NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Charl Cornelissen
Lees elke dag van my lewe, mal oor feite en filosofeer(?), hardegat in die ekstreme (my vrou reken ek is die perennial rebel), werk elke week ’n fliekie of twee in. Musiek (daagliks) praat met my siel. Voor ek vyftig is, wil ek graag 'n voltydse swerwer wees!
  Charl Cornelissen

’n Pet shop is gevaarlik

Charl Cornelissen

Sit ons klompie nou een aand daar by Kobus se wegbreekplekkie naby die wildtuin — dis nou oom Paul s’n. Knus en snoesig om die altaar. Dié is ’n ronde vuurmaakplek, so sestig sentimeter hoog met ’n klein randjie om sodat mens se voete lekker kan rus en die hitte behoorlik in jou koue bene kan inkruip. Die stompies vlam sulke geel en oranje danse en kort-kort skiet ’n klein kolereëntjie die lug in op. Vroeër die aand het die leeus woes gesels, sodat dit party plekke gesmaak het hulle is ietwat te naby, maar is nou stil. Af en toe roep ’n hiëna nog.

Ons mage is lankal vol van die heerlikste soet skaap-en-patat-kerrie saam met samp, en die after dinner-drankies het die tonge nou net mooi los, solat die stories lekker loop. Die gesprek draai oor stout mense en wat hulle al aangevang het. Elkeen se storie wil-wil net beter wees as die vorige een s’n. Ek het die lot soóó gesit en beluister en gegrinnik, want as jy oor stout mense, en meer spesifiek oor stout manne gesels, dan is daar min outjies op hierdie aarde wat by my vrou se drie newe kom. Dis dan toe ook daai tyd dat Kobus my aanpor om die storie oor my vrou se newe en hulle aandjie van genot — wat uiteindelik bitter ongenotlik gedraai het — te vertel.

Getroud was die drie — lank tevore. Eintlik net die een wat bietjie meer as een keer getrou het, die ander twee is baie lief vir hulle eerste vroue, nog.

Maar die storie gaan mos nou nie oor trouery en so aan nie, wel oor stoutgeit. Nou hierdie broers, oor hulle kan volumes geskryf word, rêrig, maar nou vertel ek net dié gebeurtenis. Daar moet darem ook net baie goed besef word hulle is nie kriminele nie, hulle het net daai spesifieke aand nie mooi ged(r)ink nie.

Dit was so dat die manne boormanne van beroep was. En daai tyd het hulle vir water geboor op plase so noord van Pretoria. Hulle het in tente gebly en net naweke (ook nie elke een nie) huis toe gegaan. Op ’n dag kom dit toe so dat die jongste boet (gelukkig vir hom) bietjie op vakansie gaan terwyl die ander twee die werksfort hou. Op ’n môre in dié tyd stop die oudste boet, Peet, een oggend op pad terug vanaf die naaste dorpie, langs die pad. Die bakkie se band was pap. Terwyl hy daar staan en wag dat sy handlanger die spaarwiel opsit, sien Peet genuine ’n tjekboek op die grond. So half onder ’n bossie, neffens die bakkie. Ene meneer Grobbler s’n.

Nog mooi so in die leeromhulseltjie. Duidelik deur iemand gesteel en langs die wegkompad laat val. Diewe is slim en weet daai tyd reeds die gebruik daarvan gaan hulle mos nou net vinnig vasgetrek laat word!!

Later die middag, toe die newe klaar is vir die dag en so begin-begin teug aan die eerste koel sopietjie onthou Peet van die tjekboek en gaan haal dit terstond uit die bakkie se cubby-hole.

Hy en Janneman, sy onmiddellike jonger boet, bekyk die affêre en Peet meen toe dat ’n man, as ’n man nou so geïnklineerd was, sommer lekker pret met die ou boekie kan hê. Jonger boet Janneman, wat meer verantwoordelik was, besef dadelik waarnatoe sy loskop-ouboet se kop werk en terwyl hy nou die eintlike eienaar van die boordery was, en dus die baas, neem hy toe summier die tjekboekie uit sy ouboet se hande. Toe voel hy rustiger.

