussen die kanale rond, maar kry nie juis iets wat hom interesseer nie. Hy los die televisie maar op CNN, sit die klank af en kyk net na die bewegende beelde. ’n Rukkie sit hy so, drink Coke, kyk na die stemlose gesigte, wag vir sy hoofpyn om weg te gaan. Dan, skielik, voel hy ’n holte sink in sy maag, en skuif hy die afstandbeheerder nader om die klank aan te skakel. Vanaf die CNN-sentrum in Atlanta word daar oorgeskakel na ’n kaart van Afrika, met ’n rooi vierkantjie in die suide. Die volgende oomblik is daar beeldmateriaal. Die kamera wys eers ’n nabyskoot van bruin kolkende water, dan trek dit terug om te vee oor die landskap: donkergroen plantegroei op die walle, pikswart donderwolke bo ’n vallei met plakkershutte op die heuwels. Dan is die fokus skielik weer op die water: mense se besittings vloei verby terwyl die omroeper se stem in ’n dik Amerikaanse aksent vertel van die rivier in KwaZulu-Natal wat in vloed is, die ergste in ’n honderd jaar. Hy vertel van honderde mense wat dakloos gelaat is, van ’n sterftetal van in die sewentig binne twaalf uur, van noodvoertuie wat sukkel om by die rampgebied uit te kom omdat die paaie daarheen verspoel het en die vragmotors vasval in die modder.

Maar Riaan het ophou luister, die bloed ruis in sy ore sodat hy niks anders kan hoor behalwe die klank van sy eie vrees nie. Want tussen die drywende, onderstebo boomstompe, die stukke van plakkershutte, die skuim van die watermassa, sien hy die kop van ’n seuntjie dryf. Riaan herken dadelik sy gesig, want hy is skielik wawyd wakker, maar die skrikwekkende eienaardigheid van wat hy besig is om gade te slaan, tref hom eers oomblikke voor die seuntjie onder die water verdwyn. Onbenullig, dalk selfs bitter ironies, maar vir Riaan kon die woorde op die T-hemp wat vasklou aan die seuntjie se maer bors net sowel oor ’n megafoon in sy oor uitgetrompetter gewees het: Sunshine Maize Meal.

Een plus een is twee, besef Riaan, en hy is effens verbaas oor hy so kalm is oor die hele affêre. Dat hy dit met sy rasionele denke aanvaar, dat hy nie soos gewoonlik met ander onaangename gedagtes die besef uit sy brein probeer blok nie. As x gelyk is aan x, dan is y ook gelyk aan y. Of so iets, sy wiskunde was nog altyd vrot. Maar hy het nie wiskunde nodig om die sommetjie te maak nie: as een droom kan waar word, kan altwee. Sal altwee. Hy staan op, loop versigtig in die gang af kombuis toe. Het altwee dalk reeds begin waar word. Dan beter hy nou versigtig wees, sy laaste paar minute soveel moontlik rek.

Hy maak die balkon met die bottel single malt en die sigaar sonder dat hy enigiets buitengewoon opmerk. Dalk, begin die hoop tog binnekruip, dalk eindig dit anders. Sy droom het nog altyd net geëindig met die loop teen sy wang, die warm straal langs sy been af, dan het hy wakker geskrik. Wie weet hoe gaan dit verder? Enigiets kan gebeur. Hy kry die inbreker dalk afgeskud, die bure hoor dalk iets.

Riaan lig die glas Glenmorangie teen die maanlig, kyk na die olierige trane teen die glas se rand. Die bottel het sy broer vir hom gebring uit Skotland. Nog nooit voorheen kans gesien om dit oop te maak nie. Gehou vir ’n spesiale aand. Hy vat ’n sluk, trek dan aan die Romeo Y Julieta. Sy sigare koop hy nêrens anders as by die winkel in die Waterfront nie, die een bo langs die Table Bay Hotel. ’n Man moet jouself kan bederf, die lewe in Afrika is nie vir sissies nie. George-met-die-strikdas ken hom al, hou altyd ’n persoonlike seleksie vir hom gereed. Hoe lank sal hy wag voor hy die laaitjie se inhoud weer terugpak in die groot humidor by die ander bokse? Sal hy eers probeer bel om uit te vind waar die heer Terblanche dan bly?

Riaan se neusgate brand effens as hy die rook laat uitsak. Selfs deur die dampe kan hy die seelug ruik, daar is ’n misbank wat opstoot van onder in die baai. Die mishoring kla steen en been. Heerlik hier buite hierdie tyd van die nag, dink Riaan, hoekom het ek dit nie meer dikwels gedoen nie? Kyk net die sterre. Ruik net hierdie lug. Die beste dinge in die lewe, dink hy terwyl hy ’n mondjievol whisky in sy mondholte laat lê tot sy verhemelte verdoof raak, die beste dinge ... Hy sluk die whisky af as dit louwarm raak. Hy sit die glas neer, strek sy arms uit. Hy haal diep asem en dit voel vir hom asof hy die hele stad, die swart see, die hurkende skadu van Leeukop, alles in sy longe intrek. As hy sy arms laat sak, is hulle ligter, asof hy iets swaars neergesit het. Hy glimlag effens. En wag om die glas êrens agter hom in die huis te hoor breek.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.