NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Elias P. Nel word groot in Verneukpan en later in Kraaifontein. Hy is ’n pakhuisbestuurder by die Provinsiale Administrasie Wes-Kaap. Sy bundel kortverhale, Iets goeds uit Verneukpan?, het einde 1998 verskyn. Elias is ook ’n bestuurslid van die Afrikaanse Skrywersvereniging.
  Elias P. Nel
Nog kortverhale deur Elias P. Nel:

Witkopdonkie

Vandat ek hom die eerste keer in die somer van 1969 gesien het, was my belangstelling oor hom gaande. Ons was op pad huis toe na nog ’n lang skooldag by die Hoërskool Bellville-Suid. Die stoomlokomotief op pad na Malmesbury stoom Kraaifontein blasend binne. Regoor Sakkiesdorp met sy rye en rye aaneengekoekde sinkhuisies en donker rookwolke erger as dié van die lokomotief, hoor ek hoe my skoolmaats skree:
    “Kyk vir ou Witkopdonkie! Kyk hoe lyk ou Witkopdonkie!”

Ek kyk ook. Wat ek sien, vul my met gemengde gevoelens. Ek weet nie of ek saam met my maats moet lag of eerder die arme man moet bejammer nie. Langs die trein wat nou teen ’n slakkepas ry, hardloop ’n ouerige man terwyl hy op sy kitaar speel. Dis ’n redelike komieklike gesig. Ek kan goed verstaan waarom my maats hulle wil breek van die lag. Die man het ’n breë randhoed op sy kop, waarin daar ’n paar wuiwende volstruisvere is. ’n Bont das moet die broek waarvan die pype in die sokkies gesteek is, om die lyf hou. Om sy nek is daar ’n doekie gedrapeer en nog ’n helderkleurige bont das is liggies om die hemp se kraag getrek. Die ou man hardloop nog vir ’n goeie drie of vier minute langs ons kompartement voordat die trein se spoed vir hom te veel word. Ek sien nog vir oulaas sy geplooide gesig waaroor daar ’n glimlag speel.

Die ander kinders is nou tevrede, hulle gee pad van die treinvenster en gaan voort met dit waarmee hulle vroeër besig was. Ek staan alleen voor die venster, tot die kitaarspelende ou man heeltemal uit my gesigsveld verdwyn. Nou is ek doodnuuskierig. Ek moet net eenvoudig meer omtrent die man uitvind. Miskien kan my nuuskierigheid daaraan toegeskryf word dat ek maar net ’n raps meer as ’n jaar gelede uit die rustige Verneukpan in die Boesmanland hier aangekom het. Sulke optrede is vir my soos baie ander dinge in my nuwe woonplek, eenvoudig vreemd. Ek moet net my nuuskierigheid stil.

My maats steur hul nie eers aan my geneul nie. Toe ek later sonder ophou kerm en aandring, antwoord Tubby Booysen my ewe kortaf.
    “Jissie, my ou, ken jy nou noggie vir ou Witkopdonkie nie? Hys sommer ’n ou malletjie wat daar in Scottsville bly.”
    Hy waai my met sy pofferhand weg en gaan doodluiters met sy kaartspel voort. Maar ek is nie tevrede nie. Binne in my het die begeerte om meer omtrent die ou man uit te vind, soos ’n staanvuur op ’n koue Boesmanlandse wintermôre gebrand. Ek het bly wonder: Hoe is dit moontlik dat ’n middeljarige man so kan optree? Hoe werk sy verstand? Wat dryf hom om so in die hitte al langs die treinspoor te hardloop? En waarom moet hy juis op sy kitaar speel?

