NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Carel Alberts
is linkshandig en ’n Boogskutter. Hy is afkomstig van Oudtshoorn, woon daarna op Stellenbosch (LLB) en toe lank in Johannesburg as joernalis. Hy voel hom na alles tuis in die Kaap.
  Carel Alberts

Terugkeer en agteruitgang

Carel Alberts

’n SMS-boodskap kom in. “HEY YOURSELF” sê dit. Dis omtrent twee dae na my boodskap. Die netwerk is vol.

Dis amper te toevallig. Ek kom uit ’n film wat my aan haar laat dink het — soveel aan haar laat dink dat ek haar weer mis, amper so soet en pynlik soos voorheen. Ek het haar, wat, tien maande laas gesien? Meer uit oortuiging dat dit nou verby is as uit vrees dat dit nie is nie. En is dit verby? Ek kan nie sê nie. Dinge lyk anders vanaand. Die maan skyn groot en helder, en ek ruik die see. En blomme, iewers.

Sy het intussen geboorte gegee. ’n Babaseuntjie met ’n groot kop. Haar oë, het sy gesê in ’n e-pos, was dae lank bloedbelope. Frederik is die pa.

Ek en Frederik is nie die beste vriende onder die son nie. Die seuntjie lyk soos hy, het sy gesê in die brief. Sy klink gelukkig. Frederik betaal nie onderhoud nie.

Sy het my en hom oor die jare afgewissel. Dis nie hoekom ek nie van hom hou nie, of hy van my nie. Ons kan mekaar net nie duld nie. Dis amper geneties. Ons is te verskillend. Ek kan leuenaars nie verdra nie. Veral sjarmante leuenaars. Dis waar ek en die meeste mense verskil. My vriende sê ek moet bykom, maar Frederik is ’n yslike leuenaar.

Ek het haar in my derde jaar ontmoet en vir tien jaar besig geraak (en bekend!), en van haar vergeet. Net nadat ek en sy uitmekaar is, het sy hom ontmoet. Te danke aan hom het sy ’n leeftyd se dwelms in tien jaar ingekry. Daarna, voorverlede jaar, het ek haar weer oor die Desembervakansie in die Kaap ontmoet, en besluit om af te trek, as jy iets so belaglik wil glo. Dit het reg gevoel. Maar dinge het nie mooi gewerk nie. Daarna het sy weer met hom geslaap, en die kind is gebore.

Dis te toevallig, die oproep. Dit brand weer van toevalligheid hierdie week. Dink aan iemand en hulle bel. Maar noem dit aan iemand en dit verdwyn. Ek noem dit aan niemand nie.

In die fliek waaruit ek kom is die vrouekarakter ’n prinses en ’n karateka. Soos Inge. Inge is eintlik ’n boeddhis. En ’n hippy, en ’n prinses. Dis ’n liefdesstorie. Die fliek.

Ek begin SMS. Ek vertel haar van die fliek en dat dit my aan haar laat dink het. Ek hou dit lig. My ervaring met Gaye het my heelwat geleer en alles. Maar Gaye kan Inge se agterent soen. Ek het nooit weer iemand soos sy ontmoet nie.

“SHREK LAAT JOU AAN MY DINK”, vra haar SMS. Sy’s nogal droog. Sy weet nie hoe om kleinletters te maak nie. Sy is die enigste mens in die wêreld vir wie ek nie sal sê hoe om ’n kleinletter te maak nie. Hoofletters is heeltemal in orde met my as sy hulle doen.

“WEL, DIE HUMOR EN ALLES”, SMS ek terug. Ek sukkel met die sleutels op die foon, my vingers is te groot en my hande is seer. “O REGTIG”, sê sy. Ek stel my voor sy glimlag sonder om ’n wenkbrou te lig. Nie soos Gaye nie. Gaye sou al haar wenkbroue lig sonder om te glimlag. “JA REGTIG”, sê ek.

“SO WIL JY OP NOG ’n BORING DATE MET ’n NARE OGRE SOOS EK GAAN”, vra sy. Sy doen ook nie leestekens nie. “EK DAG JY VRA NOOIT NIE”, antwoord ek. O, ek was so koel soos jy hulle maar kan kry.

