NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Kortpad

Gepleeg deur HD Pieterse (Oemdhan)

Kortpad deur die biesies en die skerpblaarriet. Die pad verby die jamouse. Moddervet, skelm, sku vir mense. Hulle vlymskerp tande en blink oë maak hom bang. Hy is eintlik nog maar 'n kind. Kind in 'n grootmenswêreld met grootmensprobleme. Die grootmense verstaan nie sy hart nie. Hulle verstaan nie die diep seer in sy kop nie. Die seerkry met die snot en die baie trane.

Hy verstaan hulle nie. Dis net altyd:

"Hou op om 'n tjankbalie te wees, ou piskannetjie."

As hy later as die trane droog is, iets wil vra, net:

"Kinders word gesien en nie gehoor nie"

of

"Husse met lang ore"

of

"Wil jy nou weer kom tande tel?"

Keer op keer het hy hom al afgevra: Was hulle dan nooit kinders nie? Het hulle nooit met hierdie honderde onopgeloste vrae sonder antwoorde geworstel nie? Hy wonder hoe het hulle dit reggekry om so alles van alles af te weet, of is hulle slim gebore en hy net dom? Dalk net andersom?

Die pad na die ou murasie. Bekende pad. Die murasie langs hulle riete. In die begin altyd die ver pad, agterom die jamouse se gebied. Die murasie is meer as net die afgeskilferde mure en geroeste skarniere, sonder deure. Dit is 'n plek met warmte. 'n Plek met sy eie verhaal. Sy eie siel.

Sy skuilplek. Sy fort teen die woedebuie van hom. Sy alleen huil oor die pa in die kerfspieël. Die stom pa sonder stem. Die wegsteekplek waarvan net hy weet. Die los klip in die muur. Derde een links van die deuropening na die eens op 'n tyd se sitkamer. Netjies uitgehol. Daar lê sy aardse skatte. Veilig teen mens en dier. Veilig teen die jamouse. Hy was eers, in die begin, bang vir hulle. Later het hy gemaak of hy hulle nie sien nie. Hulle het hom aanvaar, gesien hy is nie een van dié wat hulle wil doodslaan en eet nie. Deur die jare het hy vir hulle name gegee. Amper soos Adam.

Hy het gesien die jamouse het elkeen sy eie geaardheid, net soos in die regte wêreld. Die grootmenswêreld. As 'n mens lank kyk, dan sien jy die verskille. Sy ou gunsteling, die braafste, het hy Klapper gedoop. Hy raas altyd met die jongetjies nes 'n hoofman of skoolmeester. Die een met die litteken onder die regteroog is Fighter. Hy laat hom dink aan die seerowerprentjie op sy skoolvriend, Duppie, se storieboek. Dan is daar Flash, die vinnige een, Spekkies, die vet enetjie, Oupatjie, die ou gryse, Kaaitjie, die kwaai ma met Nellie en Klokkies, die tweelingsussies, altyd saam nes Dawid en Jonathan. Auntie Sussie is die stoute. Sy is altyd besig om die ander jamouse - of soos Oompie sê, "verdekselse rietrotte" - te terg of skrik te maak. Staan sommer so doodstil totdat almal gerus is, om dan skielik nes 'n besetene weg te hardloop. Dan sien jy net jamouse spat in alle rigtings. Hy moes haar eintlik auntie Plaatjie gedoop het. Sy ma sê mos as iemand gekskeer, is hy of sy 'n plaatjie. Die ou lange met die mank agterbeen het hy egter al lankal oom Plaatjie gedoop. Eendag reg van voor af in die voetpaadjie op hom afgesluip gekom. Sjoe, so 'n laaitie was darem vir jou bang gewees. Hoe nader hulle aan mekaar gekom het, hoe stadiger het beide van hulle geloop. Reg voor hom; hy het al sy oë toegemaak en sy aandgebedjie vir Liewe Jesus begin opsê, toe het oom Plaatjie eers omgevlie. Daarna het oom Plaatjie sy gang gegaan en hy syne.

Hy het die naam jamous gehoor by die wit seuns van die kontrei. Hulle sê die plaaswerkers sê "jamou" as hulle die rietrotte kom jag. Glo 'n lelike woord. Eintlik sê hulle net die woord as 'n skerp blaar van 'n riet hulle raaksteek. Die kinders het toe sommer die rotte jamouse gedoop, uitgespreek soos die Engelse mouse en mice. Snaakse naam, want hulle is baie groter as muise en selfs rotte, eerder so groot soos 'n jong kat. Die katte kan hulle niks maak nie. Hy het eendag vir Kiets van sy ma saam gevat. Met 'n lang, bang miaau-miaau, stert penorent, is dié toe daar weg. Vol stukkende plekkies van die skerp rietblare. Hyself wis van geen sout of water nie. Shame, sy ma se arme ou Kiets. Sy ma het egter geweet, want katte vergewe nie maklik nie. Daarna het hy altyd alleen gegaan. Nie eers sy beste vriend en vertroueling, ou Duppie, ooit saamgevat nie. Dit was sy geheim. Syne en die jamouse s'n. Dit was net hulle geheim. Die los klip was net syne.

