NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



E W S Hammond
Edward William Stephen Hammond is in 1944 op die delwersplaas Badhope langs die Vaalrivier naby Barkley-Wes gebore. Hy het bekendheid verwerf met twee digbundels Hamburgers en hotdogs en Doodsteek van ’n diabeet. Voor sy dood in 1999 het hy gewerk aan aangrypende jeugherinnerings, As die Vaalrivier vol brandewyn was. Vaar wel is een van die verhale in die reeks wat toe nooit gepubliseer is nie.
  E W S Hammond

Vaar wel

E W S Hammond

Ek loop heen en weer op die klein balkonnetjie terwyl my ma vanuit haar russtoel gespanne na my kyk. My hande met die lang vingers vat die balkonmuurtjie vas; ek buig my kop en kyk verdiepings na onder. Na die oostekant trek groot rookwolke die lug in.

“Kom ons gaan weg,” sê sy met ’n vertrekte glimlag. Ek draai langsaam my maer liggaam na haar en vra sag: “Waarmee?”

Sy kyk op na my. “Met ’n skip,” sê sy bewerig.

“Met watse skip?” vra ek en kyk vas teen wit en bruin woonstelblokke teen die heuwel uit, hoor die veraf gehuil van sirenes.

“Met ’n groot skip,” antwoord sy en skuif vorentoe op haar stoel, hoes ’n paar oomblikke lank, “met maste en torinkies en ’n golwende vlag  ... En dan vaar ons maande en maande  ...”

“Ja,” moedig ek aan, “en dan kom ons by ’n eiland uit ... ’n groot eiland met wit strande.” Ek sug. “En palmbome.” Ek kyk oor die balkonmuurtjie na mensies en motortjies. In die verte sien ek ’n massa met plakkate en gebalde vuiste.

Sy trek haar uit die stoel op en skuifel tot langs my. Sy plaas haar hand oor myne en met ’n tandlose lag kyk sy saam met my oor die woonstelblokke heen waar brandtrapligte al begin brand. Ek trek my hand weg en sê: “Kom ons gaan eet.”

Langs die geel emaljetafel sien ek hoe sy probeer om iets voor te berei. Ek staan op en help haar. Nadat ons geëet het, neem ek haar arm en stap slaapkamer toe en skakel die lig af.

Na middernag word ek wakker en weet eers nie waarom nie. Dan hoor ek haar swaar asemtrekke, en wonder hoe lank nog.

Dit is nie heeltemal donker in die vertrek nie: ligte van woonstelle skyn deur die gordyne. Ek bly doodstil in die skemer lê, hoor steeds motors. ’n Blits maak die kamer lig, en na ’n kort stilte hoor ek die slag. Weer ’n ontploffing, dink ek eers. Ek draai vinnig na die muur en trek die gordyn weg voor die venster. Donderweer verdwyn oor ’n ander deel van die stad. As ek skuins en op my rug half van die bed af lê, kan ek die wolke sien waarteen die stadsligte weerkaats. Die venster word skerpwit, dan hoor ek ’n slag. Dit klink of die wolke oorlog maak. Ek bly stokstyf lê totdat ek die eerste druppels teen die ruit hoor, en oor my oë en langs my wange af voel.

Toe ek wakker word van die koue deur die venster, en die vroeë verkeer, bly ek met toe oë lê, skakel uit gewoonte die bedlamp aan. Later breek die lig deur en ek bly bewegingloos teen die kussing lê. Die bondeltjie op die bed oorkant roer nie. Ek gaap en sug, staan op, neem my skoolklere en gaan trek in die kombuis aan. Ek skakel die ketel aan en stap badkamer toe; doen my ronde van bak tot bak, spoel my mond uit, kam my hare. Ek hoor die ketel in die kombuis oorkook en haar hoesbuie uit die kamer.

Aan die strate kan ’n mens nie sien dat ’n laat donderstorm die vorige nag oor die stad getrek het nie. Net ou plakkate met slagspreuke lê oral.

Ek stap die skoolterrein binne. Seuns baljaar. Pouse leun ek teen die draad, en kyk tussen die geboue deur; verbeel my dat ek ons woonstelblok kan uitken.

Terwyl die seuns ongeduldig tas in die hand staan, doen die onderwyser die laaste afkondigings: “Onthou die eksamen begin Donderdag.” Die seuns slaan, skop, lag tussen die herfsbome deur, kry fietse, busse die straat in, huis toe.

Met my tas wat swaar aan my maer arm hang, stap ek skop-skop die straat af en gaan deur die parkie waar swartes soos lyke op die gras lê. Verdagte mans stap stadig rond en kyk met groot belangstelling na blomakkertjies. Met lang treë haal ek die verkeerslig. Aan die ander kant van die straat bly ek staan; dubbeldekkers kruip by my verby teen die heuwel uit, gepak met mense. Die strate blink vol motors en glasskerwe.

By ons woonstelblok bly ek kop onderstebo in die portaal staan en wag op die hyser. Ek sien vreemde vrouens met kindertjies by die deur instap. In die hyser is ons saam met die skoonmaker wat op sy knieskerms staan en ek ruik politoer en parfuum.

