NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Tom Naudé
is ’n afgetrede sakeman wat altyd wou skrywe maar nooit so ver kon kom nie, behalwe vir notas in die onderste laai. Sedert sy aftrede sowat vyf jaar gelede het dit egter ’n missie geword.
  Tom Naudé

Sonsteek

Tom Naudé


Hy het lank in die bloedige son geloop en soek na tekens van die stofstraatdorp van sy kinderjare. En toe hy eindelik afkom op die oorblyfsels van ’n windpomp in die lang gras, was dit soos die ou bosvelder se stories van die Waterberg, waar die werklikheid verdwaal en in sirkels loop. Hy moes homself weer afvra: het dit werklik gebeur, of was dit ’n droom?

Die windpomp het bokant die platdakhuisie uitgetroon. Dit het meestal stil gestaan, of klaend gedraal wanneer daar ’n luggie stoot; maar somtyds het dit met groot rumoer gejaag in die warm, droë westewind, en ’n polsende stroom water in die sinkdam gestort.

En die voëls kon mens van ver af al hoor — ’n volgehoue koorsang met nou en dan die tussenwerpsel van ’n bosveldpapegaai se wilde kreet. Rooibekkies en blousysies, melbas en rooiassies, en ’n swewende swart en geel paradysvink met ’n lang slap stert. Dit was soos ’n hok vol herinneringe van Maanskynkop.

Oom Fanie op sy riempiestoel op die stoep was ’n stuk biltong in ’n kraaglose hemp en kruisbande, met ’n hoed altyd op sy kop. Die mak troupant het op die sementvloer rondgehop agter stukkies rou vleis aan terwyl hy die stories vertel waarin feit en fiksie soos ’n vinknes verweef was. Hy het gepraat met ’n sangerige stem, en in ’n taal met vreemde aksente wat iewers in die isolasie en eensaamheid van die wildernis opgegroei het.

Met oë permanent op skrefies teen die son, het hy hulle na die hart van die bosveld geneem, ten minste tien dae met wa en osse, na waar sy huisie eensaam en verdwerg gestaan het aan die voet van Maanskynkop. Elke aand voor die son ondergaan kon mens die bobbejane hoor slaapplek soek; en wanneer die donker toesak sou jy sekerlik ’n luiperd hoor grom.

Tydens die eeufeesvieringe het die skoolkinders in ’n stampvol en bedompige stadsaal vergader vir ’n filmvertoning oor Die Groot Trek. Die Voortrekkers het in flikkerende beelde hulle laers verdedig teen die aanstormende swart impi, en oom Fanie het in die heel voorste ry gesit, ’n silhoeët met ’n hoed op.

As storieverteller kon hy nie afsteek by die vertoning nie. Ná die tyd, op sy stoep, het hy vir hulle vertel van die skaduspel met ’n lamp se lig agter ’n laken, uitgevoer in die kerksaaltjie op Brakwater toe hy ’n kind was. Dit het ’n dokter voorgestel wat met ’n lang mes en ’n saag ’n operasie uitvoer op ’n onwillige, gillende pasiënt. Die dokter het sy organe een vir een uitgesny en verwyder. En toe hy die twee niere saam met ’n string derms uitlig, het iemand in die gehoor uitgeroep: “Daar gaan sy ballas!”

Daar was ook die storie oor oom Fanie en Pagel se sirkus, moontlik apokrief, toe meneer Pagel met groot vertoon in die middel van die ring gaan staan het en een honderd pond uitgeloof het vir die man wat hom kon nadoen en sy kop in ’n leeu se oopgesperde bek sit. Alle oë was op oom Fanie gerig toe hy in doodse stilte uit die hoogte van die agterste banke opstaan — die alomteenwoordige hoed sekerlik op sy kop. Teen die verwagting in het hy ’n kort maar kragtige uitspraak gelewer. Dit was oëverblindery hierdie — hy ken ’n leeu, en hy sal nie vir ’n duisend pond sy vinger in sy hol steek nie.

En daar was die dag toe Lukas se pa hulle vir ’n rit in sy pas ingeloopde Lincoln Zephyr geneem het. Oom Fanie het voor langs hom gesit, en toe hulle op die nuwe geteerde gedeelte van die pad na die noorde kom, het Lukas se pa versnel totdat die naald op ’n honderd myl per uur staan. Uit die hoek van sy oog het hy oom Fanie dopgehou. Maar oom Fanie was uitdrukkingloos en heel ongeërg; met sy hoed miskien dieper en effens vorentoe op sy kop was hy minder geïnteresseerd in die spoed waarmee dinge verby flits as in die instrumentepaneel en in die manipulasies van die bestuurder agter die wiel. Hy het selfs ’n keer oorgeleun om die ronde gesig van die spoedmeter beter te kan sien.