Hulle is egter baie nuuskierige agies. Hy moes 'n paar keer klip inlê totdat hulle geweet het. Die murasie, wat hy sy "Den" gedoop het, was net syne. Dit was Daniël se plek. Net sy Den. Geen jamous het dit ooit in die Den gewaag nie. Hulle het sy privaatheid gerespekteer en hy hulle s'n. Hoe ouer hy geword het, hoe meer het hy die kortpad begin loop. Die ver pad was om hulle gebied, agter die fontein om deur twee drade.

Hy is haastig. Hy voel die seer, diep hier in sy hart. Hy wik en weeg. Die gewone pad of die kortpad? Hy wil net daar kom. In sy Den. Daar waar niemand hom kan bykom nie. Waar niemand hom kan verwyt nie.

Verwyt oor 'n sigaretdosie wat leeg is. 'n Leë bottel sonder wyn. 'n Beursie met net 'n sjieling daarin.

Hy vat die kortpad. Die pad deur hulle gebied. Die jamouse se pad. Die pad wat die volkies loop as hulle vleis gaan soek. Die jamou pad. Hy voel nie die skerp blaarpunte van die riete nie. Hy wil net by sy Den uitkom. Weg van die oë, weg van die verwyte. By sy aardse besittinkies gaan troos soek.

Die stortvloed woorde brand in sy siel. Hy sien die hale oor sy ma se arms soos sy gekeer het. Die dubbelgevoude keteldraad wat swaai en swaai in die groot hand. Hy ruik die wynasem in sy gesig. Sy hart voel soos 'n damwal wat wil breek. Hy worry nie oor die jamouse nie. Hy voel vere vir die wêreld en die lewe se worries. Die grootmenswêreld. Hy wonder of dit anders sou gewees het as hy hier was. Hy, net 'n beeld in 'n kerfspieël. 'n Stil pa. 'n Pa wat nie eers weet hy het 'n seun nie. Hy wat nie bang was vir die lewe se jamouse nie. Hy wat nie bang was vir die kortpaaie van die lewe nie - of was hy?

Hy struikel en val amper oor 'n plat klip se skerp hoek. Sy Den verrys tussen die hoë gras en riete. Amper net so hoog soos hy. Hy begin hardloop. Die jamouse spat uitmekaar: hulle weet iets groot is fout. Anders as auntie Sussie se kammaskrik.

Die stukkende mure omvou hom. Verberg sy bangwees. Maak hom onsigbaar vir die oë van die grootmenswêreld.

Die jare het maar so verbygegaan en die gras en riete het al korter geword. So het die mure al hoe laer geword en sy voetspore al hoe groter. Die konflik binne hom 'n ontembare orkaan. Hy het nooit meer die lang pad geloop nie. Die jamouse het nie meer vir hom geskrik nie en hy ook nie vir hulle nie. Saans laat met skemering, sy terugtog. Terug na waar die grootmense is. Terug na die geskreeu en die pyn. In sy Den langs die los klip het hy op die koue sement vroeër menigmaal aan die slaap geraak. Altyd weer beter gevoel na die huil. So met die jare het hy egter ook deel van die grootmense geword. 'n Anderste huil geleer huil. Die grootmenshuil. Die huil sonder snot en trane. Die huil na binne.

So met die grootword het hy besef 'n kortpad weg van jou probleme en hartseer is daar nie. Die jamouse van die lewe is altyd op die kortpaaie. Hulle wag met hulle vlymskerp tande. Tande wat groei, al breek hulle ook af. Hy het besef hoe ouer hy raak, hoe makker lyk die jamouse van die lewe. Mens raak gewoond aan hulle. Sy stiefpa se jamouse, die wyn, die wit vrou doer ver. Die vrou wat sy ma so laat stil word saans as hy nie daar is nie. Sy eie pa se jamouse, baie vroue, nes sy ma gevat en dan gelos.

