NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Heilna du Plooy woon in Potchefstroom en gee klas in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde en literêre teorie aan die PU vir CHO. Sy het ’n boek geskryf oor verhaalteorieë, ’n paar kortverhale in literêre tydskrifte en ’n digbundel, Die donker is nooit leeg nie.
  Heilna du Plooy

Ander verhale deur Heilna du Plooy:

  • Liefde is ’n plek

    ’n Antwoord op sy tyd

    Heilna du Plooy

    Amy het haar belofte gemaak sonder om te dink oor die implikasies daarvan.

    Van kleinsaf was Amy ’n tevrede mens. Sy was nie buitengewoon mooi of slim nie, ’n skralerig meisie met donker rooibruin hare wat sy los en golwend oor haar skouers gedra het. Sy is jonk getroud met ’n goeie Afrikaanse jongman wat sy pa se plaas en sukkelende boerdery agtergelaat het om in die stad ’n lewe in die boubedryf te maak. Vir Jan was Amy baie mooi en hy het sy Engelse vroutjie soos ’n kosbare orgidee vertroetel.

    Jan het hard gewerk en goed geld gemaak met sy bouery. Hy was in sy eie oë eintlik ’n bietjie meer as ’n gewone bouer, want hy het graag geskilder. Hy het vanselfsprekend ook ’n skildery van Amy gemaak. Hy kon self sien dat die gesig te strak was en die oë te vlak, maar hy het gevoel hy het die hare goed reggekry.

    Die skildery het altyd ’n ereplek in hulle huis beklee. Selfs toe hulle al ryk was en hulle sitkamer vol duur meubels was, het die skildery die fokuspunt van die vertrek gebly.

    Jan en Amy was tevrede mense. Jan het huise gebou en ook die kerk van hulle gemeente en nou en dan het hy ’n skilderytjie gemaak. Amy het twee seuns in die wêreld gebring en haar huis, haar man en haar kinders versorg. Hierdie vrou, steeds met haar hare los oor haar skouers soos in die skildery — omdat Jan so daarvan gehou het — het nooit gewonder oor haar rol of haar plek in die wêreld nie. Trouens sy het nie eens oor sulke dinge gedink nie. Nog minder het sy haar besig gehou met diep geestelike ervaringe. Sy was nie juis godsdienstig nie. Sy het wel gereeld saam met Jan kerk toe gegaan omdat dit vir hom belangrik was. Haar eie mense was glad nie op dinge soos kerk gesteld nie. Maar Jan het die kerk gebou en sy het baie trots elke Sondag langs hom gesit.

    Die voor die hand liggende verklaring sou wees dat die hele ding ’n figment van Amy se verbeelding was, sy was immers pas ontslaan uit ’n kliniek na behandeling vir spanning en slapeloosheid. Maar dit sal niemand ooit weet nie.

    Bekommernis het deel van Amy se lewe geword toe haar jongste seun getroud is. Die oudste seun was lankal getroud met ’n vrou met duifoë en hulle kinders was vir Amy die groot vreugde wat sy gemeen het kleinkinders behoort te wees. Maar met die jongste, Joos, het dit nie so voorspoedig gegaan nie. Hy was ’n skamerige man, ernstig en ’n alleenloper.

    Amy het hom gereeld aangepor: “Joos, wanneer gaan jy vir jou ’n meisie kry? Ek wil nie stokoud wees as jy trou nie. Ek wil nog met jou kinders speel.” Joos was al agt en twintig jaar oud toe hy die eerste keer ’n meisie huis toe gebring het.

    Amy was intuïtief onrustig toe sy Marthie ontmoet — ’n maer, vaal skepseltjie wat lyk asof sy onafgestof iewers op ’n rak vergete gebly het. Daar was iets onbepaalbaar aan die meisie. Haar blouerige oë onder vaal wimpers het ander se blik ontwyk en daar was ’n senuweeagtige trek om haar mond. Haar hare het effens wild en wollerig om haar skerp gesiggie gestaan, soos iets wat uitgerafel het. Dit was asof al die lyne en grense van haar persoon vaag was — die soort mens wat nie maklik raakgesien of onthou word nie.

