NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Emile Joubert
Emile Joubert werk as skakelpraktisyn in Kaapstad en pleeg nou en dan vryskutartikels vir verskeie publikasies, asook fiktiewe kortverhale. Uit laasgenoemde daad is een kortverhaalbundel, Die Aptyt van Anna Blow, gebore. Meegaande verhaal, “Die sandstewel”, word opgedra aan oorle‘ Oupa Fritz, wie se stel Piccadilly-stiebeuels nog altyd in die koel, donker kombuis op Swartboskraal hang.
  Emile Joubert

Die sandstewel

Emile Joubert

Ons was nie bang vir die oorlog nie. Want Pa en Oupa en die ooms wat gereeld op die plaas kom kuier het, het vir ons gesê die oorlog is ver weg, daar waar die goud en die Kaffers is. Hier in die Kaap was ons veilig, het Oupa gesê, want die Kakies het geweet dat ons moeilike manne is. Hulle sou dit nie oor die Rivier waag om ons plase te steel en die vrouens en kinders in die kampe te sit nie, want hulle het geweet van watter murg die manne hier — “veral ons Sandvelders” — gemaak is.

Dit was dan ook die rede, het Oupa een dag gesê toe Oom Fritz wou weet of die Kaapse manne dan nie die Boere in die Vrystaat moes gaan help na ’n groot geveg nie, waarom die Sandvelders op die plase moes bly. Om seker te maak die Kakies weet ons manne is hier. En dan nie ooit in die versoeking gebring sou word om ons wêreld in te val nie.

Die mans gaan egter gereeld weg. Dan is ek die man in die huis. Soos nou dat Pa en Oupa Leonard en Oom Blackie-hulle gaan jag het, en ek en Ma, Mienkie en Boetman alleen op die plaas is. Want een van Oom Fritz se neefs naby Lambertsbaai het glo springbok gesien, en met springbok in die omtes kan ons biltong hê tot Kersfees.

Eintlik het ek gewens daar was vir die man in die huis meer om te doen as die dinge wat ek maar gewoonlik gedoen het. Ek het met Vaaltyn die skape in die kraal gejaag, hom gehelp om die sewe beeste twee keer per dag te melk, voëls geskiet met my kettie en, saans as die son sak oor die sanderige aartappelland wat tot die knolrotse doodloop, met die kleintjies gespeel op die stoep.

Twee dae nadat Pa en Oupa saam met die ander mans op hul perde weggery het, kom Oom Wit Carstens en Jurie op die plaas aan om dip te haal. Ek en Gielie, Oom Jurie se seun wat net so oud soos ek is, stap onmiddellik na die grondboontjieskuur toe om rotte met ons ketties te skiet, en toe vertel hy vir my van die Kakies.

Ek het geluister terwyl ons oor die werf stap, my kop gesak om te sorg dat my kaalvoete die ergste doringbeddings vermy. En terwyl Gielie nog praat, sê ek vir hom dit kan nie Kakies wees nie, want hulle is mos te bang vir die Kaap, en veral vir die Sandvelders.

Hy belowe vir my ’n blik kondensmelk as hy verkeerd is. “Wat dit ook al is,” sê Jurie, “daar is soldate by Teeberg”.

Ons het in stilte gesit in die donker, koel grondboontjiestoor en gedink aan die soldate. Skielik was ons nie meer lus om rotte te skiet nie, en ons het ons ketties langs ons gesit en gedink dat ons nog nooit soldate gesien het nie. Ooms met baarde en gewere en perde, maar nie soldate nie.

Ons het toe ook — en ek dink die gedagte was myne — besluit om na die soldate te gaan kyk.

Daardie aand aan tafel, nadat ek die dankgebed gedoen het, vra ek vir Ma of ek Donderdag, twee dae van nou, saam met Gielie kan gaan duiwe skiet by Boesmanrant.

Ma is besig om vir Mienkie en Boetman te help om hul vleis en groente te sny. Haar sterk arms beweeg vinnig terwyl sy werk. Sy lyk moeg en haar blonde hare het losgekom uit die bolla en hang los aan die een kant van haar gesig en val oor haar blou rok.