Ek stamp die woonsteldeur op knip, laat val my tas in die gang en stap kombuis toe, maar die tafel is leeg. ’n Ruk lank bly ek by die leë tafel staan, stap dan na die venster, kyk teen ander blink vensters vas. Uiteindelik gaan ek slaapkamer toe en bly in die deur staan. My ma lê met haar kop van die kussing af en haar nagrok is opgeskuif oor haar knieë. Ek stap nader, plaas haar kop reg en trek haar nagrok af.

Ek klap haar liggies teen die wang en roep: “Word wakker  ...” en weer: “Word wakker  ...”, maar sy bly stil teen die kussing lê.

Ek gaan uit en roep die vrou langsaan. Gewigtig met voorskoot kom sy binne.

“Kom help my,” sê sy, skud die kussing reg en plaas my ma in ’n sitposisie.

“Gou,” sê sy gebukkend. “Gaan maak sterk, swart koffie.” Sy vee die sweet van haar gesig af.

In die kombuis bly ek ’n ruk lank teen die wasbak staan, en soek dan die ketel in die kassie. Ek maak dit vol en skakel dit aan.

Toe ek terugkom in die kamer, sien ek hoe die buurvrou my ma se kop tussen haar bene druk tot sy ’n kreun hoor. Sy gryp die nat waslap en vryf aanhoudend oor haar gesig en klap-klap teen die wange todat my ma sug en antwoord op die geroep. Ek bring die swart koffie nader en die vrou forseer dit in haar keel af tot sy bietjies-bietjies opbring en dan swak sê: “Dankie, mevrou  ... dankie.”

Ek gaan staan op die balkon, sien die rokerige stad in die middagson en wag dat die buurvrou moet sê: “Ek moet gaan; my kos brand al seker aan.” Maar sy sê dit nie. Sy kom net langs my staan en sê na ’n ruk: “Jy moet maar die woonstelsleutel by my los as jy môre skool toe gaan.”

Ek druk die deur agter haar op knip, stap terug slaapkamer toe en gaan sit op die bed langs my ma. Ek vee haar gesig af. Sy swaai haar kop van kant tot kant op die kussing, sug swaar en kreun.

“Waarmee sal ons gaan?” vra ek met ’n bewerige stem, sluk en probeer weer: “Waarmee sal ons gaan  ... waarmee?” Dringender.

Sy maak haar mond oop met die klank van tong en lippe wat vassit.

“Waarmee  ... ?” vra ek weer en plaas my hand agter haar nek en voel die klam, swart hare.

“Met ’n  ... skip” sê sy en snorksug.

“Waarheen  ... ?”

“Waarheen,” antwoord sy moeisaam.

Ek sug en dit klink soos ’n snik: “En dan vaar ons  ...” Daar is geen reaksie nie. “Maande en maande lank en dan kom ons  ...” gaan ek voort.

“Kom ons  ...” mompel sy.

“By  ...” Geen antwoord nie. “By  ...”

Sy gaan aan die hoes. Dit duur ’n hele ruk. Ek vee haar mond en neus af.

Daardie nag gaan slaap ek in die sitkamer en voel so koud, so koud asof ek nooit weer warm sal word nie. Voordag word ek wakker en bly rillend lê; kan nie weer aan die slaap raak nie. Ek stoot my teen die kussing op en luister na die voordagverkeer tot dit tyd word om op te staan. Dan stap ek kamer toe. Met my skoolklere oor my arm bly ek lank voor die hangkas staan en kyk na die roerlose bondeltjie op die bed.

Na ek klaar koffie gedrink het, neem ek my boektas en trek die deur op knip.

Op plakkate langs die strate is groot koerantopskrifte: Geweld neem toe. Duisende sterf.

In die klaskamer kyk ek by die staalvenster uit en sien die lang sementstoep met sy pilare, en ek wonder: Hoe lank nog?

Daar is ’n klop aan die klaskamerdeur en Meneer maak oop vir die sekretaresse.

“Meneer, die hoof wil hóm asseblief spreek.” Sy wys na my.

Ek lig my uit die bank en stap by die deur uit. Stadig stap ek met die lang sementstoep af tot by die hoof se kantoor, klop en wag.

Roesbruin blare sweef langsaam grond toe voor die skoolgebou verby.

Van die stad se kant af hoor ek skielik ’n sarsie geweerskote.

“O,” sê die hoof asof verbaas. “Sit, seun.” Hy gaan sit en skuif hom gemaklik in sy leunstoel, plaas sy hande voor hom op die blink lessenaar en vra: “Hoe gaan dit met die skoolwerk?”

“Goed, meneer  ...”

Die hoof knik ’n paar maal instemmend en sê dan na ’n stilte waarin hy opstaan: “Julle buurvrou het ’n rukkie gelede gebel  ...”

“Ja, meneer  ...”

Die hoof stap om sy breë lessenaar en sit sy hand op my skouer: “Jou mammie is vanoggend oorlede.”

Die hoof praat nog terwyl ek reeds by die deur uitstap: “Gaan maar eers klas toe. Jou klasonderwyser sal jou woonstel toe neem. Sorg asseblief dat jy weer Donderdag in die skool is. Die eksamen ...”

Sirenes gaan onbedaarlik aan die huil.

Ek stap die lang sementstoep af en begin glimlag. My glimlag verbreed en ek druk my kop teen die naaste stoeppilaar. Met my lippe teen die koel klip fluister ek: “Vaar wel. Vaar baie, baie wel.”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.