NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Kobus Erasmus
is op Stellenbosch gebore en het op ’n plot buite die dorp grootgeword. Ek het ook ’n aantal jare in Pretoria deurgebring, waar ek as ’n ekonoom in die landboubedryf gewerk het. Sedertdien het ek tydelik van die korporatiewe wêreld ontsnap en woon tans in Seepunt.
  naam

Mannie

Kobus Erasmus

Voor hy en Mannie oud genoeg was om skool te gaan, het die twee van hulle alles saam gedoen op die plot waar hulle gebly het. Veral in die oggende terwyl die ander kinders in die skool was, het hulle die hele plek vir hulself gehad. Hy het baie gou die voordele van sy vriendskap met Mannie besef. Sy pa was die eienaar van die plot en Mannie-hulle was bywoners en werkers. Hy het die troef gehad wanneer hulle stry kry, hy kon sy speelmaat verkla as hy nie sy plek ken nie. Mannie was amper ’n jaar ouer as hy en eintlik reeds ’n jaar laat vir skool, maar ouderdom het nie veel gewig gedra nie. Hy het nooit regtig sy mag teenoor Mannie misbruik nie, maar hy het outomaties die besluite geneem in die meeste van hul doen en late.

Hulle het oggende by die beesstalle of iewers anders op neutrale grond ontmoet en dan besluit wat hulle die dag sou doen. Hulle het graag in die sloot gaan speel, of as die boonste dam nie te vol was nie, kon hulle daar ’n modderglybaan teen die damwal maak. Die boonste dam was nie baie diep nie en half toegegroei met lang riete. Die vinke het nes gemaak in die riete en met ’n geskel opgevlieg as hulle aankom, geelvinke en rooi-bontes met lang swart sterte. Hy kon die sagte swart klei deur sy tone voel wurm terwyl hulle bakhand water skep om die damwal nat te gooi. As die wal goed nat was kon hulle begin om met hul voete die glybaan glad te maak. Hulle het eers op hul voete probeer skaats, maar gou het een al gillende op sy boude beland en tot binne in die water gegly. Ná die eerste waterdoop het dit al rowwer geraak en hulle het teen die wal probeer uithardloop. Nou was die wal reeds seepglad en hulle het val-val agteruit op hul mae teruggegly. Die speletjie het hulle gou uitasem gehad en dan het hulle op die wal in die son gesit en droog word.

Deur die loop van die oggend het hy altyd vir hulle aanmaakkoeldrank of lemoene in die kombuis gaan haal. Hieroor het hy ’n bietjie skuldig gevoel en probeer om dit nie te ooglopend te doen nie. Mannie was wel sy maat, maar hy was in die eerste plek die werkerseun. Hy het geweet sy ma koop nie kos sodat hy dit onder die werkers kan uitdeel nie. Maar om ’n lemoen te eet terwyl jou maat net kan sit en toekyk, sou nie werk nie, dus het hy tog twee van alles gaan haal en hulle het dan buite sig, agter die huis gaan eet. Mannie was nooit in ’n posisie om hierdie mededeelsaamheid van sy kant af aan te bied nie, maar was altyd bly oor wat ook al aangebied word.

Hulle was nog te klein om eintlik met die werk op die plot te help, maar die dag as daar skaap geslag is, het Mannie se pa hulle geroep. Met ferm woorde het Mannie se pa die werk uitgedeel by die slagtery. Ná die skaap uitgewys en gevang is, moes elkeen ’n poot vashou terwyl hulle in ’n kring om die skaap hurk. Hy was altyd bang dat iets skeef sou loop. Die mes was skerp en die skaap sou skop en dan steun terwyl Mannie se pa die dier se nek agteroor buig. Hy was verlig, vir sy eie onthalwe en ook vir die skaap wanneer die bloed in die gras lê en die slagskaap se pote slap word. Dan moes hulle die vel ooptrek terwyl dit van die karkas weggesny word. Die werksmense was altyd bly oor die slagding, die dele van die skaap wat die huismense nie eet nie gaan na die werkers toe. Na die skaap oopgesny is, het Mannie vinnig met die voetpad langs huis toe gehol en met ’n nerf-af enemmelskottel teruggekom vir die binnegoed.

