NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hanru Niemand
(oorspronklik van die Paarl) is tans ’n tweedejaar-Sielkundestudent aan die Universiteit van Stellenbosch. Hy hou egter vol dat enige ooreenkomste tussen laasgenoemde universiteit en “StudenteDorp” bloot toevallig is. “Die Verhale van Jacobus Grimm” is sy eerste gepubliseerde werk.
  Hanru Niemand

Jacobus Grimm byt vas in StudenteDorp

Hanru Niemand

I: In die huis van die Du Toits

Oor die rand van sy whiskeyglas bekyk Jacobus Grimm sy gasheer vir die aand. Perry du Toit is lank en lenig, en sy blonde kuif rus aantreklik op sy jong ryk voorkop. Hy hou nie baie van hom nie, maar ’n man sê seker nie nee vir ’n party nie. Hy is nou al moeg van net uitkom as daar iets aangaan in Die Versteekte Kelder/The Hidden Cellar. Hel, hy moet darem dinge draagliker maak. Dit is immers al wat hy blykbaar in StudenteDorp kan regkry: om dinge draagliker te maak. So nou is hy by ’n moerse party van ’n man wat hom nie eintlik ken nie. Perry het immers besluit om sy ouers se oorsese reise te vier deur die hele dorp na hul ou herehuis te nooi. Nou staan hy in die middel van een van die groot lokale met ’n glas in die hand en een of ander duur slet aan sy sy, terwyl sy gaste luidrugtig vodka en coke (of “mieks”, soos hulle dit noem) drink. Die gebruik van die woord “mieks” laat Jacobus wonder of hy hier moet wees.

In die huis van die Du Toits is daar baie Afrikaners. Marlene het dus ’n field day. As mens fyn luister bo die harde musiek kan jy hoor waar sy besig is om te tier oor die Afrikaner, sport, die taal, die jeug se breindoodheid, ens.,ens., bla-bla-bla. As die bekende rympie “Shut up! Shut up!” (en somtyds, weens ’n Freudian slip, reken Jacobus, “Gee my my muffin!”) te maklik hoorbaar word, is dit ’n teken om jouself uit die voete te maak. Blykbaar het een of ander Afrikaner onder die invloed op Marlene se Freudian slip gereageer. Sy het onder die invloed hom nie in die gesig geknie nie, en gevolglik het hulle onder die invloed in een van die duisende kamers in die huis van die Du Toits verdwyn. Almal is dit eens dat die man baie dronk moet wees, maar slaak darem ’n dankbare sug van verligting.

In een van die gange loop Jacobus hom vas in Perry wat ’n ander duur slet teen die muur vasdruk en soen. Hy mompel “sorry” en skuur verby. Teen die muur sien hy ’n foto van die Du Toit-gesin. Mnr Ronald du Toit, mev Adel du Toit en vier klein kindertjies: Perry, die oudste, en sy drie sussies, Lenie, Jeanne en Sandra. Op die foto lag almal. Die foto is ’n lang tyd terug geneem.

Sedert sy mal verklaar is, word Lenie in die kothuis toegesluit. Die Du Toits het gereken dat dit hulle (én Lenie, hoor) darem die verleentheid sou spaar. As mense dan na haar sou verneem, sou die familie iets sê soos: “Sy is maar so ’n eenkantkind. Sy hou daarvan so by haarself in die kothuis. En verskriklik lief vir lees, hoor. Lees die een dik boek ná die ander.” Lenie se geestesafwyking het gevolg op ’n partytjie wat Perry gehou het toe hy nog op skool was en hul ouers ook weg was. Sy vriende het die kombuis ingeneem en al die brood en tamaties geëet. Dit was Lénie se tamaties, dêmmit! Lenie is die enigste Du Toit wat van tamaties hou.

Sedert daardie dag het niemand haar ooit weer gesien nie. Somtyds dra die aandwind haar lamentasies verder as die reusagtige Du Toit-landgoed se grense. Dan hoor die mense op straat en in die naburige wonings dit en vra: wat kan dit tog wees? En dan gaan diegene wat aandete voorberei voort om o.m. tamaties op te kerf. Asof niks verkeerd is nie.

