NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Charles J Fourie
is ’n bekroonde dramaturg en regisseur van oor die vyf en dertig toneelstukke en kabarette in Afrikaans en Engels waarvan vier tekste al by Tafelberg-Uitgewers en Jonathan Ball Publishers verskyn het. Sy toneelwerk is reeds landwyd asook in die buiteland opgevoer. Van sy kortverhale en gedigte het al in letterkunde tydskrifte verskyn. Meer onlangs is sy kortverhaal, “Nelson Geniet Zanzibar” in die Vonkfiksie publikasie van Human en Rousseau opgeneem. Hy is ook die skrywer en regisseur van ’n aantal kortfilms en dokumentêre televisieprogramme, en is onlangs aangewys as ’n finalis in die RSG / Sanlam-Radiodrama kompetisie 2000.
  Charles J. Fourie

Die affair

Eleonor bel om te sê sy en Danie sal nie die ete bybring nie. “Hy weet van ons ... en hy dreig om homself te skiet ... ”, maar sy glo nie hy sal dit doen nie want dis nie die eerste keer dat dit gebeur nie, en ... “ek bel jou weer.” Toe sit sy die foon na ’n ongemaklike stilte neer asof sy nog iets wou sê maar vergeet het.
     Ek en Eleonor het ’n affair aan.
     Vier maande lank al sien ons mekaar Woensdagmiddae na sy by die gym in Groenpunt was. Dan ontmoet ons in ’n kamer by ’n goedkoop hotel op Somersetweg. Niemand by die hotel vra vrae nie en die eenvoudige dubbelbedkamers word meestal vir ’n paar uur uitverhuur aan mense met private besigheid. Jy kan natuurlik oorslaap as jy wil maar wie wil nou oorslaap as jy kan terugkeer na die gerief van jou eie huis en jou ander private lewe tuis.
     Danie en Eleonor het aan die begin van die jaar teruggekeer van Brittanje waar hy na vyf jaar se studies uiteindelik sy MBA by een of ander onbekende universiteit in Sussex gaan afskryf het. Hy kon nie inkom by Oxford nie, en Cambridge wou hom nie ’n studiebeurs toestaan nie. “Op grond van sy witvel en ouderdom,” het sy vrou my vertel. Sedert hul terugkeer werk Danie by ’n versekeringsmaatskappy as ’n effektetrust-konsultant en hoop hy om eendag in hul topbestuur opgeneem te word. “Dis al waarvoor hy leef,” het Eleonor gesê.
     Sy aan die ander kant verpes hul nuwe lewe in Bellville en daarom ry sy in Kaapstad toe om te gaan gym en sommer ook inkopies by die Waterfront te doen. Dis ook waar ons mekaar ontmoet het. Sy was besig om ’n paar Nike tekkies in ’n sportwinkel aan te pas, en ek het ’n nuwe stel Speedo Futura swembrille kom koop. Die soort wat nie opwasem as jy swem nie, en deur die goue medalis, Penny Heyns, aanbeveel word.
     Sy’t haar slanke skoongeskeerde been onder haar kort romp uitgeskop en my gevra wat ek van die helder rooi Nike’s dink?
     “Dit lyk goed aan jou voete,” het ek gesê en haar goed gevormde knieë bewonder.
     “Dink jy regtig so? Is dit nie te bright nie?”
     “Niks kan ooit te bright wees nie,” het ek haar terug gespot waarop sy begin lag het en die Nike’s uitgetrek het. By die betaalpunt het sy omgedraai en my gegroet waar ek gelate met die pers swembrille op my voorkop bly staan het.
     Twee weke later het ons mekaar weer in die Waterfront raakgeloop. Dié keer by Exclusive Books. Sy was besig om te soek na ’n geskenk vir haar skoonma wat in Stellenbosch woon en getroud is met ’n professor by die tandheelkundeskool.
