NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Enkelspel in TJ's

Frikkie de Waal

Die meisie agter die kroeg by die hotel is nogal mooierig - lekker maer en so, maar duidelik verveeld. So elke nou en dan sms sy iemand, rook 'n sigaret, bedien maar nog een van die ander ouens. Die big screen wys Europese sokker - hei, dis rugbywêreld dié! Dood moet altyd 'n oorsaak hê.

"Waar anders kan 'n mens in dié plek gaan?" vra hy.

"Daar's 'n local plek net om die hoek. Jy klop net aan die deur - jy weet, vir die plaasvolk om nie in te kom nie."

Daar's geen naambord of ligte buite die deur nie, maar hy klop maar op vertroue. Iemand loer deur die venster; die deur gaan oop.

TJ's is nou nie juis besig nie, maar ten minste is daar 'n bietjie atmosfeer. 'n Paar manne sit en gesels by die toonbank, by die pool-tafel skop 'n mooi meisiekind 'n ou se gat. 'n Paar van die man se vriende staan en lag vir hom in die hoek, bestel solank 'n rondetjie tequila om die pas te versnel. Die aand het skielik moontlikhede.

Hy stap oor na die kroeg toe, bestel 'n bier. Die kroegman, heel vriendelike mannetjie, bring dit oor, stel homself voor.

"Daar's hy, ek is Tokkie. Aangename kennis, wat maak jy in die wêreld?"

"Aangenaam, Dirk du Toit. Ek ry trokke, ek laai môreoggend kool by die Leroux-plaas. Lekker plekkie wat julle hier het, nogal - joune?"

"So half en half, eintlik my pa s'n, maar ek bestuur dit. Hy boer ook hier buite. 'Skuus dat die plek so toe lyk, die boere hier rond is nie eintlik lus om drinktyd met hul volk deur te bring nie."

Dirk knik, vat 'n sluk van sy bier, bestel sommer 'n skoot brandewyn vir die wis en die onwis. Tokkie stel hom voor aan die ander manne wat sit: die polisieman, die eienaar van die bakkery en 'n jong boer. Soos dinge nou maar loop, raak hulle aan die gesels.

Die bakker moet naderhand aanskuif, sy mense begin vieruur bak en sy vrou bliksem hom as hy nie netnou wil opstaan nie. Dirk en die polisieman grinnik simpatiek, die jong boer lag. Sy sorge sal nog kom.

Die klomp by die pool-tafel begin sit kry; niemand maak hond haaraf teen die meisie nie. Tokkie vind dit besonder amusant, sê vir Dirk hulle het 'n tafel by die huis en hy speel nog net daar teen haar, en ook net as sy daarop aandring. Hy sien nie rede om sy naam in die openbaar krater te maak nie.

Dirk voel 'n jeuk in sy gat en stel voor hulle vat haar en iemand anders aan vir dubbels. Die polisieman vra om verskoning, hy kan nie nou fokus verloor nie, hy speel dubbels van sy eie vanaand - bestel sommer nog enetjie om sy punt te beklemtoon. Die boer reken sy oog mag dalk in wees. Hy stap oor met 'n muntstuk en begin die balle pak. Die meisie, Marisa, is nie eintlik lus nie, maar die boer spin haar 'n wollie dat Dirk Boland-kleure het en sy byt. Nog 'n paar mense kom in en hou vir Tokkie besig, so sy kry die slaansak om haar te partner.

Die druk is 'n bietjie op Dirk, maar dis gelukkig nou nie of hy ongewoond is daaraan om in vreemde plekke te moet uithaal en wys nie. Daar's tuisveldvoordeel, ja, maar daar's altyd die mag van die onbekende. Sy klap sommer drie van die breuk af en mis dan 'n lang randskoot. Dirk haal in en gaan verby deur nog twee ekstra te sink. Haar speelmaat is nie veel werd nie, maar die boer mis op swart. Die spel eindig met Marisa wat swart van 'n bykans onmoontlike hoek na die middelgat wegsny. Sy glimlag leedvermakerig. Begin dinge bietjie voorspelbaar lyk?

Dirk speel die goeie verloorder, koop 'n rytjie sluk uit Meksiko vir die deelnemers, pak nog 'n tafel. Boerman tree uit die stryd, sê vir Dirk hy't nou al 'n hele tydjie droogte op die tafel as gevolg van haar, maar dis asof daar vanaand 'n wolkie op die horison lê vir hom. Hy sit terug en maak homself gemaklik met nog 'n lange. Haar speelmaat het teen dié tyd ook genoeg gehad en gesels luidrugtig met sy maters oor die nuwe stukkie by die coffee shop, maar hou darem 'n skelm oog op verrigtinge.

Uitdager breek, sê die reëls, en Dirk lê aan op die wit bal. Tyd staan stil.

Hy breek goed, sit nog 'n paar weg en los die bal vir haar op 'n ongemaklike plek. Sy's 'n bietjie naby aan die muur om natuurlik aan te lê en gaan haal vir Stompie, 'n halflengte-stok. Snaaks hoe plattelandse kroeë altyd beter toegerus is met sulke dinge. Dan maak sy skoon, sink sommer die swart met 'n brêgherige dubbel van die kussing af.

"Beste uit drie," sê Dirk, en bestel nog 'n ronde kopskote. Hy glimlag vir homself oor sy laataand-vrygewigheid. Die ander manne simpatiseer, die boer is 'n bietjie teleurgesteld dat Dirk verloor het, maar verstaan, en Tokkie geniet die situasie genoeg dat hy sommer nog 'n rytjie staanmaak op die huis.

