NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Heidi Botha
Ek is in 1975 in die Oos-Kaap gebore. Ek doen ’n BA en daarna ’n Honneursgraad in Afrikaans by die Universiteit van Port Elizabeth. Op die oomblik bevind ek my in grou Londen waar ek onderwys gee en konstant verlang na die see en warm someraande op ’n Suid-Afrikaanse stoep.
  naam

Die speelgoedman

Heidi Botha

Die speelgoedman is gemaklik met sy liggaam. Hy het lang ledemate wat soos Pinocchio se houtaanhangsels vreesloos dangle en wat hy lankuit strek die son tegemoet. Elke naweek sit hy langs die see — so half op die rand van die horison, net ’n entjie vanwaar die see die geel sand soom en vanwaar die deinende watermassa dit soms grou bekruip. Aan die ander stalletjies steur hy hom nie veel nie. Hoor skaars meer die donker Nigeriërs se half pleitende verkoopstegnieke. Wanneer hulle gemaak entoesiasties die Sondagmiddagwandelaars probeer omkoop om van hul Afrikabeelde — lang kameelperde en stugstarende maskers — huis toe te neem. Hy kibbel nie. Dit pla hom ook nie eens as hy dikwels teen sesuur sy speelgoed versigtig moet wegpak sonder dat selfs een ’n eienaar gekry het deur die loop van die dag nie.

Terwyl die ure verbytik werk hy die son se strale in die hout in. Koue lym en verf word ’n streep asemhaling en lewe. Die reuk van geluk en die opmaak van verspilde jare. Sy gedagtes neem dikwels die loop, veral wanneer hy die verbygangers bekyk vanonder sy ruie wenkbroue en digte blonde boskasie deur. Dis altyd beter om nie té goed te sien nie. Veral waar mense betrokke is. Dit weet hy goed. Ervaring is die beste leermeester. ’n Mens is nie veronderstel om sy kop twee keer te stamp nie.

In die winter het hy hom dikwels toegerol in knus winterkomberse en hom verbeel hy was ’n sywurm. Dan het hy vir hom ’n kokon van suiwer, goudgeel drade gespin en daarin weggekruip, totdat dit die regte tyd sou wees om uit te kom. Dit sou wees wanneer Dadda weg was, het hy altyd gedink en met sy nuwe vlerke sou hy Ma ver, ver wegneem. Na die engele hoog bo die son of daar waar die skoenlappers gewoon het. Maar wanneer dit somer was, was die nagte warm en was selfs die strale van die maan ’n vuur. Dit het hom gedwing om onvas en alleen bo-op sy beddegoed te dobber.

Maar hy skud die verlede altyd half onverskrokke van hom af wanneer dit hom onverwags bekruip. Probeer ’n skans daarteen opbou. Maak houtvliegtuie en vragmotors, speelgoedmotors en treine met lang trokke soos die segmente van ’n duisendpoot en voel gelukkig. Elektroniese speelgoed en radiobeheerde vliegtuigies staan hom nie aan nie. Vir hom verteenwoordig massaproduksie ’n uitputtende, meganiese proses wat mense, soos masjiene, stadig laat verdrink in hul eie bloed. Hy skaaf en timmer selfs naweke in die son. Mense bewonder sy handewerk. Hy is ’n timmerman en ’n dromer. Van ver af lyk hy soms soos ’n woeste, kaalvoetengel wat verdwaal het en nou, in die middel van nêrens, sy droom voortsit. ’n Profeet tussen ’n hoop kleurvolle speelgoed wat in ’n plas sonlig op die rand van die sypaadjie uitgespoel het. Hy hou van sypaadjies — voel veilig in die wig van klomp mense se voetstappe. Herinner hom aan die gelukkige tye saam met Ma wanneer hulle vry rondgedraal het op skynbare inkopie-uitstappies, té vry om huis toe te gaan en veels te benoud omdat hulle geweet het huistoegaantyd beteken dat Dadda hulle by die voorhekkie sou inwag.

Daar, so vry bymekaar, het hulle die vreugde ingedrink, want Dadda was by die huis. En sy alewige drankbottel wat altyd so skynbaar stil en onskuldig op die kombuistafel gebalanseer het.

Vandag weet hy dat hy en Ma mekaar as reddingsgordels gebruik het sodat hulle bo-op die stink, suur massa van Dadda se alkoholbestaan kon dryf.

“Asof die naelstring nooit geknip is nie,” het Ma soms by haarself geprewel wanneer sy saam met hom legkaarte gebou het en dan het sy skielik afgetrokke in die verte getuur, asof haar gedagtes kringe geloop het en het hy aan die wind gedink wat pouses paadjies deur sy hare gewaai het. In sy kleintydbestaan het hy instinktief geweet dat Ma hom nooit singend sou spot soos die kinders by die skool nie ... “Haas Das se nuuskas ... Sy pa het van ’n hangover las ...”