     “Iets konserwatiefs,” het sy gesê. “My liewe skoonma is maar ’n ou drip en lees net Ena Murray boeke.”
     Ek het voorgestel sy koop Dr. Hunter S. Thompson se bundel geskrifte, Songs of the Doomed, wetend dat die ou tannie dit nie snaaks sal vind nie en miskien uit die gebaar sal besef haar liewe skoondogter met die mooi knieë kan haar nie verdra nie. Hierna het ons gaan koffie drink by ’n restaurant om die hoek en ’n uur later was ek besig om die moulose somersrok waaronder haar stywe borsies vroeër geskuil het van haar lyf te pluk en my tong in haar vogtige keel te druk.
     “Stadig ... ,” het sy my gemaan.
     Die volgende dag het ek ’n SMS boodskap op my selfoon ontvang met die versoek dat ons mekaar rondom 3 nm. die volgende Woensdag by dieselfde hotel moet kry. Sy het reeds ’n kamer bespreek. Ek het haar terug ge-SMS en laat weet dat dit goed so is en dat ek nie kan wag om haar weer te sien nie, alhoewel ek onseker was of ek haar weer wil sien. Gelukkig het ek nie nodig gehad om ’n verskoning uit te dink vir die afspraak met Eleonor nie aangesien my Julia, saam met wie ek al meer as ’n jaar woon, besig was om te repeteer aan Oscar Wilde se Salome by die Nico Malan teater onder die kundige hand van ’n befaamde oorsese regisseur. Sy was besig met haar besige lewe, en het oor die algemeen nie veel uit te vra gehad oor my doen en late nie. Boonop was sy gelukkig in ons verhouding en het my vertrou. Veral as dit by ander vrouens kom het sy geglo hulle vind my chauvinisties en bedreigend. Wat op ’n manier waar was want ek het nie veel aan Julia se vriendinne se geselskap gehad nie. Hulle was gewoonlik almal aktrises met gewigsprobleme.
     “Danie vlieg Johannesburg toe die naweek vir besigheid,” het Eleonor een Woensdagmiddag gesê en my gesig was teen haar bors vasgedruk terwyl die suidooster buite vlae reën teen die hotelkamer se venster vaswaai. “Ek het gedink ons kan iewers heen gaan vir die naweek, skat.”
     “Wat van jou kind?” het ek gevra en haar geswolle tepel uit verveeldheid met my tong getreiter.
     “Hy gaan by sy ouma in Stellenbosch kuier. Die een van wie jy nou ’n Hunter S. Thompson fan gemaak het,” het sy gegiggel.
     “Wat sal ek vir Julia sê, sy sal dit vreemd vind as ek vir ’n hele naweek weggaan sonder om haar saam te vat?”
     “Ons sal aan iets dink.”
     Die kind, Daniel, ’n seuntjie van vyf, is gebore terwyl Eleonor en Danie in Brittanje gewoon het. Ek het haar een oggend weer in die Waterfront raakgeloop by die rolprenthuis na sy en klein Daniel Disney se Lion King gaan kyk het. Die rooikop sproetgesig laaitie het sy hand uitgesteek en ewe my blad geskud toe sy ma hom aan my voorstel as oom Carl van die gym, en vir ’n oomblik het dit vir my gevoel die kind weet dat ek en sy ma Woensdagmiddae ons longe uitnaai in ’n donker hotelkamer nie ver van waar ons staan nie.
     Dit was duidelik dat die kind nie sy ma se skoonheid in die bloed gedra het nie, en vir die eerste keer het ek ’n idee gehad van hoe sy pa, Danie, moet lyk. Rooi hare en sproeterig. Hy’t seker ook sproete op sy rug gehad. Iets wat Julia my eenkeer vertel het vrouens onaantreklik vind.
     “Sien jou Woensdag,” het Eleonor in my oor gefluister met ’n kus buite die kind se sig. Hy’t moes dit egter gesien het want toe hulle wegstap het hy omgekyk en vir my tong uitgesteek.
