NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Die wedloop

Lea Botha*

Hulle staan so stil, teen mekaar; die dogtertjie se armpies is styf om haar ma se knieë geslaan en haar koppie druk in haar mamma se maag. Om hulle woel en raas en maal dit, maar die twee staan asof hulle alleen onder die blou hemel in die gloed van die geel son, teen die kant van die pawiljoen is.

Liena staan en kyk na die baie kinders wat om haar beweeg. Die meeste is in atletiekklere geklee, en dis vir haar asof almal eet en skree en hul bes doen om die boonste punt van die pawiljoen te bereik. Oorkant haar, aan die anderkant van die resiesbaan, werskaf die onderwysers onder die groot bont sambrele, vrolik in die varsheid van die oggend en die heldergeel van die sonlig wat oor alles lê.

Sy word bewus van haar eie kind wat styf teen haar aandruk. Ingedagte streel sy oor die geel krulhaartjies wat in ’n stywe dik vlegsel op die maer ruggie lê, en herhaaldelik vryf sy oor die koue velletjie van die dun armpies om so die kind te probeer gerusstel. Hulle wag vir die aankondiging om die graad 1-leerlinge na die wegspringplek te roep.

Liena vat Lydia se benerige handjie en begin aanloop na die wegspringplek. Sy weet haar kind is angsbevange, maar sy self voel niks, sy dink niks, sy loop maar net met haar maer dogtertjie, wie se beentjies verspot onder die wye pype van die atletiekbroekie uitsteek.
         
Lydia is Liena en Gert se tweede dogter, gebore toe Gert al oor die veertig was en sy aan die middeljare geraak-raak het. Hulle was vreeslik bly oor hulle twee genade-babas, kort na mekaar gebore, en wat voorkoms betref, so uitgedeel – enetjie wat soos Pa lyk, en enetjie wat soos Ma lyk, en al twee ongelooflik lief en inskiklik. Dat Lydia nie dieselfde beweeglikheid en stywe lyfie as Magriet gehad het nie, het hulle aanvanklik glad nie gepla nie, want Lydia was tog so lekker sag en rond en soenbaar en het, anders as Magriet, tog so daarvan gehou om opgetel en vertroetel te word.

Gert se familie het ’n groot byeenkoms gehou, en Liena het opgewonde daarna uitgesien om die twee laatbabas van haar aan die familie te wys. Sy het hulle die dag spierwit aangetrek en seker gemaak hulle ruik lekker en haar verkneukel in al die aandag wat hulle gekry het. Magriet het met die ander niggies en nefies gespeel, en Lydia het in haar drastoeltjie by Liena se bene gesit, soos gewoonlik stroopsoet terwyl sy na almal kyk.

Toe stamp die een skoonsuster aan Liena en sy sê: "Wat makeer jou kind, is sy mal?"

Sprakeloos kyk Liena na haar en na die ander gesigte om haar wat nou met gespitste aandag na haar staar. Sy kyk na Lydia se soet gesiggie en besef dat die vrou eintlik “mal” en “vertraag” verwar, en verstomp kan sy nie antwoord nie, kan sy net haar engelkind optel en teen haar vasdruk.

Maar skielik is die onrus in haar bevestig.

Die week daarop begin ’n lang stryd, so lank soos wat Liena nie toe kon voorsien nie, want vir baie jare wat kom, sou sy daardie engelkind teen haar moes vasdruk, maar ook van haar moes wegstoot. ’n Paneel kinderspesialiste het bevind dat Lydia voor geboorte ’n suurstoftekort gehad het, en dit het haar been- en armspiere so aangetas dat sy geen beheer daaroor gehad het nie.

Omdat Lydia besonder intelligent was, was dit moontlik om met oefeninge en fisioterapie haar brein te leer om ander bane vir die stuur van die boodskappe na die spiere te vind, en baie dae lank sou die hele gesin inspring om elkeen op sy eie manier die ou pap babatjie te help. Gou was die band tussen Magriet en haar sussie buitengewoon sterk, want met babataal en opgewonde geskreeu en gelag moedig sy op ’n lomp manier Lydia aan om saam te speel en eenvoudige bewegings te maak.

Liena weet dat Gert in die stilligheid huil omdat hy bevrees is dat sy kind nooit normaal sal kan skool toe gaan nie, of universiteit toe nie, en sy huil omdat sy so moeg is van al die gespartel om alles in hulle huis normaal te laat lyk. Dit is haar werk om te sorg dat almal nie gedurig depressief is nie; sy moet sorg dat die huishouding glad verloop, en die hele sorg van die ou sagte babalyfie kom op haar neer. Vir buitestaanders verduidelik sy geduldig elke keer wat met die baba skort, want sy glo dat as hulle weet, sal dit bespiegeling en ’n geskinder net ’n bietjie temper.

