NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Yolanda Holden
Ek is Sy! Ek dink Sy’s interessant — sy vermaak my daagliks. Sy’s gek oor skryf, en het haar honneursgraad in Kommunikasiekunde aan die Universiteit van Potchefstroom voltooi. Sy leef en werk in Pretoria. As Fire Griffin skryf sy poësie. Haar digwerk is plaaslik sowel as internasionaal gepubliseer.
  naam

Slim vang sy baas

Yolanda Holden


Slim was hy nie, maar wel die eienaar van die reusevisfabriek op Gansbaai. Dié het hy wat Klaas is, twee jaar gelede van sy oorle pa, Piet Poggenpoel, geërf.

Kortbeentjietyd het die mense van die Baai al agteraf gegons oor die snobistiese Spoggenpoelfamilie, maar deur die geslagte heen het hulle daarin geslaag om die golwe skindertonge te trotseer en die neus in die lug te hou.

Die Poggenpoels is wenners! Klaas onthou die dag waarop hy die eerste plek in die Cape Argus met sy gespierde, songebrande bene losgetrap het. Die wulpse cherrie met die oorywerige glimlag en borsmaat het die wentrui in true Tour de France-styl, as deel van Santam se geelsambreel-advertensieveldtog, aan hom oorhandig. Sy borskas was so breed soos sy glimlag toe hy die trui op die podium oor sy geswolle kop trek.

Hy het die volgende dag vir hom ’n songeel baadjie by Hilton Wiener gekoop wat hy op koue, nat wintersdae oor die trui dra: ”Te spiekeries!”

Wanneer hy op so ’n dynserige dag by die fabrieksdeure inskyn, weet almal wie’s baas en daar word gekekkel en gekloek soos ’n hoenderplaas, prys Jakkals sy eie stert!

Maar ná die stertswaai en lawaai het hy, as ’n halwe begryper, ’n goeie klompie woorde nodig om te besef waaroor die gebrom gaan. Klaas weet steeds nie dat die werkers hom spot omdat hy, soos in die speletjie, sonder die blinddoek en dronkdraai, steeds nie die donkie se kwassie op die regte deel van die prentjie sal kan vaspen nie! All brawn and no brain!

-oo0oo-

Donkies is dom, maar Katryntjie Appels is ’n slim merrie! Sy’s ’n kletsgat met die astrantste lagplooitjies en soetste suikerbekkie in die distrik.

Met haar lyf en gesiggie is dit geensins nodig om vir komplimente te vis nie, want dié agtervolg vir Snip soos ’n haaivin ’n baaier in die see.

Van beklek en stertswaai kan sy jou baie wys. Haar stokperdjies sluit babbel, soen en suig oor die draad of hekkie in. Sy het nog nie naaiwerk bemeester nie en haar ma het haar gewaarsku om weg te bly van wellustige vissers en donker straathoeke.

Katryntjie en Klaas is verloof en hulle het al ’n paar prettige snoepreise agter die fabriekspakhuis en in die maatskappymotor onderneem om aan mekaar se lekkergoed te peusel. Maar dis soos ’n trailer van ’n movie of soos die fancy mense in Kaapstad sê: ”’n voorskou van wat nog gaan wees ...” Hy moet eers voor die kansel betaal voordat hy die res te siene kry!

Katryn is ge-train in die kombuis, maar sy is steeds ’n liberated woman. Sy bak lekker brood en maak ’n kerrievis wat elke kêrel snaarstyf sal stem, ”want die pad na ’n man se hart loop deur sy maag,” giggel sy.

Daarbenewens het sy vir haar ’n stasiewa gekoop vir kruidenierskopiedae en om haar kroos eendag by die skool af en op te laai. Sy is Assistant Factory Manager.

-oo0oo-

Jantjie kom vakansies huis toe om ekstra geldjies bymekaar te skraap vir sy studie. Hy swot Marienebiologie aan die Universiteit van Stellenbosch en weier dat die familie vir sy studie betaal.

Die dorpstannies praat graag van die slim seun met die goeie maniere. Jan is lank en asketies; sy dunraambril laat hom soos ’n UCT- professor lyk.

Hiérdie jaar het sy oom Piet vir hom ’n werk by meneer Poggenpoel se fabriek, Fishworx, georganiseer. Jan se pa, Koos Abrahams, het so diep in die wiskeybottel gekyk dat hy deur die seerowers van Three Ships na ’n sirrose-eiland weggevoer is.

Hy gaan nié soos sy pa uitdraai nie! Jan maak ’n plan om eendag suksesvol te wees en sommer baie geld te maak.

