NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Charles J Fourie
is ’n bekroonde dramaturg en regisseur van oor die vyf en dertig toneelstukke en kabarette in Afrikaans en Engels waarvan vier tekste al by Tafelberg-Uitgewers en Jonathan Ball Publishers verskyn het. Sy toneelwerk is reeds landwyd asook in die buiteland opgevoer. Van sy kortverhale en gedigte het al in letterkunde tydskrifte verskyn. Meer onlangs is sy kortverhaal, “Nelson Geniet Zanzibar” in die Vonkfiksie publikasie van Human en Rousseau opgeneem. Hy is ook die skrywer en regisseur van ’n aantal kortfilms en dokumentêre televisieprogramme, en is onlangs aangewys as ’n finalis in die RSG / Sanlam-Radiodrama kompetisie 2000.
  Charles J. Fourie

Sonde met die bure

Charles J Fourie

’n Ongenooide klop aan die voordeur op ’n warm lui Saterdagmiddag. Ek stap traag in my sokkies en onderbroek deur toe. Aan die anderkant van die loergat dobber die verwronge gesig van my buurman, Herman W du Preez. Ek ken hom so by naam want hul pos beland soms verkeerdelik in ons posbussie. Hy en sy vrou, Deborah L du Preez, woon in nommer sewentien en ons in nommer negentien.

Tot en met die klop aan die deur het ek nog nie met hom of sy vrou ’n woord gewissel nie. Net kopknikkend en beleefd gegroet as ons toevallig rondom dieselfde tyd van die dag ons piepklein voortuintjies onder die skadu van Tafelberg natmaak. En, ek moet ook bieg, anders as my verloofde, het ek nie veel aan buurmanskap nie. Veral nie in hierdie dae waar die meeste van ons maar net stedelike bywoners is wat van werk na werk rondswerf, en onbetaalde telefoonrekeninge en verlore egskeidingsbriewe in mekaar se posbussies agterweë gelaat word as enigste bewys dat daar wel iemand, ’n medemens, ’n buurman langs jou gewoon het. Maar toe is daar die klop aan die deur, kort voor die eindfluitjie van die halfeindstryd op Nuweland tussen die Stormers en die Sharks. En dis Herman W du Preez op my drumpel.

Deur die loergat lyk die man kort van asem. Asof hy om die blok gehardloop het, en op die punt was om inmekaar te sak. Ek het eers gehuiwer om die deur oop te maak, maar dit teen my beterwete gedoen. Wat my buurman toe sonder om ’n woord te uiter verby my die huis instap, en hom in die sitkamer gaan neerplak op die kanariegeel art deco sofa wat my verloofde so moeitevol gerestoureer het. Ek het hom nadenklik gevolg en op my gemakstoel oorkant die sofa gaan sit. Sy kop het in sy hande gerus wyl hy onderlangs na die laaste minute op die televisieskerm gestaar het.

Die telling was 22 - 16. Die koëel was deur die pale. Daar was geen manier waarop die Stormers uit die gemors kon kom nie. Dit met minder as vier minute se speeltyd oor. Ek het die klank van die televisiestel met die afstandbeheer stilgemaak maar die beeld lewendig gehou. Net ingeval.

“Dis my vrou,” het my buurman onderlangs gekreun, sy blik steeds gevestig op die stilspel tussen die Stormers en die Sharks.

“Jou vrou?”

“Deborah. Ek dink sy het ’n verhouding met iemand in ons straat.”

“Ons straat ...? Wat bedoel jy?”

Dit was juis hoekom ek verloofde gesmeek het om kontak met dié mense te vermy! Maar nee, nie Emma P Carstens nie. Sy het hulle tee aangedra die dag toe hulle intrek. So het sy ook byvoorbeeld aangebied om die vorige bure, twee agtermekaar kêrels wat voor die Du Preez’s in nommer sewentien gewoon het, se katjie op te pas toe die twee IT-manne gaan werk soek het in Orlando. Lientjie, die kat, het soos verwag permanent by ons ingetrek toe Dave en Wilmot R. ’n maand later terugkeer met die goeie nuus dat hul albei werk in Amerika bekom het. Einste Lientjie, wat nou besig was om haarself teen Herman W se stram been op te vryf.