     In die week voor Julia met haar kleedrepetisies begin het, het ek die kans aangegryp en voorgestel dat ons twee vir ’n naweek weggaan Warmwaterberg toe.
     “Dis onmoontlik ... daar wag ’n rowwe week op my,” het sy gesê en “hoekom gaan jy nie op jou eie nie,” voorgestel.
     “Jy weet ek hou nie daarvan om alleen weg te gaan nie, Julia,” het ek gelieg.
     “Komaan, dit sal ons beide goed doen. Gaan Warmwaterberg toe en begin aan daai nuwe draaiboek wat jy wil skryf werk,” het sy dit verder geneem.
     “Watter draaiboek?”
     “Die een waarvan jy my nourieaand vertel het. Die een oor die affair — jou Last Tango in Paris”, het sy gelag.
     “Klaar dood geloop,” het ek gesug.
     Ek kon nie onthou watter draaiboek sy van praat nie. Ek was die heeltyd besig om draaiboeke uit te figure vir my groot Hollywood break wat ek geweet het nooit gaan kom nie.
     “Is jy seker jy kan nie saamgaan nie,” het ek haar verder gepor.
     “Jy’s nes ’n groot baba, Carl,” het sy gesê en my op die voorkop gesoen. “Gaan geniet jy die naweek, of nog beter bly daar vir die week dan kom jy terug met openingsaand. Ek gaan in elk geval volgende week omtrent nooit tuis wees nie.”
     “Die hele week?” het ek effe benoud gevra.
     Dis wat gebeur as jy eers in die skemersone van affairs beweeg. Jy begin glo almal om jou is besig met dieselfde gekolk in die donker, en vir ’n oomblik het ek begin wonder of daar nie iets tussen my Julia en die oorsese regisseur aan’t broei was nie. Dis tog hoe ons verhouding begin het. Sy’t haar geliefde in daai stadium, ene Pierre, met my verneuk terwyl ek en sy saamgewerk het aan ’n poppeteaterproduksie vir kleuters. Toe arme Pierre van ons uitvind was die affair al twee maande aan die gang en die man se hart vir altyd gebreek. Hy het eers gedreig om my kop in mekaar te kom slaan maar toe Julia hom vertel dat sy hom eintlik nooit lief gehad het nie het sy moed hom begewe en is ek ’n kursus in selfverdediging gespaar.
     “Ja, miskien moet ek maar op my eie gaan. Miskien kom die draaiboek terug,” het ek saam gelag, soekend in haar oë na ’n teken van bedrog.
     “Jy sal dit geniet, skat,” het sy gesê en my weer op die voorkop gekus asof ek ’n kind was wat bang is om op ’n jeugkamp te gaan.
     Na Eleonor vir Danie op sy vlug na Johannesburg afgesien het, het sy my in die aankomsaal van die lughawe ontmoet. Amper soos iets uit ’n James Bond fliek, het ek gedink terwyl ek in die Wimpy vir haar gesit en wag het. Danie se silwer BMW is sommer by die lughawe gelos vir die terugkomslag as sy hom moet optel, en ons is met my geroeste Toyota daar weg vir die naweek.
     Warmwaterberg, waar daar nie selfoonontvangs is nie en die bestuurder en sy vrou dink almal wat daar aandoen is gelukkige getroude paartjies. Hulle het my in die verlede al daar in die warmwaterbronne sien fuif met ander affairs ... Emma, Louise, Marita, Susan, Caitlin, Karin ... nog een sou nie ’n verskil aan hulle afkeuring van my soort maak nie. So het die bestuurder se vrou by geleentheid op haar eie stil manier voorgestel dat ek liewer onder ’n ander naam as my eie inteken, en ook gehoor gegee aan my versoek toe ek en Louise by geleentheid daar was, om vir Susan te sê, ek is alleen daar en veilig en alles gaan goed indien sy die oord sou bel en navraag oor my wellewendheid doen.