    Joos was stralend. Hy het die onbetrokke en afgetrokke meisie vorentoe gestoot en trots aan sy ouers voorgestel. Sy het skaars iets gesê — die reguit ingekeepte lippies het net die noodsaaklikste woorde geprewel en verder het sy doodstil gesit en almal met haar oë gevolg — as hulle nie vir haar kyk nie.

    Op ’n dag moes Amy vra: “Wat sien jy in haar, Joos?”

    “Mom, sy het my nodig. Ek is baie lief vir haar. Sy het nog net swaar gekry in haar lewe. Ek wil haar wys hoeveel vreugde daar in die wêreld kan wees.”

    Marthie het inderdaad ’n klaaglike geskiedenis gehad. Dit was soos ’n gevallestudie in ’n sosiologiese ondersoek: egskeiding, drankmisbruik, mishandeling en ’n kind wat tussen die kinderhuis en verskillende pleegouers nou en dan ’n kort tydjie by een van die ontwrigte ouers deurbring. Amy het gevoel Joos besef nie wat hy homself op die hals haal nie, maar Joos was vol selfvertroue — sy liefde en sorgsaamheid sou van Marthie ’n nuwe mens maak, sý mens.

    Van die begin af het dit met die huwelik nie goed gegaan nie, al was Joos vasbeslote om ’n sukses daarvan te maak. Hy het Marthie se eienaardighede nie as eienaardighede beskou nie. Hy het haar sonder voorbehoud vergewe as sy oor onbenullige dinge leuens vertel. Hy het goedig met haar geraas omdat sy soms vir dae byna niks wou eet nie en dan skielik op ’n dag soveel lekkernye verorber dat sy naar word. En hy het bly glo, selfs na jare, dat die dag nog sou kom dat Marthie sélf sag en warm en toegeneë in sy arms sou kom inkruip.

    Hy kon nie verstaan dat sy nie swanger raak nie, want hy wou baie graag kinders hê. Die familie het later gesê dit was tog maar ’n bedekte seën maar Amy het van die begin af gedink ’n vruggie sal nooit in daardie gespanne en onherbergsame lyf ’n groeiplek kan vind nie.

    Marthie het altyd sleg geslaap. Dit het een keer so erg geword dat Joos, na baie mooipraat en soebat, haar gedwing het om dokter toe te gaan. Sy beland toe in die hospitaal vir ’n ruskuur.

    Die dokter het verduidelik: “Jy moet net rus. Jy is nie siek nie, net oorvermoeid. In hierdie kliniek sal hulle mooi na jou kyk en sorg dat jy genoeg slaap.”

    Oënskynlik het dit beter gegaan, totdat die suster agtergekom het sy drink nie die pille wat vir haar voorgeskryf is nie. Sy het die pille óf weggegooi óf dit iewers in die kamer weggesteek. Die suster het met Joos gepraat sodat Joos met Marthie kon praat om haar pille te drink en die kamer is elke dag op ’n onopsigtelike manier deurgesoek. Joos het hom gedaan bekommer. Ten einde raad is hy na die predikant. Dié onderneem toe om ook met Marthie te praat, maar dit was nie maklik nie.

    Marthie het oënskynlik geluister na wat iemand sê, maar deur óf glad nie te antwoord nie óf oor iets heel anders te praat, het sy haar gespreksgenoot gou tot swye gebring. Een oggend kom die predikant op ’n yslike ontwrigting af by die kliniek. Toe hy na Marthie vra, kook die suster sommer oor.

    “Hemel, dominee, wat ’n onmoontlike mens! Sy is al drie weke hier, maar met haar maak jy nie hond haaraf nie. Ek het my nog nooit so misreken met ’n pasiënt nie. Jy kan haar ook nie nou sien nie — sy is in intensief.”

    “Wat het gebeur?”