Vandaar ook die gestry tussen my en verloofde vanoggend jeens my geïsoleerde bestaan, my lusteloosheid, en alewige bierdrinkery. Die stry het soos gewoonlik op niks konklusiefs uitgeloop nie, en sy is hier weg om te gaan fliek saam met haar lesbiese vriendin, Louise M Botha. Die een wat al sedert universiteit agter haar aanvry. Of so het ek geglo.

“Wat gaan ek doen,” het my buurman weer gekreun, wyl Breyten Paulse op die televisieskerm oor die kantlyn gedra word, en die eindfluitjie daarop blaas.

“Fuckit!” Ek het die beeld op die skerm met die afstandbeheer afgeskakel. Ek het nie nou kans gesien vir ’n morrende buurman nie. Boonop het ek pas ’n honderd rand weddenskap op die Stormers verloor.

“Bier?” het ek kortaf aangebied en twee biere in die kombuis gaan haal sonder om op sy antwoord te wag.

“Glas?” Lientjie het nou op sy skoot gesit.

“Ek drink sommer uit die bottel,” het hy my gekeer.

“Bly langer koud so,” het ek saamgestem.

“Ja.”

Hy het sy kop geskud en ’n sluk van die bier gevat.

“Jy sê jy dink jou vrou ... neuk rond?”

“Dis bietjie kras gestel, maar ja ... ek glo sy ... het ’n verhouding met iemand ...”

Hy het duidelik gesukkel om die woorde uit te kry en die res van sy sin in die lug laat hang wyl hy Lientjie se kop gestreel het.

“Is jy seker?”

“Kan mens ooit seker wees?”

“Nee, seker nie.”

“Ek weet wel dat iets nie pluis is nie,” het hy onder ’n tweede sluk bier gesug.

Van nader beskou het ek nou vir die eerste keer opgemerk dat die man ’n helse snor op sy bakkies het. Omtrent reg oor sy gesig. Van wang tot wang. Dik op die bolip soos ’n polisieman. Miskien was hy op sy dag in die polisie.

“Het jy ’n idee wié dit is?”

“Nee, maar dit moet iemand in ons straat wees.”

“Ons straat?”

Die agterdogtige toon van sy stem en die manier waarop hy telkens net ’n stukkie inligting weergegee het, het my begin prikkel. Let’s face it, dit was darem ook nou nie aldag dat iemand by jou huis instap en jou vertel hy dink sy vrou slaap rond nie. Dit nogal in dieselfde straat as die een waarin jy woon. Boonop het hy heel kalm oor die saak voorgekom. En natuurlik was sy vrou Deborah glad nie onaanskoulik nie. As iemand anders as hy ook besig was om sy vrou se silwer op te vryf, was dit dalk net ’n gelukkige sondaar gewees.

“Hoe weet jy dis iemand in ons straat?” het ek hom gepor.

“Wel, omdat dit in ons slaapkamer gebeur het.”

“Julle slaapkamer? Ag nee, man.”

“Ja. Ek het ook op ’n leidraad afgekom,” het hy weer geheimsinnig gefluister.

“Leidraad? Op jou lakens? Ongeskikte vark.”

Hy het die bierbottel op die tafeltjie voor hom neergesit, nader geskuif, en vooroor geleun. Miskien omdat hy gedink het my verloofde was tuis en besig om ons gesprek vanaf die kombuis af te luister.

“Ons is alleen,” het ek hom gerusgestel.

Hy het weer terug gesit. “Nee, daar was ’n reuk in die kamer.”

“Reuk?”

“Parfuum. Maar nie die soort wat ek gebruik nie,” het hy bygevoeg.

“Het sy nie dalk net ’n nuwe soort gekoop nie?”

“Negatief. Sy gebruik net Opium en ek ken die reuk.”

“Goeie neus.”

“Ja, maar hier is die ding — ek het die reuk in die straat hierbuite opgetel,” het hy voortgegaan, en ’n deurdagte teug van sy bier geneem. Wagtend op my reaksie.

Dis toe dat ek ook merk dat die man ’n helse groot neus bokant sy snor het. ’n Knoets van ’n neus. Wat seker die rede was dat hy nie sy bier uit ’n glas drink nie. Dalk is hy steeds ’n polisieman? ’n Speurder? Wat het hy eintlik by my kom soek? Ek het gewens verloofde was hier om die situasie te hanteer sodat ek verskoning kon maak en my bier in vrede op die stoep kon gaan geniet.

