NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Anelia Blackie
Ek is ’n gewese joernalis en woon die afgelope drie jaar in Sydney waar ek steeds bietjie vryskutjoernalistiek vir ’n koerant vir Suid-Afrikaners in Australië doen. Ek is mal oor die lewe en is alewig naarstigtelik op soek na nuwe uitdagings. Vir my is die lewe of ’n uitdaging of niks.
  naam

Om pad te gee sonder ’n siel


Anelia Blackie

Dit was net toe ek oor die wasbak buk om my gesig af te spoel. Ek het nie sy voetstappe hoor nader kom nie, net sy sterk vingers om my bo-arm gevoel en toe swaai ek hard agteroor. Op die koue teëlvloer van die badkamer. Ons badkamer waar ons elke oggend saam tande borsel.

Hy kom sit op my bors en pen my arms met sy knieë langs my op die vloer vas. Sy oë is wreed en hy kners op sy tande. “Vanaand maak ek jou vrek.” Sy asem ruik walglik na drank.

Ek hoor hoe die water steeds in die wasbak spuit. Ek moet opstaan om die kraan toe te draai. Ek mors water, dink ek terwyl sy vingers stywer om my nek druk. My mond gaan oop om iets te sê. Iets oor die water. Maar ek is stom en my bors pyn. Hy is te swaar en ek probeer verniet los spartel.

“Ek haat jou ... jy moet vrek,” sis hy weer en dié keer lyk dit of sy oë wil uitpeul van haat.

Dan begin ek sweef. Stadig die lug in. Hoër en hoër. Ek sien sy lippe beweeg en voel sy spoeg op my gesig spat, maar dis stil. Net die gesuis van water wat eentonig in die wasbak spuit. Of is dit ’n waterval, doer waar ek sweef?

Stadigaan word dit donker om my. Ek probeer nie meer asemhaal nie. Ek kan nie, maar dit maak nie meer saak nie. Ek gee oor ... sweef, die water se gesuis is salig eentonig. Ek wil net sweef, die donkerte in. Sweef, sweef na ’n plek toe waar ek nie asem nodig het nie.

Dan spring hy skielik op en ek is met ’n ruk terug in my liggaam. Ek snak skielik na lug en die lig kom terug. Stadig.

“Nee, ek dink ek moet jou liewer vrek skiet. Ek gaan my nine mil haal,” sis hy deur sy tande en draai om kamer se kant toe. Ons kamer.

Ek moet by die kas uitkom. Daar waar die pistool tussen sy klere wegkruip. Lig jouself op, dink ek. Lig net jouself op. Maar dis steeds skemer om my en my bors brand. My keel voel geknak en ek kan nie praat nie. Help my, wil ek sê, maar ek kan nie. My mond is leeg.

Ek kry dit reg om op my knieë te kom en begin kruip. As ek net voor die kas se deur gaan lê, kan hy dit nie oopkry nie. Here, ek wil nie nou al doodgaan nie. Ek wil lewe! Steier, steier, die deur voel so nou. Ek kan nie deur die deur kom nie. Vorentoe, vorentoe, mik mooi.

Eindelik die kasdeur. Ek sak stadig voor die kas neer en lê styf teen die deur. Hy trek aan die handvatsel. “Gee pad, jou common bitch, ek sê gee pad,” en hy begin skop.

Hy leun oor my teen die kas met sy hande en ek voel sy skoenpunte in my ribbes, in my maag. Ek kyk smekend en stom op na hom, maar hy is blind. Ek kyk af na die perfekte stikselpatroon op sy skoene. Sy skoene is altyd so mooi blink, altyd so netjies en ek ruik die leer.

“Ek sê jy moet padgee ... is jy fokken doof of wat?” Ek kan nie, man. Ek kan nie. My liggaam is soos lood. Seer lood.

Hy pluk weer hard aan die handvatsel en slaan met sy vuiste teen die deur. “Ek gaan ry, ek gaan liewer fokkof en as ek terugkom, moet jy weg wees,” skree hy en groetskop my vir oulaas in my seer ribbes. Ek hoor sy voete in die gang af, ’n deur wat toeslaan en in die verte ’n motor wat wegspin.

Dis stil om my. Ek hoor net die water steeds suis. So of dit niks weet wat gebeur het nie. Water is doof en blind. Waarom worry ek oor water mors? Dit kan mens nie eens kom help nie.

’n Ongekende kalmte kom sit binne my. Dit spoel oor my en ek gee oor. En eers toe die vloer koud word onder my, staan ek versigtig op en gaan draai die kraan toe.

In die stort spoel my seer in alle kleure in die klein gaatjie op die vloer af. Ek smeer baie seep aan my waslap, weer en weer en was weer en weer. Ek wil skoonkom. My liggaam begin ruk en ek draai die water warmer. Was en was, was ook sommer die trane af en die seer. En die vuil.

My man is ’n vroueslaner. Hy haat my en ek is lief vir hom. So iets gebeur nie met my nie, dis dinge wat met ander mense gebeur. Miskien het dit. Dis dalk als net ’n droom en ek gaan nou-nou wakker word. Ek weet nie. Ek was en was en was tot die water eindelik koud word.

Stadigaan klim ek uit die stort en droog my af. Versigtig oor die seerplekke. Met die handdoek se punt vee ek die stoom van die spieël af en kyk na die leë gesig. Die een wat nie lag of huil nie. Die vrou voor my het nie meer ’n siel nie. Hy het dit gesteel, in ’n koffer gepak en op ’n trein gesit. ’n Trein sonder stasies. Dit reis maar net aan en aan. Sonder ’n kaart.

Ek leun vooroor en voel met bewende vingers oor my nek. ’n Rooi hand lê om my nek gevou en my borsbeen is rou. My stem is weg en my siel is seer.

Môre is hy weer terug. Dit weet ek nou al. Dan gaan hy my saggies vashou en my troos. Sê hy is so jammer. En ek weet hy bedoel dit. Elke woord daarvan. Hy weet nie wat in hom gevaar het nie. Hy is so ontsettend jammer en sal dit nooit weer doen nie. Nooit weer nie ...

Ek gaan lê stadig op ons bed. Aan my kant. Naby die rand. Ek krul op en trek die komberse tot onder my ken. Miskien as ek my keel warm hou, sal die merke nie môre wys nie.

Met elke vuishou en elke skop verneder hy my en maak elke keer ’n stukkie in my dood, maar wanneer hy omdraai en smeek hy is jammer, is ek weer beter. Dan is hy weer die een wat verneder is. Eers dan, is ek weer oorwinnaar.

Ek weet ek gaan nie padgee nie. Nie nou al nie. Ek moet eers my siel gaan soek.

Ek kan tog nie padgee sonder ’n siel nie.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.