NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Henning Janse van Vuuren
Henning Janse van Vuuren woon in die asemrowende Kransberge in die Noordelike Provinsie.
  Henning Janse van Vuuren


Op hitte

Henning Janse van Vuuren


Die verhouding tussen Sarel en Stienie, wel ...

“Fok jou, Sarel.”

“Nee. Nee, fok jou, Stienie.”

“Ek sê fok jóú, Sarel!”

“Wel, ek sê fok jou, Stienie!”

Ek tel die half vol whiskyglas langs my van die houtvloer af op, dit is hel-uit warm hier op die stoep.

“Fok julle al twee.”


Die hittegolwe dans bedrieglik bo die boomtoppe, die berg ’n hallusinasiespieëling in die verte. Ek dink ek hoor ’n vliegtuig iewers, maak agter skrefiesoë ’n draai in die lug en fokus dan op die afgeleefde ou landrover onder die Transvaalse boekenhout as ek niks gewaar nie.

Hulle volg my.

“Sal hy weer loop?”

Ek kyk nie na een van hulle nie. Stienie wou iets sê.

“Nee, hu-uh. Ek moet eintlik kyk of ek die damn ding nie verkoop kan kry nie.”

“Fok jou, Sarel.”

“Fok jou, Stienie.”

’n Sweetstraaltjie glip spontaan tussen die hare langs my slaap uit en kielie ’n nat spoorpaadjie tot halfpad oor my wang.

Ek los hom.

“Daai ou rympie raak afgesaag.”

Hulle antwoord nie.


Stienie staan vinnig op: “Wat is saag?” Sy tel my leë glas op en stap die huis binne. Die stoel het ’n rooi rand teen haar bobeen afgedruk. Sy dra een van daai denimbroekies wat lyk of dit afgeskeur is, die rafels nog flussies aan die soom kort onder haar boude.

Daar is ’n oomblik op die stoep voor Sarel vir my knipoog: “Niks fout in daai afdeling nie.”

Ek stuur die gesprek terug na die landrover. Hulle het dit jare terug by my oorgekoop.

“Wat sê jy? Wil jy probeer?”

Ek sien hoe die oorblywende ysblokkies klein en rond saam met die laaste whisky oor sy onderlip gly.

Die bodem klop hard teen die hout.

“Fok, ek sal nie weet waar om te begin nie. Sy staan al so lank.”


Die probleem met ’n ding wat lank staan is dat selfs die goed wat gewerk het later nie meer wil nie. Sarel skuifel die toolbox tot teen die boom en gaan sit. Ek gee vir hom ’n bier aan.

Die coolerbox sal nie my gewig hou nie.

“Kyk daai tarentale.”

“Fisante,” korrigeer hy.

“Wat is die verskil?”

“Die een is ’n fisant en die ander een ’n tarentaal.”

“Gmf ...”

Ek is nie seker of ek in die stad aard nie. Hulle skrop skril tussen die fyngras. Ek dink dit is die baie mense.

“Ek sal hier pomp dan gaan jy solank met die enjin aan,” sê ek.

Modder en fyn blaarspatsels verberg die velling waar die rubber reeds onder die rooigrond ingesink het. ’n Kommandomier hardloop bakbeen langs die band verby en verdwyn iewers onder die bakwerk.

Ek wonder of hulle woorde gehad het. Laatnag het stemme my wakker gemaak.

“Sit eers, man. Die dag is nog lank. Jy is mos nie haastig nie, ons maak eers weer oor twee weke oop. Jy sal seker bly tot minstens dan.”


Marumba Lodge.


Ek is nie haastig nie.

“Wat gaan met jou en Stienie aan? Gaan julle nou trou of wat?”

Sy vlugtige blik is ernstig, sy grys oë nog grouer.

“Nie op ’n nugter maag nie,” antwoord hy bot.

Hy staan op, sit die bier op die enjinkap neer en maak die rubberknippe rondom los.

“Het die muskiete jou darem uitgelos? Jy moet sorg dat jy die net om jou bed behoorlik toemaak, die malaria is erg dié jaar. As jy gesteek word, probleme.” Hy punt sy vinger waarskuwend.

“Byt. Nie steek nie.”

Op die stoep stap Stienie in haar bikini uit.