    “Jy sal maar vir haar man en familie moet gaan vertel wat gebeur het. Ek weet nie of hierdie kliniek die plek vir haar probleme is nie. Ek dink regtig sy moet intensiewe sielkundige behandeling en hulp kry.”

    Dit blyk toe dat Marthie bykans ’n week se slaappille en kalmeerpille opgegaar het. Sy het, onder die wakende oog van die suster, elke keer die pille by haar klere laat inval. Daarna het sy die hele spul op een slag gedrink. ’n Paar dae later het sy haarself eenvoudig ontslaan en met ’n huurmotor by die huis aangekom.

    “Joos, ek het my les geleer. Ek sal nie weer so iets doen nie,” het sy berouvol gepleit.

    Joos was maar te bereid om haar te glo en die hele ongelukkige saak te vergeet.

    ’n Week later kom hy op haar af waar sy pakke koerant- en tydskrifuitknipsels sit en sorteer. As sy nie so geskrik het nie, sou hy niks snaaks vermoed het nie.

    “Wat soek jy?” vra hy gemaak-gewoon.

    “Ag, dis sommer niks,” was die ontwykende antwoord, terwyl sy haastig probeer om die papiere in hopies bymekaar te skraap.

    Joos kon sy oë skaars glo. Die uitknipsels het almal oor die mees bisarre sake gehandel — onnatuurlike sterftes, die lewe na die dood, belydenisse van “uit-die-dood-teruggekeerdes”, selfs Satanisme.

    “Waarvoor maak jy sulke goed bymekaar?”

    “’n Mens moet dink oor die dood. Die dood is wonderlik.”

    “Hoekom? Wat is wonderlik daaraan om dood te wees?”

    “Ag, ek weet nie presies nie. Dit is net ...”

    Meer kon Joos nie uit haar kry nie.

    Een aand het Joos en Marthie by die familie gaan eet. Hy was bleek en afgetrokke, asof hy oorbluf was. Later die aand sê hy eenkant vir sy broer: “Man, ons het amper die kar omgegooi op pad hiernatoe.”

    “Aggenee, wat het gebeur?”

    “Ek weet nie juis nie. Dit was net hier onder op die draai. Jy weet, daar waar die pad so opgebou is. Ek het amper die wal daar afgefoeter.”

    “Dit is ’n gevaarlike plek. Het jy te vinnig gery?”

    Joos het half verwonderd, half onbegrypend na die glasie in sy hand gestaar: “Nee, tog nie, ek weet nie ... dit ... klink seker laf ... maar ek dink Marthie het aan die stuurwiel gepluk ...”

    “Nee-a, hoe dan so! Het julle rusie gemaak?”

    “Nee, glad nie. Dit was totaal onverwags ... uit die bloute ... ek weet nie wat haar besiel het nie ...”

    “Het jy haar nie gevra nie?”

    “Ek het. Sy ontken dit. Sy sê ek verbeel my — sy het net aan my geraak en ek het glo geskrik. Dis of ek nou nie meer seker is wat eerste gebeur het nie, maar ek kon sweer sy het aan die wiel geruk.”

    “Hemel, ou Joos ...”

    “Moet nou maar asseblief niks vir Mom of Pa sê nie — dit sal hulle net ontstel. Ek sal dit maar probeer uitpluis as ons alleen is.”

    Maar sonder dat iets gesê is, het Amy geweet daar is fout.

    Een middag laat bel Joos van die kantoor af. “Mom, is jy môre besig?”

    “Nee, Josie, hoekom vra jy?”

    “Kom eet saam met my, asseblief. Môremiddag by die Pink Oyster?”

    “Dit sal lekker wees. Wie gaan nog?”

    “Net ons twee, Mom, ek moet met jou praat.”

    Amy wou eers uitvra, maar toe bedink sy haar.

    “Dankie, Josie. Ek sal daar wees.”

    Die volgende oggend vroeg — dit was nog skaars lig — was daar ’n dringende klop aan die deur. Jan het gaan oopmaak. Dit was Joos se buurman.

