NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Hilde Nel (17 Maart 1961) behaal in 1987 haar M.A. in Antropologie aan die Universiteit van Port Elizabeth. Eers werk sy as dosent in Antropologie aan die Universiteite van Suid-Afrika en Stellenbosch en daarna vir ’n jaar as mede-redakteur by ’n uitgewer in Kaapstad. Haar eerste gepubliseerde kortverhaal verskyn in Literator, April 1995. Tans bedryf sy haar eie natuurlike gesondheidsbesigheid in Groenpunt, Kaapstad, en studeer verder deeltyds aan ’n vierjarige diploma in Naturopatie.
  Hilde Nel
Nog kortverhale deur Hilde Nel:

DWAAL

Sy soek vervaard in haar jassakke rond, voel los muntstukke raak, maar verder niks. Beursie, kamersleutels, alles is weg. Haar wange gloei. Die koerant glip van haar skoot af, val op die vloer. Sy buk vooroor om dit op te tel, verloor byna haar ewewig toe die moltrein gevaarlik om ’n draai skommel.

Sy kyk na die mense om haar. Die meeste koppe is agter oop koerante verberg. Haar oë flits oor die vreemde agterblaaie, soek na ’n bekende woord, maar vind dit nie. Sy voel weer rond. Niks. Dis weg. Die sleutels met haar pension se adres op, is weg.

Verskoon my, wil sy vir die jong meisie oorkant haar sê, maar sy bly stil, want wat sal dit in elk geval help? Sy kan nie haar taal praat nie, sy kan nie die stasie se naam onthou waar sy moes afklim nie. Haar lyf begin sweet onder die dik jas. Die moltrein verlaat onverwags sy tonnel om bogronds verder te ry. Sy leun vorentoe, kyk by die venster uit om te probeer sien waarheen hulle op pad is. Grys geboue flits verby, vreemde geboue en ewe vreemde straatnaamborde. Dan staan sy op, wieg in die rigting van die deur. Die stasies volg kort op mekaar. Sy wag ’n ruk, voel hoe die trein al stadiger ry totdag dit met ’n blaasgeluid tot stilstand kom. Die deure suis oop.

Dit is ’n buitelugstasie hierdie. Die regte een was ondergronds.
Sy moet teruggaan vanwaar sy gekom het.
Sy stap oor ’n voetbrug na die oorkantste perron. Die treine volg kort op mekaar, skaars vyf minute gaan verby of die volgende een laat die beton onder haar voete vibreer. Sy bly ’n oomblik staan. Op die gebou oorkant haar herken sy een van die min woorde wat sy op die vliegtuig hierheen probeer memoriseer het.
Kaartjieskantoor.

Die man agter die dik glasruit kyk haar ongeduldig aan. Haar brein soek-soek, maar die vreemde naam van haar bestemming bly haar ontwyk.
“Dagkaartjie, asseblief.”
Sy haal al die muntstukke uit haar jassakke. Die kaartjieverkoper se vingers gly deur die gleuf in die glas, tel die regte bedrag af en druk die res van die geld na haar terug. Sy beduie na ’n straatplankaart wat te koop aangebied word, maar die man trek sy skouers op. Hy wys na die orige muntstukke.
Te min geld, verstaan sy, vat die treinkaartjie en kleingeld en gaan.

Sy neem die eerste moltrein terug vanwaar sy gekom het. Behalwe vir ’n jong vrou met ’n baba, is die wa leeg. Sy kyk by die venster uit. Die area is yl bebou en die boustyle meer modern as in die historiese stadskern waar sy wil wees. Die trein skommel ritmies voort totdat dit by ’n volgende stasie met ’n skreegeluid tot stilstand kom. ’n Groot klomp mense klim op. Sy skuif nader aan die venster, maak plek vir ’n vrou wat langs haar kom sit.

Die moltrein verdwyn weer ondergronds sodat dit buite skielik stikdonker is en die wa se ligte outomaties aanflikker.
Hoe gaan sy nou weet waar om af te klim? Ondergronds lyk die stasies dieselfde, hulle name almal ewe vreemd.
Die moltrein kom weer tot stilstand.
Is dit die laaste stop?
Almal in die wa klim af.
Dan moet sy seker ook gaan.
Sy volg die mense voor haar totdat ’n roltrap hulle almal buite op straat bring.

