NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hanru Niemand
(oorspronklik van die Paarl) is tans ’n tweedejaar-Sielkundestudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy hou egter vol dat enige ooreenkomste tussen laasgenoemde universiteit en “StudenteDorp” bloot toevallig is. “Die Verhale van Jacobus Grimm” is sy eerste gepubliseerde werk.
  Hanru Niemand

Jacobus Grimm byt vas in StudenteDorp

Hanru Niemand



Deel I: In die huis van die Du Toits

II: Bogrondse bewegings

Daar is iets wat hom pla omtrent die insident by die huis van die Du Toits ’n paar weke vroeër, dink Agent Tino Jonker terwyl hy cruise in sy Ford wat hy so ’n paar duim laat sak het. Toe hy daar opdaag was hy bly om die motorfietse daar te sien: dit het gelyk asof dit ’n paartie met lewe kon wees. Dis nou een goeie ding omtrent Agent wees, en dit is dat jy in gewone klere kan diens doen. Jy kan met gemak jou hemp ’n paar knope oopknoop (iets wat nie in die BeskermingDiens Regulasies vir Manskappe toegelaat word nie) en jou hare lank in jou nek laat groei (ook nie toelaatbaar vir Manskappe nie). Jy kan in jou kar rond cruise, met die speakers wat die beat gooi.

Dit is lekker om te kan deel bly van die lewe waarvoor hy so lief geword het toe hy nog ’n suksesvolle DJ was, in jare wat al hoe spoediger lank lank gelede word. Met heimwee dink hy terug aan die dae toe hy bekend gestaan het, eers as DJ Tino (wat nie so goed gewerk het nie, omdat mense dit Tienóé uitgespreek het: dis Tienóú, dêmmit!), en toe as DJ TJ, wat baie goed gewerk het. Dit het maklik op die tong geval, en dit het (was sy hipotese) die verdere voordeel dat dit selfs die punk-luisteraars kon aantrek. Al hulle bands het destyds vier letters vir ’n naam gehad. Wat hy nie destyds in berekening gebring het nie, besef hy nou, is dat daar ten minste een “X” tussen die vier moet wees.

Sy onvermoë om na die punk-mark deur te breek het by hom ’n felle besinning oor die sin van die lewe ontlok. Dit is hierdie besinning wat hom uiteindelik by die konsepte van plig, orde en eendrag uitgebring het, wat hom genoop het om by die BeskermingDiens aan te sluit. Nou word hy beloon in sy werk deurdat hy min of meer dieselfde lewe soos altyd kon hê, soos nou die aand by die Du Toits.

Maar nog ’n positiewe ding omtrent Agent wees, is dat dit jou die geleentheid gun om te dink. En dit behels volgens Agent Tino Jonker ook die geleentheid om onreëlmatighede en vreemdhede uit te pluis. En laasgenoemde was daar beslis nou die aand by die Du Toits. Die paartie het al einde se kant toe gestaan, toe die BeskermingDiens opgedaag het met ’n dosyn manskappe, wat vir hom na te min gelyk het vir optrede teen die openbare onsedelikheid, bendegevegte, en brandstigting wat die paartie begin kenmerk het. Dit het hom laat vermoed dat hulle inderdaad op ’n blues-sending was, ’n vermoede wat bevestig is toe die manskappe met ’n kitaar en ’n paar geboeide paartie-gangers uitgekom het. Het hy hom verbeel, of was een van hulle Perry du Toit, en ’n ander een Jacobus Grimm? Dié sou ’n grootse vonds vir die BeskermingDiens gewees het, maar toe laat die manskappe almal skielik los, en verdwyn vinniger met die gepantserde voertuig as wat hy gedink het moontlik is, skreeuende tyres, die works. Ja, dis definitief vreemd. Baie spyt dat hy nie sy BeskermingDiens Spesiale Uitgawe Polshorlosiekamera gedra het nie. Aan die ander kant, hoe moes hy ook nou weet, mens moet darem ’n bietjie ontspan ook. Maar hy’s nogtans spyt, want toe hy vir Manskap Viljee uitvra oor wat dan nou die aand by die Du Toits gebeur het, het hy gesê: “Niks nie, Agent Jonker, vals alarm.”

Hy’s ’n skerp knaap, Viljee. Hy gaan nog ver kom, as sy eie slimstories hom nie laat vasdraai nie. En as hy nie ’n inkriminerende aandeel het in die bogrondse blues-beweging wat Agent Tino Jonker oortuig is aan ‘t broei is nie, aan ‘t broei iewers in die omtrek van Perry du Toit en Jacobus Grimm.