“As al die werk op die werf klaar is en jy jou stories gelees het,” sê sy. “Maar miskien is jou pa dan al terug, dan beter jy vir hom vra.”

Pa het teen Donderdag nog nie teruggekom nie, so nadat ek en Vaaltyn die beeste klaargemelk het, pak ek wors en brood en water in een van Pa se ou lapsakke. Ek trek my velskoene aan want daar is meer klippe en dorings in die berge as op die plaas, en nadat ek vir Ma gesoen het waar sy ’n baksel beskuit uit die oond haal, loop ek by die kombuisdeur uit.

***

Dis ’n koel oggend wat koeler voel ná die warm reuk van vars melk en brood en die kombuis se misvloer. Die son is nog nie op nie, maar uit Teeberg se rigting raak die lig rooi. Ek stap in stilte oor die aartappelland en al wat ek hoor is die sand wat onder my velskoene skuur. Ek dink, soos die vorige twee dae, heeltyd aan soldate. Ek het nog net tekeninge van ’n paar soldate in Oupa se koerante gesien, en wonder hoe hulle in die regte lewe sal lyk en of hulle groot sal wees en snorre sal hê, toe hoor ek Gielie se lang, skerp fluit.

Hy het twee myl verder as ek gehad om te stap van sy plaas af, maar Oom Wit Carstens sou hom later vanmiddag, wanneer ons terug is, met die perdekar by ons huis kom haal. Maar dit is nog lank.

Ek en Gielie stap vinnig — ons weet waarheen ons gaan — en praat min, en toe dit steiler en bebos begin raak, is ons heeltemal stil.

Die son is nou warm en ons moet nou en dan stop om water te drink, en toe ons op Waaipad kom, gaan sit ons op ’n klip en kyk oor ’n bar stuk sand en klip na waar Teeberg in die verte lê. Die eerste deel van Teeberg is bosse, met kolle grys sand. En dan halfpad na bo, is dit ’n langwerpige ronde gladde rots, wat my altyd laat dink hulle moes dit eerder Waatlemoenberg genoem het.

Die berg se grys lyk amper swart teen die ligblou lug. Ek kyk na die berg en knyp my oë om beter te kan sien.

“Ek sien niks nie,” sê ek vir Gielie. Hy bly stil en sê ons is nog te ver. Ons het nog water gedrink en ek het die sweet van my voorkop met die mou van my hemp afgevee. Ek trek my hoed stywer oor my kop om seker te maak my nek is toe.

“Wat nou?” vra ek.

“Ons moet nader aan die berg kom.”

“En as daar soldate is?” vra ek.

“Wat bedoel jy as daar soldate is? Dan sien ons hulle. Dis mos waarvoor ons hier is.”

Ek het vinnig gedink oor die dom ding wat ek gesê het, en, miskien, die dom ding wat ons gedoen het deur in die eerste plek hier te wees.

“Kom,” sê Gielie en staan op vanaf die klip waar hy gesit het. “Kom ons gaan kyk.”

Hy draai om en die bruin hemp fladder aan sy maer lyf soos ons meteens ’n briesie uit die ooste voel. Ongelukkig is dit nie ’n koel wind nie. Dit is warm.

En toe, sowat tien minute se stap later, sak ek op my knieë.

“Wat’s fout?” vra Gielie.

Ek voel die asem jaag in my keel, nie van moegheid nie.

“Sssshhhh. Sit!” sê ek.

Gielie sak ook op sy knieë en ek wys vir hom.

Teen Teeberg sien ons nou ’n paar — so drie, vier — driehoekige voorwerpe. Die goed se ligte kleur maak dit maklik om teen donker berg en droë veld uit te ken. “Tente,” fluister hy.

Ek trek my hoed laag tot net bokant my oë om die son sover as moontlik uit te sny. Ek sien ook spikkels wat beweeg. Perde. En kleiner spikkels, wat net mense kan wees. Ons hou hulle dop in stilte. Soos ons oë gewoond raak aan die klein vorms, sien ons beter. Van die kleiner spikkels is wit, seker soldate wat sonder hemde rondstap. Nou en dan blink daar skielik iets — gewere se metaal? — vanuit die kamp se rigting. Ek sien ’n blinkswart perd.