Die polisieman staan handegevou na haar en luister. Sy klein ogies gluur haar soos ’n slang aan.
“You not know address?” vra hy in ’n gebroke Engels.
“How you not know address?”
Sy praat vinnig, probeer verduidelik. Aan die uitdrukking op sy gesig kan sy sien dat hy haar nie verstaan nie. Die vel op haar voorkop span, die bloed klop in haar slape. Sy sien die polisieman se mond oop- en toegaan, sy slangogies water.
Hy gaan haar vir haar paspoort vra. Die paspoort wat in haar kamer lê.
Haar keel trek toe.
Sy moet wegkom.
“Now I remember.”
Sy wys met ’n vinger op asof iets haar byval.
“The boarding house is next to an art museum,” jok sy. Dan stap sy vinnig weg sonder om op sy reaksie te wag.

Sy stap vinniger en vinniger. Haar longe brand, haar voete pyn. Straat op, straat af. Dwaal sy in sirkels? Alles lyk dieselfde. Die geboue wat teen mekaar leun, die koffiehuise en restaurante, die neuteverkopers en vrugtestalletjies.

Dit word donker. En kouer. Die strate begin lewe ten spyte van die weer. Duisende swart jasse met lang brode of kase vleg by haar verby. Sy voel honger, ruik koffie iewers waar ’n deur oopgegaan het. Sy volg die geur tot by die toegewasemde glasvensters van ’n koffiehuis. Binne klingel eetgerei, mense gesels lughartig. Deur die wasem op die ruit kan sy net silhoeëte om die tafels sien.
Die deur van die koffiehuis gaan oop. ’n Jong verliefde paartjie glip laggend uit na buite. Weer die behaaglike koffiereuk. Sy stap vorentoe, steek dan huiwerig vas. Ek lyk seker verskriklik ná hierdie dag, dink sy. Dan word sy meegesleur deur ’n groep uitbundige jong mans wat binne toe beur. In een van die stiller hoeke vind sy ’n leë tafel. Sy sak uitgeput neer, voel in haar sakke rond na haar orige geld.

Die koffie kom. Sy proe versigtig, haar lippe droog en seer van die koue. Haar lyf ontspan stadigaan. Sy trek haar jas uit, neem ’n Engelse koerant van ’n tydskrifrak af. Dan praat ’n stem skielik langs haar. Sy ruk effens van die skrik, kyk op. ’n Man staan voor haar tafel. Sy wil vir hom sê dat sy hom nie kan verstaan nie, maar die regte woorde wil nie kom nie.
“Sal jy omgee as ek die tafel met jou deel?” herhaal die man sy vraag, dié keer in ’n gebroke Engels.
Sy kyk rond, sien dat al die tafels beset is.
“Nee, sit gerus,” sê sy onderlangs, verleë oor haar onbeholpenheid.
Die man maak ’n koerant oop, begin lees. Sy sluk die laaste koffie haastig weg, staan dan op om haar jas aan te trek. Hy laat sy koerant sak.
“Sit nog ’n rukkie. Ek bestel vir jou nog een.”
Sy bly huiwerig staan totdat hy sy koerant toemaak en vriendelik na haar stoel beduie.

“Is jy ’n toeris?” vra die man in sy gebroke Engels.
“Ja.”
“Toer jy op jou eie?”
“Ja,” sê sy weer. “Boonop is dit my eerste buitelandse reis.”
Hulle drink ’n ruk in stilte. Dan praat hy weer.
“Waar gaan jy tuis?”
“In ’n pesion naby ... ek weet nie eintlik waar dit is nie.”
Die man frons.
“Ek ken die stad nog nie so goed nie, jy sien,” voeg sy vinnig by.
“Vandag is maar my tweede dag hier. Die taal is nog vir my baie vreemd.”
Die man glimlag, begin geesdriftig oor die stad se skoonheid uitwei. Die katedrale. Die geur van olywe en wyn wat oestyd in die strate hang. Die nou stegies wat soms steil na bo kronkel om dan in eeu-oue klippleine uit te loop.
“Dit klink of jy baie lief is vir hierdie stad,” sê sy.
“Ja, ek is. Selfs al is ’n mens hier gebore, val die skoonheid van alles jou altyd op. Miskien is dit julle toeriste wat ons gedurigdeur daaraan herinner.”
Hy sluk die laaste bietjie koffie weg, staan op.
“Ek moet gaan,” sê hy. “Ek het ’n afspraak.”
Sy oë is vriendelik.
“Dankie vir die koffie,” sê sy.
Hy voel in sy binnesak rond na ’n pen.
“Hier is my telefoonnommer. As jy dalk een of ander tyd jou eie persoonlike toegids wil hê.”
Sy neem die papier by hom, probeer sy naam uitspreek, maar laat dit dan laggend vaar.
“Julle het ’n moeilike taal,” sê sy en sit die papier in haar jassak.