Albert du Preez is al hoe meer oortuig dat die BeskermingDiens ’n euwel is. Van daardie dag toe hulle hom vir hoegenaamd geen rede nie opgesluit het, was hy immers bewus van hul inkompetensie. En nou word die een na die ander van sy proefskrifte afgekeur. Dit is inderdaad nie ’n instansie van toeval nie. Kritiek teen die BeskermingDiens is immers telkens ’n leitmotief, ’n immerwederkerende eggo wat hy bedoel as ’n wekroep onder sy mede-akademici en intellektuele, om hulle op te roep tot aktivisme, om die BeskermingDiens, synde die euwel wat dit tog duidelik is (soos uiteengesit in haas elkeen van sy skrifte), mitsdien te laat sneuwel.

Maar helaas geniet hy geen steun onder sy kollegas nie. Die enigste een wat ’n simpatieke oor het, is sy navorsingsassistent, Joan. Hulle verskil wel oor Marxisme, en haar klem op feminisme is vir hom een te veel: hoewel hy met sommige van die dieperliggende beginsels saamstem, is dit nie nou die tyd vir sulke wysgerige murmereringe nie. Dit is tyd om die ideologie van die BeskermingDiens tot ’n val te bring! Maar sy troos hom in tye van wanhoop, en haar hande is balsem vir sy geïgnoreerde wekroep (wat om hierdie rede gesterf het in die Nyldelta van die akademiese kanon).

Hierdie dinge dink Albert du Preez, en skink sy soveelste koppie koffie in sy nag van akademiese passie.

Onbewus van die broeiende bogrondse blues-beweging drink Jacobus Grimm vir die eerste keer in ’n lang tyd ’n koppie koffie in die StudenteSentrum, buite die gesigsveld van die mense wat rugby kyk op die big-screen. Hy dink na oor die aand by Perry du Toit, en die twee naamlose blues-musikante (hy’t in sy vervoering nooit hul naam gevra nie). En in ’n vreemde sin is hy bekommerd oor hulle almal: Perry, sy drie susters (van wie hy net Jeanne en Lenie se name opgetel het), en die twee blues-musikante. Wat sal van almal word? Hoe hou die arme ryk doos dit uit, as hy sulke party’s vir geselskap moet nooi? Jacobus het lanklaas soveel tappets bymekaargesien. En wat maak die blues-musikante met hulself? Jy’s ook maar ’n dom doos, Jacobus Grimm, dink hy, plaas jy hul naam gevra het.

Maar Jacobus Grimm se selfkastyding stuit op die onmoontlikheid van die dagdrome oor twee musikante wat saam met hom somtyds kuier in sy woonstel, whiskey of koffie drink (wat ook al hulle verkies), blues luister en Die Idool verfoei. Hy is immers ’n gemerkte man, en hy weet dit.

Uit die hoek van sy oog gewaar hy vir Ryna. As hy opkyk, kyk sy weg. Jacobus Grimm skud sy kop stadig, asof hy ou spiere wil strek ná ’n hibernasie. Hy drink sy koffie soos op die eerste dag, en probeer om nie te dink aan wat alles verander het nie.

Joan Black loop by Albert se kantoor in met ’n koppie koffie. Sy sien egter dat hy haar heel moontlik voorgespring het. Sy hand is geklem om een, en sy oë is oop. Hy is in die skemertoestand van sy bewussyn, soos hy dit graag noem.

“Up again all night, sweetness?” Sy groet hom met ’n soen op sy groot voorkop. Sy werk al twee jaar onder hom, twee jaar waarvan hulle die laaste paar maande (toe hy die politieke warmpatat in StudenteDorp begin raak het) bedmaats was. Sy is nie ’n mooi vrou nie. Dalk lelik (tog nie definitief nie), maar beslis nie mooi nie. Miskien is dit haar intellek wat hom aangetrek het, haar ondersteuning in tye van verwerping en bespotting. Nee, aan Joan Black is daar iets sterks, iets gesaghebbends. Sy ruik na mag, en mag is ’n kragtige afrodisiak. Ironies genoeg het sy eers bloed geruik toe sy Albert se assistent begin word het. Dit is sy werk wat haar bewus gemaak het van haar eie mag, as vrou en as intellektuele. En so het Albert du Preez sy eie bedmaat-Frankenstein geskep. Maar niemand kla nie.