“Jy sou dus die neus ... ek bedoel die reuk, kon uitken as jy in iemand se huis instap,” het ek op sy afwagtende blik gereageer.

“Ek sou kon maar sedert gister sit ek met ’n verkoue en is my neus nie lekker nie,” het hy gesê en ’n sakdoek uit sy sak gehaal om sy groot snoet mee te blaas. “Ek is boonop allergies vir khh … hatte,” het hy in Lientjie se rigting genies.

“Nog bier?”

“Assemhhhblief!”

Ek het nog twee biere uit die yskas gaan haal. Toe ek terugkom was hy besig om die geraamde plakkaat van verloofde se onlangse toneelproduksie van Shakespeare se Midsomersnagdroom teen die muur bokant die kaggel te bestudeer. Verloofde het halfnaak met stywe tieties en bokhorinkies op haar kop in die rol van Puck op die plakkaat gepronk.

“Ek verstaan jy is ook betrokke by die toneelwêreld?”

“Ja, ek probeer. Jy sou nog nie van my werk gehoor het nie.”

“Ek het terloops,” het hy gesê en die bier by my gevat.

“Ek en Deborah het toevallig verlede jaar ’n play van jou by die kunstefees in Oudtshoorn gesien. Ek het die naam vergeet?”

Sonde met die bure ...

“Dis hy. Dit was baie interessant.”

“Interessant?” Hy het skielik te gemoedelik na my sin voorgekom.

“Ja, die hele voorstedelike ding wat jy daarin aanspreek. Dit was treffend. Jy het ’n gevoel vir die voorstedelike omgewing. Ek het veral gehou van die tweede gedeelte waar dit aan die lig kom dat die twee mans ’n verhouding met mekaar het sonder dat hul vrouens daarvan weet.”

Wat het die ou hier kom soek? Het hy eintlik kom ruik watse aftershave ek gebruik? En dat hy skynbaar my dramatiese skryfpogings geken het was dalk ’n poging om my met my gevoel vir die voorstedelike vas te pen as die ou wat sy vrou bykom as hy nie tuis is nie. Ek was op die punt om hom vriendelik te vra om te verkas.

“Ek het jou eintlik ’n guns kom vra, buurman,” het hy gesê en sy massiewe snoet weer gesneus.

“Watse guns … buurman?”

“Ek het jou neus nodig.”

“My neus?”

“Ja, ek het gedink jy kan dalk jou neus gebruik om my te help om die reuk van die parfuum in ons straat te lokaliseer.”

Lokaliseer? Dit was nou duidelik, die snor, die neus, en die militêre termes soos ‘negatief’ en ‘lokaliseer’ het alles daarop gedui dat my buurman wel ’n polisieman was, en dat hier veel meer aan die gang was as waarop ek gereken het. Miskien was verloofde tog reg; dit was tyd dat ek uit my isolasie breek en my oë oopmaak vir wat om my aangaan — al was dit net om meer te wete te kom oor wie en wat my buurman regtig is. Ek het begin saamspeel.

“Echo bravo ...?”

“Ekskuus?”

“Ek sê, dis goed so.”

Hy het sy kop geskud, amper asof hy my wou salueer.

“Ek het ’n sample saamgebring.”

Hy het ’n klein botteltjie parfuum uit sy broeksak te voorskyn gebring en na my uitgehou.

“Ruik. Ek het dit met baie moeite uiteindelik by ’n winkel in die stad opgespoor, maar intussen die damn verkoue opgedoen.”

Ek het die proppie van die klein botteltjie afgeskroef en my neus daarteen gedruk. Die reuk was soet.

“Ruik soos lemoene.”

“Negatief, naartjie en kaneel met ’n tikkie jasmyn,” het hy my reggehelp.

“Ruik soos ’n vroueparfuum.”

“Negatief. Ek het ook eers so gedink maar dis blykbaar ’n unisex parfuum wat beteken mans kan dit ook gebruik.”

“En wat is ons ops-modus?”

“Wel, as jy kan begin deur by van die ander bure aan te klop sal ons miskien só die skuldige vind.”

“Jy’s nie ernstig nie?”

“Positief.”

“Jy wil hê ek moet ons bure gaan uitruik?”

“Dis bietjie kras gestel ... maar ja, so iets.”

“En wie sê vir jou dis nie dalk ek nie, ek meen jy kan my nie nou ruik nie?”