“Jisso,” sê Gielie, “ek het jou gesê hier is soldate.”

***

Noudat ek dit gesien het, begin die vrae: Wie is hulle? Waar kom hulle vandaan? Maak hulle oorlog? Is hulle vriende of vyande?

“Ek wed jou dis Hollandse soldate wat ons teen die Kakies beskerm,” sê Gielie. Maar ék dink dit kan nie wees nie want, as ek vir Oupa en Pa glo, is die Kakies vir die Kaapse Boere bang, en nie vir ’n klomp Hollanders nie.

“Ons moet teruggaan,” sê ek.

“Waarom?” vra Gielie en lyk asof hy my spot. “Is jy bang?”

“Nee,” sê ek. “Ek moet vir my ma gaan sê.”

Gielie lag deur sy tande. “Is jy laf? Hoe gaan jy aan haar verduidelik dat jy by Teeberg opgeëindig het nadat jy vir haar gesê het ons duiwe gaan skiet by Boesmanrant? Of weet sy jy lieg?”

“Maar mense moet weet!” sê ek.

“Hulle weet mos al klaar,” sê Gielie. “Waarom anders is ons dan hier, Slimjan?”

Ons sit nog in stilte, toe sien ons hoe ’n paar ruiters by die kamp aankom. Klein vorms wat ons weet mense is wat van die perde afgly.

“Kom ons gaan nader,” sê Gielie. Sy oë blink van opgewondenheid. “Toe man, ons kan nog nie eers hul gewere sien nie.”

Wat my laat dink dat ons, tot in hierdie stadium, nog nie eers geweet het dis soldate nie. Ons het maar net so gedink — miskien was dit ’n kerkkamp wat binnekort boeresports gaan begin hou.
Ek agtervolg Gielie toe hy opstaan en stap so saggies as moontlik agter hom aan. “Hulle gaan ons sien as ons oor die vlakte stap,” sê Gielie. Ons hou links, teen die klippe.

Soos ons nader aan die kamp beweeg, begin ons besef dis beslis soldate. Die meeste van die figure dra dieselfde kleur klere en van hulle hou lang, donker goed vas wat seker maar net gewere kan wees. Ek vra vir Gielie of ons maar nie nou moet terugdraai noudat ons hulle gesien het nie, maar hy wou nader kom. Hy wou die perde van nader sien, en as hulle Hollanders was wou hy hulle vra of hulle al Kakies geskiet het. En of die Kakies, soos die Boere gesê het, blou bloed het.

Ons beweeg nader aan die kamp, en als raak groter: die perde, die mans, die tente. Ons begin nou ook geluide hoor. Stemme in die verte. ’n Perd wat blaas. Dis nie ’n groot kamp nie, maar die feit dat daar soldate in uniforms is met gewere en perde laat die kamp groot lyk.

Toe ek een van die mans se snorre uitmaak, toe hoor ons die perd agter ons.

Ek en Gielie draai onmiddellik om en sien ’n soldaat op ’n groot bruin perd wat in ons rigting aangery kom. My hart klop in my keel. Gielie tel ’n klip op. Maar ons kan niks doen nie. Die perd stop tien tree van ons.

Op die perd sit ’n man in kakieklere. Hy dra ’n velthoed met ’n band, en ek en Gielie wéét onmiddellik dis ’n Engelse soldaat. Sy uniform is skoon en plat en sy stewels, wat tot sy knieë kom, is blinkbruin en skoon. Sy geweer hang om sy skouer en hy het nog ’n pistool op sy heup. Voor ek kan dink oor wat hy met ons gaan doen, sien ek hoe jonk hy is. Seker nie meer as vyf, ses jaar ouer as ek en Gielie nie, en ons is twaalf.