“Totalitêre ortodoksie.” Sy is nou seker dat hy heelnag wakker was. Sy kom sit op sy skoot, om te kyk of hy dalk wakker word.

Die Sersant is agterdogtig. Agent Jonker was die laaste persoon om Agent Wessels lewend in sy hospitaalbed te sien. Uit sy verslag is dit amper voor die hand liggend dat dit hy was wat die moord gepleeg het, maar die man is skynbaar onbewus hiervan, en staan so vas by sy storie dat Die Sersant vermoed die man steek iets weg. Die man wás vroeër ’n platejoggie, wat hom dalk simpatiek jeens die blues stem. Hy is definitief in staat tot een of ander gekonkelry teen die BeskermingDiens. Hy sal hom op die Albert du Preez-dossier sit, en Agent Roux op hom.

Joan streel oor Albert se maer borskas, bly dat hy nie in die manlike stereotipe van gespierdheid belangstel nie. Hy het pas omgekap in sy bed, totaal uitgeput, nadat hy weer een van sy kollegas tot laat in die nag in probeer oorreed het dat aktivisme teen die BeskermingDiens die regte optrede is. Dan tref ’n blink idee vir Joan Black.

“Albert?”

“Mm?”

“The people. They’re the answer. You lecture to hundreds of students ...”

“For now. They might fire me if I go on like this.”

“Hundreds of students you have probably influenced already. The next step, the next necessary step is to go public with your ideas.”

“Public, with a megafone?”

“Precisely.”

Hoekom het hy nog nie daaraan gedink nie?

Hy raak nou donders moeg daarvoor om homself te herhaal, dink Agent Tino Jonker as hy vermoed dat Die Sersant hom al weer oor die Wessels-moord wil spreek. Hoe moeilik is dit nou om te snap wat gebeur het? Wessels se hartmasjien het sulke hikgeluide gemaak, en hy het dit ’n bietjie ge-tune, sodat dit net een, gelyk klank maak. Smooth. En toe het hy uitgeloop, oortuig dat Wessels a.g.v. sy DJ-talente môre weer perdfris sal wees. Dis dit, dis al wat hy weet, maar Die Sersant wil hom net nie fokkenwil uitlos nie. Hy het dringender, erger dinge om aan te dink, dêmmit! Daardie aand by die Du Toits was fishy, en hy dink daar’s iets daaragter.

Jacobus Grimm kyk na die soveelste vertoning wat Die Idool op die plein uitvoer. Hy het eintlik geen ander keuse nie, hy moet oor die plein stap om basies by enige plek uit te kom. Nou moet hy luister na die soveelste permutasie van liedjietitels met die woord “Baby” een of meer keer daarin. Jacobus onthou dat hy ’n jaar terug beslis sou gekots het by aanskoue van so ’n verskynsel, en dit maak hom amper bly dat hy nou afgestomp geraak het hiervoor. Dis asof hy kies om dit nie te sien nie, of dit wel sien, maar nie as ’n werklike verskynsel, ’n verskynsel van sy wêreld nie. In die wêreld van Jacobus Grimm is dit stil. Geen meer herinneringe, rekonstruksies van Tim Banjo, Big Ben Blue of Ryna nie. Die geklets van tweedehandse staatslirieke is afwesig, en die kletter van BeskermingDiens-stewels op rooi bakstene gaan hom nie aan nie.

“Sit, Jonker. Ek het ’n opdrag vir jou.” Die Sersant oorhandig ’n lêer met Albert se foto voorop. “Hy’s besig om al hoe kritieser te raak, en al hoe meer oproerig. Ek voorsien dat hy binnekort vir ons probleme kan begin veroorsaak. Kyk wat jy kan uitvind oor hom, hopelik iets krimineels. Hoe dit ook al sy, ek wil alles omtrent hom weet, sy bewegings en gewoontes in detail. Enige vrae?”

“Nee, dis duidelik, dankie.” Agent Jonker loop ’n bietjie bemoerd by die kantoor uit. Net wanneer hy ’n bietjie tyd het om iets wat hom bug te ondersoek, iets selfstandigs, uit eie insiatief (mens moet ook darem dink aan die posisie van Senior Agent), nou kom Die Sersant met ’n fokken roetine job wat enige poephol kon doen.