En dis toe nou ookal hoeka weer tyd vir nog ’n sopie, en na nog so ’n verdere twee vinniges voel Janneman hoe die rustigheid hom binnedring. Met dié reken hy vir Peet dat dit gelukkig is dat die tjekboekie nou nie in Peet se hande is nie, maar wel in syne. Maar ja, hy stem saam, as ’n man so geïnklineerd was kon ’n man darem lekker pret had met so ’n boekie!

Die twee broers het gaan stort. Daarna vinnig nog so ’n sopie of wat ingewerk voor ete en toe is beide al erg rustig. ’n Kykie in die koskas het hulle nie juis met opwinding gelaat nie. Vat die manne nog een vinnige sopie en besluit take-aways is net die ding. Maar die naaste take-away-plek is in Pretoria.

Van al die rustigheid klink Pretoria nou nie eens baie vêr nie. As mens honger is, is mens nou te ene male honger. So bevind die twee hulle in die bakkie op pad Pretoria toe vir ’n take-away’kie. Blykbaar was die pad nie ’n baie reguit pad nie, so half slingerend, maar die bakkie was goed en het getrou die spoor van die slingerende pad gevolg.

Op pad, aangesien die newe verantwoordelike drank- en padgebruikers was, besluit hulle dit sal beter wees as hulle maar eerder die aand oorslaap in een van die goedkoper hotelletjies. Hulle sal sommer room service bestel, en kan dan lekker hard kuier, want hierdie rustige gedrinkery maak man eintlik net behoorlik dors. Dan kan hulle slaap sodra hulle nou genoeg gekuier het, en gaan niemand anders se lewe in gevaar stel nie, want hulle hoef mos nie dan huis toe te ry nie.

Die twee het ingeboek in so ’n goedkoop hotelletjie. Onder hulle eie van. Daar is dadelik van die room service gebruik gemaak. Dis dan ook knap hierna waar hulle toe hulle eerste foutjie begaan. Pleks van ’n rekening te laat oploop, bied die twee sommer aan om dadelik te betaal. Die kelner was hiermee heel in sy noppies. Gewoonlik is hy nie daar teen die tyd wat die nagbesoekers uitboek nie, en dan kry hy ook nie fooitjies nie. So, hierdie betaling met die gepaardgaande fooitjie was soos manna uit die hemel.

So ’n ronde of wat later was die manne se kontant egter op en dis toe dat hulle ’n helse faux pas’tjie begaan. Geld is op en die twee newe het net lekker stoom begin vang. Ophou drink was nie eens naastenby ’n opsie nie. De leste stukkie handhawing van norme was toe al lankal uit Janneman uit.

Al uitweg, sê Janneman my later, was om per boek te betaal ... per TJEKBOEK!

Die kelner en die kassier was egter tevrede en het die tjekkie met graagte aanvaar. Die volgende sopie sorg daarvoor dat die manne se uithou, wat betref sedelike norme, ook onverklaarbaar en eensklaps heeltemal te pletter val.

Peet en Janneman het albei skielik vreeslik eensaam gevoel. Toe onthou hulle dat hulle van daai ander tipe sport(s)klubs sommer hier naby die hotel gesien het … daai gesellinklubs! Dit was nie (sweer die manne) dat hulle iets onbetaamliks wou aanvang nie, hu-u, hulle was net uitgehonger vir stimulerende en intellektuele geselskap.

Gewapen met die tjekboekie stap die twee straataf en ’n blok of wat later sien hulle ’n helder pienk neonlig wat met ’n pyl afwaarts wys en dit uitblaker dat daar sjarmante escorts te vinde was. Die twee is so ’n tirtsie skaam en onseker, en stap eers so nonchalant half verby en beloer die set-up uit die hoek van hulle ogies.