     Eleonor het vir Danie laat verstaan sy gaan sommer bietjie die Karoo inry op haar eie en miskien ’n draai by haar vriendin, die hygromanskryfster, in Montagu maak. Maar as hy haar nie op die selfoon in die hande kan kry nie moet hy weet sy is buite ontvangsarea en sy sal hom terugbel.
     Genoeg leuens om ’n regering op sy knieë te dwing as die waarheid sou uitkom. Maar ek was gewoond aan die leuens, en Eleonor, op haar eie snaakse manier het my die idee gegee sy geniet die opwinding en kinderlike gevaar. Soos meeste getroude vrouens wat verveeld raak met hul huwelike. Dis hoekom hulle dit in die eerste plek begin doen. Die fantasie word werklikheid en die werklikheid is dan veel meer opwindend as die fantasie.
     “Jy’s stil,” het Eleonor gesê terwyl ons omhelsend in die warmbron se water dryf, haar kaal lyf in myne gevleg.
     “Ek dink maar aan iets,” het ek gelieg.
     “Wat?”
     “Aan ’n storie wat ek eenkeer gelees het in ’n National Geographic van die Goue Klip van Burma.”
     “Burma?”
     Haar hand was nou besig om my ereksie onder die water te streel en ek het my kop agteroor weg van haar gesig op die oppervlak laat dryf sodat sy ’n beter greep op dinge kon kry.
     “Vertel ... ,” het sy gesê en haar mond oor my penis se glans gegly.
     “Daar’s hierdie klip in die suide van Burma ... wat bo op ’n berg teen ’n afgrond rus ... en die Boeddhiste glo die klip staan gebalanseer op ’n enkele haar van die Boeddha ... dis wat keer dat hy nie daar afneuk nie ... ” Sy’t niks hierop gesê nie en my kom uit haar mond gespoeg sodat die semen op die water dryf en aan haar swart hare gaan kleef het.
     Die volgende dag het sy by haar vriendin, die hygromanskryfster, in Montagu gaan kuier terwyl ek in die hotel op die dorp se kroeg vir haar gewag het. Toe sy terugkom was sy in trane.
     Haar vriendin wat sy jare laas gesien het, het intussen borskanker gehad en die dokters moes een van haar borste verwyder. Sy’t toe eers besef die vriendin se laaste boek, Liefste Lien, oor ’n heldin wat met borskanker worstel, eintlik biografies was. Gelukkig vir die hygromanskryfster was dit ’n blitsverkoper. Die nuus oor haar vriendin se siekte het egter die res van ons naweek verongeluk, en later die aand het sy met my geroeste Toyota op die plaaspad na die bron uitgery om ontvangs op haar selfoon te kry sodat sy vir Danie in Johannesburg, en klein Daniel by sy ouma in Stellenbosch kon bel.
     Ek het alleen in die warmbron se water op my rug gedryf met ’n sterrehemel wat bokant my aan die uitbrand was en gewonder of my Julia nie op daai oomblik saam met die befaamde oorsese regisseur in die bed is nie. Of hy nie oor haar wit lyf buk en die sweet van sy voorkop op haar borste drup nie. Die beeld was vreesaanjaend duidelik en het my bedruk laat voel. Vir ’n oomblik het ek gevoel ek verdrink in al die leuens.
     ’n Paar weke na Julia se openingsaand waartydens sy ’n staande ovasie vir haar spel in Salome ontvang het, het ek en sy een middag besluit om te gaan fliek by die Waterfront toe ons onverwags in Eleonor en Danie en klein Daniel vasloop. Die rooikop sproetgesig seuntjie het my veraf herken en kliphard na sy ma uitgeroep, “Daar’s oom Carl ... oom Carl!” Waarop Eleonor se oë bevange met myne kontak gemaak het. Julia het verbaas die gesin wat op ons afkom gade geslaan en my hand stewig gegryp.
      “Wie is dit?”