Sy gesig is pienk van die son en sy vel gladderig. Bokant sy bolip is daar dun, rooi-wit haartjies, poging tot ’n snor. Sy wange is rond en sy kaal hande waarin die perd se leisels rus is bleek en het sproete op.

Maar dis sy oë — sulke verdrietige meisiesoë — wat hom sag laat lyk. Sy mond het ’n effense glimlag, maar dis nie ’n gelukkige glimlag nie.

Ek weet nie waarom nie, maar dit lyk nie asof die Kakie in ’n oorlog wou wees nie. Eintlik lyk hy nie rêrig soos ’n soldaat nie.

Omdat hy ’n Kakie is, kan ons hom nie verstaan toe hy begin praat nie. Hy vat eers aan sy hoed met sy duim en voorvinger en terwyl hy praat, kan ons niks uitmaak nie. Net “hallo” en twee keer die woord “British”. Daar was ook goed wat soos ’n paar vrae geklink het, en toe hy besef ons kan nie met hom praat nie, het hy ’n waterbottel uit sy saal gehaal en vir ons gehou om aan te drink.

Toe ek nader gaan om die waterbottel vir hom terug te gee, kyk ek weer na sy pragtige stewels. Ek kan die leer ruik, en sonder om te weet wat ek doen steek ek my hand uit en vat aan die stiebeuel waarin sy linkerstewel rus. Die stiebeuel is skitterblink in die middagson, maar voel koud in my hande. Ek sien ook die letters “J.T.” netjies uitgekrap aan die hak van sy stewel.

Toe ek opkyk, glimlag die Kakie vir my en hy knipoog. Hy moes seker nou net begin ry het want die bruinrooi perd is droog, en met ’n paar woorde beduie hy in die teenoorgestelde rigting van die kamp, en sover as wat ek kon verstaan, vra hy vir ons om terug te gaan vanwaar ons gekom het.

Hy salueer vir ons, en soos hy terugry na die kamp begin ek en Gielie ons lang tog terug huis toe.

Ons stap in stilte, elkeen met die wete dat hy nie net die soldate en hul kamp gesien het nie, maar ’n Kakie van naby. Sommer uit sy waterbottel gedrink, ook.

“Gaan jy sê?” vra ek vir Gielie.

Hy bly eers stil. “Wat?”

“Dat ons hier was?”

“Ek weet nie,” antwoord hy, en ek weet hy dink ook oor die jong man op die perd wat veronderstel is om oorlog teen die Boere te maak. Die man wat eerder na ’n vriend, as ’n soldaat lyk.

Ons praat nie verder nie. Die son is besig om te sak, die ergste hitte verby. Anderkant die wapad drink ons ons waterbottels leeg.

Dis nog ’n uur huis toe, en ek is bly dat die Kakie vir ons van sy water gegee het. Dit laaste klim teen Boesmanrant laat my bene pyn, en ek sien ook dat Gielie — wat heeltyd voor my stap — se pas besig is om stadiger te word. Bo-op Boesmanrant rus ons. Ek is bly om ons plaashuis te sien, die wit mure en die sinkdak wat blink in die sakkende son. Die voëls kwetter langs ons en ver weg kan ons die roep van ’n paar bobbejane hoor.

Wanneer ons by die huis kom, is die son amper weg, en Oom Wittes sit saam met Ma in die kombuis en koffie drink. Mienkie en Boetman is reeds gebad en loop in hul slaapfrokkies rond.
“Hier kom die jagters,” sê Oom Wittes. “Waar’s die duiwe?”

Ek sê dat my kettie se band vroeg in die dag gebreek het, en ons moes Gielie s’n deel en dat ons net kransduiwe geskiet het wat nie lekker is om te eet nie en hulle net daar gelos het.

Ma dra vir ons lemoenstroop en water aan, en ’n ruk later vertrek Gielie en Oom Wittes op die perdekar. Dis amper donker wanneer die twee perde die karretjie deur die bloekkomlaan trek. Ek waai en Gielie salueer vir my.

Pa is nog nie terug nie.