Maar ek voel nie goed vandag nie. Dit gebeur so eenmaal op ’n reëndag elke nou en dan dat ek voel soos iets uit ’n wasbak, en dan kan ek nie eintlik met enigiemand praat of so nie. Ek kon nie eens by die huis bly vanaand nie. Een ding volg altyd op ’n ander en laas maand moes ek ’n halfbottel rooiwyn binne tien sekondes uitdrink een aand. Daarna was ek so ontspanne soos ’n lam, maar my kop was die ene kak en hare. Jý weet.

Ek gaan by Teresa en haar vriende aan in Stones. Sy sê sy is bekommerd oor my om die een of ander rede, en hou my hand vas. “Los,” sê ek. Sy’s partykeer nogal oordrewe. Sy glimlag. “That’s my boy,” sê sy. “Vir ’n oomblik het ek gedink die regte Brink is ontvoer.” Maar sy is gerusgestel.

Ek drink ’n bier om te kalmeer. “Haai! Hoe gaan dit?” vra haar vriendin my. Sy het ’n besorgde keep op haar voorkop, asof ek haar behoort te pla. Ek sug per ongeluk. “Fine, dankie!” antwoord ek dan met my maklikste glimlag, maar my wange voel styf. Die drank laat my maag draai en my hart gaan aan die klop. Ek loop buitentoe.

My testikels roer en my bene raak lam as ek aan Inge dink. Ek dink aan haar en die gemors in my kop bedaar effens. Sy was die beste wat ek ooit gehad het, meer my tipe vrou as enigiemand anders. Sy is snaakser en mooier as enigiemand wat ek ken. Ons kon dit vyf maal op ’n aand doen. ’n Laag epidermis op my dinges het afgeskaaf eendag. Maar die pH van ons velle het nie saamgestem nie, en almal kon sien ons gesigte was vol fyn uitslag van ’n gis-infeksie die hele tyd. Te danke aan haar neem ek nou al jare lank nie meer antibiotika nie, of ek nou wil doodgaan of nie. Sy was ’n mediese student toe ek haar leer ken het, maar sy het opgeskop. Sy kan Westerse goed nie eintlik verdra nie. Die enigste ding van haar wat my eintlik pla of so is dat sy nog nooit ’n dag se werk uitgerig het nie. Sy’s ryk. Haar ouers is baie ryk.

Ek wens partykeer ek was so slim soos sy, om haar beter geselskap te kan gee en so aan, maar meestal hang my mond net oop. Ek leer baie by haar.

Ek was nie altyd so stadig nie. Op skool het ek een keer ’n medalje gekry, en erekleure. Maar dis dalk nie so ’n slegte ding nie. As daar nou iets is wat my irriteer is dit slim mense. Hulle is altyd besig om slim te wees. Behalwe Inge. Ek aanbid haar. Ek bedoel ek het haar nog altyd aanbid. Ek is seker as ek haar nou weer sien sal ons goed regkom. Maar ek het haar opgefok.

Sy was negentien toe ek haar ontmoet het. Sy het pas uit ’n inrigting gekom. Dit het ek eers verlede jaar gehoor. Ek het haar hart gebreek sonder om te weet van die inrigting. Maar ek weet nie. Miskien sou ek dit steeds gedoen het. Mans is presies daardie soort van mense, bang soos gif as hulle jonk is.

Ek is seker as sy my toegelaat het om op te maak, sou dit gewerk het. Ek sou hulle ingeneem het. Sy het twee kinders. Frederik is nie die pa van die eerste een nie. Alex was die pa. Alex is nou dood. Hy was nogal ’n rassis. ’n Perd op haar ouers se plaas het eenmaal die kind se kop oopgeskop sodat jy sy brein kon sien. Dis ’n baie intelligente kind, sê sy onderwyser. Dis sy tweede skool. Die juffrou by die eerste skool kon hom nie veel nie. Die kind is baie charismaties, as jy hom sover kan kry om met jou te praat. Ek bedoel hy is stil, maar jy voel hom aan en daardie soort van ding. Ek dink nie hy hou van my nie.