Jeanne sit op haar boyfriend se skoot. Haar een hand is in sy broek, terwyl die ander een haar glas en haar sigaret vashou (sy is in ’n stadium waar mens leer om baie vaardig met die hande te wees). Haar boyfriend vat ’n groot sluk vodka-en-coke om sy hand te verlos van die glas en fluister in Jeanne se oor. Sy los haar glas net so (as mens op skool is het mens immers nog jou prioriteite om aan te dink) en neem haar sigaret saam met haar boyfriend na haar kamer.

Jacobus skeur sy oë weg van die foto, net om op ’n hele ry af te kom. Die foto’s raak stelselmatig nuwer, en gevolglik die mense ouer. Mev du Toit het iewers langs die pad ’n nose job gehad, mnr du Toit ’n hair implant. Lenie verskyn later net op inlasse. Die familiefoto’s eindig êrens in Perry se studentejare. Iewers hoor hy blues. Te oordeel na die klank is die musiek verder af in die lang gang. Heelaand wonder hy wat hom besiel het om na iemand wat hy net van koerantfoto’s ken se party te kom. Al is dit ’n Vrydagaand en het hy niks om te doen nie, al is sy sosiale lewe baie, baie “sad”. Nou word sy avontuur beloon met die ontdekking van bogrondse blues. Dit is die eerste keer in amper ses maande, inderdaad die eerste keer nadat die BeskermingDiens dit onwettig verklaar het, en Big Ben Blue verdwyn het, dat hy weer die blues bogronds hoor. Dis nou wel nie Big Ben Blue wat speel nie, dit kan hy hoor, maar hel, dis amper soos die goeie ou dae.

Die daggawalms slaan hom as hy die kamer betree. Is dit moontlik dat Tim Banjo hier is? Nee, dis bloot wishful thinking. Die joint word gerook deur ’n meisie wat op die bed sit. In die hoek van die kamer het ’n man, wat vermoedelik klaar sy joint gerook het, ’n onopgeblaasde strandbal ontdek, terstond besluit dat dit ’n onaanvaarbare stand van sake verteenwoordig en gevolglik dit begin opblaas. Met min sukses. (Rook is ’n bliksem as dit by die longe kom.) Maar Jacobus is meer geïnteresseerd in wat twee ander mans doen. Die een sit op een van die kamer se stoele en speel die klassieke blues-akkoorde op ’n blou kitaar. Die ander een sit op die hoek van die bed en sing:

“O, come on sweet momma
won’t you stay with me
don’t you know it’s a lonely summer
won’t you hear my plea ...”

Jacobus herken dit as een van sy gunstelingliedjies. Hy trek ’n stoel nader.

Nadat hy sy glas op Danté se kop gebreek het, is Sandra se boyfriend besig om hom te skop. Danté het met dié dat hy sy syserp so driftig om sy nek gooi, die boyfriend se sigaret uit sy hand geklap. En dít is waar die moeilikheid gekom het. ’n Geval van “jy kan aan enigiets raak behalwe my sigaret” (waarby inbegrepe: “my ‘drienk,’” “my ‘chick,’” “my kar/bike,” somtyds in daardie rangorde). Sandra hou van bloed. Sy is nie soos haar vriendinne wat maak asof hulle nie opgewonde raak as hulle ouens ’n bietjie testosteroon ten toon stel nie. Sy mymer nie halfhartig haar kammakastige verontwaardiging as die mans in gevegte betrokke raak nie. Veral nie as dit oor haar gaan nie. Gevolglik is sy ook nie bang om juis sulke konflikte met oormatige wulpsheid aan te wakker nie. Sy geniet dan ook haar boyfriend se teenswoordige handeling openlik. Sy kreun en lag van plesier. Danté het uit die aard van die saak al ’n tipe toleransie teen pyn opgebou, deels omdat hy sy kop so dikwels stamp as hy sy skitterende wawiele in te klein vertrekke probeer maak, deels omdat hy konstant gemoer word. As hy uiteindelik bewusteloos is, is Sandra baie, baie opgewonde. Haar boyfriend laat nie op hom wag nie.