In sy bemoerdheid loop hy amper vir Agent Roux uit die poel. Sy sê net niks, en hou verby.

In die Rekordafdeling van die BeskermingDiens werk Agent Tino Jonker stelselmatig deur die tonne lêers, totdat hy op ’n lêer afkom wat onder meer die gesigte van twee onbekende mans wat hy daardie aand geboei gesien het. Maar hulle’s dan veronderstel om nog in aanhouding te wees. Wat de hel soek hulle buite? Hy loop na Byleveld, die klerk aan diens (en jonger broer van Byleveld wat Die Sersant se assistent is). “Het jy dalk die ontslagrekords van dié twee ouens?”

“Ek kyk gou, Agent,” sê hy en skuifel weg, om ’n halfuur later terug te keer. Agent Jonker kyk dit vinnig deur. Ontslaan deur Agent Roux? Wat de hel! Op watter gronde. Dis donderse blues-misdadigers! Hier’s iets donders fishy aan die gang, hy weet dit.

“Wat het Agent Jonker gesoek?” vra Agent Roux vriendelik.

“Sommer ’n paar lêers,” sê Byleveld, ooglopend gespanne.

“Het hy jou gevra om dit te sê?”

Byleveld frons ’n oomblik, besluit dan dat Agent Jonker net beveel het dat hy sê “Sommer ’n paar lêers” as Agent Roux sou vra wat hy hier gemaak het, en dat laasgenoemde bevel geensins betrekking het op haar laaste vraag nie. “Ja,” sê hy.

“Wys my die lêers.” Dis ’n bevel, en as hy vir ’n oomblik gehuiwer het, was dit net om te besef dat hy nie met Agent Roux wil mors nie. ’n Halfuur later is hy terug met die lêers wat Agent Jonker hom laat haal het. As Agent Roux sien wie se leêrs dit is, skrik sy. Hoe’t hy Jacobus met haar verbind? En wat is die storie met die ander ouens? Sy’t hulle wel laat vry kom, maar dis al. Tog, besef sy, is almal wederregtelik op vrye voet, en haar handtekening staan onderaan. Jonker is slimmer, en gevaarliker, as wat sy gedink het. Sy glimlag wrang.

Albert het pas sy ontleding van die donker politieke situasie aan sy klas uiteengesit, uitmergelend lank, sodat die studente al begin het om ergerlik te brom. Maar anders as gewoonlik is die lengte vandag doelbewus, sodat hy kan sê: “Nou goed, dames en here, julle dwing my om my lesing kort te knip. Ons kan egter nie iewers ’n lesing afstaan nie, en ons sal maar ’n ekstra lesing moet inpas, ’n openbare lesing, in die StudenteSentrum. Sê maar vir jul makkers dat hul ook welkom is.” Maar die studente is lankal reeds uit. Agent Tino Jonker het egter met verbasing die laaste aankondiging gehoor. Sal dit vir hom so maklik wees? Wíl die vent dan gearresteer word? Hoe dit ook al sy (met aktiviste weet mens nooit nie), sy verslag sal môre op Die Sersant se lessenaar wees. Maar eers wil hy vir Bloem en Greyvenstein agtervolg. Wat is die kanse dat hy die twee ouens wat hy gister geïdentifiseer het, in ’n lesingsaal sou kry waar hy besig is om ’n roetine job te doen? Mens kan mos nie so ’n geleentheid laat verbygaan nie.

Die skerpskutter glimlag as hy by Die Sersant se deur uitstap. Die Sersant kan somtyds met die oordadigste planne opkom, dink hy en besef dat sy werk lank nie meer net langafstand-, lae profiel-opdragte behels nie. Hy moet erken, hy hou nogal daarvan om somtyds ’n bietjie nader aan sy slagoffer te kom, dit maak dinge interessanter.

Op sy lessenaar in die Skerpskutter-afdeling, waarin hy die enigste manskap is, wag vir hom ’n groot koevert met nog ’n opdrag daarbinne. Hy glimlag toe hy sien wie sy slagoffer gaan wees. Interne saak. Die bevel is nou wel nie van Die Sersant nie, maar dit maak sake net nog interessanter.