Die SMS kom deur. “SATURDAY,” sê dit. Sy’s Engels. Sy is soos ’n roos of iets. My hart klop soos ’n mal ding. Ek is seker ek is nog verlief op haar. Ek besluit om huis toe te gaan.

Ek probeer slaap, maar ek kry my nagmerrie eers teen vieruur. Gewoonlik kry ek dit eenuur en staan op wanneer dit gebeur, drink water, en ek is eenhonderd persent. Maar vanaand lê ek met my hand op my dinges tot seker goed drie-uur, en dink aan slaap.

Toe ek wakker word is my kop besig om te bars. Dieselfde vervloekte nagmerrie elke vervloekte aand (behalwe, ek kan nooit my drome onthou as ek gedrink het nie — maar ek verkies om nie te drink nie). Alhoewel — hierdie keer was my droom oor Inge se baba, en nie my kleinboetie nie. In die droom sit Inge se ma en ek in die kombuis en gesels en Inge gaan kyk na die baba in die kamer. Na ’n ruk begin sy huil. Ek en tannie Joanna hardloop kamer toe. Die baba se oë is oop en sy mond gaan oop en toe, die komberse en sy wange taai van bloed. “Die rotte!” gil Inge. “Die fokken rotte!”

Toe ons klein was het die Rottweiler my kleinboetie verskeur. Ek het die hond verwurg. Ek was twaalf. Die veearts het ’n vinger in sy maag gekry. Hulle sê dit was die wurg wat my boetie se vinger in die hond se maag laat beland het. Ek is vandag nog net so sterk. Ek is eintlik baie sterker vandag. Ek het eendag een van my pa se vriende se hand gebreek.

My pa se vriend herinner my elke Kersfees daaraan, tot ek eendag vir hom gesê het ek is eintlik baie sterker deesdae. Oom Roets.

Daar is ’n SMS op my foon. Sy moes net voor twaalf probeer het. “Come tomorrow night instead,” sê dit. Vroeër as Saterdag. Sy het die kleinletterknoppie gekry. Dit laat my snaaks voel. Ek kon haar gewys het, en ek het nie.

Ek voel beter. Vanaand by Inge. Wat gaan gebeur? Maar ek moet slaap. Ek moet vyfuur opstaan en oefen.


*****

Ek moet omtrent veertig kilometer aflê tot by die plaas. By die Waterfront staan ’n ryloper. Ek sien hom te laat en besluit om verby te ry, maar hy gooi sy hande in die lug en lyk tragies. Ek stop.

Hy het ’n pak klere aan en sy hare is gladgekam teen sy kop. Hy lyk soos iets uit ’n Italiaanse tydskrif. Hy is op pad Claremont toe, sê hy, en skud my hand.

“JJ.”

“Brink.”

“Aangename kennis. Ek sien jy is van Gauteng.”

Ons rook. Rylopers wil altyd rook. Ek vertel hom dat ek reeds ’n jaar hier is en nog nie my plate verander het nie.

“’n Verandering is altyd goed,” sê hy. Ek kyk om na hom. Hy het ’n snaakse uitdrukking op sy gesig. Ek voel ’n wenkbrou lig.

“Wel,” sê ek.

Hy is op pad na ’n nuwe nagklub. “Ek het ’n uitnodiging,” sê hy. “Ek is op die gastelys.”

“Hoe het jy dit reggekry?” vra ek. Ek stel nie regtig belang nie. Maar hy sê my in elk geval.

“Ek is baie bekend. Ek is ’n baie goeie danser. Mense soek my altyd by nuwe clubs,” sê hy.

“Maak sin,” sê ek.

“Wat?”

“Wel, as hulle mense wil trek, moet hulle seker die plek goed laat lyk met goeie dansers,” sê ek.

“Damn straight,” sê hy. “Jy lyk of jy gym doen. Of jy’s ’n fighter. Ek is seker jy kan ’n snotskoot slaan. Maar dit lyk my die ander ou het jou bygekom.” My neus en bolip is nog velaf, maar my wangbeen het al gesak.