Die volgende dag sê Ma ek moet eers vir haar uit die Bybel lees voordat ek kan gaan speel. Met die oorlog is die skool eers toe want Meester het op ’n kommando gegaan na die noorde en daar was nie ander onderwysers om ons te leer nie. Ek vra vir Ma of ek van Noag kan lees, en sy sê ja. Dis my beste Bybelstorie want ek dink nog altyd hoe ’n wêreld moet lyk wat so toe onder die water is, soos ’n see. En al die diere op die boot. Wat, byvoorbeeld, sou die tiere en die bobbejane saam gedoen het?

Ek is amper klaar toe iemand aan die agterdeur klop. Ma en ek gaan na die kombuis en ons sien vir Vaaltyn deur die sifdeur. Hy het gehardloop. Sy asem jaag.

“Mevrou, daar’s ’n soldaat op pad.”

Ma sê ek en Mienkie en Boetman moet in my kamer gaan speel. Ek wil eers sê ek’s die man in die huis, maar toe sy sê “toe, nou!” weet ek dat selfs die baas nie met haar moet sukkel nie. Ek vind vir Mienkie en Boetman wat op die stoep blokkespeel, en neem hulle na my kamer. Ons speel saam blokke, maar ek kan nie dink nie en myne val eerste om.

’n Rukkie later kom Ma in die kamer in. “Frikkie, kom saam met my.” Sy stuur die bediende, Mary, om met Mienkie en Boetman te speel, en ek stap agter Ma aan na die kombuis. Van agter kyk ek na haar blonde bolla, haar geblomde rok en die band van die blou voorskoot wat om haar middel vas is. Sy’s kaalvoet en loop lig, asof sy nie trap nie, maar dans.

Die kombuis is koel en donker soos gewoonlik, met die sterkste lig wat van die sifdeur kom. Ons stap na die sifdeur en die eerste ding wat ek sien is die Kakie van gister wat onder die peperboom staan terwyl sy pragtige bruin perd liggies aan die groen gras vreet.

“Hy het gesê hy wil met jou praat.” Ek het opgekyk na haar en ek was bang. Ma kan ’n bietjie Engels praat, het ek gehoor. Ek was nie bang vir die jong soldaat nie, maar vir wat hy vir Ma kon gesê het.

“Wat is dit, Ma? Waar’s Pa?”

En toe glimlag sy vir my. “Dit is een van die Engelse soldate wat op pad is na Saldanah,” sê sy. “Hulle het genoeg gehad van die oorlog en die Boere in die noorde het hulle gewen. Nou is hulle maar net op die vlug, na die boot en terug huis toe.” Sy sak op haar knieë. “Ek het gesê ons sal wen. Maar hy het gevra om met die lang seun met die groot bruin hoed te praat. Hy het jou blykbaar in die berg gesien.”

Ek wil dink oor hoe hy weet ek bly hier, maar ek kan nie.

Sy vra my ook nie waarom ek haar nie vertel het waar ek was nie. Miskien het die soldaat gesê dat hy my en Gielie gesien het, en ek nie vir hom nie.

Die Kakie kyk egter glimlaggend vir my, en toe sien ek vir die eerste keer dat hy sy hoed in sy hande hou.

Ek en Ma stap na hom, en net soos gister is sy uniform skoon, sy stewels blinkgepoets. Sy gesig is geskeer behalwe vir die yl snorretjie, wat net so dun soos gister lyk. Sy gesig is pienk, maar in die skadu van die peperboom is daar geen sweet op sy wange nie. Ek sien dat sy vaal, rooierige hare teruggekam is. Ek sien ook hoe kort hy is, omtrent ’n kop langer as ek.

Dit voel baie stil op die werf. Iewers skree ’n piet-my-vrou.

Die Kakie begin stadig te praat, maar ek verstaan nie ’n woord nie. Ek kyk vraend na Ma.

“Hy sê sy naam is James Thoms,” sê my ma. “Hy sê ons woon in ’n warm, harde maar mooi land en dat hy van ’n plek genaamde Hampshire in Engeland kom waar dit groen is met baie water en mooi blomme. Hy sê jy herinner hom baie aan sy jonger broer wat by die huis is en vir wie hy elke dag ’n kort briefie skryf en as hy weer na ons land toe kom, bring hy sy broer saam sodat jy en jou maat vir hom kan wys hoe hoe jou land lyk.”