Watter dosyn manskappe sal hy vir dié taak uitkies, wonder Die Sersant, en tik nadenkend sy vlieëplak in sy leerhandskoen, soos hy geleer is in die BeskermingDiens Akademie. Dit moet ’n groep wees wat die noodsaaklike geheimhouding aan die dag moet kan lê. Anders sal Albert du Preez maklik ’n tipe martelaarsfiguur word, en die BeskermingDiens die bose mag wat sy einde beteken het. Die kritiek teen die BeskermingDiens sal sneeubal, wat moontlik die einde van orde en eendrag in StudenteDorp kan beteken. Nee, die saak moet baie stil gehou word. Wie was daardie manskappe nou weer wat die Du Toit-insident hanteer het? Hy is seker iets het wel gebeur daardie aand, daarvan getuig die hordes diefstalklagtes wat die BeskermingDiens ontvang het. Hulle het egter geswyg, en alles ontken. Nou onthou hy: dis manskap Viljee se dosyn. Ja, hulle sal werk. “Byleveld!” bulder hy, soos hy geleer is in die BeskermingDiens Akademie.

Jacobus kan sy geluk amper nie glo nie. Uit die aard van sy verhouding met die geluksgodin, is hy nie gewoond daaraan dat toeval in sy hand in speel nie. Hy brand al lank om vir Rob te vertel van die blues by die Du Toits nou die aand.

Dis nou al twee weke wat Rob nie speel nie. Hy moet ook seker moeg raak. Mens raak moeg van vasbyt, vasbyt vir wat ook al om te gebeur. En dit gebeur maklik dat mens die fyn lyn tussen vasbyt en moedelose aanvaarding oorsteek. Dit gebeur as mens aanploeter vir niks nie. Nee, hel, daar moet darem ’n tipe troos wees (al is dit nou nie hoop nie), al is dit net die vertroosting van ’n bietjie afwisseling. Wie weet, dalk kan Rob iets doen, die ouens betrek, of iets.

Nou sien hy dat Rob pas sy kar geparkeer het, en vinnig iewers heen loop. Hy skryf vinnig ’n nota: Meet me at the table left of my usual table in the SS. Wear glasses. They won’t notice, trust me. Tomorrow. 11:00. Jack. Hy wil nie hê die manne wat Rob se kar dophou moet hom sien nie. Daarom stap hy na die karoppasser, die verrigter van ’n diens wat die BeskermingDiens aan KarSorg, ’n maatskappy van Ronald du Toit, uitgekontrakteer het. Hy stap na die man, stop hom die nota in die hand saam met R5 en sê: “Druk dit oor so tien minute in daardie kar se ruitveër. En moenie vir mnr Du Toit sê van die geld nie.”

“Waar linger die donders?” Agent Tino Jonker is ’n bietjie gefrustreerd. Hy het vandag weer ’n lesing van Albert du Preez bygewoon, en weer vir Bloem en Greyvenstein opgemerk. Tot sy verligting, want hy was van voorneme om hulle te volg vandag. Laas het hulle hom ontglip in die harwar van studenteverkeer. Dus, toe Albert in die middel van die lesing sê dat sy assistent nou die klas verder in Engels gaan waarneem as niemand dit problematies (’n woord waarvoor hy skynbaar lief is) vind nie, het hy uit die klas gesluip om die twee in te wag. Nou is dit al twee minute ná almal uit is. Hy besluit om na die deur te sluip, en loer in. Voor in die klas staan hulle. Hulle gesels driftig met die Engelse assistent. Vir ’n oomblik beny hy, Agent Tino Jonker, hul jeugdige drif, hul passie. Selfs al is hulle heel waarskynlik samesweerders teen orde en eendrag. Agent Tino Jonker rol hierdie konsepte deur sy brein, en dink onwillekeurig aan die dae toe hy hulle daar op hul troon gesit het, die dae van sý jeugdige drif, die dae wat nou al hoe vinniger lank lank gelede word.

Bloem en Greyvenstein speel lustig blues in die sitkamer van hul woonstel. Word die laaities dan nie moeg nie? wonder Agent Tino Jonker. Hy sit nou al ’n paar uur vir hulle en dophou vanuit sy kar. Dis al donker. Ja, Tino, dink hy, onthou daai dae toe jy die mense vir ure aaneen kon laat dans op die beat wat jy gooi. Hel, those where the days.

Hy sit sy kar in rat. Hy het besluit dat hy maar môre met sy ondersoek sal voortgaan. Die dringendheid daarvan is nou verlore. Dit het amper ’n vreemde tipe voyeurisme geword, ’n voyeurisme wat in die laaste tyd vreemd kenmerkend van StudenteDorp geword het.