Ek het ’n Led Zeppelin-kasset, en Robert Plant is besig om sy kop af te gil, maar die ou in die kar verbeel hom hy moet gesels. “Kom ons kry jou in die bui,” sê ek. Ek skakel die radio aan.

“Ek is self ’n fighter,” sê hy. “Voel hier!” En hy hou sy arm uit en tik op sy lats. “Ek is seker ek kan harder as jy slaan.”

“Waar moet ek jou slaan?” vra ek. “Waar moet ek jou aflaai?” Ek laai hom af met omtrent vyf kilometer se stap oor.

*****

Sy lyk amper glansend. Haar hare is korter as wat ek onthou. Dis bruin met ’n rooi glans, soos altyd, maar sy het nou blonde strepe. Dit hang regaf, soos tevore, maar korter, tot teen haar nek net bo haar skouers. Op haar voorkop maak haar haarlyn ’n pylpunt ondertoe. Ek kyk altyd eerste daarvoor as ek haar sien. Sy lyk gelukkig, die baba op haar heup. Maer, met helder oë, en beeldskoon.

Maar die baba hou ook nie van my nie. Hy begin huil as hy my sien. “Does he look like anyone we know?” vra sy, laggend. Haar ander kind, Leo, sit bo en TV kyk. Toe ek die hekklokkie gelui het, het sy stem gevra: “Who is it?” Maar hy wou nie oopmaak nie. ’n Mens moet kinders verstaan. Hulle is doodeerlik.

“I saw you on TV,” sê sy.

“Ja, dit was ongelooflik,” sê ek. “Ek was — “

Maar sy val my in die rede. “Boxing is such a stupid sport. I mean, how can people beat one another to a pulp like that? Not that you’re stupid.”

“Nee,” sê ek. Ek maak my keel skoon. “I’m not really a boxer. I’m not really that good a boxer. And I’ll proppably stop soon.” Ek kan nie probably sê nie. Ook nie Truworths nie.

“I’m just kidding. You’re a great boxer. Would you like some tea?”

Ek voel deurmekaar. Maar sy lyk rustiger as toe ek haar laas gesien het. As sy glimlag keep daar ’n lyn aan elke kant van haar ken op tot by haar wangbene. Sy het ’n modelgesig. Haar bolip is mooi en imperfek van die keer toe sy op ’n swembadsif se pyphandvatsel geval het. Ek het ’n kerf in my wang waar ek in ’n trampolienveer geval het toe ek tien was. As ek reg onthou het ek soos ’n varksog geskree.

Haar oë is liggroen en sy lag maklik — ek hoef nie te hard te probeer nie. Sy is nog mooier as sy lag. Maar ek weet ek sal haar verveel as ek simpel grappe maak soos die meeste ouens. Sy’s te slim.

Haar hare was los toe ek ingekom het. Nou maak sy dit vas sodra die ketel aan is. Haar skedel is klein en rond, haar neklyn gekurf en die bokstert krul op haar skouer. Sy het ’n ou blou-swart denim aan en ’n dwarsgestreepte top. Haar borste is baie kleiner as toe sy negentien was. Sy was opgewonde met haar swangerskap toe hulle geswel het. Ek gee nie om hoe hulle lyk nie.

As ek gedink het sy het my genooi om ou bande te heg was ek verkeerd. Sy lyk so gelukkig dat my hart harder klop. Elke keer as die baba huil sê sy iets verskonend, en dat hy nooit so is nie. En veral ook nie net met my nie. Sy maag is net omgekrap.

Wanneer haar ma my soos gewoonlik wil annekseer stel sy voor ons gaan uit, ten spyte van die baba, waarop sy smoorverlief is.

“Is jy seker?” vra ek.

Ons gaan na ’n kroeg naby die huis. Die baba en seuntjie bly in haar ma se sorg. Sy lyk skielik neerslagtig. Die twee biere verdwyn redelik vinnig. Sy sê sy voel nie meer so naar nie. Ons is voëls van eenderse vere. Maar sy sê ons kon nie meer verskillend wees nie, al probeer ons.

“A lot of people I knew just never grew up, you know?” sê sy. “I mean like Donald and Psychic and them. Me too. We got stuck in something, and we just never took control. But you — you took control. You can actually talk like an adult.”