Die Engelsman wag geduldig sodat my ma vir my vertel wat hy sê. Haar laaste woorde is: “Hy sê hy hou nie van oorlog nie en volgende keer dat hy hier is, hoop hy daar is vrede.”

En toe kom die soldaat vorentoe gestap en steek sy hand in sy broeksak. Toe hy dit uithaal, hou hy twee stiebeuels vas. Dit is soos die stiebeuels wat gister aan sy stewels was en waarna ek so lank gestaan en kyk het. Net, hierdies lyk nuut, sonder krapmerk en is skitterblink gevryf. Hy sê iets wat Ma vertolk as: “’n Geskenk vir jou.”

Ek kyk na Ma en sy beduie met haar oë na die Engelsman. “Toe. Vat dit en sê ‘thank you’.”

Ek steek my hand uit. Hy oorhandig die koel, swaar stiebeuels en ek voel dat sy vingers sag en droog is. Ek staan terug. “Thank you.”

Hy glimlag en knyp liggies my wang en sit sy hoed op sy kop. Skielik strek hy sy skouers terug en neem een tree agteruit en stamp sy stewel hard teen die gras. Hy salueer vir my, kyk in my ma se rigting en raak aan sy hoed en knik sy kop.

Hy klim vinnig op sy perd, draai die dier se kop na regs voordat die perd vinnig tussen die bloekkomlaan weggalop. Ek kan sien dat die soldaat ’n goeie perderuiter is. Die perd laat ’n stofstreep, en ek kyk na die soldaat totdat die stofstreep al is wat oorbly.

“Kakies,” sê my ma. “Een ding wat hulle het, is baie goeie maniere.”

Ek dra heeldag die stiebeuels by my. Ek bekyk hulle oor en oor, en probeer uitvind wat die letters sê wat onderaan die metaal ingebring is. Piccadilly. Ek vra vir Ma, maar sy weet nie wat dit is nie, en sy weet ook nie wat Pa of Oupa sal sê as hulle uitvind ek het ’n present gekry by ’n Kakie nie.

Sover ek van hul gesprekke kan onthou, weet ek nie of hulle weet daar is Kakies in die omtrek nie.

Ek sit daardie middag op die stoep met die knipmes wat Oupa vir my gegee het. Ek probeer om ’n perd uit ’n stuk lemoenhout te kerf, maar dit gaan moeilik. My stiebeuels lê langs my op die bank en blink in die middagson.

Ek melk later die middag saam met Vaaltyn, en hy sê hy weet daar’s Kakies in die omtrek, maar hulle kan niks maak nie. “Daar is mos nie Boere hier nie. Hulle wat wil baklei is op kommando in die noorde. Die Kakies hier kyk net vir Boere en wapens, en probeer by Saldanha uitkom na hul bote.”

Ek wys hom die stiebeuels. Hy fluit deur sy tande. “Jislaaik — dit lyk soos silwer. Geen wonder hulle word so maklik raakgeskiet op die veld nie. Jy kan hierdie goed seker myle ver sien blink.”

“Vaaltyn, waarom is daar oorlog?” vra ek vir hom toe ons die room in die skeier afskei.

“Jong, dit moet jy vir Baas en Oubaas vra. Die Engelse wil die goud in die noorde hê en die boere en hul vrouens en kinders in die kampe sit. Almal op mekaar. Is jy bang vir oorlog, Frikman?”

Ek kyk in sy ronde bruin gesig en ek kan sien hy glimlag. Ek kan vir hom enigiets sê. “Ja,” sê ek. “Ek wil nie hê Ma en Mienkie en Boetman en Pa-hulle moet seerkry nie.” Hy kyk na my in stilte, asof hy vir my wag om nog te praat. “En ek wil ook nie seerkry nie,” sê ek.

