NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Dawid de Villiers
het ’n maand of wat gelede ’n brief op SêNet laat verskyn. Hierin het hy ’n beroep gedoen op swembadkenner en fotoverhaalheld, Baracuda Verwey, om hom uit ’n lelike tameletjie te bevry. In hierdie artikel doen hy verslag oor wat toe presies gebeur het. (Wanneer Dawid nie swembaddens oppas en in die moeilikheid kom nie, is hy te siene as dr Voodoo Meintjies, maar dit is ’n geheim!)
  Dawid de Villiers

Angs, booze en heldemoed: langs diep waters met Tom Dreyer en Baracuda Verwey

Baracuda fluit lank en hard deur sy tande as sy oë val op dit wat eens die luukse swembad was waarin die Humans op sonnige Saterdae met lilos en mengeldrankies rondgedryf het. Die groen, skuimerige water roep ’n onwillekeurige herinnering by my op aan die slag toe my vriend Fritz gatvol geraak het om sy twee klein palings te voer, en twee weke later, na aandete, my uitgedaag het om enige voorwerp op die bodem van die bak korrek te identifiseer. Soos toe, sukkel dit nou om die ongemaklike gevoel af te skud dat daar nou en dan iets in die troebel vloeistof beweeg . . .
     Die geskiedenis van die swembad se agteruitgang tot pre-evolusionêre moet liefs verborge bly, soos in die geval van die meerderheid toegesmeerde screw-ups en siek skandale in hierdie swierige buurt. Laat dit voldoende wees om te bieg dat die agteruitgang reeds op my tweede dag as waarnemer geïnisieer is toe ’n chemies-geïnspireerde Koos Moerdyk, wêreld-reisiger en teologie drop-out, besluit het dat die swembad gans te “steriel en artificial” daar uitsien, en tien minute later kaalgat met ’n kruiwa vol grond en maaier-ryke kompos die swembad ingemoer het ten einde “die indruk van ’n meer natuurlike bodem [te] skep”. Dit was meer as ’n maand en ’n half gelede, en intussen het daar baie gebeur, sodat die swembad reeds drie weke laas sy laaste swemmer gesien het — sy ly tans glo aan ’n gevorderde stadium van “pink-eyes with complications”.
     Na ’n professionele stilte waarin Baracuda stip na die water staar, draai hy stadig om, klap sy hande en sê met ’n onverklaarbaar rustige stem, “Right, kom ons tackle die pool.” Dan draai hy na my en sê, tog ietwat bewerig: “Dit gaan bier verg, baie bier . . . miskien selfs whiskey.” Ek knik. En terwyl hy en Tom, sy agent, omdraai om die gereedskap en chemicals uit die kar te gaan haal, skuifel ek op na die huis agter die dranktrollie aan, bereid om aan enigiemand wat hulle hand aan dié swembad sal waag, enigiets van whiskey en Bloody Mary’s tot B52’s en Mexican Arseholes te verskaf.

Toe ek ’n week of wat terug vir LitNet geskryf het in ’n toestand aan die ver kant van ’n sixpack en ’n dag se geworstel met voorstellings van die Humans se terugkeer, het ek geen idee gehad dat die desperate uitdaging wat ek virtual space ingestuur het, enige daadwerklike aksie tot gevolg sou hê nie. Maar slegs ’n dag later het die redaksie van LitNet die uitdaging openlik namens Baracuda aanvaar, en nog drie dae later het Baracuda se agent, Tom Dreyer, my gebel om die nodige reëlings te tref. Ek ken vir Tom nog van ons filosofie klasse op Stellenbosch, wat wil sê dat ek hom nie goed ken nie. Die stem in die gehoorbuis was vol nervous energy, miskien ietwat suspisieus oor my motiewe. ’n Paar keer het ons lekker gelag, alhoewel ek nie altyd seker kon wees dat ek nie aan die ontvangkant van die humor staan nie. Tom het ’n vuil en genadeloos ondermynende humor waaroor sy ma seker nie eers veilig voel nie. ’n Skermunkel van die eerste water. Toe hy aflui, het ek eers vir ’n wyle langs die swembad gaan sit om my gedagtes weer agtermekaar te kry.
     ’n Kwartier gelede het hulle toe ook hier opgedaag, nadat die onsalige gedreun van Baracuda se motor hulle reeds vier blokke vêr aangekondig het. Ek het hulle by die hek ontmoet en hulle op Baracuda se aandrang dadelik na die swembad gelei. Terwyl Baracuda met ’n sekere slap cool beweeg — onversteurbaar, en tog gedetermineerd — sal ’n mens Tom se beweging eerder as ’n tentatiewe skuifel moet bestempel. Hy is ’n groot kêrel, maar sy houding is dié van iemand wat eerder ’n mate van anonimiteit wil behou. Van agter ’n stel lense loer twee intelligent-waserige oë onder ’n mop ondeunde hare uit (hierdie beskrywing word spesiaal opgedra aan diegene wat eens getroue lesers van Trompie-boeke was).