Selfs in die koue wintermaande wanneer die wind skerp deur alles sny soos ’n lans, gaan sit die speelgoedman by die see en werk. Beskut met sy rug teen die betonmuur aan die rand van die strand doen hy dikwels sy houtsneewerk. Vele vaartbelynde vliegtuigvlerke en die asof lewendige gesigte van poppekastoutjiemense is al onder die luide toejuiging van branders teen rotse in die lewe geroep. Die winter en sy elemente hou vir die speelgoedman geen gevaar in nie. Hy voel hoe die storm van buite die lank gelede storm van binne stilwoed.

Tog was die somer ook ’n goeie ding lank gelede. Dan kon Ma haar swart sonbril opsit, daaragter wegkruip en mense se oë ontwyk, het hy altyd kinderlik tevrede sy seëninge getel. Die dag ná die een of ander noodlottige ‘ongelukkie’ (soos Ma selfbewus verduidelik het wanneer mense geskok na haar sigbare beserings gestaar het) sou Ma se blouoog weer die geel wees van vrot tamaties se pap binnekant, groeiend sterwend agter in hulle tuin, wat Dadda altyd in sy groot vuis sou neem en die geel sieklikheid daaruit pers.

Tog hou hy nie van die donker nie. Dis nou een vrees wat hy nooit van sy skouers kon afskud nie. Selfs nie toe hulle breed en bruingebrand soos leer geraak het nie. Die geluid van sonbesies gedurende die dag sing hom aan die werk, maar krieke en paddas se naggeluide laat hom rusteloos ril. Herinner hom dikwels aan daardie nag.

’n Kriek het onophoudelik geskree buite sy venster. Hom getart. Hy het probeer om die klank uit te wis deur die kombers selfs oor sy kop te trek en onthou nou nog hoe styf hy dit om sy ore vasgedruk het. Hy het hom verbeel dat niemand hom kon bykom nie, dat hy ’n Middeleeuse ridder was wat die kier-kier van die lewensgrote kriek met ’n sekuur skoot van sy pyl uitgewis het. Maar die rooi, opgehewe haal van Dadda se gordel het bly brand op sy styfgetrekte rug. ’n Ongenooide gas. En die sweet het hom ongemaklik, soos ’n varswatervis in soutsee, laat kriewel en versmoor. ’n Muskiet wat tergende hekselagsirkels om sy kop gevlieg het, het hom herinner aan die dominee se skroeiende stem. Hy het die helder lig wat flou deur die gekleurde vensters geskyn het onthou, dansende stofdeeltjies wat stralekranse gevorm het, gietend om die mense se koppe en Ma wat so ernstig sit en luister het. Doodstil. Dit het hom laat dink aan die prent van die tierwyfie in die Wetenskapklas wat met elke spier gespan reg was om haar prooi te bespring. Dit het gelyk asof Ma die woorde van skemerlig in haar hande wou vang en saam met hulle wou huis toe neem. “Eer jou vader en jou moeder ... jy mag nie moord pleeg nie ...” het die dominee oor en oor gesê totdat sy ore daarvan gepyn het.

Vandag nog vermy hy priesters. Kyk anderpad wanneer hulle verby sy stalletjie stap. Asof hul priemende oë hom oor en oor beskuldig. Dan probeer hy hul monde toestop deur die jare lange pyn harder te laat eggo in sy hart en is hy onmiddellik weer woedend vir homself. Is hy lus om hul agterna te sit en die wit boordjies van hul nekke af te ruk en soos ’n vredesvlag aan die Coca-Colaboei in die see te laat wapper. Maar hy doen dit nooit nie. Hy weier om te bieg.

Hy het die gebooie begin tel, oor en oor en oor en hulle het swart skape geword wat een vir een oor ’n hek gespring het ...

Ma raak al hoe stiller deesdae. Kruie maar in die huis rond met haar rolstoel. Vasgekluister. Sy kla nooit, sê ook nooit dat sy eintlik gelukkig is só vas aan iets nie. Dit laat haar veilig voel. Die sekuriteit van ’n staalraam. Soms as hy wakker word, sit sy voor sy bed, versonke in haar eie gedagtes. Sy wag dikwels so vir hom om wakker te word, asof sy sy gene probeer besweer. Partykeer is sy net ’n silhoeët afgeëts teen die helderwordende lig wat deur die venster val. Grys, half deurskynend, asof sy reeds gegroet en weggevlieg het na die skoenlappers bo die groot, rooi bal. Dan skrik hy. Hy het al hoeveel male met haar daaroor gepraat, maar soebat help nie. Om so wakker te word disoriënteer hom. Hy voel asof hy teruggesuig is in die ewige maalstroom van tyd en uitgespoeg is in sy kinderjare op daardie oggend wat soos ’n skim sy lewe oorskadu. Dit kan hy egter nooit vir Ma vertel nie. Sy praat in elk geval nie in woorde nie.