Die plek is feitlik dolleeg. Geen meubels nie, geen gordyne nie, g’n niks om op te sit nie! Net ’n toonbank. Maar wat hulle gerusstel, is dat daar by die toonbank ’n man en twee dames staan. Wel, reken hulle, dis seker maar hoe dit werk!

Janneman sê later as hy nie so rustig was nie sou hy seker die tekens kon raaksien, maar nou ja ... Die newe skraap die nodige moed bymekaar en stap die plek binne. Die man en die twee vroue kyk op toe die twee broeders instap.

Janneman besluit hy sal maar die spreekwoordelike bul by die spreekwoordelike horings pak. “Is dié twee al wat jy oor het vir die aand?” vra Janneman. “Ekskuus?!” antwoord man-in-die-winkel. Is die man dom of doof, wonder Janneman. “Is dit jou enigste twee wat nog beskikbaar is of het jy ander ook?” vra hy weer. “My enigste twee wat en waarvoor?” wil man-in-die-winkel weet, so half ergerlik.Glad nie meer so vriendelik nie.

(Dis belangrik om hier aan die oningewydes te verduidelik dat ’n oormaat van Bacchus een van drie dinge met jou doen, buiten dat dit jou slim maak. Dit maak jou huilerig, of vreeslik vriendelik en snaaks, of laastens, en sekerlik die gevaarlikste van die drie toestande, onverantwoordelik!

Onverantwoordelik en sterk!)

Dis seker nou al duidelik dat Janneman en Peet onder die onverantwoordelike troppie ressorteer. Wat toe volg, wys dat hulle ook van die sterk tipe is. Maer arms of te not!

Janneman vererg hom vir die opstroppelis man: “Man, is jy stupid of net harregat? Ons soek twee hoere vir die aand en nou wil ons weet: is hierdie twee lelike goed die enigste twee wat jy oor het, of is daar nog ander ...!”

Janneman kon nie die sin klaarmaak nie, want man-in-die-winkel het hom met een magtige vuishou platgeslaan. Peet, wat in daardie stadium reken sy boetie word getimmer omdat hy te veel vrae gevra het, sê toe: “Rustig, rustig, ou maat, ons wil nie baklei nie, ons sal maar die lelike ou ene en die mooi jongetjie vat.”

Dis toe al asof die man nog kwater word en moer vir Peet ook met een ongenadiglike hou plat. Die twee broers op die grond reken elkeen afsonderlik dat niemand sommer so aan sy boetie slaan nie. (Dis mos nog ’n ding van Bacchus: veroorsaak ’n oordrewe sin van kameraadskap.)

Peet help homself moeisaam op met die hulp van die toonbank en betrek die man met twee lekker linkersteel-pikhoutjies van die kant af, teen die wang. Dit was ’n fout! Man-in-die-winkel spits hom toe net toe op Peet. Die houe reën só op hom neer, klink soos popcorn wat skiet. Peet, wat besondere dun arms het, ly vreeslik!

Maar toe’s Janneman ook van die vloer af op en erg moerig! Hy vra ’n ordentlike vraag en nou foeter die ongeskilde aartappel hulle sommer.

Geen man met trots sal mos staan vir dit nie! Hy looi toe vir man-in-die-winkel met ’n pragtige kopstampie dat dié se neus amper neusie verby is. Bloedrivier se moses! Maar man-in-die-winkel ken van karate ook en kry met bloedneus en al so ’n maaighêrrie op Janneman se juwele geplant. Weer is Janneman af grond toe, dubbel gevou die keer.

Intussen gil die twee vroue soos asof hulle perd heel laaste in die July hardloop, en probeer tussen die gille deur man-in-die-winkel help.