'n Bietjie later is Dirk weer in die moeilikheid. Marisa het laat waai van die breuk af en lê op swart. Haar oë tart hom uit.

"Kom, Boland, jou skoot."

Daar's 'n paar los balle wat Dirk eers moet wegsit voor hy haar kan snoeker. Sy't nog nie 'n skoot gemis sedert hulle twee speel nie en hy moet haar momentum nou breek of finaal verloor. Sy tref swart tog, maar dit val nie. Dirk laat nie op hom wag nie, maak klaar voor hý dalk mis. Een elk.

Sommer nog 'n rondetjie tequila, los die sout en die suurlemoen. Die boer koop vir hom 'n lange, duidelik in sy skik. Marisa werk bedags by 'n haarsalon. Sy's nou net so 'n jaar terug van Londen af; sy was daar om 'n bietjie te kuier saam met mense wat sy nie van sub A af ken nie en het sommer op die koop toe leer pool speel ook, maar dis lekker om by die huis te wees. Meeste van die tyd, in elk geval. Dirk was nou nog nie oorsee nie, tensy Hentie's tel, maar hy verstaan maar alte goed van by die huis weg wees.

Die toeskouers maak hulle reg vir die beslissende spel.

Dirk se gat begin bietjie stamp, maar sy skote werk darem uit. Marisa staan nie terug nie en kort voor lank lê hulle al twee op die swart bal. Háár skoot, maar die plasing is sleg en sy mis dit, én los hom met 'n oop skoot op die hoekgat. Die kantlynspelers begin koggel. Marisa lyk 'n bietjie afgehaal, maar daar's altyd hoop. Dirk maak sy besluit.

"Double on the black."

Sy knik, verlig, maar nou nie so dat jy dit kan sien nie. Dis nie 'n maklike skoot nie, maar hy tref die bal perfek en dit vat koers gat toe … en stop 'n knarsie vroeg. Die spanning is nou tasbaar en niemand praat nie. Selfs Tokkie skuif nader om die einde te sien.

Marisa moet nog steeds van die kussing af speel om te wen en enigiets is moontlik. Sy tref die bal swak; dit slaan al twee kussings van die hoekgat en rol dan op 'n blêddie buitekans reguit na die oorkantse hoek, en sink. Neusie verby.

Dirk is dik die bliksem in vir homself oor sy windmakerigheid, maar dis die tyd van die aand wat dinge aflagbaar is en hy steek sy hand uit. "Goeie game."

"Jy weet dit was klaar joune," lag sy, "en my laaste skoot was anyway geluk."

Die boer tjip in met 'n aanmerking oor beseringstyd-wen wat nog steeds wen is, en bied vir Dirk 'n dop aan. Die versoeking is groot, maar Dirk weet hy moet nog die volgende dag Kaap toe en hy maak maar verskoning en sê nag. Die manne laat hom mooi verstaan hy moet gou weer 'n draai kom maak.

Die hotel is net twee blokke weg, maar dit gee hom tyd om te dink aan sy probleme by die huis. Sy vrou hou glad nie daarvan as hy wegjoppies doen nie, sê sy ken sy streke en is keelvol daarvan. Hel, sy't nie eens vir hom toebroodjies gepak vanoggend nie.

Die hotel se deure is gesluit en die blêddie nagwag raak nie wakker van Dirk se geklop nie. Raadop kies hy koers terug TJ's toe. Die boer het slaapplek vir hom en staan ook vroeg op, maar hy wil nog 'n tydjie sit en het buitendien nog 'n draai van 'n aard om later te maak. Tokkie sê sy huis is naby en hy't 'n buitekamer wat leeg staan, maar as Dirk haastig is, kan Marisa sommer gou vir hom gaan oopsluit.

Koeitjies en kalfies tot by die huis, 'n paar blokke weg. Oulike plekkie, lyk darem of hulle die tuin natmaak ook.

Marisa wys hom sy lêplek. "Tokkie sal my eers oor so twintig minute mis."

*

Die Bokke lyk 'n bietjie van koers af teen halftyd; hulle snellers pas nie lekker aan by die nat toestande nie.

"Dirkie, my maat, miskien - en dis 'n groot miskien, en jy weet dit - sal jy jou vrou nog kan wysmaak jy't dit laat verbygaan, maar ek ken jou darem al 'n bietjie langer as dit. Dis nou as sy in die eerste plek sou glo dat jy amper die girltjie gewen het."

Dirk kyk hom geïrriteerd aan. "Weet jy hoekom werk ek graag van die huis af?" Hy vat 'n diep teug aan sy dubbel met Coke. "Op 'n vreemde plek dink niemand hulle weet hoe ek gaan pool speel, of wat de hel ek ná die game gaan maak nie. Mens raak soms 'n bietjie moeg daarvan dat almal dink hulle kan jou lees. As ek daar 'n skuif gemaak het, het ek reg in my vrou se hand gespeel, al was dit net in my kop."

Hy laat hang dit daar in die lug, wag vir die rustyd-hoogtepunte terwyl sy vriend die stelling herkou.

Kom nou.


Frikkie de Waal
is 'n kroegman en lees elke dag die koerant verniet. In vorige lewens het hy swaar goed ver gedra in die vreemde en ook uitgeblink in skottelgoedwas. Hy maak 'n blêddie lekker bobotie, al moet hy dit self sê.





LitNet: 17 Februarie 2005

Wil jy reageer op hierdie verhaal? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.