Hy onthou egter nog goed. Eendag gesien hoe 'n kamstige "dooi" jamous Jonas se wysvinger met een byt morsaf gebyt het. Die jamouse op die kortpaaie begin naderhand onskuldig vir 'n mens lyk. Maar pasop, hulle tande bly skerp. Moenie hulle ooit onderskat nie.

Toe hy siek geword het, het die slae en afjakke minder geword. Later niks. Hy het al hoe minder na sy Den gevlug. Later, glad nie meer nie. Hy het die byt gevoel. Diep en vinnig. Hy was anders. Nie meer bang vir jamouse nie. Ook nie meer bang vir die bleek, uitgeteerde man wat skielik oud gelyk het nie. Die jamous het seer gebyt. Diep gebyt. Longtering, noodlottig. Doodgebyt.

Daardie aand, nadat hulle die laaste kluit gegooi het, het hy weer Den toe gegaan. Die Den was kleiner, kouer. Die mure was kaler. Hy het die los klip uit die muur getrek. Alles was nog daar. Die stukkende Joseph Rodger, die rooi-tube-kettie, die goue pond en die twee exercise-boeke met sy lewende kiekies daarin opgeskryf. Sy dagboek, al vandat hy kon lees en skryf. Op agt jaar al dinge opgeskryf. Manier van ontvlugting. Al sy aardse besittings. Sy lewe, sy verlede. Hy.

Hy speel met die ronde geel. Lank terug, 'n fooitjie gewees. Hek oopgemaak vir 'n man in 'n blink suit met 'n nuwe mousterkar. Hy het dit langs die hekpaal gegooi, seker gedog dis 'n oortjie. Daai dag was hy ryk.

Hoeveel oortjies in 'n pond ?

Amper honderd. Hy het daarna nooit weer 'n hek vir 'n mouster oopgemaak nie. Ook vir niemand gesê van die pond nie. Dit was net sy geheim.

Hy voel skielik hartseer. Hy is dood. Hy sal haar nooit weer slaan nie. Hom nooit weer vloek en afkraak nie. Sy jamouse was te sterk vir hom. Wie se skuld was dit?

Hy het ook tog sy goeie punte gehad. Elke mens is nie net sleg nie. Hy het dalk net te gerus geraak van die kortpaaie loop. Hy het ook maar net gevlug. Hy het nie gevlug na sy den agter mure nie, maar na die bottel. 'n Mens is maar swak teen die lewe se aanslae. Die grootmenslewe is hard. Dit is nie vir sissies en piskannetjies nie. Hy het hom help hard brei vir wat voorlê.

Hy het nooit weer teruggegaan na daardie murasie toe nie. Dit was die laaste. Alles net weer so teruggesit, die pond ook. Hy het teruggestap, anders gestap. Hy kon homself hoor praat met die jamouse. Hy het hulle gegroet. Die oues, bekendes. Hulle gegroet op hulle name. Die nuwes het hy sommer "julle rietkarnallies" genoem. Hy was nie meer bang vir hulle nie. Hulle het net na hom gestaar.

Afskeid.

Hy het vry gevoel. Hy het geweet die grootmense is nie rêrig so slim gebore nie. Kennis en wysheid kom met die tyd. Is meer as goud werd. Dis mag. Salomo het kortpad gevat. Hy wou nie op die lang manier eers uit sy foute leer nie. Hy het, soos Oompie altyd sê: "gejippou". Hy het gekroek … nes hy wou kroek. Kroek met die Den. Kroek om gou die kortpad te vat as die lewe druk. Dan weg van mense 'n kammawêreld leef. 'n Lewe sonder die lewe se eie jamouse, 'n lewe van net jy. 'n Gejippoude lewe soos Salomo. 'n Wit hospitaalbed in plaas van die Incibi se assegaai.

Kortpad deur die lewe se biesies en skerpblaarriet.


HD Pieterse (Oemdhan)
Op 29 Des 1958 na die tydelike gepromoveer. As taal invalide sonder die geskrewe teks of gesproke woord het ek my ouers se senuwees rou geskreeu. In 1965 begin my veelbesproke akademiese loopbaan op 'n hardebank van laerskool Môrewag.
       Genadiglik leer hulle my die ABC en ek word rustig verder groot in boeke. My eerste uitstappie na die dorpsbiblioteek op sewe jaar was een van die magiese hoogtepunte in my lewe. Van toe tot nou is die grootste lekkerte vir my om soos my hero’s met woordkwas en taalverf prentjies te skilder in ander se koppe.
       Die Oos Kaap met sy groen heuwels en goue sand is waar ek ‘vonk’ vir skepping kry en waar ek vir die res van my bestaan, na my dood graag sal wil lê.






LitNet: 02 Maart 2005

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.