Klaas dink dat dié parmantige snotkop te groot vir sy skoene is, maar Piet is vir dekades al ’n goeie familievriend en bestuurder by een van Stellenbosch se vooraanstaande wynplase. Hy wil nie sy contacts verloor nie.

-oo0oo-

Dit is dan ook nie lank voordat Katryn in haar bestuurshoedanigheid die jong student onder haar intensiewe sorg neem nie: ”Hoe anders gaan hy leer?”

Klaas lig ’n wenkbrou toe die vermeerdering van die kerrievis en tuisgebakte brood ’n gereelde verskynsel word, maar toe die reuk van vars koffie en doughnuts daagliks in die lug hang, kry hy snuf in die neus. Hy stoom by die trappe af: ”Hierdie is nie ’n kêffie of ’n restaurant nie! Hier moet minder geëet en meer gewerk word!”

Gladbek Katryn is, soos altyd, gereed met ’n antwoord: ”Dis onse democratic right om te lunch! Kyk hoe maer en uitgeteer is die arme kind!” beduie sy in Jan se rigting. Moenie soos Farao jou hart verhard nie, laat die slawe eet!” grynslag sy.

”Die Israeliete het nie geëet nie, hulle het woestyn toe getrek. Dis presies wat julle twee sal doen as julle nie wil werk nie!”

Sy wil-wil die vergelyking verder vat deur te antwoord dat die Israeliete eers geëet en daarna getrek het, maar sluk die woorde saam met ’n stuk snoek af.

-oo0oo-

Elke dag daarna word die baas deur die duiwel aangejaag en sy humeur waansin tussen ongehoorde obsessie en ongetemde jaloesie. Maar selfs nadat Katryn haar strategie van onderrokloosheid en knipoogkuns in sy rigting aangewend het, het sy satansgesig koorsrooi gebly. Katryn besluit toe om in ’n barmhartiger man se skuit te klim ...

Ná elke bemarkingsles het sy en Janneman seelangs geloop waar hy haar geleer het van die balans tussen die ekologie en die mens totdat die onskuldige student een namiddig die wanbalans tussen biologie en seesand in sy onderklere gevoel het. Kersfees het dié jaar te vroeg gekom toe hy soos ’n rooi plastiekvissie uit ’n klapper pop en in haar handpalm spartel soos ’n vis wat na water snak: ’n gewillige prooi! Die een of ander skinderbek het hullle op die sandduine gewaar ...

Ná die verdraaide riemtelegram het daar onweer in Klaas se kop opgesteek en het hy verwoede stertjies aan donkiestories begin vassteek.

Waarom die storie met die lang vingers eerste in Klaas se kop vasgewoel het, sal seker iets met die skinderstorie te make hê, maar in ’n wanhopige poging om sy gekrenkte eer te herstel, moes dit eerste verkondig word. ”Jan het sy vingers in die kleinkas gehad!” Niemand het hom geglo nie.

Bedwelm deur Katryn se hande op Jan se been, het Klaas nou probeer veldbrande versprei oor Jan se drankasem en onsamehangende gesleeptong toe hy betaaldag by die fabriek wegslinger. Klaas se kampvuurtjie is gou geblus.

Katryn se eer sou volgende in gedrang kom, maar maande spoed verby en haar magie bly so plat soos Klaas se kop wat nog platter geslaan is deur ’n ontstoke moeder se buierige sambreel.

Gelukkig het die mense van die Baai hulle min gesteur aan die maniese monster wat die afgelope maande uit ’n moeras van desperasie gebore is. Geld kan amper alles koop, maar nie styl en waardigheid nie.

’n Atmosfeer van afwagting het oor die nuwe paartjie gehang en tannie Bessie was opgewonde oor haar dogter se planne om volgende jaar Skakelwese te gaan studeer.

-oo0oo-

Toe gebeur die rampspoedige dag op die boot ná ’n paar biere in Klaas se kloue. Soos in die movies, móés die twee mans weer oor die meisie baklei. Klaas bly pleit dat hy nie die verdwaalde witdoodshaai in die donker dieptes gewaar het toe Jan in die water duiwel nie. Die see het rooi geword.

Katryntjie sou dekades bly wag vir Jantjie wat nooit weer huis toe sou kom nie, terwyl tannie Sonja hartverskeurend oor FM blêr. Sy wieg op en af in haar stoel voor die venster terwyl haar visoë oor die horison tuur.

Klaas het bietjie respek teruggewen toe hy met die versteurde vrou, wat spoke liefhet, trou en die skoonma uitstaan wat bitterbessiebabbel en hom nooit laat vergeet nie ...

Hy kyk na die koggelende seemeeue wat oor sy kop draai en besef liefde is vir die voëls; groot gif in geel botteltjies.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.