Die party begin ’n bietjie handuit ruk soos die vodka ’n effek begin hê. Mettertyd is al die kamers al vol, en talle paartjies moet met die enorme grasperk tevrede wees. Later die ietwat kleiner voortuin. Party mans hou hulle besig deur mekaar te moer, ander breek glase, deure, vensters. Motorfietse (daar was uit die aard van die saak baie daarvan) en karre word vermink. In die harwar word Lenie se kothuis ook die voorwerp van vandalisme. Gevolglik kry Lenie dit reg om te ontsnap. Sy hardloop rond deur die groot huis en skree: “Hulle’t my tamaties gevat! Hulle’t my tamaties gevat!”

Die ou in die hoek se bal is amper halfpad opgeblaas. Die meisie lê uitgepaas oor die koppenent van die bed. En die duo gaan steeds ononderbroke voort met die blues:

“It’s a horn of plenty,
baby, it’s the house of fun
it’s the horn of plenty, baby
why would you want to run?”

Perry is amper tevrede. Hy het sy kwota plesier vir die aand al lankal oorskry. Vroeër die aand was hy bly om die blou kitaar te sien. Hy het na die ou gegaan en hom na Jeanne se kamer geneem, dat hy daar kan speel. In die verte hoor hy nou Lenie se gekerm. Die tyd het dus aangebreek. Hy tel die telefoon op. “Ja, Langstraat 10.” Nou nog net vir Lenie in die hande kry.

“Lenie,” roep hy, “dis ek, Perry. Kom na ouboet toe.”

“Hulle’t ál my tamaties gevat,” kerm sy. Trane wat al droog geword het is nou slegs gebaande weë vir die varser sarsie.

Perry druk haar teen hom vas. Deur sy trane sê hy vir haar: “Hoekom kom jy nie saam met my na jou suster se kamer toe nie? Dalk is daar tamaties.”

Sandra-hulle kies koers na haar kamer. Toe sy die deur oopmaak is Marlene en die noodwendig dronk Afrikaner reeds besig. Marlene skree woedend: “Shut up! Shut up!” en “Gee my my muffin!” wat maak dat Sandra nie seker is of die bevel op haar gerig is nie.

Sandra self is woedend, maar wil dit nie naby Marlene waag nie, om verstaanbare redes. Daarom kies sy koers na haar suster se kamer. Wie weet, dalk is sy gelukkig.

Jeanne en haar boyfriend bars by haar kamer in. O, dit was ’n lang pad van buite af binne toe.

Die BeskermingDiens is telefonies in kennis gestel van die blues en moes daarop reageer. Toe ’n dosyn manskappe by die huis van die Du Toits aankom het hulle gesukkel om verby die kopulerende menigte, die vegtende bendes en die brandende motors te kom. Toe hulle die huis bereik, val dit die manskap in bevel by dat hy dalk die openbare onsedelikheid, bendegevegte, en brande moet aanmeld. “Aag, wel, môre is nog ’n dag. Voorwaarts, manne!” In die vaste formasie wat hul geleer is in die BeskermingDiens Akademie (die formasie is spesiaal deur Die Akademie se stratege ontwerp vir blues-sendings) marsjeer die manskappe. Die dosyn manskappe is spesiaal gekies om die blues te kon uitsnuffel, en weet dus binne ’n paar sekondes in watter rigting die oorsprong van die blues lê.

“Wat de fok soek julle in my kamer?!” Jeanne is ontsteld. Sy los haar boyfriend net daar, en hy staan onnosel en gedwee en toekyk hoe sy haar bene effens wyer as normaalweg van mekaar ferm op die grond plaas, reg om ’n tantrum te gooi, soos net Jeanne kan. Maar voor die uitbarsting kan plaasvind, bars Sandra en haar boyfriend by die deur in. “Nou júlle ook?!” Jeanne is nou baie ontsteld. “Eers ’n hele fokken orkes, ’n gerookte slet op my bed, ’n gerookte ou in die hoek, en nou my eie fokken suster in my kamer. Wat de fok gaan aan?!”