As ek die trollie uitstoot, die bottels al rinkelend, is Baracuda reeds besig om sy gerei op die gras uit te pak. Tom staan eenkant, hande in sy sakke, en kyk effe verveeld rond. Hy reik na die naaste tuinstoel en maak homself gemaklik, arms oor sy maag gevou. Dan sê hy iets aan Baracuda wat ek nie kan hoor nie. Baracuda knik, maar kyk nie op nie — vir ’n oomblik skitter die lens van die duikbril wat bo sy wenkbroue vasdruk in die son. ’n Duikbril?! Ek sidder; die trollie kom tot stilstand met die klank van gebarste wind-chimes. Beide Tom en Baracuda kyk oombliklik op, hulle oë vasgenael op die trollie. Hierdie gekoördineerde beweging bring my na die werklikheid terug, en ek kry weer die trollie aan die rol — as Baracuda dit wil waag om in enige stadium van die geveg enige deel van sy liggaam te water te laat is dit sy eie probleem. Hy weet waarskynlik wat hy doen, en is dít nie in elk geval die punt van die besoek nie?
     Ek parkeer die trollie langs Tom se stoel en ruk twee koue biere na vore. Baracuda gryp dadelik na een, en lig die bodem na bowe.
     “Ek moet sê, ek hou nogal van hierdie blombeddinkie langs die swembad,” sê Tom snedig, terwyl hy sy hand vir ’n bier uitsteek.
     “Jy moes hom gesien het toe hy nog blomme gehad het,” kap ek met ’n onbeholpe poging tot sarkasme terug.
     “Goddank ek het nie,” sê Tom, terwyl hy sy hare uit sy oë vee, en verder in die stoel terugsak.
     “Aaaargh,” kom dit van regs as die laaste druppel bier in Baracuda se keel verdwyn. Die teregstelling kon nie langer as vyf-en-twintig sekondes geduur het nie. Met ’n sekere mate van wetenskaplike nuuskierigheid hou ek nog ’n bier na hom toe uit, maar hierdie een word met meer respek behandel — Baracuda neem een lang teug en sit die bier dan vir eers neer om sy swembadnet aanmekaar te skroef. Intussen slaan ek maar vir my ’n stewige Bloody Mary aanmekaar en val self in ’n stoel terug.

As ek weer opkyk word Baracuda se net soos ’n vlag staan gemaak en ’n leë bierbotteltjie eenkant toe geslinger. Die man is duidelik slaggereed. Des te beter vir hom ’n idee te gee van hoe die swembad nou eintlik gelyk het, haal ek ’n advertensie vir swembad-chloor, wat ek vanoggend nog uit een van Mev. Human se glanstydskrifte geskeur het, uit, vryf die kreukels op my knie plat, en wink hom nader. Ek lig die foto, met sy rekenaar-gegenereerde hemelblou water wat die lig speels en esteties frakteer, voor hom op, en dan gebeur daar iets wat my vir ’n wyle daarna nog bly ontsenu. Baracuda se asem, wat, vandat hy die volle omvang van my krisis met die eerste oogopslag gemeet het, reëlmatig oor sy droë lippe bly speel het, word eensklaps met ’n snak teruggetrek. Daar volg ’n diep stilte, waarin Tom respekvol wegdraai terwyl Baracuda met ’n skurwe vingerpunt ’n traan uit ’n ooghoek wegkap. Daar is iets in sy uitdrukking, ’n skielike boheemse leemte in die oë miskien, wat my meteens laat besef dat ek nou hier voor ’n man staan wat van aangesig tot aangesig met ideale skoonheid gekom het. Dit is die uitdrukking van iemand wat tydelik buite die grense van aardse waardes bestaan, die tipe uitdrukking wat jy op die gesig van ’n godsdienstige fanatikus met ’n 9mm Parabellum sal verwag . . . Vir ’n oomblik glip my oog links by Baracuda verby, waar ek vir Tom gewaar, besig om met senuagtige handgebare vir my te beduie om die advertensie weg te sit. Ek doen dit; stadig.
     “Donner,” kom Baracuda se stem namate hy uit sy beswyming na ons toe terugkeer, “hier kom ’n ding . . . vandag gaan ons dié pool red.”
     Dan gryp sy hand outomaties nog ’n bier van die trollie af, en terwyl sy adamsappel een sluk na die ander in sy keel af klop, word ek self in die half epiese atmosfeer opgesweep.
     “Daar gaat jy, Braveheart,” kom dit van links — en met ’n “da right style”-handgebaar bepaal Baracuda vir die laaste keer sy aandag by ons.