    “Oom, julle moet gou kom. Daar is moeilikheid by Joos-hulle. Marthie het ons netnou kon roep.”

    “Watse moeilikheid?”

    “Oom, ek weet ook nie presies wat aangaan nie. Ons het dadelik die dokter gebel. Kom kyk liewer self ... ek weet nie wat gebeur het nie ...”

    Marthie het in ’n verbleikte kamerjas op ’n kombuisstoel gesit — sonder emosie, totaal uitdrukkingloos. Die dokter, ’n ou bekende en huisvriend van die hele familie, was by haar. Hy was baie ontsteld.

    “Wat het gebeur? Wat gaan aan?” het Jan vervaard gevra. Amy het gevoel asof iets onder haar uitgly. ’n Ramp kan tog nie so onaangekondig plaasvind nie?

    “Waar is Joos?” het sy in ’n harde stem gevra.

    “Amy.” Die dokter het al twee haar hande vasgevat. “Joos is dood.”

    Vir Amy het die wêreld gaan stilstaan. Jan se smartlike gesig, die dokter se medelydende oë, Marthie se stilte, nog stiller as gewoonlik: die hele situasie was onwerklik. Amy het haar hande losgeruk en kamer toe gehardloop.

    Joos het in die bed gelê, in sy nagklere en mooi toegemaak. Dit het net gelyk asof hy slaap: sy gesig was rustig en sy hande het op die komberse gerus. Amy het nadergestorm en eers aan sy hande en toe aan sy gesig gevat. Hy was yskoud.

    Joos, Amy se jongste seun, ’n sterk gesonde jong man van dertig, was dood.

    “Ons gaan vanmiddag saam eet. Hy het gister gesê hy wil met my praat. Jan, Jan ... dit kan mos nie wees nie?”

    Na Joos se dood was Amy dwalend. En honderd keer op ’n dag het sy vir Jan gevra: “Wat wou Joos vir my sê? Waaroor wou hy met my praat? Ek is seker dit was baie belangrik ... dit is baie belangrik dat ons dit moet weet ... dink jy nie so nie?”

    “Hy is nou dood, Amy. Dit maak nie meer saak nie.”

    “Dit maak juis saak. Hy sou mos nie doodgaan nie, hy sou met my kom praat. As ek net langer oor die foon met hom gepraat het. As ek hom net gevra het waaroor dit gaan. As hy met my gepraat het, sou ek iets kon doen. Dan sou hy nie sommer so doodgegaan het nie.”

    “Amy, dis nie waar nie. Jy het self gehoor die dokter sê dit was sy hart. Hy is in sy slaap dood en dit is die sagste manier om te sterf. Dit is ’n koning se dood.”

    “Ja, maar wat het gebeur en waaroor wou hy met my praat?”

    “Dit maak mos nie regtig meer saak nie. Daar is nou niks meer aan te doen nie. Jy straf jouself net met al jou vrae.”

    “Joos se hart het niks makeer nie,” het Amy dan bitsig geantwoord. “Jy weet so goed soos ek hy was fiks en blakend gesond.”

    “’n Mens is gesond tot jy ’n hartaanval kry — dan is jy óf siek óf dood. En as jy nie na jouself begin kyk nie, is jy die volgende een wat siek word. Jy slaap nie genoeg nie, jy eet nie genoeg nie, jy gaan ten gronde.”

    Op sy mees liefdevolle en simpatieke manier het Jan sy arm om haar gesit: “Amy, vir Joos is alles verby, hy sal nooit weer swaarkry nie en ons het nog mekaar.”

    Maar Amy kon haar deur goedbedoelde gemeenplasighede nie laat troos nie. Jan het die dominee herhaaldelik gevra om met Amy te praat, maar alles het haar net vir ’n klein rukkie gekalmeer en dan het sy weer op dieselfde manier voortgegaan. Uiteindelik het hy die dokter ingeroep en so het Amy in dieselfde kliniek beland waar Marthie vroeër was. Die noodgedwonge rus het haar wel goed gedoen, maar van ’n blywende gemoedsrus was daar nie sprake nie.