“Die twee miskruiers gaan mekaar nou wragtag nie uitlos oor daai bol stront nie.” Ek trek met ’n stokkie ’n sirkel om hulle.

Die gestoeiery oor die bolletjie mis gaan al amper twintig minute aan. Dit is ’n lomp en herhalende gat-oor-kop proses.


Drie dae het gou verbygegaan. Die band is styf. Ons praat, drink ’n bier, dalk whisky. Stienie lê en tan die meeste van die tyd, of op die stoep of hier naby ons op die gras.

Ons besluit om eers ’n breek te vat.


John’s Bush pub buite die dorp hou geen bedreiging vir die Keg in nie. Die stoele is hoog en hard, die ronde tafels taai, gevlek, vol happe en ongelyk. In die hoek is ’n Billy Ray Cyrus-look-a-like besig om Rodriguez te sing.

“O, daar is jou girlfriend, Sarel,” sê Stienie terloops, haar oë beduie.

Daar is iets in haar stem, nie jaloesie nie. ’n Uitdaging?

“En ek sien sy het jou boyfriend saamgebring,” antwoord hy droog.

Teen die kroeg staan twee jongmense en gesels, al twee bruingebrand en in kakie. Ek hou dadelik van Sarel se girlfriend.

“... and I wonder ... how many times you had sex and I wonder ...”

Later sluit hulle by ons aan.


Die stilte is onaardig.

Ons sit styf teen mekaar. Ek wonder hoe ons vir die swart oë in die groot voorkop moet lyk, daar onder in die Nissan-bakkie, een van daai kleintjies.

“Hy is in must,” grom Sarel.

’n Spiertjie spring in sy kies. Die stof dwarrel reguit af aarde toe, in die kajuit kan mens dit hoor val.

“Sarel, jy moet omdraai,” fluister sy tussen ons.

Ek weet nie wat must is nie, maar sy groot ore flap geïrriteerd teen die kante van sy lyf, stert regop, sy lyf gespanne.

Sarel het intussen die bakkie afgeskakel.

Die reusagtige dier storm met sy ore wyd, die trompettergeskel verlammend. Ek kyk vas in die wit van Stienie se gesperde oë.

Sarel sit.

Die stof sif dié keer oor die bakkie, die olifant, goddank, het gestop. Ek raak bewus van bloed en speeksel wat in my mond meng, my hart wat wild klop, Stienie se hand wat om my been klem en dan terugtrek.

“Sit net stil!” fluister Sarel sonder om te roer.

Ons wag amper ’n uur voor hy stadig uit die pad stap en tussen die bome verdwyn.

“Jagse bliksem!” swets Sarel voor hy wegtrek.


Die landrover wil nie vat nie. Ek sit binne en draai die aansitter as Sarel skreeu.

“Ok!”

“Niks!’

Hy peuter aan iets.

“Ok!”

“Niks!”

Hy kom klim saam met my voor in. Daar is ’n dreuning van die pad se kant af.

“Wat was daai olifant se probleem nou die dag, hé? Hoekom raak hulle so bebliksemd as hulle bronstig is?” wil ek weet.

Sweetstraaltjies loop vryelik in sy nek af, sy gesig rooi van die inspanning.

“Diere maak so, paartyd gaan die hormone mal, kliere skei allerhande goed af en dan dans die poppe. Oorlewing, die natuur vat nie kak nie, net die sterkes maak dit.”

’n Bakkie kom vinnig deur die ingang gery en hou in ’n stofwolk voor die huis stil.

“Jou girlfriend het kom kuier,” sê ek.

Sy stap onbewus van ons die trappe boontoe, heupswaaiend, in haar hand ’n sportsak en handdoek.

“Ou pel, jy gaan moet sterk wees want as daai lyf nou-nou uitstap gaan die temperatuur nog tien grade styg.”

“Die gevaar op dié stadium is dan seker dehidrasie,” lag ek en haal vir ons elkeen nog ’n koue bier agter my uit.

“Waar is haar ou?” wil ek weet.

“Nee, jy kon mos sien. Daai doos dink as hy gaan sit dan sak die son.”

Ek kon dit nie sien nie.


Na tien bring sy en Stienie vir ons toebroodjies uit, swemhandoeke verleidelik om die heupe gebind.

“Julle sit net hier en drink, hoekom los julle dit nie maar eerder heeltemal nie?”