Ek en Tom sit terug terwyl Baracuda — duikbril nou in posisie — met sy net in die swembad rondroer. Langs hom lê daar reeds drie hopies slymerige humus. Ons is ongeveer tien meter verder van die swembad as oorspronklik, aangesien die swembad onbedaarlik begin stink het toe Baracuda die pomp wou toets. Vir vyf minute daarna het hy die omgekrapte moeras met hande vol pienk pilletjies probeer paai, en dit eers ’n paar minute later — nadat hy gou ’n paar whiskeys met merkbare senuagtigheid kom afsluk het — weer gewaag om sy net in die brousel te versink. Op my aandrang is Tom besig om vir my ’n bietjie oor Baracuda se verlede in te lig:
     “Jy sien, hierdie kêrel was nog altyd mal oor water, en op ’n stadium nogal ’n belowende surfer . . .”
     “Dit sou ’n mens kon raai — ’n bietjie aan die zen kant?”
     “Toe miskien, maar definitief nie meer nie. Hier in die laat tagtiger-jare — ek dink dit was nog op ’n CSV-kamp — het Baracuda eendag weggeglip om ’n bietjie te gaan surf. Hy was baie gesteld op sy private ontmoetings met die see. In elk geval, op dié betrokke dag het hy ongelukkig ’n nare ondervinding met ’n moerse haai gehad, en as ’n fratsbrander hom nie op die strand uitgespoel het nie, het hy waarskynlik meer as net sy bord en ’n stukkie van sy groottoon verloor.”
     “Jissis.”
     “Dis glo al wat hy ook gesê het toe sy kampleiers hom bo die hoogwatermerk gekry het . . . Van toe af was hy nog nooit weer by die see of die CSV nie. Maar jy sien, sy voorliefde vir water trek hom nog steeds na swembaddens. Dit blý sy element, sien; dit, en alle vorms van alkoholiese drank.”
     “Het sy ondervinding enige ander psigologiese nagevolge gehad?” vra ek versigtig.
     “Nie eintlik nie, behalwe vir een ding. Moenie hom kwaad maak nie. Moet hom net nooit kwaad maak nie.”
     Tom se stemtoon maak dit duidelik dat hy nou uit persoonlike ondervinding aanhaal, maar ek besluit om eerder hierdie staaltjie in die duister te laat. Ten spyte van Baracuda se tragiese verlede is ek nogal in ’n goeie bui, en ek is geensins lus om die skadu van persoonlike gevaar daaroor te laat val nie. Baracuda is in elk geval besig om oor die gras aangesleep te kom.
     “Tequila,” se hy met ’n rouerige stem.
     ’n Chloor-walm slaan in ons neusgate op. Tom kla nors dat dit hom skoon nugter maak. Maar Baracuda gee geen aanduiding dat hy iets hoor nie. Hy slaan drie tequilas sonder sout of suurlemoen weg en keer dan terug na sy taak.
     “Waar op aarde kom jy aan dié makker,” kom dit peinsend van my kant af.
     “Man, ek het hom eendag oor ’n game pool ontmoet, en iets omtrent hom het my dadelik oortuig dat daar potensiaal in hom steek. Jy weet, daar is soveel great onvertelde stories in Suid-Afrika, en Baracuda is ’n goudmyn . . .”
     Tom krap ’n verkreukelde sigaret uit sy sak en steek dit aan. Sy stem is is al lomerig van die drank, en ek besluit om vir hom ’n tequila slammer te gooi om hom weer reg te ruk.
     “Aan die begin het ek hom met advertising en so aan uitgehelp, maar mettertyd het ek begin voel dat ’n mens iets meer met ’n ou soos hy kan aanvang. Uit die aard van die saak bring sy job hom in die agterplase van allerhande mense, en verkry hy so ’n unieke perspektief op ’n deel van die samelewing . . . gooi daar nog ’n slammer . . . en ek het uiteindelik op die idee gestuit dat ’n mens hom dalk net moet afneem — jy weet, Baracuda se avonture en noue ontkomings verfilm . . . phew, jy’t ’n swaar hand . . . sodat ons dit in fotoverhaal-formaat aan LitNet kan verkoop.”
     Ek kyk weer oor na Baracuda se kant, en is nogal verras om te sien dat hy die swembad vir eers laat staan het. Tans is hy besig om oor die gesnoeide heining met die blonde jong buurvrou te gesels. Haar kaas-en-wyn-geleentheid laggie kom wulps deur die stil namiddaglug aangedobber. Vir ’n rukkie hou ek die petalje onderduims dop.
     “Nogal ’n lady’s man, hè?” vra ek oor my skouer na Tom.
     “O ja,” kom die antwoord, “Baracuda het ’n uiters gesonde metabolisme.”
     Tom praat al hoe meer binnensmonds, en hy lê al amper plat in sy stoel. Baracuda is weer op pad na die swembad, besig om vir die buurvrou met ’n thumbs-up te groet.
     “Ja, Baracuda is sommer ’n kwaai ou,” sê Tom met ’n ligte hik. “Iemand moet nog net ’n artikel oor hom doen.”