Die sterk hande om sy strot het hy nie verwag nie. As hy net kon sien wie sy aanvaller is. Maar die man is geluidloos in die donker, en boonop agter sy rug. Nou hoor hy net ’n vreemde, dowwe geklop in sy kop, amper soos die beat wat sy speakers gegooi het. What a way to go, Tino, dink hy, en sien Bloem en Greyvenstein wat kitaar speel.

Dinge is vir Rob klaarblyklik ’n bietjie uit fokus, a.g.v. die dik bril wat hy ophet, en Jacobus probeer om nie aandag te trek met die al hoe groter wordende gebare om Rob by sy tafel te kry nie. Amper het Danté weer sake kom deurmekaarkrap, maar sy skitterende wawiel het Rob rakelings gemis. Ongedeerd, dus, bereik Rob die tafel net links van waar Jacobus Grimm altyd koffie drink.

Rob knik instemmend by die aanhoor van die relaas oor vasbyt, moedelose aanvaarding, die fyn lyn daartussen, afwisseling,vernuwing, en die blues wat gespeel is by die huis van die Du Toits.

“You’re right, Jack, couldn’t be more right,” sê hy, asof Jacobus hom pas vertel het dat twee plus twee vier is, “but how? How the hell do we keep this thing alive, if we can’t somehow get the music out in the open. There’s a fucking government against us. Besides, you can’t remember these guys’ names. If they can mean something to us, how are we going to find them?”

Jacobus is stil. Hy was bang dat dit die reaksie sal wees, want hy het dieselfde vrae aan homself gevra. Maar dan gaan daar ’n lig op vir Rob, asof hy eers pas die implikasies van die bewegings van Bloem en Greyvenstein begryp.

“Hit and run! Out in the open! Guerilla tactics, I love it!”

Jacobus wil hom nog vra wat hy bedoel, toe die hele StudenteSentrum tot stilstand kom. Albert het dit reggekry om die hele StudenteSentrum se aandag op hom gefokus te kry. Jacobus spekuleer dat dit te make het met die gesag wat hy as lektor by die studente inboesem. Die feit dat hy ’n mikrofoon het, kan ook ’n faktor wees. Maar dit wat hom die meeste onderskei van Marlene, wie se standhoudende woordoortollige verset op dowe oor val, is die feit dat Albert du Preez dit op een af ander geniale manier reggekry het om die big-screen af te skakel.

Die skerpskutter grinnik as hy die kleinerige rewolwer hanteer. Dit lyk vir hom beslis soos iets wat ’n woedende gay lover as ’n moordwapen kan gebruik. Die idees waarmee Die Sersant nie vorendag kom nie. Dit is nou wel nie sy getroue geweer nie, maar hy is seker hy sal die job kan doen.

As Albert op die hoogtepunt van sy toespraak uitroep: “Fok mitsdien die BeskermingDiens!” spring die skerpskutter op uit sy stoel, skree so hard as wat hy kan: “Teef! Ek het alles gedoen vir jou!” en skiet vir Albert sekuur tussen die oë.

Manskap Viljee en sy manne, wat reggestaan het, pyl soos een man op die skerpskutter af en maak asof hulle hom tot bedaring klap. Dis ’n truuk wat hulle in die Akademie geleer is, waarin ’n klomp houe na die man gemik word, sonder dat enigeen tref. Die byklanke word verskaf deur ’n manskap wat ongesiens telkens op presies die regte oomblik sy hande klap. Intussen leun Joan Black oor Albert se lyk. Sy besin oor die toepaslikheid van oorgawe aan filmiese stereotipes, vind dat haar emosie tog oorweldigend is, en ween gevolglik bitterlik: “They won’t get away with this, Albert, I promise you. I’ll fight them, dammit! I’ll fight them.” Maar Albert hoor al lankal nie meer nie.

Terwyl Albert met sy toespraak besig is, sê Rob vir Jacobus: “Look at this guy. If we can shut the TV off, then we’ve got a gap right there.” Asof in stadige aksie sien Jacobus en Rob hoe die gespierde man orent kom en vir Albert skiet. Hulle sien hoe die man, met die groot donkerbril en nat hare, deur die dosyn manskappe gepak word, en Rob lag. “What’s so funny?” vra Jacobus geskok, gesien die feit dat Albert sopas vermoor is.

“I just got a bloody good idea, Jack, a bloody good idea.”


Deel III: Besoek aan die biblioteek

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.