Vaaltyn steek sy skurwe hand uit en trek my hoed se rand oor my oë. “Niemand wil nie, Frikman,” sê hy. “As meer mense hul Bybel gelees het sou daar sommer ook minder oorlog wees.”

Ek wil vir hom sê dat ek dink dat baie van die mense in die oorlog, soos die Engelse soldaat, ook bang is vir oorlog. Ek wou ook vra, en miskien sal ek later vir Pa of Oupa, of almal in die oorlog net wil skiet, en of daar van hulle is wat dalk ook bang mag wees.

Wanneer ek later by die huis kom, kan ek nie wag om te gaan slaap nie. Want Ma sê as ek wakker word gaan Pa daar wees. Hulle kom vannag terug, het die dokter wat na ons buurman, Oom Das, se siek ma kom kyk het, gesê.

Ek staan vroeg op, voor ek die eerste haan in Ma se hoenderhok hoor kraai het. Ek maak die houtvensters oop en die koel lig spoel in my kamer in. Dis nog halfdonker buite. Ek hoor stemme, en ek vryf die slaap uit my oë. Ek stap vinnig na die kombuis. Die lamp is aan, so donker is dit nog, en om die tafel sit Pa en Oupa en Ma en ’n paar ander mans. Hulle drink koffie en rook pyp. Gewoonlik is ek skaam vir sulke baie grootmense, maar ek hardloop in en gryp my pa om sy nek. Ek druk my wang teen sy baard en ruik die twak en sweet en leer.

Pa se sterk arm druk my teen hom vas. “My Groot Man, het jy mooi na my vrou en kinders gekyk?”

Ek ruk my los en vat die hand wat hy na my uitgesteek het. Ek skud ook Oupa se hand wat soos skuurpapier voel. Ek sien Ma glimlag. Sy lyk moeg, maar mooi, en ek dink oor die Oorlog en die soldaat en die goed waaroor ek die afgelope tyd gedink het, wat ek vir Vaaltyn gesê het, en ek dink dat om so veilig saam met jou familie te wees in ’n warm kombuis, is al wat mens seker nodig het.

Pa vra vir my of ek koffie wil hê en staan op om vir my ’n stoel nader te trek. Ek is deel van die manne en luister na hul growwerige stemme, hul stories, hul lag. Hulle praat van die bokke en die tier in die berg en die sterre en die harde plekke waar hulle geslaap het.

Al die mans lyk dieselfde ná ’n lang jagtog, dink ek: natterige, taai hare plat op hul voorkoppe. Die voorkoppe is wit van hul hoedens, terwyl die spasie tussen hul baarde en oë bruingebrand is deur die son. Hul oë blink in die lamplig.

En die beste wag nog later vandag, want dan gaan ek vir Pa en Oupa help om biltong te sny en gewere skoon te maak. Miskien as ons dan saam is — ons manne — en begin praat, sal ek vir hom my stiebeuels wys, en die storie vertel.

Toe dit lig raak, gaan ek saam met Vaaltyn melk. Die ander manne se perde is weg wanneer ek terugkom. Pa en Oupa is nie in die kombuis nie, maar ’n kom vol badwater staan op die stoof om warm te word.

Ek en Vaaltyn saal Pa en Oupa se twee swart perde af, sit die saals en die leisels op die gras en lei die perde na die kamp langs die dam.

Ons gaan stoor die saals in die pakhuis, maar ek weet ek sal later die saals moet skoonmaak wanneer hulle droog is. Maar dis nie werk nie. Dis lekker.

Wanneer ons verby die vleiskamer stap, stop ek en kyk na Vaaltyn.

“Ja, kom ons kyk wat die Groot Baas vir ons gebring het,” sê hy, en ek maak die deur oop.

Die vleiskamer is koel en donker soos altyd. Daar is nie, soos gewoonlik ná ’n jag, die reuk van wildsvleis en vel in die kamer nie. Die rak is leeg en daar is niks in die velbalie nie. ’n Bruin seil lê oor iets op die afslagtafel. Terwyl Vaaltyn die seil lig, sien ek die letters “J.T.” op die hak van ’n stowwerige stewel.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.