Agterna het Lukas se pa gesê oom Fanie se reaksie het hom laat dink aan die mak bobbejaan wat deur ’n boer van die distrik in dorp toe gebring is agter op sy lorrie. Die bobbejaan het daar gesit met sy gesig teen die wind, en ’n uitdrukking wat almal laat lag het.

Die ou takhaar se stories het altyd gegaan oor die uitsonderlike — die grootste, die vinnigste, die hoogste. Soos die jaar van die swart mambas. Oom Fanie het gereken daar was in ’n stadium sowat veertig makopas van by die twaalf voet lank wat daagliks van onder uit die leegte op beweeg het na die berg se hange agter dassies aan. Indien nodig kon daardie groot mambas soos blits bo-oor boomtoppe seil.

En hy het met sy eie oë gesien hoe ’n volgroeide koedoebul met sy spiraalhorings plat oor sy rug gelê, loshande oor ’n agt voet hoë bamboesheining spring. Sommer so in die staan — een oomblik was hy aan die een kant van die heining en die volgende oomblik aan die ander kant.

En op ’n manier was dit ook so met sy storie van die luiperd wat Dries Venter se kalwers gevang het. Dit was die mooiste luiperd wat oom Fanie in sy lewe gesien het.

Saam met Dries en sy broer en ’n Boesman spoorsnyer het hulle die tier gaan jag. Dit was ’n moeilike jagtog, asof die luiperd van hulle geweet het. Hulle het die spoor aanhou verloor, selfs met die spoorsnyer daar. En soos die dag gevorder het, het dit al warmer geword. Eindelik, na ’n hele oggend se agtervolging, het hulle naby ’n koppie die spoor weer byster geraak.

Oom Fanie het toe besluit Dries en sy broer moet in een rigting om die koppie loop terwyl hy en die Boesman dieselfde sal doen in die teenoorgestelde rigting. Die son was toe al hoog en die hitte het soos ’n vuur uit die rotse opgeslaan.

Nie lank nadat hulle geskei het nie kom oom Fanie-hulle op die luiperd af. Sommer naby die wildpaadjie wat hulle gevolg het, op ’n klipplaat onder ’n maroela. Net voor dit het die Boesman aan oom Fanie se arm geraak en na sy neus gewys om hom te laat weet hy ruik die luiperd, want hulle was teen die wind.

Oom Fanie het in sy spore vasgesteek en onmiddellik aangelê met sy Lee Metford. Maar iets het hom weerhou. Hy kon nie sê of dit was omdat die luiperd so bewegingloos, so argeloos bly staan het nie. Dit was die grootste luiperd wat hy nog ooit gesien het; en hy, ’n jagter en kenner van luiperds, was stom geslaan. Die donker gekolde dier was iets vreemds en wonderbaarliks hier in die vaal bosveld.

Maar dit was eintlik die manier waarop dit na hom gekyk het — ’n luiperd het nog nooit so lank vir hom gekyk nie. Nie deur hom of anderkant hom nie, maar met sy geel-groen oë op hom, Fanie van der Westhuizen, gerig.

En toe die luiperd met een sprong in die lang gras verdwyn het, was dit oom Fanie wat hom laat gaan het.

Die twee jagters het sonder ’n woord verder gestap. Hulle het net een keer na mekaar gekyk en verstaan dat wanneer hulle vir Dries en sy broer ontmoet, oom Fanie sal sê dat hulle niks teëgekom het nie.

Dit het ondraaglik warm geword onder die sinkdak op die stoep; en vir die eerste keer het hulle gesien dat oom Fanie sy hoed afhaal. Hy het dit eenkant op die vloer neergesit en sy melkwit voorkop en kopvel ontbloot. Daar was ’n skeiding soos ’n watermerk bokant die verrimpelde bruin van sy gesig; en dit was ’n verleëntheid vir hulle om oom Fanie so kwesbaar te sien sit sonder sy hoed — bedruk en verwar deur sy eie storie.

Die dag van die luiperd was soos die dag op die stoep, toe die son so gesteek het dat oom Fanie nie seker kon wees vir wie hy die waarheid vertel het nie — vir die twee seuns wat altyd so aan sy lippe hang, of vir Dries Venter en sy broer toe hy en die Boesman weer by hulle aangesluit het.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.