Mannie-hulle het vêr van die plaasopstal, anderkant die dam aan die onderste punt van die plot gebly. Hy het nooit na Mannie se huis gegaan nie. Op pad na die werkershuis loop die voetpad verby die varkhokke en dit was net tot by hierdie punt waar hy gemaklik gevoel het om saam te loop. Daar het hy vir Mannie gewag en vir die varke gekyk. Terwyl hy oor die hok se muur leun, sou die varke hom ondersoekend aankyk met hul klein ogies, hul vlesige neuse snuifend na hom.

Anderkant die varkhokke het hy ontuis gevoel, asof hy ’n ongenooide besoeker was. Die honde sou vir hom begin blaf en die mense sku in die huis verdwyn. Tog het hy eendag besluit om saam met Mannie tot by hul huis te gaan, hy kon nie eintlik aan ’n rede dink hoekom hy op ’n afstand moes wag nie. Sy pa was tog die baas van die grond en hy kon gaan waar hy wou. Op die stoep van die werkershuisie het hy dadelik spyt gekry dat hy so vêr saamgeloop het, maar omdraai sou nou snaaks lyk. Hy het by die kombuisdeur se drempel vasgesteek. Mannie se ma was besig in die kombuis en het opgekyk. Toe sy hom sien, hou sy dadelik op waarmee sy besig was en staar hom aan. Moet sy hom innooi, het hy outomaties toegang tot die huis, of moet hy eerder buite wag? By hul eie huis was dit maklik, daar het Mannie altyd buite gewag en daar was nie eers sprake dat hy sou ingaan of ingenooi word nie. Sy het vinnig omgedraai na Mannie, wat reeds in die kombuis was, en vies gevra: “Wat maak jy ?” Mannie het versteen en die drie van hulle het mekaar ’n oomblik onseker aangekyk. Skielik het sy moed hom begewe en hy het verleë om die hoek van die huis geskuif om daar te wag. Eers nadat hulle weer by die varkhokke verby is, het die honde bedaar en die kinders uit die huis gekom om hulle agterna te staar.

Nie een van sy broers of susters sou ooit na die werkers se huis toe gaan nie. Sy pa het soms soontoe gegaan, soos wanneer daar moleste was met die bure se werkers of miskien met ’n noodgeval met een van die kinders. Maar selfs ná sy ongemaklikheid die dag by die werkershuis, het hy steeds gewonder oor Mannie se mense. Wat maak hulle dan so anders?

Mannie se oom het in ’n buitekamer agter die motorhuis op die plot gebly en Mannie het vrye toegang tot die kamer gehad. Eendag toe Jim nie daar was nie, het hy Mannie aangepor dat hulle saam by die buitekamer moet inglip. Mannie was eers onseker en half verleë oor die versoek, maar het toe ingestem. Die kamer was donker en het bedompig geruik. Hulle het die klerekas oopgemaak en na Jim se goed gekyk. Afgesien van een netjiese broek en ’n hemp wat mooi eenkant gehang het, was Jim se klere maar verslete en karig. Hy was gespanne oor hul oortreding in die kamer, maar terselfdertyd het sy hart opgewonde geklop. Mannie was dadelik tuis en het laggend op die bed gespring, skielik uitbundig oor hul saamwees in die toe kamer. Daar was nie lakens op die enkelbed nie. Net die grys komberse, grof teen hul seunslywe. Skielik was hy die besoeker in Mannie se wêreld, vir die eerste keer nie meer die hoof van hul vriendskap nie.

Die lomer lig van die kamer en die vreemde rokerige reuk van die komberse het sy kop lig en bedwelm laat voel. Die klapperhaarmatras was stekelrig teen sy kaal rug en hy kon brandprikkels teen sy blaaie voel uitslaan. Eers later het dit hom opgeval dat Mannie se vel, anders as syne, glad en blink teen die ruwe beddegoed afwys.


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.