Soos die geluk, of ongeluk, dit wil hê, stap daar twee voetkonstabels verby en sien die vreeslike rumoer en bakleiery. Die twee het pas uitgepasseer uit die kollege — is eintlik nog blote seuns. Stemmetjies skaars behoorlik gebreek. Vreeslik paraat egter! Storm daar in en na ’n gesukkel het die dienaars-van-die-gereg die twee faksies uitmekaar.

“Wat gaan hier aan ... hoe het dit ontstaan?” vra die een met wat hy dink na gesag klink.

Man-in-die-winkel vertel terwyl hy sy neus vashou en die bloed probeer stop, dat hy, sy vrou en sy skoonma pas vandag hierdie perseel gehuur het en beoog om ’n pet shop daar oop te maak. Hulle het nog so lekker gestaan en opmeet en gesels oor hoe hulle die winkel wil inruim, toe storm die twee barbare daar in en sê sy vrou en haar ma is hoere en dat die twee barbare sy vrou en sy skoonma wil huur vir die aand ... dat hy nog nooit so beledig was nie ... en enige man sal sy eer moet verdedig, en ... en ... en ...!

Die dienaars-van-die-gereg wat die drank aan die twee newe kon ruik aanvaar dadelik man-in-die-winkel is reg en blaamloos.

“Menere, is dit waar? Het julle onwelvoeglike voorstelle rakende die twee dames gemaak?”

“Ja, maar ...” begin Janneman toe dienaar-van-die-gereg-in-bevel sy hand op sy skouer sit en met ’n growwe stemmetjie sê: “Meneer, ek plaas jou onder arres. Alles wat jy sê sal later as getuienis teen jou gebruik word!”

Tjoef-tjaf is die twee newe se hande geboei en word daar gebel vir ’n vangwa. Toe die vangwa (nog ’n ou Ford F100) stop, word die twee onseremonieel agterin geboender en by die charge office afgelaai. Met die verklarings se afneem begin die konstabel die idee kry dat hy dalk hier ’n onregmatige arres gedoen het, veral toe Janneman sê hy gaan niks verder sê totdat sy regsverteenwoordiger opdaag nie, en sal die konstabeltjie sommer die oproepie namens Janneman maak. Hy gee die naam van hulle regsverteenwoordiger, in daardie stadium ’n ernstige hoëkop in die Departement van Justisie. Nie die minister nie, maar rêrig omtrent net so vernaam, en dis nou geen lieg hierdie nie!

Die konstabeltjie skrik, want met so iemand wil hy nie in sy eerste maand van diens uit die kollege swaarde kruis nie. Met ’n “Wag net hier, ek is nou terug!” loop soek hy hulp by die offisier aan diens. Dié skrik nie vir koue pampoen nie en sê die konstabeltjie aan om die nommer te bel. Soos Janneman se geluk dit wou hê, het die vername man se persoonlike assistent die foon opgetel en gesê (nadat inligting uitgeruil is) dat hy nie nou beskikbaar is nie, maar dat die twee aangehoudenes volgens die beskrywing wel die vername man se kleinneefs kan wees, en belowe dat die vername man binnekort sal terugskakel indien die konstabel tog net die nommer sal laat.

Dié bevestiging, saam met Janneman se volhou dat hulle nie geweet het dis ’n pet shop-in-wording nie, en dat hulle eerste geslaan is en net hulself verdedig het, plus die belofte dat hulle oom die geregsdienaars kaal gaan uittrek, het vir die twee newe se spoedige vrylating gesorg.

Janneman en Peet is meteens ongelooflik mooi behandel, maar die twee (met Bacchus aan hulle kant) was nou goed gatvol. Hulle het besef hulle het nou ’n wenperd hier beet. En hulle was gekrenk in hulle eer.

Janneman het summier die konstabel aangesê om ’n saak teen homself aanhangig te maak, vir wrongful arrest, nogals. Na ’n rukkie se handewringing en ernstige apologie deur die dienaars-van-die-gereg, het Janneman ewe groothartig die saak teen die konstabel teruggetrek. Volgende keer sal die konstabeltjie nie weer so gelukkig wees nie. Dis net omdat hy wat Janneman is so ’n goeie mens is, dat hy die sakie nou laat los!