    In hierdie dae het haar gedagtes in wyer sirkels begin draai. Sy het allerhande dinge begin onthou — uiteenlopende gebeurtenisse en feite bymekaar gesit en konklusies getrek. Jan het later gekapituleer en besluit dat hy haar nie dag en nag kan oppas nie. As hy gaan slaap, het sy deur die huis begin dwaal. Dan sit sy in die sitkamer en kyk na die patrone wat die straatlig in die voue van die gordyne maak. Dan werskaf sy in die kombuis — vee af, vryf blink en pak reg. Dan sit sy in die eetkamer en vryf eindeloos die kleed oor die tafel glad.

    Meestal het sy in die sitkamer gesit onder die skildery, haar oë net so starend soos in die geskilderde gesig terwyl sy dink en dink en dink. Sy het net binne haarself geleef — alles daar buite was toevallighede.

    Een môre wag sy Jan in die kombuis in.

    “Jan, ons moet Joos laat opgrawe.”

    “Amy!”

    “Ja, Jan, dis ons plig. Daar is ’n geheim saam met hom in sy graf. Ons kon nie keer dat hy daarin gekom het nie, maar ons kan uitvind wat gebeur het.”

    “Maar Amy, hy kan mos niks meer vertel nie.”

    Amy laat haar egter nie platpraat nie.

    “Jan,” sê sy, terwyl sy vertroulik en geheimsinnig oorleun na sy kant toe, “Joos is vermoor.”

    “Amy!”

    “Kan jy niks anders sê nie? Amy! Amy! Ek het dit mooi uitgepluis. Joos is vergiftig. Hy het doodgegaan en die dokter het gedink dit was sy hart. Ons moet nou sy liggaam laat ondersoek en dan sal ons weet wat Marthie gedoen het.”

    “Amy! Besef jy wat jy sê?” En ’n oomblik later. “Opgrawe! Hoe kan ’n mens iemand laat opgrawe! Dis heeltemal ondenkbaar.”

    Amy is eerste na hulle prokureur toe. Die prokureur was sprakeloos. Hy kon nie eers dadelik onthou hoe daar te werk gegaan moet word nie.

    “Wel, Amy, dis ’n ongewone saak,” het hy sag en simpatiek gesê, soos wat ’n mens praat met iemand wat hulp nodig het. “So iets word baie selde gedoen — ek het nog nooit daarmee te doene gehad nie. Dit is slegs in uiters uitsonderlike gevalle nodig om so ’n drastiese ding te doen.”

    “Wel, Jerry, ek wil dit nou laat doen.”

    “Maar waarom?”

    “Die geheim van Joos se dood is in daardie graf.”

    “Ag, dit bly seker vir julle swaar. Dis al twee maande wat Josie weg is. Ons dink so baie aan julle — so ’n skok ...”

    “Moenie nou oor ander dinge praat nie, Jerry. Dit gaan om Joos en ek wil hê Joos moet opgegrawe word.”

    “Ek sal vir jou navraag moet doen. Ek sal by die polisie en die superintendent van die begraafplaas probeer uitvind.”

    “Jy moet net asseblief gou maak, Jerry.”

    Van die prokureur af is Amy na ’n vreemde dokter.

    “Waarmee kan ek help, mevrou?”

    Amy het haar vraag mooi uitgedink: “Dokter, as jy uitgeroep word na ’n geval en die persoon is reeds dood as jy daar aankom, kan jy maklik vasstel, ek meen, kan jy hoegenaamd vasstel waaraan die mens dood is?”

    “E ... wel, ja. U sê ... u bedoel as iemand reeds dood is?”

    “Ja.”

    “Daar sal ’n nadoodse ondersoek gedoen moet word.”

    “Dit begryp ek wel. Maar wat sal jy op die doodsertifikaat skryf as iemand sommer net dood is?”