Amper deurskynend. So het hy haar gevind, terugkerend uit sy swart slaap. Die wysie wat sy geneurie het, het sy drome saggies laat roer, die bewing van ’n spinnerak in die oggendwind voor sy venster. Hy het geweet hy moes iéts sê om die vreemde stilte tussen hulle te verbreek. Hy was nog half deur die slaap. Iets anders het die gebooie by sy mond uitgeforseer. “... jy mag nie moord pleeg nie ...” en toe het Ma se wysie aan skerwe op die grond gespat. Soos die bloedspatsels wat die vorige aand oor sy voete gespat het. Dadda het proesend gehoes, dubbeld gevou, soos stukkies van sy ingewande in ’n bloederige pappery uit sy mond gepers is. Ma het steunend orent gekom uit die hoek van die kamer en Dadda was stadig maar seker besig om dood te gaan ...

Sy sukkel nog steeds om te slaap. Ná dertig jaar het niks nog regtig vir haar verander het. Hy weet hy moes die bose kringloop breek. Hý was die uitverkore seun wat alles moes herstel, maar niemand kon nog ooit vir hom vertel hoe ruk jy jou nering uit jouself nie. In Ma se oë sien hy dikwels nog die tweestryd van daardie jare. Jare se bitterheid en wrokkige haat wat soos siftende stofdeeltjies, amper onsigbaar maar onmiskenbaar dáár, weier om op die oppervlak te vergaan. So vroeg tydens die oggend se amper-wakker, amper-slaap suig hulle oë steeds soms vas aanmekaar, deur die jare so eenders geslyp en sien hy altyd dat Ma eintlik drie oë het wanneer hy haar gesig vertroostend teen syne druk. En die een in die middel, net bokant haar neus, drup gewoonlik van heuning en sig wanneer die helder oggendlig daarin skyn. ’n Ou wond wat nog nooit genees het nie, want deur al die jare sien sy nog té ver. Delf sy steeds té diep. Vóél hy dikwels hoe sy met lang skalpelvingers torring in sy binnekant en gooi sy hom heeltemal van balans af met haar deurdringende liefde wat so ongevraagd van hom besit neem. Sy het lanklaas daardie kort tussenposes van kalmte ervaar. Rafels vrede wat soos fraiings lieflikheid uit haar oë straal. Hy weet dat dit grotendeels sy skuld is en voel magteloos en dikwels sonder moed omdat hy nie harder kán probeer nie.

Hy het geweet dat Ma snaaks anders lyk daardie dag toe hy van die skool af gekom het. Die harde, moeë lyne wat die oggend nog soos diep slote om haar mond gelê het, het verdwyn. Sy het gelyk asof iemand ’n swaar klip van haar skouers afgerol het en haar hande het soos ligte mossies langs haar heupe gehang. Selfs die huis het bly gelyk. Hy kan nog onthou hoe die gordyne bolrug gewaai het in die wind en gelyk het asof dit hom vriendelik nader wink. “Hulle het Dadda met die ambulans kom haal, seun. Maar dit was klaar te laat. Dadda is dood ...” Haar woorde het onklaar oor die wasgoedlyn gewaai. Hy het gevoel hoe die mense se oë, loerend vanagter hul muwwe kantgordyne, gate deur sy rug gebrand het, maar hy het nie omgegee nie, want Ma het jare jonger gelyk en vir die eerste keer in sy kort lewetjie was hy lús om huis toe te gaan en langs die kombuistafel te gaan sit.

Vandag weet hy dat die noodlot hulle ingehaal het. Genadiglik. Hulle was albei slagoffers wat gedwonge ’n bondgenootskap moes aangaan. Vennote sonder ’n wil. Dadda trek steeds hul onsigbare toutjies. Selfs in sy skynbare afwesigheid druk sy swaar hand steeds ’n stempel op hulle af.

Die speelgoedman sug altyd swaar wanneer hy moet ophou werk. Sy speelgoed maak hom vry. Hy bou ’n wêreld vol geluk.

Veral Vrydaeaande moet hy homself dwing om sy gereedskap eenkant te sit. Soms wens hy dat hy nie die A.A.-byeenkomste hoef by te woon nie. Hy weet hy sou ook nie as dit net nie vir Ma se dwingende, pleitende oë was nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.