Jacobus wil eers haar aandag daarop vestig dat sy hom vergeet het, en dat hy nou net mooi genoeg daarvan in sy lewe al gehad het, maar besluit daarteen. Hy het ’n fyn gevoel dat hy omsingel is deur ’n enkele meisie. As hy ’n kans gehad het om iets te sê, is dit egter nou verby, want Sandra het nie op haar bek geval nie: “Ag, asseblief, Jeanne. Keep your pants on!”

“No pun intended,” merk die balopblaser op tot sy eie vermaak, soveel so dat hy in stuiptrekkings begin lag, en die bal in sy gesig afblaas, waarna hy natuurlik begin om bitterlik te ween. “My bal, my bal, my beautiful, beautiful bal,” ween hy. Net voor Jeanne die ou kan aanrand, kom Lenie in die kamer ingestrompel, kom op haar knieë tot stilstand en vermeld tussen snikke deur dat iemand ál haar tamaties gevat het. Perry volg kort na sy mal suster, met ’n glimlag van afwagting op sy gesig. Daar is egter nie ’n duur slet aan sy sy nie. Deur alles sing die duo voort:

“It’s a twisted horn of plenty
It’s a home you cannot leave
It’s a twisted horn of plenty
No matter what is up your sleeve ...”

“Harder! Harder!” skree Perry.

Met ’n selfvoldane glimlag maak die manskap in bevel sy verskyning en sê terwyl hy sy knuppel swaai: “En wat gaan hier aan?”

“Dis ’n kompetisie,” sê die gerookte meisie, wat pas ontwaak het. Die manskap in bevel het kennelik nie hierdie antwoord verwag nie.

“Um, in elk geval, julle daar met die blou kitaar, julle is in arres,” sê die manskap, met sy medemanskappe agter sy skouer. Uiteindelik hou die duo op speel.

Die sanger spring op en gryp Perry voor die bors. “Jou bliksem! Jy’t gesê ons moet die kitaar bring. Jy’t gesê dit sal veilig wees. Nou sien óns ons gatte!”

“In daai geval,” sê die manskap, “lei ek af dat almal teenwoordig hul vereenselwig met die blues. Julle is dus almal in arres.” Voordat enigiemand kan begin verduidelik, of verklaar dat die BeskermingDiens ’n klomp useless poepholle is, word almal geboei en in die lang gang afgelei. Perry glimlag tevrede terwyl hy die foto’s een vir een van hul hakies afstamp en kletterend teen die grond laat val.

Net voor hulle almal in die gepantserde voertuig inlaai, val dit die manskap in bevel by dat die lang blonde vent bekend lyk. Hy kan egter nie plaas waar hy hom voorheen al gesien het nie. Hy kan nie sy nuuskierigheid bedwing nie, en vra: “Ken ek jou nie van iewers af nie?”

“Ek weet nie,” antwoord hy.

“Wat’s jou naam?”

“Perry du Toit,” antwoord hy, en besef eers te laat dat hy liewers moes geswyg het.

Die ander manskappe hoor dit ook. Een tik die bevelvoerder op die skouer en sê: “As mnr Du Toit van Frankryk terugkom, en hy vind uit dat sy seun in die tronk is, is ons in jarre se kak.”

“Jy’s reg. Ek stel voor ons vergeet dat enigiets gebeur het. Het iets gebeur, Manskap Pieters?”

“Gebeur, Manskap Viljee?”

“Presies. Vals alarm.”

Voordat Perry hulle kan keer, spring hulle in die voertuig en jaag weg (soos hulle in die BeskermingDiens Akademie geleer is in die lesingreeks “Live to fight another day”).

Die sanger tref Perry met ’n stewige regter teen die ken. Perry sê: “Dit was die enigste manier hoe ek hier sou kon uitkom.”

“Ons was amper in die fokken tronk. Jammer om van jou kak te hoor.” Die duo vat die pad en Jacobus volg hulle. Die drie sussies kies koers huis toe, met Lenie wat die ander twee grensloos irriteer met haar gekerm oor haar tamaties wat blykbaar weg is. Perry is op sy knieë. Hy kyk verlangend die gepantserde voertuig agterna.



Deel II: Bogrondse bewegings
Deel III: Besoek aan die biblioteek

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.