    “Indien daar ’n geskiedenis van hartprobleme is, sou ’n mens kon aanneem dat die persoon aan ’n koronêre trombose gesterf het. Maar ’n geskiedenis van hoë bloeddruk, veral by ’n bejaarde mens, sou ’n mens ook aan ’n breinbloeding, ’n beroerte, kon laat dink. Dis maar moeilik. ’n Versigtige en verstandige dokter sal beslis ’n nadoodse ondersoek laat doen.”

    “Sou jy dus onmiddellik ’n post mortem laat doen?”

    “Wel, as ek eerlik moet wees ... Dit hang af of ek die pasiënt of die omstandighede ken of nie. Dit sou seker darem die beste wees ...”

    “En as daar nie ’n ondersoek gedoen is nie, word die oorsaak van die dood aangegee as hartversaking?”

    “Ek sal meer besonderhede oor die geval moet hê om oor so iets ’n uitspraak te kan maak.”

    “Maar is dit nie wat gebeur nie — dat hartversaking op die doodsertifikaat geskryf word as geen ander oorsaak duidelik is nie?”

    “Ja, dit sou waarskynlik kon gebeur.”

    “En, dokter, bestaan daar ’n soort gif wat iemand kan laat sterf sodat dit lyk asof hy aan sy hart dood is?”

    “Hemel, mevrou, maar jy vra snaakse goed.” Die dokter word al hoe meer ongemaklik. “Van gif weet ek baie min. Gewoonlik sal vergiftiging oor ’n tydperk sekere simptome vertoon.”

    “Ek praat van een massiewe dosis gif.”

    “Mevrou, ek weet nie. Party soorte gif laat die slagoffer stuiptrekkings kry. Ander veroorsaak hewige inwendige bloeding. ’n Oordosis verdowingsmiddels of slaappille is ook ’n vorm van vergiftiging. Maar u sal my meer besonderhede moet gee, en dan kan ek vir u gaan naslaan ...”

    “Nog net dit, dokter. Hoe lank bly die gif in ’n mens wat reeds dood is? Kan die gif ná die dood opgespoor word en vir hoe lank sal dit nog opgespoor kan word?”

    “Wel, mevrou, verskillende soorte gif sal verskillende reaksies vertoon. Arseen is byvoorbeeld ’n gifsoort wat in die hare en gebeente neergelê word en dan kan dit selfs na ontbinding van ’n liggaam nog gevind word in die oorblyfsels van die hare en bene. Maar dan moes die vergiftiging oor ’n lang tydperk plaasgevind het. As iemand aan ’n oordosis pille gesterf het, sal daar miskien selfs van die pille self in die oorblyfsels van die liggaam gevind kan word ... maar ek moet erken ek weet nie hoe lank sulke pille behoue sal bly nie. Wil u nie maar vir my sê waarom u dié dinge vra nie?”

    “Maar as iemand aan ’n oordosis pille dood is ... of aan gif ... dan gaan sy hart staan?”

    “Wel, ja — as ’n mens gesterf het, het sy hart in elk geval gaan staan.”

    Voordat die dokter iets verder kon sê, is Amy met ’n vinnige “Dankie” by die deur uit.

    Amy is haastig huis toe. Sy moes nou net wag dat Jerry uitvind wat gedoen moet word.

    En Amy het gewag, sy het net gewag. Sy het tee gemaak en dit nie gedrink nie. Sy het die krane oopgedraai om die tuin nat te spuit, en dan weer daarvan vergeet sodat die water in die straat afgestroom het. Sy het allerhande dinge begin, halfpad gelos en net so weer vergeet.

    Jan het die huisdokter laat kom, hy het die dominee laat kom. Almal het gepraat, geredeneer, verduidelik, maar Amy was vasbeslote. Hoe meer inligting oor die prosedure bekend geword het, hoe onmoontliker het die hele onderneming vir Jan gelyk en hoe onwilliger het hy geword om Amy haar sin te gee.