     “Dis ... Eleonor, ons ken mekaar van die gym af ... en dis ... Julia waarvan ek jou vertel het, Eleonor,” het ek hulle aan mekaar voorgestel.
     “Dis ... my man, Danie ... Danie, dis ... Carl, van die gym waarvan ek jou vertel het, en dis sy vrou, Julia.”
     “Vriendin ... Julia,” het my Julia haar reggehelp.
     Danie se hare was heelwat rooier as wat ek verwag het en het matrasserig op sy kop gestaan. Hy’t ook meer sproete op sy gesig gehad as wat ek verwag het. Selfs die hand waarmee hy ferm myne geskud het, het duisende klein bruin spatsels op gehad. Letterlik asof hy deur ’n sif gebore is. Hy het sy oë onnodig lank op Julia langs my gerus toe hy haar hand met sy sproeterige klou skud.
     “Nou toe nou,” het Julia gesê,”Carl het altyd vriende op plekke waar ek nie eers gedink het hy het vriende nie.” En toe knyp sy my in die ribbes en nooi vir Eleonor en Danie en klein Daniel om een aand by ons te kom eet sodat sy hierdie geheime vriende van my beter kan leer ken, waarop Eleonor, ongemaklik die uitnodiging moes aanvaar, terwyl haar man Danie, gemoedelik net sy kop instemmend knik met sy sproeterige oë steeds op my Julia gerig.
     Toe hulle wegstap het klein Daniel omgekyk en weer sy tong na my uitgesteek terwyl hy spelend aan sy ouers se hande swaai.
     “Oulike kind,” het Julia gesê en aangestap.
     In die motor op pad terug was Julia stil. Toe ons stilhou voor die kothuis in die Tuine het sy uitgeklim en die geroeste Toyota se wankelrige deur onnodig hard toegeslaan en die huis ingestorm.
     “Van wanneer af gaan jy gym toe,” wou sy weet toe ek die kombuis instap waar sy besig was om haastig die messe en vurke uit die laaikas op die kombuistafel te pak.
     “Ek ... ’n hele ruk al. Ek gaan swem. Jy weet tog,” het ek gelieg.
     “Ek dag jy swem by die baddens in Langstraat?”
     “Ek het ... maar deesdae swem ek by die Health & Raquet in Groenpunt,” het ek my pad verder uit die situasie probeer beur.
     “En is jy ’n lid?”
     “Ja, natuurlik is ek ’n lid. Jy was so besig met repetisies en alles die laaste tyd ... ”
     Ek kon nie help om onnodig te begin glimlag nie. Dieselfde dom glimlag het om my mondhoeke gekrul as kind wanneer iemand my van iets beskuldig het wat ek nie gedoen het nie.
     “Jy jok nie vir my nie, Carl?” het Julia gepor.
     “Hoekom sal ek vir jou jok?”
     “Ek weet nie ... ek hoop regtig nie jy is besig om dinge agter my rug te doen nie. Ek sal dit nie kan hanteer nie. Hierdie verhouding is vir my belangrik en ek hoop dit is net so belangrik vir jou.”
     “Dit is ... dit is,” het ek weer gelieg. “Ons lewe saam is vir my alles, Julia ... alles,” het ek aangegaan en haar in my arms geneem en begin soen en haar verder probeer gerusstel tussen die trane deur.
     Die telefoon het skielik vanuit die sitkamer begin lui en ek het dit gaan antwoord. Dankbaar om uit die valse greep van my en Julia se tydelike versoening te kom.
     “Wie was dit?” wou Julia weet terwyl sy die messe en vurke weer in die laai begin terugpak soos sy al vantevore gedoen het na sy gedreig het om haar goed te vat en te loop.
     “Dit was my vriendin, Eleonor, van die gym ... wat ons by die Waterfront raakgeloop het? Hulle sal nie die ete uitnodiging kan aanvaar nie, haar man ... Danie, het homself geskiet ... ”

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.