NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hilde Nel (17 Maart 1961) behaal in 1987 haar M.A. in Antropologie aan die Universiteit van Port Elizabeth. Eers werk sy as dosent in Antropologie aan die Universiteite van Suid-Afrika en Stellenbosch en daarna vir ’n jaar as mede-redakteur by ’n uitgewer in Kaapstad. Haar eerste gepubliseerde kortverhaal verskyn in Literator, April 1995. Tans bedryf sy haar eie natuurlike gesondheidsbesigheid in Groenpunt, Kaapstad, en studeer verder deeltyds aan ’n vierjarige diploma in Naturopatie.
  Hilde Nel
Nog kortverhale deur Hilde Nel:

DIE MES

Iewers bo tap iemand badwater in. Lug kap-kap in die pype. Ek haal my hot-plate onder die bedkassie uit, gooi ’n blik baked beans in ’n kastrol.

Iemand klop.

“Loving begin nou-nou! Kom jy, Kindjie?”

Dis die nuwe vrou in die hoekkamer — sy probeer hard vriende maak. Seker eensaam na die egskeiding.

“Ek kom nou,” skree ek, nie lus om vir haar oop te maak nie. Net-nou wil sy van my baked beans hê.

Die kamers van die losieshuis loop almal op ’n lang stoep uit. Saans weerkaats die neonlig bokant die ingangsportaal vrolik op die sementvloer. Capri Lodge — Rooms to let. Daily, monthly tariffs.

Ek bly in kamer twaalf. Dis my gelukkige nommer.

As enigste kind het ek partykeer alleen gevoel. Maar nou nie meer nie. Hier is altyd mense. Enige tyd van die dag. Jy hoor hulle, sien hulle, ruik hulle. Bedags hou die oumense my geselskap. Hulle is lief vir gesels — dit help hulle om die dae om te kry. Saans as die ander van die werk af kom, drink ons saam tee voor die TV in die die sitkamer. Tot ek moet gaan werk.

Ek was die skottelgoed in ’n plastiekskottel, gooi die vuil water buite my kamerdeur in ’n drein af. Amper verloor ek my knipmes in die proses — my knipmes wat ek al van kleintyd met my saamdra. Ek droog die mes versigtig af, bêre dit in my bra.

Ek onthou daardie aand so goed. Alles is so helder asof dit gister gebeur het. My ma se gille het my wakker gemaak. Ek was half deurmekaar van die slaap. Gedink dis die mannetjieskatte buite in die straat. Ek het die kussing oor my kop gedruk, maar dit wou nie help nie. Toe het ek opgespring om by my ma te gaan inkruip. Die deur was op ’n skrefie oop. Weer ’n gegil. Ek het ingeloer. Daar was ’n man op my ma. Ek het hom nie geken nie. Sy hand het onder my ma se rok gevroetel. Sy het wild met haar arms geswaai.

My asem het weggeslaan. My lyf was lam.

My ma het die man weggestamp, opgespring. Sy het ’n vaas op die spieëltafel gegryp, hom daarmee probeer gooi. Dit was mis. Die vaas het te pletter op die grond geval.

En toe was die man weer op haar. Ek het iets sien flits. ’n Mes. My ma het stil gelê, haar oë groot van skrik. Die man het wild op haar begin wieg.

Ek het bure toe gehardloop. Later het ’n ambulans my ma kom haal.

“Die man het lelik gemaak met jou ma,” het die vrou van langsaan gesê.

Die kinders by die skool het my gespot.

“Boontjie kry sy loontjie! Boontjie kry sy loontjie! Tina se ma is ’n slet! Tina se ma is ’n slet!”

“Is nie! My ma is ’n masseuse. ’n MASSEUSE.”

Dit was ’n moeilike woord om uit te spreek. Ek was maar twaalf jaar oud.

Dit was toe dat ek besluit het om vir my ’n mes te koop. Die seuns wat soggens saam met my koerante afgelewer het, het baie van messe geweet. Soggens wanneer ons vir die afleweringstrok sit en wag het, het hulle daaroor gepraat. Ek het aandagtig geluister, geleer watter messe goedkoop was, watter se lemme baie skerp. Almal van hulle het messe gehad. Niemand het ooit met húlle skoor gesoek nie. Niemand het ooit met húlle lelik gemaak nie.