    “Jerry het die hele prosedure nou vir my verduidelik. Amy, dis ’n aardige besigheid. ’n Mens moet eers toestemming by die adminstrateur kry. Dan moet die polisie by wees as daar gemene spel vermoed word. Die departement van gesondheid is ook betrokke, die begrafnisondernemer, die begraafplaassuperintendent ... dis ’n eindelose omslagtigheid.”

    “Dan kan dit mos gedoen word, dan is dit mos moontlik, nie waar nie?”

    “Ja, dit is moontlik, maar waarom?”

    “Onthou jy hoe Marthie amper vir Joos ’n ongeluk laat maak het? Het jy haar al ’n traan sien stort? Is dit vir jou logies dat ’n jong man, ’n fikse sterk en gesonde jong man, onverklaarbaar sommer doodgaan?”

    “Amy, dink weer. As jy eerlik is, moet jy erken ons het nie bewyse nie. Ons sal nie toestemming kry om die opgrawing te doen op grond van vae vermoedens nie.”

    “Wil jy my aanvoeling in twyfel trek, Jan?”

    “Ek wil net hê jy moet besef wat die probleme is. Jerry sê as ’n dokter ’n doodsertifikaat teken en daar word agterna bewys dat hy ’n fout gemaak het, so ’n dokter in groot moeilikheid kan kom. Karel het geteken en hy is ’n ou vriend. Hy is ’n ervare dokter. Hy sou beslis agtergekom het as daar iets onnatuurliks aan Joos se dood was. Kan jy dit in jou hart vind om Karel van nalatigheid te beskuldig? Daar was nie werklik grondige redes vir Karel om te vermoed dat alles nie pluis is nie. Marthie is nou wel senuweeagtig van geaardheid, maar sy is tog onskadelik.”

    “Karel was die een wat haar destyds behandel het — hy weet sy is onstabiel.”

    Die dominee het weer kom mooipraat.

    “Dominee, dit moet gedoen word. Hoe anders sal ons weet hoe Josie dood is?”

    “Maar jy moet mooi daaroor dink — niks kan hom terugbring nie. Vir hom is al die swaar van hierdie lewe verby.”

    “Maar ek moet weet, ek wil weet wat gebeur het.”

    “Amy, wat is jou werklike motiewe? Die onomstootlike feit is dat Joos dood is.”

    “Nee, dominee, daar is eintlik nie veel vir my om oor te dink nie — ek weet net ek moet dit doen. Wie anders sal vir ’n kind opkom as sy ma dit nie doen nie?”

    “Sy hou die hele tyd so aan, dominee,” het Jan moedeloos tussenin gepraat. “Ek praat en praat en dit help niks. En weet u, die begraafplaasmense maak die graf net oop tot by die kis. Die begrafnisondernemer en ’n familielid moet self die kis oopmaak. Amy, dit sal jy nie doen nie — ek sal moet ...”

    Amy wou glad nie verder oor die saak redeneer nie en sy het haar ore letterlik gesluit vir alles wat sy nie wou hoor nie. Sy het net in die huis rondgedwaal en gewag dat Jerry die dokumente bring. Soms het sy ’n bietjie geslaap, maar al waaroor sy gepraat het, was die opgrawing. Uiteindelik het die prokureur die briewe opgestel en een middag laat het hy dit by hulle kom afgee om geteken te word.

    Toe Jan die volgende oggend vroeg wakker word, sien hy dat Amy glad nie kom slaap het nie. Hy kry haar in die sitkamer — in die middel van die vertrek op haar knieë op die mat.

    Verskrik het hy nader gegaan. Maar toe Amy omkyk, was haar gesig heeltemal rustig.

    “Help my op, Jan. My bene is skoon lam.”

    “Vader, Amy, hoe lank staan jy al hier op jou knieë?” het Jan besorg gevra terwyl hy haar aan haar yskoue hande optrek.

    “Ek weet nie, maar moenie jou bekommer nie — jy hoef jou nooit weer oor my te bekommer nie.”