Sy voel meer ontspanne, bly nog ’n ruk sit totdat sy ’n kelner se oë op haar voel.
Ek sal moet gaan, dink sy. Ek kan nie nog koffie bekostig nie.

Buite is dit koud. Dit wil-wil reën. Die strate lewe nog, maar die winkeleienaars sluit al toe. Mense met inkopiesakke verdwyn in die donker nag. Waarheen nou?

Sy hou in die breë strate want die nou stegies lyk donker en vreemd. Haar lyf voel stram van moegheid en honger. Iewers klink sagte, polsende musiek op. Verder af in die straat flikker ’n neonlig. Sy talm, wonder of dit haar enigsins sal baat om daar hulp te probeer kry.

’n Groep mans by die deur kyk op toe sy instap, lewer luidrugtig onder mekaar kommentaar. Sy gaan huiwerig by die kroegtoonbank sit.
Môre se koffiegeld.
Sy haal die laaste geld uit haar jassak, skuif die muntstukke oor die toonbank na die kroegmeisie.
“What can you offer me for this?”
Die kroegmeisie beduie dat die geld te min is.
Dit is die man langs haar wat uiteindelik vir haar ’n vodka bestel en gul vir haar beduie om te drink.
“Dankie,” sê sy.
Sy kyk weg, maar in die spieël agter die drankbottels sien sy hoe hy haar lyf op en af bekyk. Sy proe-proe aan die vodka, haar asem slaan weg. Dan voel sy die man se hand op haar skoot.
Hy skuif nader. Sy ril, voel hoe sy hand tussen haar bene ingly. Hy ruik na sweet en ou drank. Sy stamp sy hand weg, sien die verbasing in sy besope oë. Die glas glip uit haar hand sodat die vodka met ’n boog oor sy skoot spat. Hy swets, gryp grimmig na ’n pak servette op die toonbank. Dan spring sy op, hardloop deur toe.
Oorkant die pad sien sy die ingang van ’n moltreinstasie. Sy hardloop daarheen, haar jas wapperend soos vlerke agter haar. Af, af met die steil trappe tot onder by die spoorlyn. Sy kyk rond, sien ’n paar hawelose mense rondsit. Van hulle slaap onder koerante. Niemand kyk op toe sy verby hulle stap en in ’n opening onder die trappe inkruip nie. Die skerp reuk van urine laat haar ril.

Sy word wakker toe ’n skoonmaker haar hardhandig met ’n besem teen die rug stamp. Die ou vrou wys haar skellende om uit te gaan. Sy kom vervaard regop, kyk na die netjiese kantoorwerkers wat op ’n moltrein wag.

Buite is dit bewolk.
Skyn die son dan nooit hier nie?
Sy voel afgetrokke. Die mense, byna almal in swart geklee, lyk somber. Net so somber soos die ongeverfde klipgeboue van die stad. Sy stap moedeloos al met ’n nou stegie langs. Die eeu-oue klam mure ruik muf. Sy stap vinniger, voel vasgekeer in die ongewone engtes. Dan open die steeg in ’n klipplein. Sy gaan op ’n bankie sit, trek haar jaskraag stywer om haar nek om die koue te probeer uithou.
Sy moet dringend kos in die hande kry. Dit help in elk geval nie om verder te soek nie. Sy het heeltemal verdwaal.
Sy haal doelbewus diep asem, probeer konsentreer.
Dalk is hier ’n ambassade. Of miskien ’n konsulaat.
Sy staan op, stap na ’n boekwinkel, die bewerigheid van vroeër vergete.