Dit is skemer as ek my oë oopmaak. Ek moes ingesluimer het. My tong voel soos ’n bol putty in my kies en ek voel so half nukkerig. Uit die hoek van my linkeroog kan ek sien dat Tom nie meer in sy stoel is nie. Waar hy is, dit weet die vader alleen, maar ek stel werklik nie meer belang nie. Met ’n volslae gevoel van depressie onthou ek skielik dat ek op ’n swak oomblik Tom se onsamehangende voorstel van ’n “kort stukkie vir LitNet oor vandag” aanvaar het. Baracuda staan steeds en werskaf by die swembad, waarskynlik met meer ywer as talent — oor die gras kom die geklap van sy plakkies op siersteen en sy opgewekte gefluit aan, en in ’n maniese oomblik herken ek die deuntjie as ’n Spice Girls song.
     “People of the world . . . spice up your life . . .” blaker Tom skielik in ’n krakerige falsetto uit vanonder die stoel waarop hy vroeër nog gesit het, voordat die lirieke deur ’n hoesbui verswelg word. Die skielike onderaardse lawaai betrap my heeltemal onkant, en ek kry dit amper reg om in my stoel regop te kom. Vanuit my nuwe posisie kan ek Tom se bene onder sy stoel sien uitsteek.
     “Wat maak jy, drol?” vra ek, nog steeds ontsteld oor die skrik wat ek gevang het.
     “Ek moes net ’n bietjie kom lê . . . jirre, Dawid, ek sê jou, die stoel het vir my heeltemal te veel geraak . . . ek gaan vanaand definitief net hier bly lê.”
     “Net wat jou gelukkig maak. Luister, Tom, daai Baracuda ken darem ook geen einde nie.”
     “Nee wat, Dawid, hy’s ’n kwaai ou.”
     Weer eens daal die stilte oor ons neer, en stadig maar seker die donker ook. Vasgevang in ’n koma van lusteloosheid, staar ek na die hemelruim todat Baracuda se silhoeët in ’n stadium uit die nag opduik om ’n groot deel daarvan te verbloem.
     “Luister ouens, . . . is julle wakker?” kom sy stem sleperig.
     “Mmnn,” laat Tom van hom hoor.
     “Die pool is klaar — wel, klaar genoeg.”
     “Great,” voer ek aan, en laat my weer aan die koma oor.
     Daar is ’n verdere stilte waarin dit klink of Baracuda voete versit. Ek hoor hoe hy ’n doppie iewers afdraai en ’n paar slukke van iets wegslaan. Dan maak hy sy keel skoon.
     “Sien julle later. Ek gaan gou die buurvrou se swembad uitcheck.”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.