“Jy’s nie my vrou se tipe nie.”

“Ja … en wat is jou vrou se tipe?”

Hy het weer op die sofa gaan sit en sy hande saamgewring asof iets of iemand se nek tussen sy vingers gerus het. “Ek is jammer, ek het nie bedoel om jou te beledig nie. Ek het net gedink jy kan my help. Ek weet nie meer wat om te doen nie.” Hy het weer sy kop in sy hande laat sak.

Ek het gemerk dat sy kroon besig was om bles te word en hom iewers in sy veertigs geskat.

“Kyk, ek wil nie betrokke raak nie,” het ek hom laat verstaan. “Ek is nie ’n speurder nie. Besides ek ken jou of jou vrou nie eers nie. Dis gek. Ons is nou wel bure, maar ...”

“Ek is jammer,” het hy gesê en opgestaan. “Ek moes jou nie met my probleme kom … maar ... jy’s ’n skrywer. Ek het net gedink.”

“Ek probeer skryf ...?”

“En ek probeer my huwelik red.” Hy was op pad deur toe.

Ek was regtig nie lus om by ander mense se huweliksprobleme betrokke te raak nie, nog minder my bure s’n, maar ek het die ou egter jammer gekry. Die eerlikheid en als waarmee hy uit die bloute sy lot by my — sy onvriendelike buurman — kom bekla het. Dit kon ek gewees het, het ’n ou Calvynse stemmetjie in my uitgeroep.

“Nou maar goed, ek sal kyk wat ek kan doen, maar ek belowe niks nie.”

Hy het in die deur gaan staan. “Regtig?”

“Kan ek die sample hou?”

“Sure ...”

“Ek sal by ’n paar huise gaan aanklop en sê ek is op soek na Lientjie, maar dis dit. As ek op die reuk afkom sal ek jou laat weet.”

Sy gesig het opgehelder. “Jy’s ’n vriend duisend.” Hy het my hand stewig in syne geneem en ’n druk gegee. “Ons moet een of ander tyd ’n ete hou,” het hy gesê, en afgestap tuinhekkie toe.

“Ons moet,” het ek gesê.

“Tot later … en jammer oor die Stormers.”

“Volgende keer …”

Ek het skaars my buurman oor die tuinmuurtjie, wat ons ingang van hulle s’n skei, gegroet, toe my verloofde en haar vriendin oorkant die straat stilhou in dié se fancy wit Mercedes. Hulle was laggend in gesprek, seker oor die fliek, wyl ek geduldig op die voorstoep gestaan en wag het. Verloofde het al groetend uitgeklim en die straat oorgesteek. Die Mercedes het weggery sonder om te groet.

“Wat maak jy buite?”

“Ek … het met ons buurman gesels.”

“En …?”

“Gawe ou.”

“Ons moet hulle oornooi vir ete.”

“Ons moet. Wat doen hy vir ’n lewe?”

“Lewensversekering. Sanlam.”

Ek het haar pragtige stewe gang af sitkamer toe gevolg en die ketel in die kombuis gaan aanskakel. In die proses om die ketel met water te vul het die botteltjie parfuum, wat my buurman my as bewys van sy vrou se egbreuk gegee het, op die kombuisvloer geval, en in skerwe gebreek.

“Ek dag jy sou vanmiddag begin skryf aan jou nuwe play!”

“Ek het probeer! Tee?” het ek vanaf die kombuis geroep.

“Asseblief!”

Ek het die oorblyfsels van die botteljie parfuum op die vloer met ’n skopgrafie opgevee en in die asblik gegooi.Teen die tyd dat ek met verloofde se tee teruggekeer het was sy vas aan die slaap op die sofa met Lientjie in haar arms opgekrul. Deur die muur wat ons sitkamer van ons bure s’n skei het ek die luide musiek dofweg herken: “…love is a burning thing … and it makes a fiery ring.” My arme buurman was duidelik in stukke oor sy vrou se vermoede verraad. Ek het in my gemakstoel oorkant my slapende verloofde gaan sit en die bier in my hand stilletjies oopgekraak. Die sitkamer het vanaf die kombuis na naartjies en kaneel begin ruik, en ten spyte van verloofde se gesnork, kon ek steeds vir Johnny Cash deur die muur langsaan hoor neul — “…bound by wild desire ... I fell into a ring of fire …

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.