“Is there a South African embassy in town? It’s very urgent.”
Die gryskop man agter die toonbank kyk haar dom aan. Sy voel hoe haar nekspiere van ergernis saamtrek.
“Or a consulate, perhaps?”
Die man mompel iets verskonends in sy eie taal.
“Verdomp!” Sy stap uit, haar selfbeheersing naby aan breekpunt.
“No English,” sê ’n man met ’n swaar aksent by die volgende winkel.
Sy stap verder. Die mense vleg by haar verby in hulle dik swart jasse. Hulle gesigte lyk skielik monsteragtig, asof hulle oë haar aangluur. Sy gaan staan.
“Ek haat julle almal!” gil sy, gryp huilend aan ’n lamppaal.
“Ek haat hierdie aaklige grys stad!”

’n Hand vat stewig om haar bo-arm, pluk haar heen en weer.
’n Man met ’n uniform.
Van die mense op die sypaadjie gaan staan, staar nuuskierig na haar.
Sy kyk na die man se rooi, vlesige tong. Sy waterige oë. Dan ruk sy los uit sy greep, slaan vervaard op vlug. Sy sny by ’n steeg in, hardloop totdat haar longe te veel brand en haar bene haar nie meer kan dra nie.

Haar hare kleef aan haar nat wange. Sy voel in haar jassakke rond na ’n sakdoek, vind net ’n stukkie skryfpapier. Die man in die koffiehuis, dink sy toe sy die gekrabbel op die papier lees. Sy moet by ’n telefoon uitkom.

“Hallo! Hallo!” antwoord ’n manstem.
“Dit is ek,” sê sy. “Die vrou by die koffiehuis.”
Vir ’n oomblik is daar stilte. Sy voel ongemaklik.
“Hoe gaan dit! Hoe gaan dit!” vra die man dan opgewek in sy eiesoortige Engels. “Soek jy ’n toegids? Waar moet ek jou kry?”
Sy probeer die naam van ’n moltreinstasie uitspreek, hoor hoe hy haar laggend aan die ander kant korrigeer.
“Sien jou.” Sy sit die gehoorstuk stadig neer.

Sy koop ’n pakkie pepermente met haar laaste kleingeld, gaan dan armsgevou op ’n perronbank sit. Dit is spitstyd. Die treine skommel een na die ander verby.

Haar oë gaan kort-kort na die roltrap by die stasie se ingang. Dan herken sy hom tussen die mense. Sy staan op, huiwer effens omdat sy eintlik bitter min oor hom weet.

“You look terrible!” Hy is half uitasem. “What happened?”
Die bekende gebroke aksent stel haar op haar gemak.
“Ek het verdwaal. Ek kry nie die pension waar ek ’n kamer gehuur het nie. Al my bagasie is daar.” Sy beduie verskonend na haar vuil, verkreukelde klere.

Hulle ry met ’n krakerige houthyser na bo, kom met ’n rukbeweging op die vierde verdieping tot stilstand. Die man trek die swaar traliehek oop, laat haar eerste uitstap. Die gebou ruik oud, ’n bekende huislike reuk wat haar aan óú statige hotelle laat dink. Antieke kandelare teen die muur verlig die gang dofweg. Hulle stap in stilte, stop dan by ’n deur naby die punt van die gang.
“My apartment,” sê die man en sluit oop.

Sy kyk rond, verstaar haar aan die patrone op die hoë plafonne, die antieke pilare, die dik mure.
“Hierdie gebou dateer uit die sestiende eeu,” vertel die man, bewus van haar verwondering. “Dit was in daardie jare glo ’n herberg waar moeë reisigers aangedoen het. Moeë reisigers soos jy,” voeg hy laggend by.

Die warm water spoel oor haar gesig, oor haar hele lyf. Sy maak haar mond oop, verlustig haar in die reinigingsritueel. Stadig spoel sy die tamheid uit haar liggaam uit. Sy draai die krane toe, begin ingedagte afdroog.
Môre neem hy haar lughawe toe. Daar sal sy hopelik die pension se naam herken teen die kennisgewingbord waar sy dit oorspronklik gekry het.

“Dinner is almost ready,” roep die man vanuit die kombuis.
Dit ruik na wyn en olywe. Soos met oestyd, onthou sy sy woorde in die koffiehuis. Sy stap na die venster, kyk buitentoe. Onder het die straatlampe reeds in die nou stegies aangegaan. Die eeu-oue geboue leun knus teen mekaar asof hulle skuiling soek teen die nag. Hier en daar fladder ’n duif nog rond voordat dit te donker word.

“It is a beautiful city,” sê sy en raak met haar vingerpunte teen die ruit asof sy aan die stad wil vat.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.