Ons drink tee, kyk Loving. Gesels dan ’n bietjie totdat ek moet loop.

“Tyd om te gaan werk,” sê ek, nie lus vir die aand wat voorlê nie.

“Poor thing,” sê Mrs. Sue. “She’s so young. Why don’t they put her on dayshift?”

Ek werk nagskof by ’n videowinkel. Vier-en-twintig uur diens. Hulle glo my.

“Drie reëls, nè,” sê ek toe hy die hotelkamer se deur oopsluit. “Niks gesoenery nie, niks oral sex nie en jy dra ’n kondoom.”

Hy sê niks, stap eerste in.

Snaakse vent. Ek hou nie van sy gesig nie. Maar hy het nie soos die ander oor die prys gekibbel nie. Net vir my gewys om in te klim. Groot rooi Mercedes. Ek laai altyd my prys as hulle sulke karre ry. En hy het boonop self voor die tyd ’n hotelkamer gekry. ’n Fancy hotel, nogal. Seker dié dat ek by die brandtrap moes opgaan. Die diskrete tipe.

Hy praat nie veel nie, sluit die deur agter ons. Toe kom hy nader, kry my onverwags aan die arm beet.

“Jou hoer!” sis hy deur sy tande. “Bly stil! Hier maak ons soos ek sê. Ek is die een wat betaal!”

Ek sien sy vuis in die lug. Die hou tref my vol in die gesig sodat ek my balans verloor. Die wêreld draai om my. Dan skop hy my met sy diksoolboots. In die maag. Ek begin wurg, proe bloed in my mond. Alles word swart.

Ek kom by, kreun. Hy staan by die venster, suig aan ’n sigaret.

“Hoog tyd!” sê hy, ruk my op die bed op. Sy gulp is oop. Hy’s nie van plan om ’n kondoom aan te sit nie! As ek nie vanaand vrekgemaak word nie, kry ek in elk geval Aids!

My verstand is helder ten spyte van die pyn. Ek voel-voel in my bra na my mes.

Alles gebeur vinnig. Ek sien hom agteroor val. Hy gryp na sy keel. Bloed spuit met ’n boog tussen sy vingers deur. Ek het nie geweet ’n mens kan so bloei nie! Die hele wêreld is besmeer. Hy roggel soos ’n vark. Ek gee hom op die koop toe nog ’n skop tussen die bene. Toe dop sy oë heeltemal om.

* * * *

“Dit was selfverdediging,” sê ek. Hy het my byna pap geslaan.

“Maar jy het jou liggaam aan hom verkoop!” Die regter se stem klink kil, aanvallend.

“Hy sou my doodgemaak het as ek nie gekeer het nie!”

“Geen versagtende omstandighede nie! Galg toe met jou!” Die regter se mond skuim.

“Hoer! Hoer!” skree die mense in die hof.

Iemand gooi my met ’n leë coke-blik.

“Stenig haar! Stenig haar!”

Ek koes, probeer vlug, maar die hofbeamptes is sterk. Hulle druk my af, slaan my met ’n knuppel oor die kop. Dit reën leë coke-blikke op my.

Ek skrik wakker, sopnat gesweet.

* * * *

Agtuurnuus op TV. Mrs. Sue se beker rooibostee stoom patrone op haar bril.

Volgens ons misdaadverslaggewer is die lyk wat verlede week in ’n hotel in Kaapstad gevind is, uitgeken as dié van Jeremy Heath.

My hart gee ’n parmantige bollemakiesie. Die vrou in die hoekkamer stel die klank harder.

Die vermoorde was volgens die polisie bekend in dwelmkringe. Volgens alle waarskynlikheid is die moord dwelmverwant.

Ek giggel.

Mrs. Sue kyk my skerp aan. ’n Mens lag nie oor so iets nie, Kind! Dis tragies!

Ek giggel weer, probeer vroomgesig maak.

My duim gly oor my bors. Ek streel oor die koue metaal teen my lyf.

Ek is veilig solank ek my mes het. Niemand sal ooit met my lelik kan maak nie. Ek is veilig. Veilig soos die seuns toe ek twaalf jaar oud was.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.