    Terwyl Jan haar bene en knieë vryf om die bloedsirkulasie te herstel, sê sy: “Jan, jy moet sommer nou-nou vir dominee gaan bel.”

    Jan was dadelik weer op sy hoede: “Ag, my hart, dis nog so vroeg. Hy was al so baie hier — ons gee die man ook nie rus nie.”

    “Nee, Jan, hierna sal ek hom nie weer pla nie. Maar ek wil hê hy moet weet wat met my gebeur het.”

    “Wat het dan met jou gebeur?”

    “Ek sal vir julle al twee saam vertel ... en Jan, jy hoef nie daardie briewe vir Jerry terug te gee nie.”

    Amy het gebad, haar netjies aangetrek en die dominee op die sitkamerbank gaan inwag.

    En sy het vertel ...

    “Ek het gisteraand hier in die huis geloop — julle weet mos ek het die laaste tyd nie meer so baie geslaap nie. Ek het nie so baie slaap nodig nie, ek word ook nie eintlik moeg nie.

    “Dit moes al laat gewees het — miskien was dit vroeg vanmôre, dit maak nie juis saak nie — toe kom ek hier in die sitkamer in. Ek wou ’n bietjie hier kom sit.

    “En weet julle, net toe ek hier by die trappies kom, toe sien ek hom. Hy het net hier gestaan, dominee — in hierdie hoek. Maar hy was groter as ’n mens — sy kop was so hoog — ek kon sien hoe val die straatlig deur die venster op sy kleed, maar sy kop was daarbo in die skaduwee.

    “Ek kon hom goed sien — hy het so ’n growwe, rokkerige ding aangehad, so ’n kleed van dikgeweefde materiaal. En ’n gevlegde gordel — so om sy lyf geknoop. Die rok was nie lank nie, dit het net in die middel van sy kuite gehang en ek kon sy voete sien. Hy het sulke plat sandale aangehad. Haai, hy het sulke skewerige tone — dat sy tone nou só moet lyk! Die gordel was lank, dit het afgehang tot by sy enkel, weet jy.

    “En sy hare het op sy skouers gehang — sagte donker hare ...

    “En toe weet ek — toe wéét ek dis Jesus. En ek was so bly. Ek kan nie vir jou vertel hoe bly ek was nie. Ek het sommer geweet hy het geweet ek het hom nodig.

    “Ek val toe op my knieë, hier, net hier op die mat en ek sê vir hom, Jesus, sê ek, wil U nie asseblief my Josie terugbring nie? Asseblief, asseblief, ek smeek U, U kan dit doen.

    “En ek huil, soos ek nog nooit in my lewe gehuil het nie.

    “Hy het niks gesê nie — maar ek het geweet hy is nie kwaad vir my nie, ek kon voel hy kyk na my en hy verstaan my. En al het ek gehuil, was ek nog bly. Ek was so bly dat ek met hom kon praat, want hy verstaan my — ek het geweet hy sal nie steuring vat as ek vir hom vra nie.

    “En ek sê toe vir hom: Jesus, asseblief, ek weet U is die Here se kind, bring asseblief my kind terug. Ek belowe as U my Josie terugbring, sal ek dit vir al die mense vertel. Ek belowe ek sal oor die hele wêreld reis en ek sal vir al die mense van U vertel. Ek sal vir almal vertel dat U regtig God se kind is, dat U die regte Here se seun is en dat U alles, alles kan doen.

    “Ek sal vir al die mense in ons land en vir al die mense in die wêreld vertel dat U almagtig is. Ek sal nooit ophou om van jou te vertel tot die dag wat ek doodgaan nie ... ek belowe dit, ek belowe ...

    “En weet julle, toe tel hy sy hand op, so of hy wou sê: wag, wag, wag nou eers ...

    “Ek het geweet hy gaan my antwoord en ek het net stil gesit en gewag ...

    “En toe het Hy sy kop stadig heen en weer geskud ...”

    boontoe


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.