Lank nadat die vrae vir dae aaneen deur my kop bly maal het en niemand my wou of kon antwoord daarop nie, loop ek my eendag trompop in Witkopdonkie vas. Ek vleg met die voetpaadjie deur die skouerhoogte Port Jacksonboompies en stamp byna teen hom. Ek wil sommer weghardloop; ’n mens weet nooit waartoe so ’n mal mens instaat is nie. My bene weier om verstand te gehoorsaam. Lam van vrees en met ’n kurkdroë mond staan en kyk ek na Witkopdonkie. Dié is net so verskrik. Dis eers toe ek hom in die oë kyk dat die vrees stadig uit my liggaam wegspoel. Sy oë sê alles. Hy kan nie tot geweld in staat wees nie, daarvoor is die kyk in sy bruin oë veels te sag. Ek voel sommer dadelik op my gemak.
    “Het Boeta nie ’n ou twintig sentjie vir ou Willie nie?” vra hy skielik. Ek skrik vir die sagte half pleitende stem, ek het ’n meer weerbarstige stem verwag. Hy verstaan my effense aarseling as ’n weiering want hy vra weer met meer dringendheid in sy stem:
    “ ’Seblief Boeta, ou Willie wil net ’n broodjie koop, ’seblief tog.” Ek krap in my skoolsak rond en skraap ’n paar sente bymekaar. Dis nou wel nie twintig sent nie, maar darem genoeg om ’n brood mee te koop. Ek hou dit na hom uit en hy gryp dit gretig. Daar kom skielik lewe in hom. Hy begin gallop en trippel terwyl hy soos ’n perd runnik. Benoud staan ek vinnig ’n paar treë agteruit, net vir ingeval. Toe hy klaar gallop het, sê hy vinnig: “Dankie Boeta” en maak hom uit die voete. Ek kyk hom stilswyend agterna toe hy oor die teerpad na die naaste winkel hardloop. Nou verstaan ek nog minder as voorheen.

Na dié dag sien ek Witkopdonkie meer gereeld. Elke keer bloei my hart vir die ou man met die verspotte naam. Soos ons begin gesels, kom ek agter dat hy sommer oral slaap. Ek bekommer my. Is hy dan nie aan allerlei gevare blootgestel nie? Niemand wil my help nie. Al die grootmense wil nie na my luister nie. Selfs nie eens ouderling Jacobs, die mees invloedryke man in ons gemeenskap, wou help nie. Hy wil van my weet:
    “Waarom wil jy iemand help wat nie gehelp wil wees nie?”

Ek het nie die antwoord op die vraag geweet nie. En Witkopdonkie of Willem Syster soos intussen uitgevind het sy regte naam is, wil ook niks van hulp weet nie. Toe ek hom probeer ompraat om van die straat af te bly, los hy ’n bom wat maak dat ek hom nog minder verstaan.
    “Vir wat sukkel jy met ou Donkie, Boeta? Ek is ou Willie van allie jare, niemand ga my niks maakie. Ou Willie hou hom net mal om vir julle te bedonnerd. Sal jy vir ’n regte ou geld gee? Nie, jy gee aider vir ’n malletjie. Issitie so nie?”
    Voor ek tot verhaal kan kom, is hy alweer besig met sy toertjie. Al runnikende en galloppende verdwyn hy voordat ek verder met hom kan redeneer. Ek is teleurgesteld, net toe ek dink ek begin hom verstaan, besef ek hoe sleg ek hom in werklikheid ken.

Na dié dag het ek Witkopdonkie al minder en minder gesien. Die jare het aangestap en ek het na matriek by ’n plaaslike sakeonderneming begin werk. Die laaste keer dat ek hom gesien het, onthou ek soos gister. Met ’n nerfaf en geswelde gesig staan hy voor my op die parkeerterrein buite my werkplek.
    “Wat makeer, ou Willie?”
    Hy kyk verby my na waar die Stellenbosch-berge teen die blou lug afgeëts staan. Asof hy met iemand in die verte praat sê hy saggies:
    “Dissie jongens wat my so geboval het, Boeta.”
    En toe kom daar weer lewe in sy toegeswelde oë en hy sê effens harder en met sy ou vrolikheid self:
    “Marietjie moenie warrie, Boeta. Ek is nog altyd ou Willie van allie dae.”

Twee weke na dié dag word Kraaifontein geruk deur die nuus: Witkopdonkie is dood! Vermoor. Sy verminkte liggaam is een oggend vroeg op die spoorlyn waarlangs hy soveel keer vantevore gehardloop het, opgetel. Sy moordenaars moes hom of dood of bewusteloos op die spoorlyn gaan neerlê het, nadat hulle hom eers aangerand het. Almal wat hom geken het, was geskok. Ek kon maar net in stilte uitroep: Hoe dikwels het ek julle nie probeer waarsku nie, maar julle wou nie luister nie.

Vol selfverwyt het ek toe besef. Witkopdonkie is nie meer ou Willie van allie dae nie. Hy was ou Willie van gister en eergister. ’n Herinnering. ’n Vae gedagte wat al runnikende deur my lewe kom gallop het.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.