Die hegtheid van hul gesin slaag daarin om genoeg geborgenheid aan Lydia te gee sodat sy stadigaan op die behandeling reageer en stadigaan meer selfvertroue ontwikkel om self nuwe speletjies te begin. So kan sy naderhand regop sit, begin kruip, en op ’n laat-laat ouderdom begin loop.

Met kwaai-wees, baie huil, baie bang en baie seerkry het hulle gevorder totdat Lydia graad een toe kon gaan in ’n normale skool.

Maar toe is dit ook atletiektyd. Oom Frik, afrigter en skoolhoof, maar veral kindervriend, kyk diep in ’n kinderhartjie en sien die groot begeerte raak om soos ander kinders te wees, om ook deel te hê aan hardloop en son en gras en totale oorgawe aan die opgewonde verspottigheid van hierdie nuwe ondervinding. Hy besluit dat Lydia ook op die atletiekbyeenkoms moet hardloop.

En dit is hoekom Liena nou haar kind se maer lyfie by die wegspringplek aan die juffrou oorhandig. Hulle is net twee wat in hierdie ouderdomsgroep deelneem, twee verspotte klein benerige lyfies met te groot atletiekklere aan, wat verswelg raak in die wydheid van die atletiekveld en die baie kinders en die rumoerigheid en die mildheid van die son. Vir oulaas word hulle gekatkiseer sodat hulle presies weet hoe en waarheen om te hardloop, en toe klap die skoot.

Die tweetjies spring weg. Altans, die maatjie spring weg en hardloop ’n barshou. Lydia se gesiggie vertrek van inspanning en die armpies maal en roei en … daar gaan sy. Voetjie vir voetjie beweeg sy vorentoe terwyl die gesiggie vertrek is van inspanning en konsentrasie.

Liena staan botstil langs die veld; sy is te bang om te dink of te voel. “Ag Here,” bid sy, “spaar my kind die vernedering van mislukking en onvoltooidheid; laat sy asseblief net tot by die eindpunt vorder. Ag Here, hoekom het ek hierdie wedloop toegelaat? Ag Here, hoekom voel dit vir my asof my kind se hele lewe hiervan afhang? Ag Here, Ag Here …”
Sy begin afgemete al langs die veld saam met haar spartelende kind loop; sy wíl die kind om elke keer ’n voetjie op te tel en neer te sit. In haar kerm haar siel en sy roep aanhoudend die Here aan terwyl sy voel hoe haar eie lewe en konsentrasie na die kind toe vloei. Op die pawiljoen begin die kinders handeklap en ritmies te roep: L-Y-D-I-A, L-Y-D-I-A … Onderwysers en ouers los waarmee hulle besig is, en alle aandag is op die rukkende lyfie toegespits.

Voor die pawiljoen steek Lydia vas, sy kyk na al die roepende kinders, en die mooiste, breedste haasbek-glimlaggie breek op die gesiggie deur, en asof begeester spring sy weer weg en beur met nuwe ywer na waar haar juffrou by die eindstreep wag.

Liena loop tot sy die koue kant van die pawiljoen teen haar arm voel druk. Haar oë bly op Lydia en onbetrokke sien sy hoe ’n onderwyser haar op die podium tel, en oom Frik ’n medalje vir tweede plek om haar dun nekkie hang. Die onderwyser tel haar weer af, en Liena kyk hoe die ander onderwysers vrolik en laggend met hul werk aangaan. Sy kyk na die pawiljoen en sien hoe die kinders en die ouers almal besig is, gesels, raas en eet terwyl die son oor almal spoel.

Verwonderd dink sy: “Weet hulle dan nie …? Hoe weet hulle dan nie van wonderwerke nie?”

 

*Lea Botha

Lea Botha is gebore in Bloemfontein en matrikuleer aan die Klerksdorpse Hoërskool. Sy behaal 'n BA THOD Afrikaans-Nederlands/Geskiedenis aan die PU vir CHO en Potchefstroomse Onderwyskollege. Sy het daarna 'n aantal jare skoolgehou, voordat sy bemarker van 'n ingenieursfirma geword het. Sy is getroud met Gert Botha, Meganiese Ingenieur en boorling van Klerksdorp en twee pragtige dogters.

  Lea Botha


boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.