Met ’n finale “Ek hoop jy het nou mooi jou lessie geleer, mannetjie!” is Janneman en Peet groot kokkedoor daar weg, in hul noppies met hulself.

As hulle toe maar eerder in hulle bakkie geklim het en tente toe gery het! Maar nee, Bacchus was nog in die koppe en hulle het ook hoeka ietsie gehad om nou te vier.

Terug by die hotel begin die twee newe se probleme ernstig raak, sonder hulle wete. Die kassier het uit verveeldheid opgecash en gesien dat die naam op die tjeks en die handtekeninge darem glad nie dieselfde is nie. Dit was ook nie die van waaronder die twee ingeboek het nie. Kassier het dadelik rot se kind begin ruik. Die telefoonnommer wat op die tjeks gedruk is, is geskakel. Ene meneer Grobler het die telefoon beantwoord — nee, hy was nie in die hotel nie — sy tjekboek is die vorige dag saam met sy kar gesteel!

Die polisie word ontbied — dieselfde polisiestasie, dieselfde offisier aan diens wat die oproep ontvang en wat dieselfde twee dienaars-van-die-gereg uitstuur om die nuwe saak te kom ondersoek. Presies op dié tyd wat die twee newe lawaaierig by die hotel aankom en opgaan na hulle kamer. Tyd vir groot partytjie! Bel ook dadelik weer vir room service. Kort daarna arriveer die dienaars-van-die-gereg en word dadelik die evidence gewys deur kassier.

Die evidence was verdoemend! Die dienaars-van-die-gereg reken aan kassier dat die room service afgelewer moet word, want as die twee verdagtes weer met ’n tjek betaal kan hulle daar en dan gearresteer word. En waaragtag, nadat die kaptein hulle die dood voor die oë gesweer het as hulle weer iemand onregmatig arresteer, het hulle nou ’n regmatige arres nodig.

Met dié tipe bewyse het hulle egter die jackpot geslaan.

Die dienaars-van-die-gereg sluip agter die kelner aan soos 007 nie kan droom nie, en toe die tjekkie aangebied word slaan die dienaars-van-die-gereg soos Ben Brandt (die ZARP) toe en kry hulle manne! Weliswaar sonder Satan die Alsatian en Duiwel die Perd, maar die twee konstabels het duiwels lekker gekry toe hulle sien wie die twee skuldige satans is.

Janneman was nog ’n rukkie vol bravade by die charge office, en het met sy een oproep wat hy mag maak weer sy oom geskakel. En wragtag nog met sy oom gepraat ôk. Maar dié was na aanhoor van die situasie briesend verby en wou nie help nie. Janneman het later gesê die oom het kortaf gepraat van gate wat gegrawe word en waaruit mense self moet klim. Janneman het besef sy turfie sit. Janneman was daarna so mak soos ’n lammetjie. Peet ook.

Nou-ja, as jy ’n konstabel en ’n offisier-in-bevel verneder het soos die twee newe gedoen het, is dit logies dat die uiteinde van die saak ’n bitterlike ongenotvolle naggie in die selle was, ’n verskyning in die hof, ’n boete sowel as ’n opgeskorte tronkstraf, ’n misdaadrekord, en die koste van ’n duur advokaat. In totaal so R5 000. (En glo my, ek praat van baie jare terug, toe R5 000 meer as genoeg was om ’n nuwe Benz te koop!)

“Ja-nee, ou boet,” sê Janneman toe hy my die storie vertel, en hy vat so ’n lang, stil teug aan sy polisiekoffie, “drie dinge bly my by. Eerstens, as mens wil boor, moet mens net vir water boor, tweedens, net met kontant en onthou, pet shops verhuur nie Fords nie!”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.