Die verwyt in haar stem klink opreg.

“Dit is nou die dankie wat ons vir ons moeite kry,” sê Sarel vir die besoeker wat blinkoog staan en glimlag. Hy was reg, sy lyk ongelooflik.

“Ons vat net ’n breek, hierdie enjin gaan binnekort sing,” sê ek.

“Wel, ek hoop so.”

Hulle stap stoep toe.

“Is sy in must?”

Hulle is klaar te ver om te hoor as Sarel uitbars van die lag.


Sarel dink dit is dalk die meganiese petrolpomp wat nie die carburetter van brandstof voorsien nie, hy het nou onder die enjin ingeskuif. Ek sit teen die band en gee moersleutels aan as hy vra.

“Ek het haar gevra om te trou, pel, seker al vier maande terug. Sy sê ek is te haastig. Haastig se moer, man. Ons is al fokken amper drie jaar saam.”

Hy benadruk sy woorde selektief, aangeklam.

“Gee vir my nog ’n bier, toe.”

“Sien jy wie kom daar aan?” onderbreuk ek hom.

Ek maak die blikkie oop en stop dit in sy hand. Die meisies kom aangestap en gooi die handdoeke ’n ent van ons op die gras oop. Hy lig sy kop om beter te sien.

“Jissis, ek sal wat wil gee om tussen daai bene te kan inklim.”

Self, dink ek. Stienie sien hoe ons staar.

“Kan ek vir jou ’n spanner gee?”


Sy staan by die kombuistafel, ingedagte. Voor haar lê die boek wat sy lees, oop. Die vriendin het gery, Sarel lê onder die landrover, uitgepass.

Ek tel dit op: Winterhartstog: “Jy weet ek kan nie sonder jou nie, Charles. Ek het ’n fout gemaak, hoe lank gaan jy dit nog teen my hou?”

“Hoe lank gaan jy dit nog teen my hou, Stienie?” terg ek en knyp haar wang. Sy stap tot voor die wasbak waar sy deur die kantgordyn na buite kyk.

Onder die landrover kan ek Sarel se bene sien uitsteek, sy voete uitmekaar.

Dan is sy teen my, die klapperolie reuk in my neus, haar lippe vol en warm. Ek dryf haar stadig tot teen die wasbak waar sy draai en uitasem vooroor buk, haar gesig teen die ruit.

Sarel se voet roer.

Ek druk haar broekie eenkant toe, sy was voor die tyd al nat.

Dit voel of ’n duisend volts deur my liggaam jaag, ek sidder as die klimaks in my onderlyf ontplof.

Ons staan woordeloos en hyg voor sy uitglip en na my terugdraai.

“Was dit nou vir jou lekker, hé?” vra sy.

“Dit was.”

“Jy moenie dink ek gaan vir ewig vir jou wag nie.”

Ek zip my jean toe.

“Ek het nie gesê jy moet vir my wag nie.”

Ek het te gou gepraat.

“Jy is fokken verwaand, man. Jy is niks beter as ’n dier nie.”

Ek het nie lus om te stry nie. ’n Kalmte vloei deur my lyf, die hitte skielik meer draaglik. Sy gooi haar hare terug en trek die bostuk reg, net die blos op haar wange verklap ons. Ek probeer aan iets slims dink om te sê, iets wat die situasie kan ontlont, miskien iets soos: Is ons nie maar diere nie — nee, dit gaan stupid klink.

Sy wag vir ’n antwoord, ek het nie een nie.


“Dit lyk nie of ons daai landrover gaan regkry nie,” sê Sarel.

In die skemer is die bakwerk net vaagweg onder die boom sigbaar. Ons sit op die stoep, elkeen met ’n sundowner. Stienie het ’n jean aan.

“Dalk is dit tyd om hom maar te laat gaan, Sarel.”

Hy kyk verras na haar.


Ek besluit om die volgende oggend te ry.


Ek hou stil waar die bul ons vasgekeer het. Veertig meter van die pad af herken ek hom tussen die bome aan die skeur in sy linkeroor. Hy lig sy slurp hoog en breek ’n paar groen blaartjies bo hom af, sy mond half oop. Ek weet hy kyk vir my, die grys van nog olifantlywe agter hom. Glimlag hy vir my?


Ek het sommer lus en bliksem hom.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.