Sy is skielik depressiewer as wat ek haar nog ooit gesien het. Sy het nie ’n werk nie. Sover dit haar ma aangaan is sy nog steeds twaalf jaar oud. Ek weet ek kan haar nie vra om by my te kom bly nie. En ek kan haar nie sê om ’n werk te kry nie. Ek kan eintlik niks sê nie.

“But I’ll go back to university,” sê sy. “I know I can do it.”

Ek knik.

“I mean I can do it. It’s a bit of a long term solution, and I don’t know how I’ll manage the kids, but I’ve always wanted to do it, right?”

“Mm,” sê ek. Sy’s reg. “Moenie so down wees nie.”

“I’m always this down. You don’t know a thing about me.” Sy’s reg. Ek weet dit.

“Sorry,” voeg sy by.

“Nee,” sê ek. “Nee wat.”

“Jy’s eintlik baie goed op pad,” sê ek. “Met baie dinge. Jy het jou kinders, jy is eintlik baie vervuld. Jy weet? Ek wens ek was ’n beter vriend vir jou.”

“Shit, I was actually quite surprised that you’re still talking to me,” sê sy. “I mean I have two kids, you know …” Maar ek kan sien sy praat net. Haar gedagtes is elders.

“Ek het nog altyd van jou gehou. Jy is my gunsteling,” sê ek. Sy begin vroetel.

Skielik besluit sy om haar ma te bel. Haar ma hou nie van baba-oppas nie, sê sy. Maar die oproep stel haar nie gerus nie. Sy is dadelik in ’n toestand. Sy raak so.

Ek bestuur haar so gou moontlik huis toe sonder om te jaag. Dit maak haar stil. Sy lyk meer ontspanne.

Die baba ontspan as hy haar lyf teen syne voel. Sy bene krul weer, instemmend, en sy kop knik. Sy sus hom, maar praat met my.

Ek het klaar besluit om te gaan. Ek sê ek sal haar binnekort weer sien. Sy moet die baba bring, dan gaan ons op ’n uitstappie, nie ver nie. Net om ’n bietjie uit te kom. Ek bedoel dit. Sy glimlag weer.

Toe ek by die huis kom skryf ek oor die aand. Die een ding wat ek oorhou na my kop al so sag geslaan is van al die boks, is dat ek darem nog skryf. Maar my spelling het vir ’n pot snot gegaan. Ek spel so sleg dat die rekenaar die woorde glad nie herken nie, en die betekenis van alles wat ek skryf verander. Dit maak my nogal mal. Dit laat my klink soos ’n idioot. Eendag het ek ’n storie net wou klaarskryf, toe ’n boodskap op die rekenaar verskyn dat daar te veel spelfoute in die dokument is om dit verder met rooi te onderstreep, en dat ek asseblief liewer self die spelling van tyd tot tyd moet toets.

Ek hou ’n dagboek. ’n Vorige keer het ek geskryf oor verlede jaar se seks met haar. Ek is nie ’n groot aanhanger van dog style nie, te onpersoonlik as jy iemand liefhet, maar met Inge se rug en heupe is dit amper die enigste opsie. Ek’s ’n groot pervert. In my herinnering van die laaste keer het ek geskryf: Ons het albei op ons regtersye gelê, sy voor my met haar gesig na die muur toe. Ek kon nie sien of haar oë oop was nie. Haar rug was so slank soos ’n berketak, en haar heupe wou my laat huil van verliefdheid. Toe ek vorentoe leun om haar nek te soen, my hand op haar bors, sien ek haar hand tussen haar bene. Ek was versigtig om haar nie te steur of embarrass nie, maar my hart wou breek van onmagtigheid om haar hart te raak. Ek was verlore.

Ek herken amper nie die woorde nie. Dit klink belaglik om soos ’n moffie te skryf — slank soos ’n tak, huil van verliefdheid. Maar ek weet ek kon laas jaar nog baie beter skryf, en ek hou die dagboek om te onthou. Ek noem die dagboek “Inge”.

Toe ek die dokument die tweede keer save as, vra die rekenaar: “Do you want to replace the existing Inge?”

“Yes,” kliek ek.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.